Vir ons by Mooi Troues is daar ‘n paar besonderse elemente wat uitstaan by dié troue van Morné en Annerike. Ons gaan sommer nou met jul deel soos die foto’s hieronder uitgelê is wat vir ons baie oulik is. Eerstens is ons gek oor die manier hoe die fotograaf die rok afgeneem het teen die rou baksteen muur en die klein skapies gee presies die gevoel dat jy hier na ‘n plaastroue kyk. Die blomboog waar die paartjie van hul foto’s geneem het is ook baie besonders en ons hoop dit sal paartjies wat nog moet trou ook inspireer om so iets soortgelyk te doen. Alles het mooi saam gewerk en ons wens Morné en Annerike die mooiste toekoms toe. Rol af en geniet die paartjie se selfdoen plaas troue.
Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag.
28 Junie 2018 en Morné was 26 jaar en Annerike 25 jaar
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Ons het mekaar in 2012 ontmoet, waar ons albei aan die Noord-Wes Universiteit studeer het, ek as eerste jaar student en Morné as tweede jaar. Morné se koshuis het ‘n uitreik na Mosambiek gereël in Maart, wat ons albei meegemaak het. Op die uitreik het ons mekaar baie goed leer ken en kon dadelik lekker saam kuier. ‘n Groot deel hiervan was dat ons dieselfde sienings gedeel het, en kon dink oor wat ons doen, ons het dadelik ‘n band gevorm. Na die uitreik het ons as vriende saam gekuier en in Oktober 2012 het ons vas begin uitgaan.
Hoe het julle verloof geraak?
Ons is op 23 Augustus 2017 verloof. Morné het daardie oggend ‘n sjokolade beertjie in my kar gelos. Ek het eers niks vermoed nie, maar toe hy elke uur, op die uur, vir my ‘n foto stuur van ‘n spesiale herinnering in ons verhouding, kon ek nie meer by die werk konsentreer nie. By die huis gekom, wag daar ‘n padkaart en instruksies vir my. Al langs die pad het ek blomme opgetel, tot ek Morné kon sien staan en wag. Hy het op sy knie gesak en my gevra om te trou – met die mooiste piekniek en sonsondergang agter ons!
Vertel ons meer van jul ringe
Annerike se ring is deur Louis Danielle ontwerp. Haar ring is ‘n klassieke “rondgesnyde solitaire” met ‘n ietsie ekstra. Rondom die hoof diamant is daar ses kleiner diamante geset. Haar ring is ekstra spesiaal omdat die hoofsteen haar ouma s’n was. Morné se ring is ‘n Tungsten ring van Deonne Le Roux. Ons het die ring gekies vir die voordele van die metaal – dit sal nie maklik krap of beskadig nie. Die donkerder kleur was ook ‘n pluspunt.
Vertel ons meer oor die fotograaf
Corene is ‘n besonderse mens! Sy het maar net ‘n manier om mense natuurlik af te neem en die emosie van die dag of geleentheid vas te vang. Sy het ook ons verlowings foto’s geneem en ons het net lekker met haar gekliek. Sy is vriendelik en professioneel en doen moeite om mens te leer ken. Ek dink nie iemand anders laat mens so gemaklik voor die kamera voel nie. Ons het ook baie gou ons foto’s gekry, verpak in die mooiste houtkissie.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?
Die Kerkdiens staan beslis vir ons uit. Ons het die dag met soveel opgewondenheid af gewag. Die eerste keer toe ons mekaar sien op ons troudag, in die kerk, was besonder spesiaal! Die oomblik was so groot en vol emosie. Ek sal nooit Morné se gesig vergeet nie, ek het nie eers besef dat daar ander mense in die kerkie is nie! Annerike het vir my só mooi gelyk, ek kon nie anders as om emosioneel te raak nie. Die seremonie was vir ons ook spesiaal, omdat die die begin van ons huwelik so mooi gevier en bevestig het.
Wat sou julle verander indien moontlik?
