Xander & Rioné se Piekniek Verrassing Verlowing Fotosessie

Xander en Rioné se piekniek verrassing verlowing fotosessie is ʼn prentjiemooi voorbeeld van hoe betowerend ʼn verrassing verlowing kan wees. Dit het ʼn byna safari-gevoel, met die uitgestrekte oop grasvelde en bome wat uitstaan teen die sagte goue sonlig.

Hulle het ʼn lieflike piekniek opstelling gehad, versier met ʼn bos blomme in ʼn rottangmandjie en ʼn bottel vonkelwyn, wat die romantiese piekniek atmosfeer perfek aangevul het.

Dié paartjie het ʼn spesiale tradisie: elke ses maande hou hulle ʼn fotosessie om hul liefdesreis in pragtige foto herinneringe vas te vang. Dit is ʼn wonderlike manier om deur middel van foto’s die verhaal van hulle liefde te vertel en om die kosbare oomblikke van hul reis saam te verewig in ʼn besige wêreld waar die tyd só vinnig verbygaan.

Hierdie verrassing verlowing fotosessie is buitengewoon mooi. Die grasvelde en die warm lig skep ʼn perfekte agtergrond vir ʼn verrassing verlowing fotosessie. Sonlig speel só ʼn belangrike rol in die vasvang van die perfekte oomblik. Ons beveel altyd aan dat paartjies met hul fotograaf gesels om die ideale tyd van die dag te kies vir hul verlowings foto’s. Nog ʼn belangrike element is die paartjie se uitrustings. Kies, soos Rioné en Xander, ʼn meer neutrale kleurskema. Kyk net hoe pragtig vloei alles saam!

Is julle verloof? Is julle op soek na talentvolle trou fotograwe en ander diensverskaffers om te help met jul troureëlings? Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids deur hier te klik.

Rol af om meer te sien van Xander en Rioné se piekniek verrassing verlowing fotosessie en om meer te lees oor hul liefdesreis.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ek het vir Xander die eerste keer tydens Covid op ʼn aanlyn selgroep Zoom afspraak gesien. Ek was só stomgeslaan dat ek letterlik van my stoel afgeval het vir hom. Daarna het hy vir my boodskappe gestuur elke dag en het my aande gevul met al sy stories. Na ʼn maand van gesels het hy vir my kom kuier in Rustenburg. Dit was liefde met die eerste oogopslag en ek val met graagte weer vir die man as die storie dieselfde loop. Ons is tans drie jaar en sewe maande saam en kan nie gelukkiger wees nie.

>

Die groot vraag:


Xander het almal betrokke gekry vir die verlowing. Hy het takies vir elke vriendin uitgedink en almal op ʼn manier laat help. Niemand het enige iets verklap nie! Dit was só kosbaar om te hoor hoe intensioneel hy was met elke liewe detail rondom die verlowing. Elke ses maande het ons ʼn fotosessie, so dit was glad nie buitengewoon nie. Dit was ons drie jaar en ses maande fotosessie op die 6de Julie en Emma het die perfekte plek voorgestel. Sy het meeste van die sessie gechoreografeer en dit só natuurlik as moontlik laat gebeur.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Xander – “My gunsteling eienskap van Rioné is haar goedhartigheid. Dit was vir my van die eerste dag af duidelik hoe mooi hart sy het, hoeveel sy omgee en hoeveel sy liefhet. Sy is van natuur ʼn stralende persoon met ʼn lus vir lewe, nes ʼn sonneblom, my sonneblom.”

Rioné – “Xander is die een man saam wie ek vir ewig kan lag. Hy is ʼn man na aan God se hart en sal nie twee keer daaroor dink om dit uit te straal nie. Dit is doodeenvoudig my voorreg om saam ʼn man se gedrewe en goedgesind te dans deur die lewe.”

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Volgende jaar sal ek in my finale jaar van Maatskaplike Werk swot wees by die Universiteit van Pretoria. Vir daardie rede het ek en Xander dit goedgedink om die beplanning klaar te doen teen Februarie 2026 (hopelik), en dan deur die jaar regtig net die fyner details deur die jaar uit te stryk soos die tyd nader kom. Dit beteken ek en hy sal vir ʼn jaar en ses maande verloof wees voor die groot dag.

Die verloofring:


Een van my vriendinne het dit só mooi gestel, sy het gesê, “God gee vir elke vrou die perfekte beeld van haar ring, sy beskryf dit in soveel detail dat mense basies die ring voor jou kan sien, en daarna vergeet sy alles. Geen idee hoe sy dit beskryf het nie, geen verwysings, niks.” En dis presies hoe dit gebeur het. Xander en my vriendin, Carissa, het elke detail só noukeurig deurgepraat dat ek regtig nie dink ek sou ʼn mooier of meer sentimentele ring kon op dink nie. Hy het die steen van my ouma se ring ook ingesit wat dit soveel meer laat beteken.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Soos vroeër genoem het ek en Xander elke ses maande ʼn fotosessie. Die idee is grotendeels om ons verhouding vas te vang op ʼn tydlose manier om die storie te kan deel met ons kinders, foto’s in ons huis kan hê, en net as verwysing vir onsself. ʼn Foto spreek ʼn duisend woorde, maar as jy ʼn album van jare se geluk, fees vierings, opgewondenheid en hoop het, het jy die storie van ʼn leeftyd. Buitendien, Xander is so aantreklik, hoekom sal ek hom nie wil vriendelik verplig om fotosessies saam my te hê nie?


Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons het nog altyd meer ʼn neiging gehad na ʼn natuurlike agtergrond wat warm is. Vir daardie rede is ons baie intensioneel met watse fotograaf ons gebruik, omdat hulle styl en waarmee hulle gemaklik is op die ou einde ʼn massiewe impak het op die eindproduk. Emma het die plek voorgestel en het ons ook gechoreografeer. Daarom is dit werklik meestal Emma se besonderse talent en haar fyn oog vir detail wat die fotosessie ʼn ‘dream come true’ gemaak het. Ek sal nooit vergeet hoe die eerste foto’s wat ons gekry het my kinderlik opgewonde gemaak het nie. Vir ewig dankbaar dat sy die kosbare oomblik so perfek vasgevang het!

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons werk met groot entoesiasme saam aan ons toekoms. Xander het dit so mooi beskryf toe hy sê dat ons waardering vir mekaar soveel dieper loop na die verlowing. Ons sien uit om mekaar net meer te kan liefhê en koester. Ons is gretig om die grond te werk dat ons huwelik regtig net vrug sal dra, nie net vir ons nie, maar vir ons gemeenskap ook. Al wat die tyd senutergend maak is om ʼn ‘bridezilla’ te word. Van Xander se kant af is hy meer bekommerd oor die ouers.

Visie vir droomtroue:


Ek is geseënd genoeg om twee vriendinne, Mienke en Jana, te hê wat fantastiese trou beplanners is. En die ander twee wat nie is nie, Sky en Carissa, is net doodeenvoudig goed met beplan en opgewonde saam ons. Ek en Xander is albei baie gefokus op ons geloof en sal graag dit nie net in ons huwelik wil uitstraal nie, maar by ons troue ook. Dit sal ʼn intieme troue wees, hopelik, op ʼn familie plaas waar Xander die eerste keer in die familie aanvaar was ook. Baie plante, baie groen, en doodeenvoudig joyous is die visie.


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: