André en Melandri se troudag was ‘n klassieke viering van hul liefde, met spatsels van blou en pers in die dekor en blomme. Die styl van hierdie troue was klassiek-Toskaans. Dit sal beslis nie ‘n oog-seer vir die bruid wees oor ‘n paar jaar nie. Beide die bruid en bruidegom het uitsonderlik gelyk. Die strooimeisies rokke is ook beslis iets om dop te hou aangesien die rokke eenvoudig en stylvol genoeg is om weer te kan dra – iets wat elke strooimeisie sal bly maak! Die paartjie het 80 gaste op hul dag gehad wat net genoeg is om by almal uit te kom en die aand werklik te geniet met een en elk van die persone teenwoordig. Dit wys dat dit nie nodig is om ‘n ellelange gastelys te hê nie.
Gaan kyk ook onder hoe die paartjie foto’s in die dorp geneem het en so weer hul plaaslike omgewing geïnkorporeer het in die dekor. Lekker lees, ons hoop dis vir julle ook so inspirerend soos vir die Mooi Troues span!
Vertel ons hoe het julle ontmoet?
Ek en Andre het mekaar in 2013 op ons universiteit, NWU Pukke, se kerkkamp ontmoet. Ons altwee was sel-leiers vir die eerstejaars. Ek was van dag een af al bewus van hom, maar het gedurende die loop van die week nie weer regtig geleentheid gekry om met hom te gesels nie. Na die week van kamp kry ek eendag uit die bloute ‘n boodskap wat vra of ek saam hom wil gaan koffie drink. Die res is geskiedenis.
Watter eienskappe maak jul aangetrokke tot mekaar?
Andre het die vermoë om mense rondom hom te laat skater van die lag en het ‘n verskriklike goeie sin vir humor. Dit is dan ook die eienskap wat my na hom aangetrek het. Die feit dat hy besonders aantreklik is, was bloot ‘n bonus.
Melandri is baie sosiaal, waaghalsig, skerp, het werklik ‘n goeie hart. Sy het al die karakter eienskappe wat ek wens ek gehad het. Sy het my altyd uitgedaag om ‘n beter mens te wees as wat ek was. Voordat ek haar ontmoet het, was ek die kêrel wat altyd Nando’s toe gegaan het en presies dieselfde ding bestel het! Boonop is sy vir my die mooiste persoon wat bestaan.
Wat was die styl van jul troue?
Ons het nooit ‘n styl vir ons bruilof gehad nie, maar ek wou graag iets eenvoudig hê wat jare na die tyd steeds stylvol sou vertoon. Ek was gereeld op Pinterest en op Mooi Troues opsoek na inspirasie en so het ons uiteindelik besluit dat ons ‘n Toskaanse gevoel wou hê.
Wat sou jul verander het as jul kon?
Absoluut niks nie! Ons was omring deur die mense wat ons liefhet en wat vir ons kosbaar is en kon vir niks meer vra nie. Dit was sonder twyfel die beste dag van ons lewens! Ek wil net die dag oor en oor en oor herleef. Die een ding waaroor ek spyt is, is dat ons nie ‘n videograaf gekry het nie.
Wat is julle advies aan ander paartjies wat hul troue beplan?
Uit ‘n bruid se oogpunt moet ek bieg dat ek ‘n perfeksionis is, en juis daarom het ek die beplannings proses in sekere aspekte uitdagend gevind in die sin dat ek geneig was om na ‘n prentjie te kyk op Pinterest en dit presies net so te wou inkorporeer in ons troue. Boonop word jy gebombardeer met verskillende idees en kan dit dan moeilik raak om op een idee te besluit aangesien ‘n bruid graag die dag 100% perfek wil hê. Ek moes leer om selektief na idees te kyk op byvoorbeeld Pinterest en dit my eie te maak deur jou persoonlike stempel af te druk. Ek weet dit is al telkemale genoem, maar daar is ‘n rede daarvoor; moenie te veel bekommer oor die klein details nie. Kry goeie diensverskaffers waarmee jy ‘n goeie verhouding bou en wat jy weet julle beste belange op die hart dra. Dan is dit ook belangrik om julle begroting in gedagte te hou, aangesien klein goedjies baie vinnig optel.
Wat was jul trou begroting?
Ons aanvanklike begroting was R100 000 maar op die ou einde het ons R130 000 spandeer.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: Poplars Estate
- Blomme: Sam Richardson van Wedding Flowers and Decor
- Grimeerkunstenaar: MUD Studio Klerksdorp
- Skryfbehoeftes: Words with Wings
- Troukoek: Honey Bee Baker
- Troupante: Beaudell Jewellery
- Platejoggie: Leon Bezuidenhout
- Trourok: Kobus Rautenbach Couture
- Strooimeisie rokke: Anneen Henze Collection
- Strooijonkers se strikdasse: Coffieties
- Bruidegom klere: David Jones Woolworths
- Hare: Nastasha-Lee White
- Fotograaf: Mense met Gesigte