George & Hettie se Wintertroue

George en Hettie is sekerlik ʼn paartjie wat weet hoe om pret te hê en dit weerspieël pragtig in die foto’s onder.  Hulle het in die Winter getrou en op hul groot dag het dit gereën, die donker wolke het gesorg vir ʼn dramatiese gevoel en hulle het so verlief gelyk terwyl hul albei onder ʼn sambreel skuiling soek.   Hettie het werklik soos ʼn moderne Sneeuwitjie gelyk met haar Bloedrooi lippe en naels.  Diep Rooi het ook gevolg in die strooimeisies se uitrustings en tafeldekor, die drama van Swart en Rooi het gesorg dat die prettige paartjie se troudag toe heel snoesig uit gedraai het ons weet hulle gaste het dit behoorlik geniet.

 

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


23 Junie 2018 en George was 27 en Hettie 24

Vertel ons hoe het julle mekaar ontmoet?


Altwee oorspronklik van die Kaap (Durbanville en Malmesbury) en het by NWU-Pukke op Potchefstroom gaan studeer.  Ons het mekaar ongelukkig daar nooit raakgeloop nie en het mekaar ʼn jaar of twee later deur gemeenskaplike Potch vriende op ʼn verjaarsdag-partytjie in Stellenbosch ontmoet.

Hoe het julle verloof geraak?


Toe ek, George, besluit het om vir Hettie te vra om te trou het ek geweet ek moet dinge nie oorkompliseer nie.  Sy het ʼn waardering vir eenvoudige elegansie en klein gebare met groot betekenis.  Ek het toe besluit om haar saam te neem op ʼn piekniek na Kirstenbosch, ons albei se gunsteling plek in die wêreld, waar ek haar op ʼn hoë uitkykpunt omring deur stryke, fynbos, bome, tarentale en in die skade van Tafelberg gevra het om te trou. Sy beweer sy het dit verwag, maar haar trane, opwinding en blydskap het ʼn ander storie vertel.

Vertel ons meer oor jul ringe


Die storie agter Hettie se ring het ʼn lang aanloop.  So twee maande voor ek die groot vraag gevra het, het ek reeds ʼn ring gekoop wat ek in my ouers se kluis gebêre het.  So paar dae na ek dit gekoop het, het ek en Hettie saam met my ouers Witsand toe gegaan vir ʼn vinnige wegbreek.  In ons afwesigheid is daar by my ouers se huis in Durbanville ingebreek en die huis, insluitend Hettie se ring, is weggedra.  Gelukkig het die versekering uitbetaal en ek het vir haar toe sommer ʼn groter en mooier ring gekoop so verlig was ek.

My ring was gelukkig eenvoudiger.  Dis gekoop en ek dra dit.  Dis ʼn eenvoudige en elegante ontwerp.

Vertel ons meer oor keuse van jul fotograaf en Videograaf


Herman Verwey is ʼn fotograaf vir wie se werk ek al jare baie agting het.  Ons was destyds kollegas in die drukpers en het gereeld op stories saam gewerk.  Dit was vir my ʼn groot voorreg dat hy ons troue kon afneem, omdat hy reeds ook ʼn groot merk in die trou-bedryf gemaak het.

Ons het Secondluke films op sosiale media opgespoor en ons het baie gehou van hul benadering en styl.

Wat was die merkwaardigste oomblik van jul troudag?


Hettie: Die aand in geheel was vir my besonders lekker.  Daar het niks vir my bo die res uitgestaan nie omdat als op die nommer spesiaal was.  Dit was ʼn klein dogtertjie se droom wat werklikheid geword het en wat in ʼn oogwink verby was.  Ek sê heeltyd vir George ek wil net weer met hom trou, so lekker was dit.  Dit was vir my eintlik die lekkerste om te sien hoe al die gaste dit voluit geniet.

George: Die seremonie was ʼn treffende oomblik, omdat die grootsheid van die geleentheid baie gou baie duidelik geword het.  Ek het gou besef hierdie is nie net ʼn sokkie met ʼn see-vakansie daarna nie.  In terme van die onthaal moet ek saamstem dat die samehorigheid van die gaste, familie en vriende, ʼn hoogtepunt was.  Ek was ook bly dat als 100% verloop het soos ons dit wou gehad het.

Hoe het julle besluit op jul trou venue?


Die Kaap is vol venues, maar D’aria het dadelik ons oog gevang.  Die ligging was ideaal vir almal, Kapenaars en die vrag gaste uit die noorde uit, en hul diens was van meet af uitstaande.  Die onthaalsaal is uiters indrukwekkend, maar tog aanpasbaar.  Die omliggende area is ook beeldskoon.  Ons dink die venue het al ons gaste beïndruk.  My (George) se ouers is ook goed bevriend met een van die eienaars en ons was bewus van D’aria se goeie reputasie.

Vertel ons meer oor jul trou dekor.


Ons is albei mense met ʼn oog vir ongekunstelde elegansie.  Subtiele detail was dus belangrik.  Omdat dit ʼn wintertroue was het ons geweet die dekor moet ʼn warm en knus gevoel skep.  Dinge pas dikwels die beste bymekaar wanneer dit nie pas nie.  Ons het ook besluit om alles self te doen.  Eenvoud was dus van belang om ons visie treffend deur te voer.

Advies wat julle kan gee aan paartjies wat besig is om hul troue beplan.


Moenie dinge oorkompliseer nie.  Minder is meer.  Moenie tob nie, doen net.  Delegeer werkies aan familie en vriende as jy weet hulle sal goed wees daarmee.  Mens hoef nie die bank te breek om ʼn stylvolle troue te hou nie.

Wat was julle begroting vir jul troue?


Rondom 150k.  Ons het ʼn duidelike idee gehad van wat ons wou doen en het familie gehad wat waardevolle bydraes kon lewer in terme van items wat vervaardig en gebou is.

Was julle op Wittebrood?


Ons was Phuket toe, waar ons langs die see en swembad kon uitspan.  Ons het egter nie stil gesit nie en het die nuwe kultuur ten volle verken.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]