Cornel en Elzanne het ʼn pragtige trou dag gehad gevul met groen bykomstighede wat hierdie troue ʼn verfrissende kleur gee en onmiddellik laat dink aan die somer. Helder kleure soos die is oral in die dag geïnkorporeer – selfs by die kleredrag! Toekomstige bruide kan gerus oplet na die strooimeisies se drag wat hulle beslis agterna weer sal kan gebruik en dra saam met ander klere.
Die foto’s was ongelooflik ontspanne met ʼn verskeidenheid van areas waar hulle geneem het wat sorg vir ʼn diverse versameling van troufoto’s. Bruide kan ook oplet na die tyd van die foto’s wat tydens “Goue uur” geneem is – ʼn fotograaf se gunsteling tyd! Probeer so ver as moontlik om in hierdie tyd jou troufoto’s ook te neem. Die dekor wat oorwegend wit is, laat venue groot en oop lyk. Wees ook seker om nie die lekker nagereg tafel te mis aan die einde nie!
Hoe het julle ontmoet?
Dit was ‘n koue wintersaand in Stellenbosch. Popsie-lopsie en Dimpel-in-die-ken-man het rustig op hul eie klaar gemaak vir ‘n verjaarsdagpartytjie te Uitkyk; onbewus van mekaar, en sonder om vir een oomblik te dink dat die aand hul eerste ontmoeting en die begin van groot dinge gaan wees. Toe Dimpel-in-die-ken-man sy oë vir die eerste keer op Popsie-lopsie lê, kon hy nie anders as om heel aand spontaan aandag aan haar te gee nie. Popsie-lopsie, aan die ander kant, wou net meer van hom uitvind, en sonder dat hul dit besef het die eerste liefde-saadjie in vrugbare grond geval en begin wortelskiet.
Natuurlik het hy sy nommer vir haar gegee; sy kon darem nie anders as om hom te laat weet dat sy veilig in Strand gearriveer het nie. Op Vrouedag het hul vir die 1e keer saam gehardloop langs die wye oseaan en daarna het Dimpel-in-die-ken-man haar gewys hoe hy ‘n dame kan bederf. Sy erken vandag dat dit werklik ‘n lekker ontbyt was. Van dié dag af het hulle mekaar geinspireer om die mooi in die lewe raak te sien; van sonsopkomste tot sonsondergange; blommetjies, berge en elke klein wonderwerk. Hoe lekker was dit nie om iemand te hê waarmee jy alles kan deel nie. Hul het nie net die lewe gedeel nie, maar ook dieselfde waardes, morele en geloof. Dan kan jy nie anders as om in hoofletters te LEEF nie!
Vir Dimpel-in-die-ken-man was dit altyd belangrik om ‘n vrou te kry wat selfstandig en sterk, dog sag is. Popsie-lopsie het weer na iemand gesoek wat weet Sy identiteit is in Christus. Stelselmatig het die twee mekaar al hoe beter leer ken. Dimpel-in-die-ken-man het na ‘n paar maande begin om soentjies te steel, en Popsie-lopsie het besef – sy is werklik verlief. Na ‘n rukkie het Dimpel-in-die-ken-man haar die kys gevra op ‘n pragtige wynplaas in Banhoek. Hul verhouding het gefloreer en ontwikkel op elke moontlike aspek. Sommer gou het hulle besef daar is meer in stoor.
Hoe het julle verloof geraak?
“Hoe sal mens ooit weet?” was die vraag op albei se lippe. ‘n Mens weet net. Onbeskryflike vrede vul jou hart. Daar is na venues gekyk nog voordat die groot vraag gevra is! Skelmpies word die planne en verrassings beraam en voor Popsie-lopsie haar oë kan uitvee staan Dimpel-in-die-ken-man op een knie. Haar diamant pryk soos ‘n blink ster op haar vinger, en hier besef sy, haar grootste wens het waar geword. Sy het haar trouman gevind en hy het haar gevra om verewig deel te wees van sy lewe. Met ʼn opgewonde harte is dit ons beurt om vandag voor in die kerk te staan en ewige trou aan mekaar te beloof.
Om van vandag af beste vriende, maar ook sielsgenote te wees; om mekaar te ken soos niemand tevore kon nie, om saam te baklei, maar ook saam te skaterlag, om saam te bid; mekaar lief te hê en ook om ander mense te seën. Uiteindelik begin Cornel en Elzanne vandag Hoofstuk 1 van die mooiste storieboek wat niemand al ooit gelees het nie.
Vertel ons meer van jul troudag?
Die son het sy kop skuins na ses agter die berge uitgesteek in die Paarl-vallei. Die dag het sowaar aangebreek, vandag beloof ons trou aan mekaar. Rondom jou strek die wingerde van die een punt na die ander, die dam met sy silhouette, die bome en koppies, die amfi-teater waar ek as bruid netnou gaan afstap… net hier besef ek, hierdie is God se prag-skepping en Hy het die mooiste dag vir ons gekies om ons lewens aanmekaar toe te wy. Na die laaste geskarrel om elke dingetjie perfek op sy plek te kry, gly my oë oor alles en spreek ek een woord uit oor my lippe… manjifiek!
Dit het tyd geword om na my sielsgenoot aangestap te kom. My ridder wat staan en wag vir sy prinses in haar spierwit rok met die lang sleep. As ons maar net almal se trane kon opvang om die Kaapse damme vol te maak… Trane van geluk, dankbaarheid en opgewondenheid. Hierdie is ‘n werklikheid, ons eie sprokiesverhaal begin nou. Die Woord wat ons ontvang het, beloftes wat ons hardop gelees het en almal se seëninge het ons voorberei op die lewe wat ons kan leef as getroudes. Dit was maklik om saam te getuig dat ons liefde altyd sal laat seëvier.
Vertel ons meer oor die styl en dekor van jul troue?
Die saal versier met wit blomme, honderde liggies en kerse; skep die elegante, tog warm atmosfeer. Smaaklike kos, lekker dans musiek en hartroerende toesprake was waaruit ons aand bestaan het. Met elke sekonde wat verby tik wens jy dat jy tyd kan laat stil staan.
Advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Al wat mens op die ou einde oor het, is kosbare kiekies en onvergeetlike herinneringe van jou beste en belangrikste dag. Met die terugkyk na jou sprokiesdag besef jy een ding; “Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie” soos gestaan in Hooflied 8:7 Ons dag sal vir ewig die grootste hoogtepunt in ons bestaanslewe bly. Ons grootste droom het waar geword. Neh 9:8 ”en U het u belofte nagekom; U is betroubaar.” Op hierdie dag weet jy met vrede in jou hart dat jy mekaar meer lief sal hê as gister, maar minder as more!
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: Kronenburg
- Fotograaf: Tertius Gous
- Videograaf: Chris Wally
- Grimering en hare: Michelle v/d Mescht
- Blomme: Sandra Taljaard
- Rok: Trienie Roos (my ma)