Megan het nog altyd gedroom van ʼn Lente troue en so het al haar drome waar geword. Die Lente seisoen spog altyd met kleurvolle blomme en Megan het kleure in haar en Tiaan se troue ingebring. Die paartjie was ook geseën met reën op hul spesiale dag. Vir iets oud het Megan dieselfde kopspeld gedra as wat haar moeder op haar troudag 26 jaar te vore gedra het. Dit is altyd spesiaal om iets sentimenteel by ʼn troue te implementeer. Die troue het ʼn vintage gevoel met plof van sagte kleure. So as jy ʼn toekomstige bruid is wat vintage as jou dekor wil gebruik sal jy baie trou inspirasie by die mooi vind. So rol af en geniet Tiaan en Megan se spesiale dag.
Julle troudatum en ouderdom van paartjie op troudag?
Ons troudatum was 22 September 2018 en beide van ons was 25 jaar oud op daardie stadium.
Hoe het julle mekaar ontmoet en hoe het julle verloof geraak?
Ons het albei by die Universiteit van Pretoria gestudeer en was in ons 2de jaar toe ‘n gemeenskaplike vriend ons aan mekaar voorgestel het. Ons het altwee lekker begin gesels en kort voor lank het ons die begin uitgaan. Vier jaar later het Tiaan die groot vraag gevra.
Tiaan was baie geheimsinnig en het my nie enige aanduiding gegee dat die groot dag op pad is nie. Ons was op ‘n kort vakansie in die Kaap en Tiaan het alles haarfyn beplan. Dit het begin as ‘n lekker dag van kaas en wyn proe op die Spice Route in Paarl, maar het vinnig verander in ‘n romantiese glasie Sjampanje by Boschendal. Tiaan was baie op sy senuwees, maar het my later vertel dat hy met baie gebede die moed gekry het om die groot vraag te vra.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke rok gekies het
Elke meisie droom van kleintyd af oor haar troudag en my trourok was een van daardie drome, ek het lank voor trou eens ‘n werklikheid was, ‘n rok op Pinterest gesien en ek het dadelik geweet dat dit eendag my trourok gaan wees. Ek het toe laat Gerda die rok vir my maak presies soos die prentjie wat ek gesien het. Dit het alle verwagtinge oortref.
Vertel ons meer oor julle ringe
My ring is deur Tiaan ontwerp en deur Hannelie Burger van Diamonds On gemaak, sy is ‘n eksklusiewe werker en maak dus net een van elke soort ring, en dit het die maak van my ring net nog meer spesiaal gemaak. Tiaan het die ring ontwerp met wat hy van my weet in sy agterkop. My verloofring het twee trou-pantjies bygekry die dag van ons troue.
Ek het Tiaan se ring spesiaal gekies om te pas by sy boere-hart. Dit is ‘n Platinum ring wat nie blink of enige fieterjasies het nie.
Vertel ons meer oor julle fotograaf en videograaf
Fielafooi Fotografie: Marelie Kotze is die eienaar en die fotograaf van Fielafooi Fotografie, sy het ‘n besonderse talent om mens se spesiaalste oomblikke met haar lens vas te vang. Sy is nie net ‘n fantastiese fotograaf nie, maar sy laat mens ook baie gemaklik voel en word ‘n goeie vriendin op die troudag wat raad gee en moed in praat as die stres vlakke hoog word.
Paperplane Media: Hulle is al vir agt jaar in die videografie besigheid en het al meer as 120 troues deur hulle lens geskiet. Hulle is fantastiese mense met ‘n besonderse talent. Etienne en sy span laat mens heeltyd op mens se gemak voel. Ek is dankbaar dat my troue deur hulle geskiet is, en dat ons elke dag ons groot dag kan herleef.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die dag en wat sou julle verander indien moontlik.
Die weer het so mooi saam gespeel vir al ons foto’s en die reën was so groot seën. ‘n Kleurvolle lente troue was wat ek nog altyd wou hê en dit is presies wat ons gekry het. Ek het vergeet om te noem dat die haarknip wat ek op my troue gedra het presies dieselfde een is wat my ma 26jaar terug in haar hare gedra het op my ouers se troudag. Indien ons iets kon verander sou ons nie, want dit was eerlikwaar die perfekste dag en dit het al ons grootste verwagtinge oortref.
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor
Ons wou baie graag ‘n venue hê wat vir ons ‘n rustige gevoel gee. Bezalel in Wakkerstroom het vir ons presies daardie gevoel gegee. Ek wou van die begin af baie graag hout tafels hê omdat ek graag ‘n blomme loper oor elke tafels wou hê. Die dekor is gekies om by die lente tema te pas, ek is absoluut mal oor blomme en verskillende kleure. Verder het ek liggies (feetjie liggies) gekies omdat dit altyd vir my sagte gevoel gee en dit was presies die atmosfeer wat ek wou skep. My ouers het spesiaal houtborde laat maak as die onderborde wat die woorde geloof, hoop en liefde uitgebeeld het. Die belangrikste was dat die troue my en Tiaan se persoonlikhede moes uitbeeld.
Wat was julle begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons begroting was R300 000.00, ons het daarby gehou deur orals verskeie pryse te kry en die goedkoopste opsies te gebruik. Indien ons wel meer bestee het op iets wat ons beplan het, het ons probeer om weer die kostes op iets anders te sny. Ons het ‘n allemintige 160 gaste onthaal.
Vertel ons meer van julle wittebrood
Ons het ons wittebrood in Mauritius gehou waar ons by die Maritim Resort en Spa gebly het. Albei van ons hou daarvan om nuwe dinge te doen en nuwe avonture aan te pak en daarom het ons elke dag probeer om iets nuuts van Mauritius te beleef. Ons was in ‘n duikboot vervoer, het op ‘n Catamaran gevaar en die hoofstad van Mauritius gaan verken. Ons was vir vyf dae in Mauritius en het al die wonders van hierdie eiland beleef op ‘n alles-insluitende pakket.
- Blomme: Jurie van Bezalel
- Troukoek en kos: Drieni van Bezalel
- Venue: Bezalel Venue Wakkerstroom
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Videograaf: Paperplane media
- Fotograaf: Fielafooi fotografie
- Hare: Liesl Zene, EVE rown of creations
- Grimering: Karina Creats
- Ring: Hannelie Burger
- Skryfbehoeftes: Pro’s on Print + Smoorverlief Laser & Print Creations
- Skoene: Blu Betty