Ons by Mooi Troues is gek oor ʼn mooi Vrystaat troue. Dus is ons erg opgewonde om die troue van Leander en Nadia met ons getroue lesers te kan deel. Die foto’s van Nadia wat saam die blommemeisies op die bed spring is so spesiaal. ʼn Oulike inspirasie vir bruide wat iets uniek saam hul klein blommemeisies wil doen om ook die pret element in te bring en miskien bietjie stres af te blaas.
Nadia se ruiker met die mooi Koning Protea het ook ons na ons asems laat snak; Ons is maar maklik ingehaal oor die vele beeldskoon wat die mooi Suid-Afrika ons bied. Die fotograaf het ook emosievol foto’s van albei Leander en Nadia saam hul ouers gekry wat ons toekomstige bruidspare aanmoedig om te doen. Niks klop die foto waar Leander emosioneel raak en getroos is deur sy strooijonker toe hy die beeldskone Nadia in die kerk sien instap nie.
Die paartjie se fotosessie was ook gedurende die regte tyd van die dag gehou en paartjies wat besig is om hul troue te beplan moet dit inagneming vat wanneer hul dié dag se tydlyn beplan. Na die inleiding weet ons sommer julle kan nie meer wag om die mooi troue te sien nie … So nou toe rol af en geniet dit!
Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?
16 Junie 2018 en ons albei was 33 jaar op ons troudag.
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Ons het mekaar vooraf geken van sien…Kimberley is maar klein. Amptelik het ons mekaar ontmoet met die reël van ‘n werksfunksie in November 2013. Daarna vir vele koffie-afsprake gegaan voor ons begin uitgaan het Februarie die volgende jaar.
Hoe het julle verloof geraak?
Ons was vir ‘n naweek na Mattanu,‘n wildsplaas buite Kimberley. Na ‘n laatmiddag wild-rit, is ek verras met ‘n romantiese drie-gang ete in die veld wat Leander vooraf met die personeel gereël het – hy het onverwags die groot vraag gevra langs die kampvuur.
Vertel ons meer van jul ringe.
My ring is gemaak deur The Jewellery Shoppe – Leander het die ring sonder my medewete laat maak van verskillende idees wat ek vroeër in ons verhouding met hom gedeel het – ‘n halo dubbel-pand diamantring met ‘n prinsessnit steen.
Leander se ring is titanium met twee hout-insetsels wat ons op die internet raakgesien en bestel het.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.
Op verwysing van ‘n vriendin het ons vir Sumarie de Klerk van Sumarie Photograpy genader en van die eerste afspraak was ons baie gemaklik met haar – ons keuse was perfek en is duidelik in die pragtige foto’s van ons spesiale dag.
Ons wou graag al die spesiale oomblikke vasvang op video en dit wat ons op Raising Flags se Facebook-blad gesien het was oortuigend dat hulle die regte keuse sal wees.
As span was hul ‘n uitstekende kombinasie en was die atmosfeer deurentyd gemaklik en ontspanne met die resultaat duidelik in ons foto’s sigbaar.
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?
Daar was soveel spesiale oomblikke tydens die regmaak voor die tyd, die seremonie en die onthaal, maar verseker was die merkwaardigste oomblik om Leander se reaksie te sien toe ek in die paadjie afstap – ek kon nie ophou glimlag nie.
Wat sou julle verander indien moontlik?
Ongelukkig het die Springbokke besluit om op ons troudag ‘n wedstryd teen Engeland in Bloemfontein te speel…so dalk sou meer mense tevrede gewees het as hulle nie die wedstryd gemis het a.g.v. ons troue nie! Elke aspek van die dag was perfek, en ons sou niks anders wou hê nie.
Hoe het julle die venue gekies?
Na ‘n lang soektog en kopkrap om verskeie kwotasies in ons begroting te laat pas, kon ons hou by ons oorspronklike keuse van die venue, Warm Karoo in Bloemfontein. Wat van die eerste besoek perfek in ons albei se smaak geval het.
Wat was die inspirasie agter jul dekor?
Ons albei hou van eenvoud en daarom gekies om die dekor minimaal te hou sonder onnodige tierlantyntjies. Die span by Grand Room Design het presies my idees vasgevang in die dekor met enkele proteas, glas en kerse wat goed gepas het by die houttafels van die venue.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?
Dit was seker een van die moeilikste dinge om by ons oorspronklike begroting te hou, maar gelukkig kon ons met finansiële hulp van ons ouers die dag beplan met alles wat ons wou hê. Dit is egter belangrik om twee keer te dink oor klein goedjies wat onnodige onkostes is.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Doen jul beplanning en maak besluite oor die dag saam. Moenie dat dit al jul tyd in beslag neem nie. Die tyd gaan so vinnig verby met al die reëlings. Dit is belangrik dat julle dit nogsteeds saam moet geniet!
Vertel ons meer van jul wittebrood
Ons was vir ‘n week na Phuket, Thailand, vir ons wittebrood. Dit wat ons kon ervaar van die eilande en kultuur was ‘n belewenis. Alhoewel daar sekerlik soveel meer is om te verken van die land.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue + Kos: Warm Karoo & The Kitchen
- Dekor: Grand Room Design
- Trourok: Leehra Bridal
- Fotograaf: Sumarie Photography
- Videograaf: Raising Flags
- Troukoek: Carrie’s Cookies & Candy
- Platejoggie + Klank: Creative Kilowatt Productions
- Skryfbehoeftes: Oh, Crop Creative Studio