Louis en Mariza en het ʼn unieke tema vir hul trou gehad wat ongelooflik mooi gelyk het. Dit pas perfek by vandag, siende dat Valentynsdag is en alles Rooi gaan wees! Louis en Mariza se het baie fondse gespaar deur hul familie lede betrokke te maak by hul troue. Daar was ook lekker gelag tussen deur met die trou reëlings en Mariza het al geringe tyd geweet wat die kleur van haar rok gaan wees. Die kleur Rooi was baie mooi en stylvol reg oor die troue gebruik.
Hulle het op hul wittebrood vir hulself toeriste gehou in Suid-Afrika en al die mooi dorpies en plekkies gaan besoek. Dit is iets wat ons as Suid-Afrikaners meer moet doen; Toeris speel in ons eie land.
Louis en Mariza vertel:
Ons hele begroting was R40,000 – en ons het vreeslike groot families wat almal lekker Afrikaans is en graag troues bywoon! Dus het ons meeste goed self gedoen. My suster is ʼn grafiese ontwerper en het vir ons al die kaartjies/pamflette as ʼn trougeskenk gegee. My ma is ʼn bloemiste. Ek en my sussie het groot geword tussen lappe en blomme en dus het sy en my ma al die blomme gerangskik. Twee van my liefste tannies het gehelp met toffie-appels maak as gaste geskenke en my een niggie het gehelp om die saal te versier – spesifiek al die voëltjies opgeplak en die sport prestasie borde toegemaak met onbedrukte koerantpapier.
Ek het self die koek gebak.
Ja, ek het die aand voor die tyd amper my hare uitgetrek van frustrasie! My liewe skoonsuster het 300 pannekoekies gebak as deel van die kos wat tydens die foto-uur geëet is. My ma het my trourok en mantel gemaak. Sy het vir weke voor die troue elke aand tydens die kragonderbrekings by ʼn lampie sit en borduur – sowaar ʼn erfstuk! Die ander rokke (strooimeisies, blommemeisie en ma-van-die-bruid) is deur my en my ma gemaak. Ek en my ma en sussie het al baie troues gedoen, maar hierdie was sowaar die sneeuvlokkie wat die bal aan die rol gesit het om ons eie trou-besigheid in 2016 te begin.
Hoe het julle ontmoet?
Mariza: Ek het eendag by my sussie ingeloop, smoorkwaad vir ʼn dosent oor ʼn taak. Hier sit ʼn man en sy broer voor my vir wie my sussie besig is om besigheidskaartjies te maak. Ek het die ketel aangeskakel, die taak op die tafel neergesit en uitgeloop en gedink oor hoe simpel ek is; Ek glo dan nie eers in liefde met die eerste oogopslag nie en hier sit dit dan nou, lewensgroot, reg voor my.
Louis: Ek was by ons grafiese ontwerper, toe loop hierdie jong meisie in. My eerste gedagte: Wie is sy? Is sy Enkellopend?
Wat was jul Trou-tema inspirasie?
Mariza: Ek wou my hele lewe lank in ʼn rooi of ʼn swart rok trou. Sonder dat Louis geweet het van dit het hy eendag genoem hy sal graag vir sy toekomstige vrou wil vra of sy nie in ʼn rooi rok sal trou nie. Jare later het hy natuurlik daarvan vergeet, maar ek het mos geweet – hier kom ʼn ding. So die trourok se kleur was vasgestel. Toe dink ek: “Hmmm, wat van ʼn tipe Rooikappie-tema? Iets wat soos ʼn woud lyk…” So toe kry ek die beste van beide wêrelde – ʼn rooi rok en ʼn swart, fluweel mantel met die boom wat op ons troukaartjie (en regoor die troue) gepryk het op geborduur.
Vertel ons van jul Wittebrood:
Louis: Ons het deur Suid-Afrika getoer, my vrou het glad nie geweet waarheen ons gaan nie, net dat sy moet warm klere inpak. Ons het in die Karoo, Prins Albert, begin, deur Gariepdam, Clarens, Golden Gate Nasionale Park, Little Switzerland in die Drakensberge as die eindbestemming, spesiaal vir die sneeu, wat gesmelt het drie dae voor ons gearriveer het, en weer terug met ʼn soortgelyke roete, via die Karoo Nasionale Park. Sy het die Desember voor ons troue geskimp sy wil so graag Little Switzerland toe gaan, my antwoord was natuurlik “Nee, te duur, ons gaan kamp”; en die trane het nogal gevloei toe ons daar indraai.
Advies wat julle kan gee aan paartjies wat nog moet trou?
Mariza: Al is jy hoe reg vir troues vir ander mense doen, dis nie ʼn slim plan om als self te probeer doen nie – die stres is heeltemal te veel en mens het ʼn vreeslike goeie ondersteuningstelsel nodig. Terugskouend is daar so baie goed waaroor ons maar net lag – en dis die belangrikste les: mens kan enigiets hanteer solank jy die humor daarin kan raaksien.
Louis: Koes as jou aanstaande die koek die aand voor die troue probeer bak! Hehe, grappie. Ons het goeie wyn en vonkelwyn teen ʼn billike prys opgespoor deur elke tweede naweek by ʼn ander wynplaas in ons omgewing te gaan wynproe. Dit was heerlike uitstappies en goeie ontspanning tussen die trou reëlings deur.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Just Judy Photography
- Kos: Helene van Wyk
- Hare + Grimmering: Hair, Make-up & Photography by Almari
- Venue: Paul Roos Markotter Klubhuis
- Klassieke-musiek Trio: Alias Strings
- Opera Cross-Over Sangers: Silwer
- Platejoggie: Atomic Event Solutions
- Grafiese Ontwerper: Letter Chef
- Predikant: Willem van der Merwe
- Gastehuis waar bruid aangetrek het: Evergreen Manor & Spa
- Huwelikskontrak: Meynhardt & Kie