Pieter en Ané se verrassings verlowing in ‘n ondergrondse kelder is ’n sprokies verhaal wat tot lewe gekom het. ’n Verlowing is altyd spesiaal, maar dié van Ané en Pieter was besonders onvergeetlik. Wat begin het as ’n gewone wynproe op ’n unieke wyntoer net buite Bonnievale, het geëindig in ’n uiters romantiese verlowing. Dit is ’n oomblik wat ’n mens se hart laat klop.
Lomé Burger Photography, ’n talentvolle trou fotograaf, het die hele verrassing vasgevang. Sy het die keldertoer saam met die paartjie se familie meegemaak en op die perfekte oomblik vinnig weggekruip om die verlowing vas te vang. Die kelder was versier met kerse, wat ’n betowerende atmosfeer geskep het – die perfekte agtergrond vir só ’n betekenisvolle gebeurtenis.
As jy ook beplan om die groot vraag te vra, maak seker jy huur ’n professionele fotograaf. Dit is ’n geleentheid wat gedokumenteer moet word! Na die verrassing het julle ook die kans vir romantiese verlowings foto’s. Hierdie oomblikke, gevul met opwinding en liefde, maak vir pragtige herinneringe.
Ané en Pieter se fotosessie, met die sagte lig en pragtige tuine van die wynplaas, is asemrowend. Hierdie foto’s sal perfek wees vir trou uitnodigings of ’n -webwerf.
Rol af om meer te lees oor Pieter en Ané se verrassings verlowing buite Bonnievale en om die mooiste foto’s te sien wat Lomé Burger Photography afgeneem het.
Meer oor Lomé Burger Photography:
Lomé Burger Photography se passie is liefde. Daar is niks so mooi vir haar soos om liefde vas te vang in ‘n foto nie. Gevolglik fokus Lomé hoofsaaklik op troues, verlowings en families. Mense is ‘n passie vir haar en dit is so spesiaal om te kan deel wees en, in die proses, sulke mooi oomblikke te kan vasvang.
Kleur is ook iets wat foto’s mooi maak so dis Lomé se passie om sonlig in haar foto’s te gebruik. Dit maak foto’s warm en romanties. Sy hou ook daarvan om emosie in foto’s te bewaar. Nie alle mense is so gemaklik voor ‘n kamera nie, dus help Lomé mense om reg te staan, gemaklik te voel en die beste na vore te bring, en in die proses bly dit vir haar prioriteit om spontane foto’s te kry.
Op die ou end van die dag het ‘n mens net die foto’s en die herinneringe wat oorbly.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het in dieselfde dorp groot geword, maar nooit eintlik mekaar ontmoet nie. Toe trek ek uit die dorp uit, en trek weer 10 jaar later terug. Ek was genooi na ‘n braai toe by een van my pelle se huise om almal weer vir die eerste keer in jare te sien. Die enigste persoon wat ek nie geken het nie, was Pieter! Ons het daai aand dadelik ge’click’ – en toe was ons vier-en-half jaar saam voor hy my gevra het.
Die groot vraag:
Ons het op ‘n wyn toer gegaan 22 Junie 2024 by Weltevrede Wine Estate in Bonnievale. Pieter het toe beplan dat die laaste kamer vol kerse en blomme is, en my daar gevra! Daar was ‘n fotograaf (Lomé), ons het ons eie sjampanje (vonkelwyn) gebottel met ons eie etiket op. Albei ons families was na die tyd daar om saam met ons te vier. Dit was baie romanties en goed beplan.
Hoekom ons mekaar liefhet:
My gunsteling eienskappe (as ek nou net ‘n paar moet kies) van Pieter is sy vriendelikheid, sy lojaliteit, sy liefdevolheid en hoe hy soos huis voel.
Pieter se gunsteling eienskappe van my is “Haar sagte hart en omgee. Haar standvastigheid en dat sy opstaan vir wat reg is, liefdevolheid ken geen einde en geduld wat strek vir myle.”
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons gaan vir die volgende jaar en ‘n half ‘n bietjie spaar, die verlowing tyd geniet, en dan eers trou.
Die verloofring:
Ons het een dag ‘n draai by ‘n juwelier gaan maak, waar ons ‘n paar ringe gepas het, en ons was al twee mal oor ‘n spesifieke ring. Toe het Pieter foto’s en al die inligting oor die ring gevat en my later verras met die ring van my drome!
Rede vir die verlowing fotosessie:
Pieter het beplan om vir Lomé daar te hê so dat sy die verlowing in aksie te sien, om die herinneringe vasvang.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Die wynplaas self, die mooi tuine en buite area by Weltevrede was die oorspronklike idee. Die champagne bottelering en spontaniteit was die kersie op die koek!
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Op die oomblik, wil ons die verlowing en hierdie tyd van ons lewe geniet en mekaar waardeer. Ons enigste uitdaging op die oomblik is om ‘n begroting op te stel, en om te spaar.
Visie vir droomtroue:
Ons droom troue sal intiem wees, met net ons naaste familie en vriende. Ons wil ‘n lekker troue hê wat almal sal geniet en hou van die idee om op ‘n plaas te trou.
- Fotograaf: Lomé Burger Photography | Kontak
- Verloofring: The Carbon Effect| Kontak