Nico & Lorindi se troue in die Vrystaat

Nico het met die eerste oogopslag geweet dat Lorindi die vrou is waarvoor hy kaalvoet oor die Drakensberge sou loop.  Die twee het hul liefde vir mekaar verklaar op die pragtige Welgelegen Cherry Estate en beskryf dit as “meer as waarvoor ons kon vra”.  Die prag geleentheid het oulike interaktiewe elemente gehad soos die southappie en nagereg tafel waar gaste hulself kon help, beslis iets om ingedagte te hou as jy ‘n meer ontspanne atmosfeer wil skep.  Lees onder meer oor hierdie twee se paadjie na die kansel.

Hoe het julle ontmoet en watter eienskappe trek julle na mekaar aan?


Op ‘n winterdag in 2014 by Bethlehem, het ek haar gesien, en moes ek eenvoudig net uitvind wie sy is. Ek het gaan rondvra en haar gaan opsoek op Facebook.  Na ons eerste koffie afspraak op Braai-dag het ons liefdesverhaal begin. Wat my dadelik na hom toe aangetrek het, was sy vermoë om my altyd te laat lag, sy omgee, ondersteuning en sy bitter romantiese kant wat my weer laat glo het in ware liefde. Wat my na haar aangetrek het was haar onvergeetlike glimlag en sy het hierdie ongelooflike omgee en liefde vir haar mede-mens.  Ek het dadelik geweet vir haar wil ek nooit laat gaan nie.

Wat was die styl van jul troue  en waar het jul inspirasie gevind?


Die styl van ons mooiste dag was Rustiek, maar met ‘n klassieke, elegante element.  Die kleure van ons troue was pastel kleure soos grys, ment, blospienk en roosgoud. In Herfs is die Oos-Vrystaat op sy mooiste en vir ons was Welgelegen die ideale venue tussen die Drakensberge, omring met goue grasvelde en kersiebome. Die inspirasie het ons gekry van ons omgewing en natuurlike voorkeure van roosgoud en  Protea’s.  Die lang rye hout tafels se dekor en blomme het elkeen van mekaar verskil.  Met die verskillende potjies, kerse, roosgoud, blompatrone en blomme het ons ‘n loper geskep oor die hele tafel, en was ons as bruidspaar en beide ons families betrokke met die voorbereiding vir ons spesiale dag.

Was julle met wittebrood?


Ons was Mauritius toe en het by die Riu Le Morne gebly.  Gedurende ons tydperk in Mauritius het ons gerus, kwaliteit tyd saam spandeer en mooi sonsondergange saam waardeer.  Ons het gaan diepsee swem saam met die dolfyne, dit was ongelooflik! Glo dit of nie, maar ons was daardie volgende dag sommer styf van al die swem in die diepsee. In Mauritius het ons gesnorkel tussen die koraal riwwe, en het ons ‘n onderwater paradys beleef.  Ons het ook ’n dag spandeer op die Catamaran, waar ons gevaar het na ‘n eiland genaamd Iile Aux Cerf.  Daar het ons gaan “parasailing” doen.  Iets wat ons kan afmerk op ons “Bucket List”. Dit was ‘n onvergeetlike vakansie.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Absoluut niks nie.  Ons dag was meer as wat ons ooit voor kon vra.  Alles het perfek verloop daardie dag.  Ons was rustig en het elke oomblik ingeneem en het die dag spandeer saam die mense waarvoor ons lief is en vir wie ons omgee.

Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat besig is om troue te beplan?


Spaar!  Almal sê dit, maar ons het net opnuut besef hoe vroeër mens begin spaar, hoe beter.

Belê in ‘n goeie fotograaf – dis die moeite werd!

Wanneer jy ‘n venue moet kies, kyk na die omgewing, is dit  ver van almal wat betrokke is en is daar genoeg akkommodasie vir almal.

‘n Spontane en gemaklike seremoniemeester speel ‘n groot rol in die sukses en vloei van die aand.

Wat was jul begroting, en hoeveel het dit jul op die einde gekos?


Ons het nie ‘n begroting gehad vir die troue nie.  Tog het ons steeds probeer om nie oorboord te gaan nie, en het ons gespaar waar moontlik.  Na afloop van die troue het ons wel ‘n paar sommetjies gemaak en het die troue ons om en by R320 00.00 gekos.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]