Brendan en Bianca se troudag was alles wat hulle wou hê – eenvoudige elegansie met hul naaste vriende en familie wat die dag bywoon. Beslis ‘n geleentheid wat hulle, net soos hul eerste ontmoeting, vir altyd sal onthou. Die geleentheid is pragtig vasgevang deur Liezel Volschenk Photography wat as fotograaf opgetree het op die dag. Dekor was eenvoudig en vry van onnodige tierlantyntjies. Met ‘n oorheersende wit kleurskema, het dit die ideale geleentheid geskep om rond te speel met tekstuur wanneer dit by dekor soos die tafeldoeke en blomme kom, wat ‘n gevoel van tydloosheid leen aan hierdie troue.
Vertel ons hoe het julle ontmoet?
Brendan en ek het nou nie juis die “sprokies-ontmoeting” gehad nie, maar vir ons was dit perfek gewees. ‘n Gedeelte van my familie woon op Uitenhage en ons het gereeld daar gaan kuier. Brendan is op Uitenhage gebore en was steeds daar gevestig. ‘n Dag wat ons nooit sal vergeet nie was die dag toe ons mekaar ontmoet het. Dit was definitief liefde met die eerste oogopslag. My vriendin en ek het daardie Saterdag by vriende gaan kuier. Dit was daar waar ek en Brendan nie ons oë van mekaar kon afhou nie. Ons het min woorde vir mekaar gehad, ek dink dit was die senuwees, maar het gereeld in mekaar se rigting gekyk.
Brendan het die mooiste blou oë, glimlag en bene. Hy het ‘n hart van goud, is altyd behulpsaam en is my beste vriend. Toe ek vra wat het hom aanvanklik na my aangetrek het hy ook dadelik gesê dat dit my definitief my groot, blou oë en glimlag was. Brendan het toe maar sy moed bymekaar geskraap en my nommer gevra. Ek sou gewoonlik die verkeerde nommer vir mense gee, maar hierdie aand was anders.
Ons het daardie volgende oggend begin boodskappe aan mekaar stuur. Al het ons net oor die telefoon gesels, het ek geweet dit is waar ek wou wees. Hy het presies dieselfde gevoel. Na ‘n maand se gesels het ons besluit dat hy vir my in Hartenbos moes kom kuier.
Omrede ek die jongste van drie dogters is, was my ouers nie baie beïndruk toe ek sê dat ‘n vriend vir my gaan kom kuier nie. Daardie Vrydag kon ek nie wag om by die huis te kom nie. Ek het huistoe gejaag op my Vuka, want iemand baie spesiaal het gewag. Ons het daarna om die beurt elke tweede naweek vir mekaar gaan kuier. Vir twee en ‘n half jaar lank het ons ‘n langafstand verhouding gehad. Brendan het die een Desember vakansie vir my in Hartenbos kom kuier. Toe hy moes terug het die trane omtrent geloop.
Binne ‘n week het hy hier ‘n werk en ‘n huis gekry. Dinge kon nie beter nie, want ons drome het waar geword – ons kon mekaar elke dag sien! Na jare se wag en skimpe het hy uiteindelik my ouers vir my hand gevra. Sy woorde aan my was: “Skat, ek gaan net gou apteek toe.” – hy en my ouers het ‘n uur en ‘n half later by die huis gekom.
Daardie Sondagoggend, het hy my ses uur kom wakker maak. Hy kon nie slaap nie en ek ook nie. Ons het met Cooper, ons Yorkshire terrier, op die strand gaan stap. Ek het iets verwag omdat sy Ma-hulle ons die Saterdagaand al kom verras het, maar het nie die boksie gesien nie. Daardie dag het ons besluit dat ons saam die lewe wil aandurf. Ons groei daagliks en raak net meer verlief op mekaar.
Vertel ons meer van die inspirasie en styl van hul troue
Ons het nie regtig ‘n spesifieke styl gehad nie. Ons het 14 maande gehad om ons troue te beplan. Na ‘n paar maande het Brendan gesê dat ek in beheer was en dat hy hier en daar ‘n paar idees sou gee. Natuurlik was ek verlig – ons styl verskil baie! Ek wou dit baie eenvoudig, maar elegant gehad het. My ma het permanent aan my gekarring omrede ek nie kleur inbring nie, maar ek wou nie gebind gewees nie. Ons het die strooimeisie rokke eerste gekoop en daarvan het ons inspirasie gevind. My kop het oortyd gewerk en ons trou-koördineerders het net gesê dat ons, spesifiek ek, rustig moet wees. Ek het twee maande voor die troue ‘n foto op Pinterest gesien en het dadelik op en af gespring – Dit was ons troue!
Ons was mal oor waar die venue is, die feit dat alles naby aan mekaar was en dat dit ‘n veilige roete huistoe vir ons en ons gaste was. Die venue was perfek en het by die styl van die troue gepas.
Was julle met wittebrood?
Ons het die aand van ons troue by die Cheetah Lodge, op Brandwag, oorgeslaap. Ons wittebrood was heelwat later. Vriende van ons wat die 20ste April in Kaapstad getrou het, het ons troue toe genooi en daarna sou almal op die MSC Sinfonia klim. Ek en Brendan het besluit om dit te doen, twee vlieë met een klap. Ons het die 19de Kaapstad toe gery, die voorreg gehad om hulle spesiale dag by te woon en daarna om die boot te klim. Ons albei wou dit al lank terug gedoen het. Dit was alles so onrealisties. Dit was fantasties.
Ons was vir 5 dae op die MSC. Ons het die Donderdag uit Kaapstad vertrek. Daardie Saterdag het ons in Walvisbaai afgeklim en begin stap. Daar het ons ‘n taxi gehuur en hy het ons Swakopmund toe gevat. Wat ‘n belewenis! Ons was baie hartseer toe ons daardie Maandag moes terugkom huistoe.
Advies wat julle aan ander paartjies kan gee tydens beplanning ?
Nooi slegs mense wat julle werklik daar wil hê. Die gastelys was vir ons die moeilikste gewees. Moenie baie bekommerd wees oor die klein goedjies nie, want dit gaan jou mal maak. Alles sal mettertyd in plek val – wees net geduldig. Oja, en moet ook nie te lank voor die tyd begin beplan nie!
Wat was julle begroting vir jul troue?
Ek moet sê, ons het nogal by ons begroting gehou. Brendan is ‘n begroting-man. Die begroting vir ons troue was om en by R45 000. Albei ons ouers het ons baie met die venue en ekstras gehelp. Ons trou-koördineerders het ons ook vreeslik baie gehelp. Werner en Carel, die koördineerders, is baie goed met wat hulle doen en is glad nie daar om jou uit te byt nie. Hulle sal alles vir die bruidspaar doen en elke bietjie rek tot waar hulle kan.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: Kleingeluk
- Troukoek: Anne-Marie
- Fotograaf: Liezel Volschenk Photography
- Grimering: Flawless Professional Make-up by Donique Leonard