Ons troudag was vir ons regtig spesiaal en besonders. Ons het elke oomblik geniet! Ons kon die dag vier met die mense naaste aan ons en tyd saam met hulle spandeer. Daar is werklik nie iets wat ons sou wou verander nie.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Wanneer mens ‘n troue beplan is dit maklik om ‘n bietjie verlore en oorweldig te voel. Ons het verseker op tye nie geweet watter kant toe nie. Neem ‘n stappie terug en dink aan wat julle die graagste op die dag wil hê. Maak ‘n prioriteitslys van die aspekte of elemente wat vir julle die belangrikste is. Dit help om te verseker dat dit wat vir julle die meeste beteken, sal uitstaan op julle troudag. Dink aan wat die gevoel van die dag moet wees en watter herinneringe julle wil hê as julle daarna terug kyk. Laat dit julle lei.
Hoe het julle die venue gekies?
Ons wou graag ‘n venue gehad het waar die natuur vir ons uitgestaan het. Die venue moes ook geskik wees vir ‘n intieme troue. Ons wou die dag saam met ons naaste familie en vriende vier en het 48 gaste genooi. Ons het na verskillende venues gaan kyk, maar hulle was of te onpersoonlik of het net nie “reg” gevoel nie. Tot ons na Ourief gaan kyk het en vir Liesl ontmoet het. Ons het dadelik geweet dis hier waar ons gaan trou. Die venue was pragtig en het presies reg gevoel, ons kon nie anders nie!
Wat was die inspirasie agter jul dekor?
Ons wou ‘n rustige, mooi en romantiese dag gehad het. Dit was vir ons belangrik dat als natuurlik lyk. Die oragami Kraanvoëls was ‘n groot fokus punt in ons dekor en troue. Origami is vir ons spesiaal omdat Morné vir my 21 verskillende oragamis vir my 21ste verjaarsdag gevou het. Die res van die dekor is te danke aan my Tannie Jacqué en haar kreatiwiteit. Sy het my vae idees en liefde vir proteas omskep in die mooiste dag. Sy en my Tannie Martelle het self die blomme gedoen, wat ‘n pragtige en groot deel van die dekor was.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?
Ons het ‘n intieme troue gehad en ons begroting was R 85 000. Morné het die finansies goed onder beheer gehad. Met elke groot besluit het ons eers na die begroting gekyk voor enige finale besluit gemaak is. Vriende en familie het ingespring en gehelp met die maak van baie van die dekor. Ons het elektroniese uitnodigings gestuur en het self die oragami gevou. Die kerk-blaadjies, naamkaartjies, spyskaarte en tafelnommers het ons self gedruk. Die Protea lap servette was ons gaste geskenkie en het dus ‘n dubbele doel gedien. Die pragtige blomme was ‘n groot trougeskenk.
van Martelle Flowers by Design
Vertel ons meer van jul Wittebrood.
Ons Wittebrood was besonderse bederf! Ons is albei lief vir die Wes-Kaap. Morné het vir ons ‘n romantiese wittebrood deur Creative Honneymoon Solutions bespreek. Ons het 3 dae in Knysna spandeer met ongelooflike mooi uitsigte oor die meer. Daarna het ons 3 dae in die Tsitsikamma woud spandeer in ‘n baie private chalet, waar ons 360˚ uitsigte oor die woud kon geniet. Ons het die kaggelvuur besonder geniet!
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Ringe: Louie Daniele en Déonne le Roux
- Wittebrood: Creative Honeymoon Solutions
- Trourok: Eulogeo Zeloo Couture
- Hare: Hair Nouveau
- Grimering: Vanity Nail & Beauty
- Musiek: Johnny Snowball
- Venue, spyseniering en troukoek: Ourief Wedding & Function Venue
- Fotograaf: Corene Photography
- Blomme: Martelle’s Flowers by Design
- Dekor: A & E Wedding and Function Décor en Jacqué Bennett
- Uitnodigings: Joy
- Troupak: Markham
- Onderbaadjie: Edgars
- Das en Hemp: TWILL