Paul en Michelle se oulike woestyn verlowing fotosessie skree romanse en avontuur! Ons is tot oor ons ore verlief op hul pragtige fotosessie, waar die eindelose woestynduine die perfekte, magiese agtergrond vorm vir hul spesiale oomblikke.
‘n Verlowing fotosessie kan regtig ‘n speelse en intieme ervaring wees. Ons raad aan paartjies is om ‘n plek te kies wat vir julle albei betekenisvol is—soos in hierdie geval, die betowerende woestyn. Bespreek ‘n fotograaf, of as julle alreeds ‘n trou fotograaf het, gebruik die kans om met ‘n verlowing fotosessie hul werk beter te leer ken. Trek jul mooiste gemaklike uitrustings aan, besoek die plek van jul keuse, en geniet elke sekonde saam.
Nie net is ‘n verlowing fotosessie die ideale manier om jul fotograaf te leer ken nie, maar dit bied ook die kans om kosbare herinneringe vas te vang wat vir altyd gekoester sal wees.
Michelle en Paul se fotosessie met die ou Land Rover, teen die sagte lig van die sonsondergang, wys net hoe romanties eenvoud kan wees. Die warm skaduwees oor die goue sand, saam met hul ligte aardse kleurskema, smelt perfek saam met die omgewing—dit is ‘n ware bron van inspirasie vir enige paartjie se verlowing foto’s.
As julle besig is om jul troue te beplan, besoek gerus Mooi Troue se Trougids vir professionele diensverskaffers wat elkeen van jul drome kan laat waar word.
Paul en Michelle het nou die mooiste foto’s vir hul huis, as herinneringe en ook vir hul trou uitnodigings. Rol af om nog meer te sien van hul oulike woestyn verlowing en om te lees oor hul romantiese liefdesverhaal.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het ʼn paar maande gelede verloof geraak na sewe ongelooflike jare saam. Voordat ons verhouding begin het, was ons egter vir sewe jaar al vriende. Ons het sedertdien saam gewerk, ʼn paar maatskappye begin, en saam deur Afrika gereis.
Die groot vraag:
Ons het verloof geraak tussen die duine en die see in die Namibwoestyn. Op ‘n plek wat vir ons baie spesiaal is, op ons sewe jaar herdenking. Ons was heel alleen, geen sein, en geen ander mense vir kilometers om ons nie. Ons het vir die naweek gekamp, “stand up paddle board” en net in die oomblik gelewe. Dit was ʼn verassing – 27 Januarie 2024.
Hoekom ons mekaar liefhet:
Van Paul oor Michelle: “Mal oor haar lag, energie om alles aan te pak, dryf om haar doelwitte te bereik, en avontuurlustigheid.”
Van Michelle af oor Paul:” Ek is mal oor sy vriendelikheid (kindness), behulpsaamheid, ridderlikheid, mededingende gees en onstuitbare dors na avontuur en verkenning.”
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons gaan een jaar verloof wees voor ons trou.
Die verloofring:
Aangesien Paul ʼn bietjie van ʼn werkverslaafde is, het ek gedink dit is beter om ʼn e-pos met al die besonderhede van wat ek graag sou wou hê, te skryf. Ek het al twee jaar lank wenke gegee, maar dit het geen vrugte afgewerp nie. Ek het die besonderhede tot die laaste millimeter neergeskryf, maar met Elze se hulp moes Paul die mees geskikte sout- en peper diamant self kies. Ons is so mal daaroor, en dit is die mees unieke en interessantste diamant wat ek ooit gesien het.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Fotos vir die huis en vir onsself en goeie herinneringe. Ook vir die trou uitnodigings.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Die duine is ons gunsteling plek saam. As ons nie hier werk as toergidse nie, spandeer ons al ons ekstra tyd in die duine. Sonsopkoms met koffie, sonsak met wyn. Die Land Rover het ons gekies, want ons is altwee “petrolheads” wat hou van sukkel. En ons is altwee mal oor sekere old school aspekte (maniere, musiek, en karre).
- Fotograaf: Urban Lens Photography | Kontak
- Grimering: Anja McGregor Makeup Artist| Kontak
- Hare: Hashtag Hair (Chere)
- Verloofring: Elze Designer Jeweller