PJ & Kyla se Pragtige Troue in die Noord-Kaap

PJ en Kyla se pragtige troue in die Noord-Kaap is die beliggaming van ʼn tydlose romantiese styl. Elani van Reflective Photography het die paartjie se spesiale dag in die mees asemrowende foto-herinneringe vasgevang. Van elke groot oomblik tot die fynste detail is alles verewig in skilderagtige foto’s.

Kyla se simplistiese trourok, met fyn deurskynende lang mou detail, het haar natuurlike skoonheid beklemtoon en ʼn tikkie elegansie bygevoeg. PJ se ligte sand kleurige pak het weer perfek ingeskakel by die troue se gevoel en subtiele kleurskema.

Die dekor was ʼn spel van wit en swart, met sagte bruin aksente soos die houttafels en klein glasflessies wat op die tafels geplaas is. Wit tafellopers het die donker tafels versag en ʼn minimalistiese, tog gesofistikeerde voorkoms geskep. Moderne potjies met enkel blomme het ʼn stylvolle, vars aanslag gegee. Dun swart kerse in drie staander kershouers van verskillende hoogtes het ʼn romantiese kerslig atmosfeer geskep, ideaal vir ʼn gesellige viering saam met geliefdes.

Ons is tot oor ons ore verlief op die paartjie se trou foto’s en die manier waarop die sagte sonlig ʼn romantiese en warm gloed oor die paartjie se oomblikke gooi. Die asemrowende landskappe van die omgewing het die perfekte agtergrond gevorm vir hul liefdevolle herinneringe.

Rol af om te sien hoe Elani van Reflective Photography hierdie pragtige oomblikke vasgevang het en om meer te lees oor Kyla en PJ se reis van liefde.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek (Kyla) was in my Matriek jaar toe ek vir PJ ontmoet het ons was een aand saam by ʼn “duine braai” toe ons mekaar vir die eerste keer ontmoet het. Kort daarna het ek ʼn Instagram DM gekry waar hy gevra het vir my nommer. So het ons begin gesels en kort na die gesels het hy my gevra op n afspraak. Van die eerste afspraak af was die skoot hoog deur. Kort na die afspraak was ons in ʼn vaste verhouding, en twee jaar later het ons verloof geraak.

Een naweek het ek by hom op die plaas gaan kuier. Ons het eers teen skemer op die plaas aangekom, en daar, voor die plaashuis op die gras, het hy my gevra om te trou. Ek het van opgewondenheid begin huil en kon nie vinnig genoeg “ja” sê nie.

Trourok:


My trourok is vir my tydloos en elegant—ʼn rok wat ek voel nooit uit die mode sal gaan nie. Ek het ʼn prentjie in my kop gehad van presies wat ek gesoek het, maar kon dit nêrens vind nie. Uiteindelik het ek besluit om my trourok te laat maak. Die vrou wat my rok gemaak het, het ook my ma se rok gemaak toe sy getrou het. Dit was vir my ongelooflik spesiaal en kosbaar, en ek het geweet dit was die regte besluit.

My rok is eenvoudig, maar die moue en die agterste insetsel het fyn detail wat die rok maak uitstaan, terwyl dit steeds elegant bly. Ek is nie iemand wat van “too much” hou nie, maar ook nie van te eenvoudig nie, en my rok was net perfek.

Verloof- en Trouringe:


My (Kyla) se ring het soveel sentiment en is een van ʼn soort. Die diamant waarmee ons verloof geraak het, kom uit PJ se oorlede ouma se verloofring, en die twee kleiner diamante in my trouring kom uit my ma se trouring. My ma is oorlede toe ek tien jaar oud was, en om haar vir altyd by my te dra, is vir my ongelooflik kosbaar.

PJ se ring is ʼn eenvoudige swart ring, wat perfek by hom pas, want hy is ʼn gewone mens. Wat jy sien, is wat jy kry.

Meer oor Reflective Photography:


Reflective Photography is ʼn span van twee fotograwe, wat verlief is op liefde en op hul gelukkigste is wanneer hulle besig is om ʼn pragtige troudag of paartjie af te neem.

Hulle bied ʼn verskeidenheid van pakkette aan vir paartjies wat hul groot dag beplan, wat alles insluit van koffies om die paartjies beter te leer ken, verlowing fotosessie, ʼn klein voorskou van die trou foto’s 24 uur ná die troue, en ʼn besondere pakkie met gedrukte foto’s vir elke paartjie wanneer die finale gallery gestuur word.

Reflective Photography reis gereeld vir troues in die Noord-Kaap, Vrystaat en die Wes-Kaap.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Ons beste herinneringe van ons dag was die rustige oggend saam met ons strooimeisies en strooijonkers. Die seremonie was ʼn spesiale oomblik wat ons kon deel en koester saam met ons geliefdes. Die aand was ongelooflik lekker—almal het saam gedans en gekuier tot die volgende oggend. Om die dag saam met ons naastes te kon deel en herinneringe te maak wat vir altyd by ons sal bly, was vir ons onbeskryflik spesiaal.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Die venue was uitstekend—hulle het alles so goed hanteer. Alles het seepglad verloop, en alles wat ons versoek het, was presies soos ons dit wou hê. Die kos was uit die boonste rakke.

Amorè Serfontein van The Urban Gifts, wat ons dekor gedoen het, het my wildste drome oortref en dit wat ek in gedagte gehad het, nog beter in die werklikheid geplaas.

Ons troukoek was ook vir my iets besonders—nie ʼn koek wat jy op elke tweede troue sien nie, te danke aan Anneke Kruger van Honey Zoom Cakes.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Geniet net elke oomblik. As ek terugdink aan hoe baie ek en PJ gestres het, wil ek eintlik vir myself vra: waarvoor? Dit was so onnodig. Die tyd gaan so vinnig verby, so probeer om alles in te neem en net te geniet. Dit was vir ons die lekkerste tyd van ons lewe, en as jy alles in die Vader se hande los, kan alles net goed en lekker verloop.

Trou Venue:


Ek (Kyla) het nog altyd van Bella Cardi gehou. Die dag toe ons die venue gaan besigtig het, het ons altwee dadelik geweet: ja, hierdie is ons plek. Die pragtige wit geboue tussen die veld het ons albei so goed gekomplimenteer. Ek hou van wit en elegansie, en PJ is ʼn boer wat die plaaslewe liefhet—dit weerspieël presies hoe ons lyk: ons plaashuis is elegant binne-in, omring deur bosse en veld.

Trou Dekor en Styl:


Ons is altwee nie mense wat van “too much” hou nie, en omdat ek so lief is vir wit, het ons besluit om die styl en kleure elegant en eenvoudig te hou. Die wit en swart het nie net die troue se skoonheid beklemtoon nie, maar dit het ook die lewe gesimboliseer—hoe dit soms wit en helder is, en ander kere swart en onseker.

Ons het ligte khaki/champagne ingesluit omdat ons altwee van die plaas af kom en die plaaslewe in ons harte dra. Dit was ons manier om ons liefde vir die plaas in die troue te weerspieël.

Eerste Dans:


Helemal – Chris Steyn

Trou Begroting en Beplanning:


Ons het ʼn intieme troue gehou met 100 gaste. Die trou begroting was goed beplan, en dit het ons ongeveer R1 500 per persoon gekos vir die venue, ete, en tafeldekor. Altesaam het die hele troue, insluitend die rokke, grimering, hare, bruidegom se pak, en die strooijonkers se uitrustings, sowat R200 000 beloop. Ons het elf maande aan die troubeplanning bestee, en dit was ʼn ware selfdoen-troue waar ons alles self gereël en georganiseer het.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: