Emile & Carla se Gesellige Winters Troue

Emile en Carla se gesellige winters troue in Baardskeerdersbos, by die prentjie mooi Murasie Wedding Venue, is ʼn ervaring wat julle nie moet misloop nie. Ons by Mooi Troues is verlief op winter troues, want hulle bring soveel warmte en romanse in die koue weer.

Carla het pragtig gelyk in haar boheemse styl trourok met fyn detail. Dit het perfek by haar gepas en die trou styl ideaal aangevul. Emile se aardse kleur troupak met fyn lyne was uniek en het uitgestaan tussen die gewone trou pakke. Sy troupant was van Grooms & Bros , ʼn gewilde verskaffer vir die kontemporêre bruidegom.

Emile en Carla het by die pragtige Murasie Wedding Venue getrou. Hulle het ʼn binnenshuise seremonie in die onthaal lokaal gehou. Die lokaal is omskep in ʼn pragtige seremonie area. Daar was ʼn groot gedroogte blom ontwerp struktuur as agtergrond vir die paartjie se geloftes.

Die onthaal lokaal se dekor was ongelooflik mooi met ʼn subtiele boheemse gevoel. Hul dekor elemente het skakerings van gebrande oranje en bruin ingesluit, met tikkies room en wit. Die fyn dekor elemente het pragtig gekontrasteer teen die rou hout tafels en die pragtige klipmuur in die lokaal.

Murasie Wedding Venue is enige trou fotograaf se droom bestemming. Met prentjie mooi landskappe en ʼn pragtige dam, bied dit die perfekte agtergrond vir paartjies se trou foto’s.

Rol af om meer te lees oor Emile en Carla se gesellige winters troue en hul romantiese liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons liefdesverhaal het begin in die studentejare in Potchefstroom. Ek was ʼn kelnerin by ʼn gesellige koffiewinkel, waar Emile en ʼn vriend op ʼn dag ingestap het vir koffie. Die oomblik toe ek Emile sien, het my hart ʼn slag oorgeslaan. Hy was net soos die man van my drome! Nie lank daarna nie, by ʼn sokkie by Impala, het hy my uitgevra vir ʼn dans. Dit was die sprankel wat ons verhaal aan die brand gesteek het.

Twee weke later, tydens ʼn eksamen, het my vriendinne, Bernise en Jessica, hulle eksamenvraestelle halfvol ingehandig om Emile te jaag sodra hy die lokaal verlaat het. Hulle het hom buite vasgekeer en op die mou gevoel of hy my na die formele dans sou neem. Later die dag het ek ʼn verrassings boodskap van hom gekry — hy het ingestem om my na die dans te neem! Dit was ʼn oomblik so vol belofte, amper soos ʼn toneel uit ʼn romantiese fliek.

Die verlowing:

Na sewe jaar saam met Emile, het ons verlowings verhaal begin. Op ʼn bietjie van ʼn hobbelrige pad na Namibië, waar ons op pad was na Jessica se troue. Ons reis is vertraag nadat ek positief getoets het vir COVID net na ons inentings, maar gelukkig het ek uiteindelik ʼn negatiewe toetsuitslag gekry na vyf pogings.

Toe ons uiteindelik in Swakopmund arriveer, het Emile ʼn romantiese “sunrise surprise” op die duine beplan. Onbewus van sy bedoelings, het ek en Jessica egter reeds ander planne beraam. Op die oggend van die verrassing het Emile en Morné ons met sjampanje en lemoensap by die duine ingewag. Elke keer as Morné die “sunrise surprise” genoem het, het ek onwetend die aanbod afgeslaan vanweë die koue en mistige weer. Maar uiteindelik het Morné die sjampanje uitgehaal vir ʼn heildronk. Toe ek aanbied om die bottel te “sabrage” , het Emile sy oomblik aangegryp. Met die sjampanje wat skuim, het hy langs my op een knie gesak en die mooiste verloofring te voorskyn gebring. Ek was volkome sprakeloos en trane het onwillekeurig begin vloei—diep geraak deur die verrassing. Dit was ʼn betowerende oomblik, ʼn droom wat waar geword het na sewe jaar se liefde.

Trourok:


Op ʼn helder dag het my ma die lang reis van Johannesburg na Kaapstad aangepak, alles om my te vergesel op die soeke na die perfekte trourok. Ons eerste bestemming was Cindy Bam se boetiek, waar ek met ʼn oop gemoed en sonder vaste idees ingewandel het. Ek het net ligweg ʼn Boho-voorkoms voorgestel, en Cindy het onmiddellik ʼn verstommende rok voorgebring. Toe ek die rok aantrek, het ek dadelik gevoel dat daar groot potensiaal was. Hoewel ek ʼn paar aanpassings oorweeg het om dit meer na my smaak te maak. Maar voordat ons enige besluite geneem het, het ek en my ma nog ʼn paar plekke besoek. Dié ervaring gevul met sjampanje en die pas van pragtige rokke, wat die dag onvergeetlik spesiaal tussen my en my ma gemaak het.

Na ʼn volle dag van rokpas, kon ek my gedagtes nie van daardie beeldskone rok by Cindy Bam afskud nie. Ek het geweet, daardie een was vir my bedoel.

Finale besluit:

Ek het Cindy gekontak om die aanpassings te bespreek wat ek wou hê. Hoewel die rok op sy eie reeds betowerend was, het ek verskeie veranderinge voorgestel om presies die voorkoms te kry waarna ek gesoek het. Gedurende ʼn besige trou-seisoen, moes ek ʼn paar maande wag vir die aanpassings, ʼn tydperk gevul met senuweeagtige opwinding. Ek het die finale produk eers drie maande voor my troue gesien, en ek het gebid en gehoop dat dit alles sou wees wat ek verwag het.

Cindy het egter alle verwagtinge oortref; die rok was selfs beter as wat ek voorgestel het. Dit was die perfekte pasmaat en het my persoonlikheid volkome verteenwoordig, ʼn mengsel van Boho en sensuele elegansie.

Dit was die rok wat my tot trane beweeg het—trane van vreugde—en die rok wat Emile se asem weggeslaan het.

Aanvanklik het ek beplan om die rok na die troue te verkoop, maar met al die harde werk en aanpassings wat daarin ingegaan het, het dit onbewustelik ʼn diep sentimentele waarde verkry.

Meer oor Murasie Wedding Venue:


Murasie Wedding Venue is ʼn pragtige trou venue in die Overberg distrik is geleë op ʼn melkplaas, genaamd Korsika, naby aan Baardskeerdersbos.  Die prag plaas omring deur groen lande en die mooiste uitsig oor die groot dam.  Dit is die perfekte trou bestemming vir paartjies wat sommer ʼn lekker gesellige naweek wil maak van hul troue.

Murasie Wedding Venue het die mooiste seremonie area onder ʼn ou Eikeboom by Murasie.  Die amfiteater styl seremonie sal jou trou gaste die mooi natuurskoon wat hul omring bewonder.  Dit is die perfekte plek om trou aan mekaar te belowe.

Die trou venue is ʼn moderne gebou met meestal glas aan die een kant van die onthaal-lokaal.  As jy instap by die onthaal lokaal sal jy sommer onmiddellik tuis voel.  Die rou steen mure gee daardie warm gevoel, waar die glas in kontras weer die moderne elemente in bring.  Met die dubbel volume dak en die klomp glas deur is paartjies en hul trou gaste verseker dat hulle pragtige uitsigte sal hê en ook die sonsak vanuit die trou venue kan aanskou.

Verloof- en Trouringe:


Toe die wêreld stilgestaan het tydens lockdown, het een van my hartsvriendinne haar droom nagejaag en Theia Jewellery begin. Ons het al lankal gesels oor die perfekte ring vir my, en ek was vasbeslote op roosgoud. Sy het my smaak dadelik begryp en voorgestel dat ʼn Radiant Cut diamant perfek sou wees. Toe ek die ring vir die eerste keer sien tydens die verlowings-voorstel, het dit my asem weggeslaan. Dit was selfs mooier as enigiets wat ek my kon ingebeeld het.

