Byron & Desmé se plaastroue

Byron en Desmé se plaastroue was beslis ‘n merkwaardige geleentheid wat plaasgevind het ongeveer  7 kilometer buite Potchefstroom.  Desmé het haar strooimeisies asook haar familie se asems behoorlik weggeslaan toe hulle haar met die eerste oogopslag in haar pragtige trourok aanskou.  Hulle kleurskema het bestaan uit Vuil Pienk en dit was ook in haar strooimeisies se rokke en die dekor geïmplementeer.  Hulle paartjie foto’s in die grasveld tydens die son gesak het was definitief ‘n spesiale oomblik en ervaring vir hierdie getroude paartjie gewees.  Lees gerus die res van die artikel om meer uit te vind oor Byron en Desmé se liefdesverhaal asook te om sien hoe die twee trou aan mekaar beloof het.  Ons hoop julle geniet hierdie artikel.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié datum?


Al wat ons van die begin af geweet het is dat dit definitief die 24ste van een of ander maand sou wees.  24 is baie spesiaal vir ons, want dit was die dag waarop ons begin uitgaan het en die dag waarop ons ons eerste soen gehad het. 24 September 2017 was amper ons dag, maar weens verskeie redes het ons toe besluit om die verlowing nog so klein bietjie uit te rek en op ons 5 jaar herdenking wat die 24ste Maart 2018 was te trou.  Byron is tans 26 en Desmé is 24 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons kom al van Hoërskool af saam as vriende en in 2012 het Byron, nadat hy al 3 jaar die PUK gaan ontdek het en Desmé matriek was, het die rooikop weer die vlammetjie aangesteek en vir Desmé n boodskap gestuur op Facebook.  Dit was nadat hy die fliek ‘Made of Honor’ gekyk het wat hom al destyds aan haar laat dink het.  Na ‘n hele boek se boodskappe, Desember vakansie se dae aftel en uitsien vir Desmé se ontgroening tydperk op die PUK om end te kry, was ons uiteindelik n paartjie.

Hoe het julle verloof geraak?


Desmé het Byron se ma se “kersgeskenk” al die pad saam met haar gery tot in Ladygrey waar ons ‘n troue bygewoon het, maar dit was toe al die tyd haar eie verloofring in ‘n massiewe boks vol klippe gepak om haar te flous.  Die Sondag na die troue het ons met gekreukelde klere en moeg gesiggies Joubert’s Pass gery op pad na ons vakansie plek in KwaZulu-Natal.  Net toe ons absoluut niks sein gehad het nie, het Byron gestop en Desmé gevra om die mooiste kant te kies van ‘n 360-grade uitsig en toe op sy knieg gegaan en haar eerste woorde was “Nee” en Byron se eerste gesigsuitdrukking was ook “Agenee”, maar dit was toe net van die skok en ewe skielik het ons die nuwe titel gekry van “verloofdes”.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Ons is absoluut mal oor dans, veral met mekaar, so die oomblik toe al die formaliteite afgehandel was en “Sonsak” van Wolwedans begin speel, wat n liedjie is wat ons vriende geskryf het (en van die begin af n gunsteling is vir Desmé) en ons vir daardie paar minute net alles inneem deur met mekaar orals op daardie dansvloer rond te dans was die gelukkigste gevoel, want ons was getroud!

Vertel ons meer van jul ringe.


Byron se ring is titanium met Desmé se ringvinger se vingerafdruk ingegraveer aan die binnekant.  Desmé se ring het sy self ontwerp met proteas wat haar oorspronklike verloofring diamant, haar ma se trouring steen asook ‘n ekstra enetjie wat vasgehou word met ‘n klein witgoud balletjie aan die binnekant wat toelaat dat sy kan gewig verloor of optel en die ring altyd pas.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Salt & Pepper Photography was ons fotograwe en hulle is deur vriende van ons aanbeveel.  Ons was nie vir een oomblik spyt nie, hulle is besonderse talentvolle mense met ‘n baie aangename rustige uitkyk op die lewe. Hulle het ons heeltemal op ons gemak laat voel en oomblikke vas gevang wat uit ‘n ander oogpunt was.

