Eckhart & Elaine se Kleurvolle Troue in die Robertson Vallei

Eckhart en Elaine se kleurvolle troue in die Robertson Vallei is een wat julle nie wil misloop nie. Ons is heeltemal verlief op die paartjie se trou kleurskema, veral die pragtige pienk elemente.

Die paartjie het hul onthaal gehou by die pragtige Wederom Guest Farm & Wedding Venue, ʼn kontemporêre venue in die skilderagtige Langeberge van Robertson. Die Robertson Vallei, bekend as die Vallei van Wyn en Rose, is ʼn gewilde trou bestemming vir paartjies.

Elaine se trourok het dadelik aandag getrek. Die roomkleurige A-lyn rok met kant, blinkers, pêrels en ʼn lang sleep, en die fyn detail aan die bokant en moue, het haar perfek gepas. Haar strooimeisies het helder pienk rokke gedra, wat ʼn pragtige kontras geskep het. Eckhart het ewe stylvol gelyk in ʼn ligte aardse kleur pak met ʼn bruin strikdas, wat ʼn ekstra tikseltjie elegansie bygevoeg het.

Voor die onthaal het gaste smul aan heerlike vingerhappies in die versorgde tuine van Wederom Guest Farm & Wedding Venue geniet.

Die onthaal lokaal was gevul met houttafels en deurskynende stoele, wat ʼn perfekte balans tussen rustiek en modern geskep het. Tafel lopers het tot op die grond gestrek, wat ʼn vloeiende effek aan die dekor gegee het. Helder blommerangskikkings in pienk, pers, oranje, en wit het elke tafel ʼn kleurvolle tikseltjie gegee.

Wederom Guest Farm & Wedding Venue is ʼn paradys vir trou foto’s, met versorgde tuine en skilderagtige uitsigte wat die perfekte agtergrond bied vir trou foto’s.

Rol af om meer te lees oor Eckhart en Elaine se liefdesreis en om meer te sien van hulle wonderlike troudag.

Trourok:


My Pinterest trourok bord was presies die teenoorgestelde as waarop ek toe besluit het. Ek wou graag ʼn klaargemaakte rok koop. Met my eerste passing moes ek ʼn vraelys invul sodat hulle ʼn idee kon kry waarvan ek hou. Ek beskryf toe myself ewe as ʼn “Plain Jane” wat nie van tierlantyntjies soos kant, blinkers en pêrels hou nie. Die dame wat my passing behartig het, het my aangemoedig om ʼn verskeidenheid style aan te pas sodat ons kan sien wat mooi lyk by my. Die romerige wit A-lyn prinses rok, met kant, blinkers, pêrels en ʼn lang sleep verower toe my hart!

Paartjie se Liefdesreis:


Ek het absoluut niks verwag nie! Dit was my verjaarsdag 24 Februarie 2023 en Eckhart sou my uitvat vir ete. Eckhart het genoem dat ons vinnig eers op ʼn plaas buite Wellington ʼn draai moet maak voordat ons vir ete gaan. Hy moes vinnig na ʼn waterfilter gaan kyk wat hy moes regmaak.

Met ons aankoms moedig hy my aan om oor die grond damwal langs die pomphuis te kyk na die mooi uitsig. Anderkant die wal tot my verbasing, wag daar toe ʼn mooi gedekte tafel met piekniek goedjies, rose, sjampanje en mooi agtergrond musiek, net vir ons. Ek het eers gedink hy probeer opmaak vir Valentynsdag…todat hy met my begin dans het en ek kon voel hoe vinnig sy hart klop!

Hy het my effens weggestoot op sy knie gegaan en gesê: “Lyntjies trou met my!” Waarna ek “ja ja ja” gejubbel het. Hy het bietjie tranerig geraak en wou weet hoekom ek nie huil nie. My antwoord: “want ek is te gelukkig, hoekom moet ek huil?” Een van my beste vriendinne en haar man het vanuit die aanliggende wingerd skelm fotos geneem. Hulle en Eckhart se regterhand Louis, wat alles help regsit het, het ons tegemoet gehardloop en saam met ons feesgevier.

Daarna is ons almal na Blacksmith Kitchen in die Paarl waar ʼn groep vriende ons ingewag het om ons verlowing en my lang vergete verjaarsdag te vier.

Verloof- en Trouringe:


Eckhart: Grys Tungsten. Eenvoudig en sterk.

Elaine: My verlowingsring is ook my trouring. Goue pand met ʼn solitaire diamant, geset in vier kloutjies sodat dit vierkantig vertoon. Klein fyn diamantjies kroon ook aan die onderkant van die diamant.

Meer oor Wederom Guest Farm & Wedding Venue:


Wederom het ʼn fassinerende geskiedenis wat teruggaan tot 1933, waar ʼn unieke mengsel van Italiaanse, Nederlandse en Suid-Afrikaanse invloede die plaas sy eiesoortige karakter en sjarme gegee het. Geleë diep in die Langeberge, in Robertson se pragtige vallei van wyn en rose, is Wederom perfek geskik vir een van die mees spesiale dae in enige bruid en bruidegom se lewe.

Hier, by Wederom, kom die asemrowende natuurskoon van die Boland, ʼn moderne en stylvolle trou venue, en ʼn diep persoonlike beplanningsproses saam om ʼn onvergeetlike trou ervaring vir elke paartjie te skep.

Die venue kan 120 tot 150 gaste akkommodeer, met 12 volledig gemeubileerde gastehuise wat slaapplek vir 24 tot 30 mense bied—ideaal vir dié wat wil oornag. ʼn Pragtige wittebroodsuite, perfek ingerig vir die bruid en haar gevolg om gereed te maak, is onlangs bygevoeg om Wederom se aanbod nog meer geskik te maak vir ʼn perfekte Wynland-troue!

 

Trou Dekor en Styl:


Kleurvol, Stylvol, gemaklik, informeel. Wat die dekor, kleurskema en styl aanbetref het ek nie vreeslik beplan nie.

Ek het ʼn oproep met elk van ons verskaffers gehad waarna ek ons persoonlikhede, voorkeure ens. beskryf het. Verskaffers het met voorstelle na my gekom waarna ek dit sommer vinnig goedgekeur het en berus het met die die gedagte dat hulle dit al jare lank doen en presies weet wat om te doen.

Die eerste venue waarna ons gaan kyk het was ʼn oombliklike JA! Die groot rooi deure en die bruin hout binne afwerking van die plaas stoor wat omskep is in ʼn onthaalsaal was vir ons pragtig.

Trou Begroting en Beplanning:


Ons troue het 100 gaste gehad met ʼn begroting van R200 000. Ons het 5 maande lank beplan met hulp van ʼn troukoördineerder.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: