Pantone Gestileerde Fotosessie

Mooi Troues deel vandag met julle ‘n gestileerde fotosessie wat geïnspireer is deur 2018 se Pantone kleur van die jaar, “Ultra Violet”.  Hierdie fotosessie wys verskeie skakerings van die kleur wat dan as inspirasie vir ‘n diverse kleurskema kan dien. Die geometriese ontwerp van die ligte hou die algehele gevoel modern en skakel ook mooi in met die goue aksente wat regdeur die fotosessie te siene is.  Die skryfbehoefte vir dié fotosessie was ontwerp deur Mooi Troues bydraer Something Gold Design Studio

Wie het die fotosessie gereël?


Dit was aanvanklik Dewald Schoeman, die bemarking bestuurder van die Royal Fischer Hotel, se idee om die meestersklas aan te bied.

Hulle wou graag wys hoe perfek hulle kamers is vir die neem van bruidsfoto’s voor die seremonie.  Vandaar het die behoefte vir die fotosessie ontstaan en ons het almal saamgespan om dit te laat realiseer.

Inspirasie agter die fotosessie?


Ons is ‘n paar verskaffers wat saamgespan het om ‘n meestersklas aan te bied vir bruide in Bloemfontein en omgewing.

Dit was ‘n wonderlike geleentheid vir bruide om by elke diensverskaffer self te hoor watter belangrike aspekte om ingedagte te hou wanneer dit kom by die beplanning van hulle troudag.  Ons wou graag vir die bruide voorbeelde van ons werk wys, en het besluit om saam ‘n gestileerde fotosessie te doen.  Die idee was ook om vir die bruide te wys hoe hulle hierdie jaar se Pantone kleur van die jaar: Ultra violet, kreatief kan aanwend.

Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?


Al die verskaffers wat hulle kennis by die meestersklas gedeel het was deel van die fotosessie.  Ons het n verskaffer vir elke komponent genader.

Vir die rokke, grimering, dekor, blomme, fotos, skryfbehoeftes, venues en die koeke is elk ‘n verskaffer gekies wat ‘n kenner is op sy gebied.

Wat was die spesiaalste deel van dié fotosessie?


Die spesiaalste deel van die fotosessie was vir seker om te kan sien hoe ongelooflik dit is wanneer alles bymekaarkom.  Elkeen is n kenner is op sy gebied en was goed ingelig oor wat die gevoel is wat ons wil skep.  Dit was lekker om te sien hoe maklik alles gebeur wanneer elkeen doen waarmee hy goed is… dis betowerend!

Advies aan paartjies wat die inspirasie wil volg?


Moenie bang wees vir pers nie!  Dit is maklik uitvoerbaar aangesien ons soveel mooi inheemse pers blomme het.

Gebruik meer as een skakering en tekstuur daarvan saam en kombineer dit met goud.

Wanneer dit kom by die bruidspaar  self kan hulle ook ‘n tikkie pers in die rok of bruidegom se pak herhaal.  Wat grimering betref kan daar lekker gespeel word met skakerings van pers op die oog, dit kan gekombineer word met bruine, pienke en sagte sjampanje kleure of selfs skitterende metale vir die dramatiese bruid.  Dit komplimenteer ‘n groen, blou en selfs ‘n bruin oog op so ‘n unieke manier.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]