Pandagraphy was ons videograaf en ons was baie tevrede met hom.  Hy is ‘n merkwaardige mens met soveel respek vir emosies en hy sien beslis die fynere detail raak.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Dit is cliché om te se: “niks nie”, maar ons is eerlik as ons se niks nie, want die dag het net met ons gegaan en elke oomblik en emosie was presies soos dit moes wees, so “real” en opreg.

Hoe het julle die venue gekies?


Desmé wou net iewers ‘n skuur of vertrek kry wat ons self kon mooimaak, maar Byron het as ‘n verrassing gereël dat ons na ‘n paar venues gaan kyk.  Dit was in en rondom Potchefstroom waar hy gebly het, want “liefie dit is deel van die proses en lekker om verloof te wees en ons moet dit net beleef.”  Voor die laaste venue wou Desmé slegs ‘n skemerkelkie iewers gaan geniet na ‘n lang dag, maar ons het min wetende gaan loer en wie sou nou kon raai dat ons op so spesiale plek, Makojalo, sou afkom.  Dit is gevul met die mooiste hande werke, trane, geskiedenis, familie, lag, stories en natuur en was na die eerste hoendervleis sessie ‘n uitgemaakte saak.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Die een ding van Desmé waaroor ek mal is, is hoe sy die doodgewone klein dingetjies in die lewe geniet.  Dit was outomaties die inspirasie vir die dekor en versierings van ons troue.   Takkies uit ouma se tuin, Woestynrose wat almal vir ons gegroei het, ou boeke wat meer as net die stories vertel, glas goed wat natuurlike lig reflekteer en proteas wat net die mooiheid van sterk wees uitbeeld. Die dekor was self deur al ons vriende en familie gemaak en geskep.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Oeh my aarde, wat ‘n projek op sy eie, ons het nie ‘n idee gehad wat goed kos nie, maar ons het baie navorsing gedoen en rond gebel en as iets vir ons in ons binneste gesê het dit is bietjie uitspattig duur, het ons dit vertrou en 95% van die kere het ons dinge vir amper helfte die prys gekry met bietjie rondvra en moeite.  Ons het nie vir poeding betaal nie en van die vrouens gevra om goedjies te maak en dit sommer as n dankie se geskenk ook gebruik, ons het nie ‘n koek gehad nie, ons het confetti stokkies gemaak met die oorskiet linte, so daar is baie maniertjies om definitief te spaar, bly net heeltyd op die uitkyk vir dit en moenie verlore raak in die emosionele besluite nie, dink objektief of dit nodig is of nie.

 

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Onthou dat dit ‘n proses is waaruit julle nog soveel meer van mekaar se mooi en opinies kan leer ken en nie soveel vas te kyk in die pynlike details en logistieke dat julle vergeet om mekaar te geniet nie.  Dinge sal in plek val soos dit moet mettertyd, so as julle bietjie vashaak met ‘n klein of groot ding, gooi ‘n glasie wyn en kyk ‘n snaakse fliek, more kyk julle weer anders na die situasie en julle het nog ‘n goeie aand ook daaruit gekry.

 

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Dit was ‘n verrassing vir Desmé, en die Sondag na ons “vernietig die rok fotosessie” in die water in ons trou klere het Byron gestop vir ietsie om te drink en op die Coke blikkie wat hy vir Desmé gegee het staan daar toe: “Bali”!  Byron was nog nooit oorsee nie, so dit was vreeslik opwindend, die hele nuwe ervaring, die watersport, massering, verskillende kosse, musiek, mense en poskaart-mooi uitsigte vir 13 dae lank was n onvervangbare vakansie in ons lewens. ‘n Vakansie saam met jou beste vriend, wat meer wil ‘n mens dan nou hê?

 

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

      [endsection]