Wynand & Anneke se selfdoen plaastroue

Ons by Mooi Troues kan nie glo wat ons oë sien as ons na die dekor van Wynand en Anneke se troue kyk nie;  Anneke en vriende het die dekor self gedoen!  Dit is vir ons verskriklik mooi en weet ons lesers sal tonne inspirasie uit die fotos onder vind.


Vertel ons hoe het julle ontmoet?

Anneke:  Ons het amper agt jaar terug mekaar ontmoet by die Dros waar Wynand deeltyds gewerk het terwyl hy studeer het in die Kaap.  Dit is hier waar ek een oggend oor ‘n Dros koffie, met ‘n bolla en in‘n oor groot Paarl Gim skool trui vir my beste vriendin vertel het hoe ek dink ek gaan eendag met Wynand trou.  Daar is soveel eienskappe van Wynand wat ek kan lys, maar my top drie sal wees Wynand se respek teenoor vroue, sy algemene kennis  en dat hy nes ek opgewonde kan raak oor die klein dingetjies in die lewe.

Wynand:  Soos Anneke sê, ek het haar in die Dros ontmoet en skaam-skaam bedien as sy en haar vriendinne daar was.  Na vele kere se gesels het ek haar een aand raak geloop buite die Dros en al wat ek kon sê was dat ek en al my vriende wat saam was nou gaan braai by haar huis.  Sy het ingestem en vandag braai ons nogsteeds saam, net by ons eie huis.  Anneke het die kleinste, mooiste hart in die wêreld.  Sy het altyd plek vir nog iemand en wil net help waar sy kan. Die eerste eienskap wat my na haar gelok het was haar sin vir humor en daai uit-die-maag lag vir alles. Solank mense om haar gelukkig is is sy meer as tevrede.



Wat was die inspirasie vir die styl van die troue?

Ons Gaste; Van dag een af was dit vir ons belangrik om ‘n aand te skep wat nie net ‘n fees viering van ons huwelik is nie, maar dat elke gas hulself kan uitleef.  Dit was belangrik dat hulle kan ontspan en die partytjie saam met ons geniet.  Ek en Wynand het baie van die tierlantyntjies uit gelos en gefokus op sagte beligting, goeie musiek, goeie wyn en ‘n lekker kuier-lag atmosfeer.  Ons het die formele goed ook probeer anders doen dat mense vinniger kan begin dans!  Dit is vir ons vreeslik lekker as mense by ons kuier.  Ons wou dus so veel moontlik van die goed persoonlik hou, sodat dit voel asof jy by ons huis kom kuier.



Was julle met wittebrood?

Ons is albei baie lief vir diere en pad reise, so dit was in die Kruger Wildtuin waar ons ure saam in die kar spandeer het.  Met ons koffie uit ‘n fles het ons die groot vyf bewonder.  Ons spog gereeld oor hoe bevoorreg ons was om in die eerste 2 dae nie net die groot  5 te sien nie, maar ook 3 Luiperde.  Dit was ‘n ongelooflike ervaring en beslis iets wat ons weer sal doen. 



Wat sou jul verander het as jul kon?

Ons het al baie hieroor gedink en daar is nie eintlik iets wat ons sou wou verander by die troue self nie.  Ons het so lank beplan en saam besluit oor idees dat ons ‘n redelike goeie idee gehad het van wat ons wou doen en hoe dit moes lyk.  Toe die dag kom was dit maklik genoeg om seker te maak alles val net in plek.  Een ding wat ons graag sou wou verander is om eerder die volgende oggend vroeg te vertrek op wittebrood eerder as om eers huistoe te gaan en alles af  te pak en uit te sorteer.  Ons het Sondag aand na die troue tot baie laat gesit en alles uitgesorteer wat die volgende dag verskaffers toe moes gaan, maar dit is deel van die avontuur. 



Advies wat julle aan ander paartjies kan gee?

 Probeer om al jul goed vroeg af te handel en bly by jou tydlyn.  Daar is hordes mense en almal wil met jou praat en jy kom eenvoudig nie by almal uit nie.  Mens nooi hul vir ‘n rede en dit is sleg as mens nie met almal praat nie, maar dit is regtig net nie altyd moontlik nie.  Die belangrikste is om iewers deur die loop van die aand te gaan sit, weg van almal, en net alles in te neem.  Dit gaan baie vinnig verby, so maak seker jul neem iewers saam tyd om net alles te waardeer wat om jou gebeur.  Dit is regtig ‘n ongelooflike dag vol emosies en gevoelens, so neem kans om net te ontspan vir 5 minute en die oomblik te geniet.


[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]