Soos ons troudag nader gekom het, het die idee van ʼn troupand vir my al meer spesiaal geword. Dit was nie meer net ʼn toevoeging nie, maar ʼn kragtige simbool van ons verbintenis en daardie onvergeetlike oomblik toe hy die groot vraag gevra het. Ek was aanvanklik huiwerig dat ʼn troupand dalk die verfynde voorkoms van my verloofring sou bederf, maar Theia Jewellery het ʼn ontwerp geskep wat die ring se elegansie net nog meer beklemtoon het.

Vir my man, wat die eenvoud in alles waardeer, was die keuse van sy trouring ʼn eenvoudige besluit.  ʼn Stylvolle swart tungsten ring met ʼn binnekant van roosgoud, wat naatloos by my ringe inskakel. Om ʼn tikkie intimiteit by te voeg, het ek gekies om ons troudatum en trou hashtag “Pronk soos ʼn Pieterse” aan die binnekant van sy ring te graveer. ʼn Liefdes boodskap wat net vir ons oë bedoel is, ʼn stil belofte wat ons altyd sal koester.

Meer oor VA-Tungsten:


By Grooms & Bros het hulle die behoefte in die mans juweliers bedryf geïdentifiseer aan ʼn bekwame, bekostigbare ring wat duursaamheid en gesofistikeerdheid bied. Mans se trouringe was tot nou toe beperk tot baie eenvoudige ontwerpe, met min keuse om van te kies.

Die meeste van die ringe wat vandag beskikbaar is en van duur edelmetale vervaardig is, is geneig tot skrape en skawing, en sommige van hierdie metale is amper onmoontlik om in ʼn noodgeval te verwyder.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Elke troue is ʼn orkes van talent en toewyding, en by ons troue was daar ʼn paar verskaffers wat werklik ʼn blywende indruk gelaat het.

Plattejoggie:

Eerstens was daar DJ Anker, wat beslis nie jou gewone platejoggie is nie. Hy het die musiek wat ons versoek het, in sy eie remixes omskep en geweet presies hoe om die dansvloer te lees. Ek sê nie dit net omdat dit my troue was nie, maar hy is eerlikwaar die beste trou-platejoggie wat ek nóg óóit gehoor het. Sy vermoë om die atmosfeer te voel en elke oomblik perfek te ondersteun met musiek was ongeëwenaard.

Spyseniering:

Peaberry Catering het die kos verskaf, en tot vandag toe—byna ʼn jaar later—praat mense nog steeds oor hoe ongelooflik lekker die lamb shank was. Dit was nie net ʼn maaltyd nie, maar ʼn kulinêre ervaring wat by almal ʼn diep indruk gelaat het.

Musiek Vermaak:

In the Mood het vir ons Debi die saksofoonspeler gehad. Ongelukkig kon ons haar nie self baie hoor nie aangesien sy gespeel het terwyl ons besig was met ons fotosessie, maar ek het van verskeie gaste gehoor hoe fantasties sy was. Debi was ook so gaaf om volgens ons trou kleurskema aan te trek, wat bygedra het tot die intieme en romantiese atmosfeer van die dag.

Blomme:

Husband Wife Team was ons bloemiste. Na al die uitgawes van die troue was my begroting vir blomme redelik beperk, maar hulle het uit hul pad gegaan om my te akkommodeer en steeds die dromerige voorkoms te skep waarvan ek gedroom het. Hulle sensitiwiteit en kreatiwiteit het regtig die dag ʼn fee-verhaal gevoel gegee.

Die Vrydag aand voor die troue:

Bezt Caterers het die potjie die aand voor die troue gemaak, en gaste kon letterlik nie ophou praat oor hoe heerlik dit was nie. Dit was beslis die beste potjie wat ons nog ooit geproe het, en dit het ʼn heerlike en ongedwonge atmosfeer geskep.

Trouring:

Laastens, Theia Jewellery, wie my trouring verskaf het. ʼn Trouring dra jy vir die res van jou lewe, al verander style deur die eeue. Ek kan met volle vertroue sê dat ek danksy Theia Jewellery die mooiste, tydlose trouring het wat altyd deel sal wees van my en my huwelik verhaal.

Hierdie verskaffers het elkeen ʼn unieke bydrae gelewer wat ons troue nie net spesiaal gemaak het nie, maar ʼn dag wat ons en ons gaste nooit sal vergeet nie.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Elke oomblik van ons troudag was spesiaal, maar daar is ʼn paar uitstaande herinneringe wat regtig vir ons uitstaan.

