Didiér & Tanja se gemaklike verlowingsfotosessie by die huis

‘n Nuwe tendens wat ons by Mooi Troues sien is paartjies wat hul verlowing fotosessie by hul huis hou, jy is in jou ruimte en dit is intiem.  Die weer wou nie saam Didiér en Tanja se planne werk om hul verlowing fotosessie op die strand te hou nie en daarom het hul Plan B gebruik en ons my Mooi Troues is absoluut dol daaroor.  Wanneer jy afrol en na die foto’s kyk sal jy sien die paartjie is dol verlief en baie gemaklik met mekaar.  Ons hoop julle geniet dit!

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Tanja: Ons het in 2007 ontmoet en het in 2011 begin uitgaan.  Ek moet bieg, Didiér se gespierde arms het my aandag getrek, maar onder daardie gespierde lyf is ‘n man met ‘n ongelooflike goeie hart en ‘n wonderlike persoonlikheid.  Hy was nog altyd ‘n groot ‘heer’ en dit is iets wat vir my ongelooflik aantreklik is.

Didiér: Haar glimlag, persoonlikheid en selfvertroue…sy het haar BBM pin vir my gegee nog voordat ek daarvoor kon vra.  Ek dink die feit dat sy rugby kyk en verstaan, het my ook nogal beïndruk.

Vertel ons meer hoe julle verloof geraak het?


Didiér het my op sy verjaarsdag gevra om te trou.  ‘Ons’ het besluit om die naweek van sy verjaarsdag Hermanus toe te gaan en die oggend van sy verjaarsdag met sonsopkoms op die kus paadjie te gaan stap.  Toe ons uiteindelik by Kwaaiwater se uitkykpunt uitkom, waar ons ons eerste soen gehad het sowat 7 jaar terug, het ons op die bankie gaan sit en die volgende oomblik was Didiér op sy knieg. Dit was een van die mooiste sonsopkoms wat ons nog ooit beleef het … Dit was ongelooflik spesiaal en elke oomblik was deur een van ons beste vriendinne, Suzanne vasgevang!

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Ons wou aanvanklik ‘n verlowing fotosessie by die see gehad het, maar die weer het nie saamgespeel nie.  Dit was een van die koudste dae wat ons nog ooit in Hermanus beleef het.  Suzanne ken ons baie goed en het toe met die voorstel gekom dat ons ‘n gemaklike denim en T-hemp binnenshuise fotosessie hê.  Ons het wel ook die koue vir so paar foto’s aangedurf.  Ons wou dit van die begin af eenvoudig gehou het sodat ons foto’s ons liefde vir mekaar kan toon – en dit het!

Wat het jul laat besluit oor die verlowing fotosessie?


Suzanne het vir ons ‘n verlowings fotosessie ook as geskenk gegee.  Ons het die foto’s toe gebruik in ons elektroniese uitnodigings.  Ons glo dat dit ons definitief voorberei het om gemakliker voor die kamera te wees op ons troudag en sal dit verseker aan ander paartjies aanbeveel.

Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?


Omdat ons albei in Hermanus groot geword het, het ons besluit om in die Fernkloof Natuurreservaat in Hermanus ‘n klein troue van om en by 65 gaste te hou.  Ons wou van die begin af dit klein en intiem gehou het, en ons algehele visie vir ons troudag is ‘n feestelike tyd in die natuur met roosterkoeke, boerekos, ‘n melktert koek en MCC!

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]