Seremonie:

Eerstens, ek het regtig ʼn buitelug-seremonie begeer. Soos die lot dit wou hê, was Vrydag perfek met geen wind of reën nie. Maar toe Saterdag aanbreek, die dag van ons troue, was dit winderig en reënerig. Die reën het gekom en gegaan, maar dit was te riskant om buite te trou. Ten spyte daarvan dat ons binne moes trou, was die seremonie onvergeetlik. Die venue is omring deur glasdeure, en net toe die predikant ons as man en vrou aankondig, het dit buite begin stortreën—vir my was dit seëninge uit die hemel. Dit was pragtig en intiem.

Pa-en-dogter dans:

Die pa-en-dogter dans was beslis een van die top herinneringe. Ek het besluit om dinge bietjie op te kikker. My pa en ek het ʼn moderne country-liedjie two-step gedans, wat toe oorgevloei het in die Jerusalema-liedjie waar ons die Jerusalema-dans gedoen het. Die oomblikke wat hierdie herinnering voorafgegaan het, was ook baie spesiaal. Ek moes na Johannesburg vlieg vanaf Kaapstad om my pa die dans te leer. Hy het dit fantasties gedoen, en dit was ʼn ongelooflike prettige en spesiale oomblik vir ons beide.

Onthaal:

Die trou partytjie self was waarskynlik die mees onvergeetlike van alles. Ons wou net ʼn goeie tyd hê, en ons platejoggie het verseker dat dit gebeur. Die musiek was perfek, die dansvloer was nooit leeg nie; selfs ouma het tot twee-uur in die oggend gedans. Emile en ek het later die aand buite die venue gestaan, net om die partytjie van buite af te aanskou en die oomblik in te neem waar al ons gaste ʼn fantastiese tyd het en ons huwelik vier.

Die fees gevoel het tot die volgende dag voortgeduur. Ons het Sondag soveel voicenotes ontvang van mense wat vertel het hoe lekker hulle gekuier het dat hulle knieë seer is, hulle voete pyn, en sommige van ons gaste het selfs hul stemme verloor—ʼn ware teken van ʼn suksesvolle trou partytjie.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Die beplanning van ʼn troue is ongetwyfeld ʼn opwindende tyd, maar dit kan ook soms oorweldigend wees. Hier is ʼn paar wenke vir aanstaande bruide en bruidegomme wat jul kan help om hierdie spesiale tydperk ten volle te geniet.

Eerstens, probeer om nie angstig te raak oor die beplanning van die troue nie. Neem elke oomblik gedurende die beplanning in, want soms is hierdie oomblikke net só spesiaal soos die troudag self. Dit is oomblikke wat julle nooit weer sal hê nie; dit is die opbou na die belangrikste dag van julle lewens. Of julle nou besig is om die perfekte venue te soek, smaaktoetse by verskillende spyseniers te doen, of uitnodigings te ontwerp, elke stap is ʼn deel van ʼn pragtige reis wat julle as ʼn paar onderneem.

Twee aspekte waarop ek persoonlik nie sou kompromitteer nie, is die keuse van ʼn fotograaf/videograaf en ʼn trou platejoggie. Hierdie verskaffers speel ʼn kritieke rol in hoe julle die dag sal onthou en hoe julle dit sal beleef. ʼn Goeie fotograaf en videograaf kan die gevoel en skoonheid van julle groot dag vasvang op maniere wat julle vir altyd sal koester. Terwyl ʼn uitstekende platejoggie die atmosfeer kan skep wat verseker dat almal, van jonk tot oud, ʼn onvergeetlike tyd op die dansvloer het.

Laastens, maar beslis nie die minste nie, onthou om geld opsy te sit vir die wittebrood. Na al die maande van beplanning en ʼn dag vol emosies, is daar niks soos ʼn ontspanne of avontuurlike wegbreek saam met jou nuwe lewensmaat om julle nuwe hoofstuk saam te begin nie. Dit is ʼn tyd om te ontspan, te herlaai, en die wonder van julle verbintenis te vier.

Trou Venue:


Ons trou venue-keuse was ʼn storie van toeval en betowering. Tydens ʼn naweek wegbreek na Hermanus waar ons by my toekomstige skoonouers gekuier het, het ons beplan om ʼn trou venue te besigtig. Ons het alles gereed gehad om hierdie spesifieke venue op die Sondagoggend te sien, net voordat ons terugkeer na Kaapstad.

Egter, daardie Sondagoggend het die persoon wat die venue moes oopsluit, my laat weet dat hy weens persoonlike redes nie meer kon nie, wat ek heeltemal verstaan het. Teleurgesteld, maar nog steeds optimisties, het ek voorgestel dat ons Murasie in Gansbaai besoek, ʼn plek wat ek dalk nie oorweeg sou het as ek direk van Kaapstad moes ry nie.

Die oomblik toe ons by Murasie aankom, het ek geweet dit was bestem om ons trou plek te wees. Die skoonheid van die venue het my asem weggeslaan, en ʼn gevoel van warmte en gemak het deur my gevloei. Ek kon dadelik ons troue daar voorstel, ʼn dag gevul met liefde en vreugde.

Alhoewel ek aanvanklik versigtig was om nie te vinnig te besluit nie—net soos met my trourok—het die ervaring van ander venues die volgende week saam met my ma in Franschhoek en Robertson net bevestig dat geen ander plek naastenby die magiese gevoel van Murasie kon bied nie. Die venues was pragtig, maar hulle het nie die spesifieke atmosfeer en voorkoms gehad waarna ek gesoek het nie.

So, sonder huiwering, het ek die bespreking by Murasie bevestig. Dit was wonderlik om te weet dat die helfte van ons gaste gemaklik op die venue se gronde kon bly, terwyl die res op ʼn naburige plaas kon oornag. Dit het beteken dat almal naby sou wees vir die hele feestelike naweek. Die perfekte einde aan ons soektog na die ideale trou plek.

Trou Dekor en Styl:


Die beplanning van ons wintertroue was ʼn avontuur op sy eie, veral toe dit by die keuse van die kleurskema en algehele styl gekom het. Ek was van die begin af verlief op die idee van warm kleure. Ek het besluit op ʼn kombinasie van copper and cream (brandoranje en bruinagtige kleure). Hierdie skakerings het nie net warmte en intimiteit uitgestraal nie, maar het ook perfek gepas by die seisoen.

Die keuse van hierdie kleure was die fondament van al ons dekor beplanning. My bruidsmeisies het hierdie kleurskema pragtig uitgebeeld; elkeen se rok was van ʼn ander materiaal gemaak. Ons het drie verskillende kleure en twee verskillende materiale gekies, so elke kleur was verteenwoordig in beide fluweel en sy. Die verskeidenheid het ʼn ryk, tekstuurvolle voorkoms geskep wat regdeur die troue gevoel kon word.

Die kleurpalet verder deur gevoer:

Ek het selfs gevra dat ons gaste volgens ons kleurpalet aantrek, en hulle het ongelooflike moeite gedoen om dit te doen. Dit was asemrowend om te sien hoe almal bydra tot die kleurtema, wat die visuele ervaring van die dag versterk het.

Om die tema verder deur te voer, het ons ʼn tweede verlowingsfotosessie gereël waarin ek ʼn rok gedra het wat ons troukleure vertoon het. Hierdie foto’s is gebruik in ons trou uitnodiging, wat natuurlik in copper and cream kleure ontwerp was.

Elke klein detail op die tafels het ook bygedra tot die kleurskema. Van die droë rosé wyn, wat ʼn meer koperige ondertoon as pienk gehad het, tot die trou skryfbehoeftes, eetgerei, en die kerse wat spesiaal vir ons troue gemaak is. Alles het die rykdom van copper and cream uitgestraal.

Ek kan met vertroue sê dat ons hele troue die kleure copper and cream verteenwoordig het, presies soos ek dit gedroom het. Dit was nie net ʼn fees vir die oë nie. Dit was ʼn viering van ons liefde, omhul in warmte en elegansie. Ons droomdag was perfek.

Eerste Dans:


Blessed – Thomas Rhett

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het 15 maande aan hul troue beplan.  Die kostes het ongeveer R2 550 per kop uitgewerk en hulle het 98 gaste onthaal.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: