André & Anri se Oulike Verlowing Fotosessie

André en Anri se oulike verlowing fotosessie in Kragga Kamma, Gqeberha in die Oos-Kaap is vreeslik mooi. Hulle het by ʼn pragtige park foto’s geneem, omring deur die mooiste natuurtonele as hul agtergrond. Ons kan duidelik sien in die foto’s dat die paartjie sommer baie pret gehad het.

Anri se wit blom rokkie en André se kortbroek en donker hemp was perfek gepas vir die paartjie se verlowings foto’s.

Daar was verskillende tonele wat gemaak het vir verskillende agtergronde en om die fotosessie interessant te hou. ʼn Glasie vonkelwyn is ook oopgemaak, want wat is ʼn verlowingsfotosessie sonder ʼn glasie borrels?

ʼn Verlowings fotosessie is baie meer as net nóg ʼn fotosessie. Dit gee die paartjie die kans om hul trou fotograaf beter te leer ken. As die paartjie enige vrae het vir hul trou fotograaf, kan hulle sommer dit vra. Dit gee die paartjie ook die geleentheid om meer gemaklik te raak met hul trou fotograaf en ook sodoende voor die kamera.

Besoek Mooi Troue se Trougids vir oulike trou fotograwe regoor Suid-Afrika. Waarom wag julle? Begin nou al reël aan julle verlowingsfotosessie en ervaar ʼn stresvrye foto-ervaring op jul troudag.

Dit is ook ʼn oulike idee om julle verlowings tydperk vas te vang in pragtige foto herinneringe. Tyd gaan só vinnig verby, so dit is altyd ʼn goeie idee om mooi foto’s te hê om na terug te kyk.

Rol af om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis en om meer foto’s te sien van André en Anri se oulike verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons was almal uit saam met vriende die aand om te sokkie. Tokkie(André) het my gevra om te dans , en ons het lekker gesels op die dansbaan, ek moes huis toe en het hom gaan soek op Facebook om net dankie te kan sê vir die lekker sokkie. ʼn Week na dit is ons op ons eerste afspraak. Ons het dadelik as vriende begin, en elke naweek gekuier, maar die friendzone is waar ek (Tokkie) vir ʼn goeie 6 maande laat bly het, voor ek uiteindelik ja gesê het om sy meisie te wees. Ek wou eers die kat goed deur die boom kyk voor ek my hart weg gee. Ons het ʼn jaar uitgegaan voor ons verloof geraak het, soos die ou mense sê; as jy weet, weet jy!

Die groot vraag:


Wat ʼn koei wat moes kalf sou wees, het toe uitgedraai in ʼn romantiese verassing.

Tokkie het die ja woord gevra op een van ons gunsteling plekke op die plaas. Dit was ‘n grooooooot verrassing!! Dit was die beste JA antwoord wat ek nog gegee het. Die droë dam was omring met bale, “fairy lights”, kalf koeie en twee van ons hartsvriende. Met die groen agtergrond van die grasvelde en die sagte sonlig wat daarop skyn, was dit besonders mooi. Nou, 11 maande na die verlowing is die dam die volste wat hy al was in 4 jaar. Ons kan nie wag dat ons huwelik ook só geseën gaan word nie.

Hoekom ons mekaar liefhet:


My gunsteling eienskap van Tokkie; dis so moeilik, want daar is só baie. Maar ek lys die wat die meeste uitstaan, dit is sy omgee hart, dat hy altyd ander mense bo homself sal plaas. Sy mooi glimlag wat my hart snare roer. Ek kyk elke dag op na die leier wat hy is vir ander. Hy is nederig, wys en betroubaar. En hy neem nie die lewe te ernstig op nie, hy benut elke oomblik en uitdaging wat na sy kant toe gegooi word. Hy laat my rustig en tuis voel.

My gunsteling eienskap van Anri is, haar pragtige hare, haar omgee hart, haar teenwoordigheid in my lewe. Sy laat my rustig en kalm voel. Haar goeie sin vir humor en dat sy goeie skrywer is. En haar lekker paar boude.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


1 Jaar en 7 maande. Ons beplan om Saterdag 7 Desember 2024 die knoop deur te haak. Ons wag nie te lank nie, ons het weet dat ons vir die res van ons lewe saam wil wees.

Die verloofring:


Die ring was ʼn verassing.

Ek het saam my kamermaat in Fountains Mall rond geloop, daar was toe ʼn juwele stalletjie en ʼn ring het vir my baie uitgestaan. Dadelik het ek dié ring aangepas al was hy myle te groot. Ek was verlief op die snit, kleur en diamante.

Ek het die aand my verloofde en beste vriendin vertel van hierdie besonderse ring. My beste vriendin het toe dadelik my verloofde gewys, en gesê hy sal moet plan maak en die ring vir my kry. Soos die boer wat hy is, het hy dadelik plan gemaak om skape te verkoop vir die ring.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het besluit om foto’s te neem, omdat ons gebruik gaan maak van die verlowings foto’s op ons spesiale dag. Ons wou ook ʼn band begin bou met ons trou fotograwe wat die paadjie na die trou foto’s net gemakliker gaan maak.

Die foto’s is ook ʼn herinnering van ons liefde vir mekaar asook ons verlowings fase, dit vlieg só vinnig.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons is albei mal oor die natuur, en geniet die buitelewe baie, ons het gedink dat die Norm-Hudlin Trials perfek sal wees vir ons Pinterest inspirerende fotosessie.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Met elke paartjie verskil die verlowings tydperk, dis so spesiale tyd wat mens saam geniet. In die begin was ons maar senuweeagtig, gestres en bang, maar dan herinner ons net mekaar om positief te bly, en elke oomblik te koester en spesiaal te maak. Mens geniet elke oomblik saam met mekaar van venues kyk, spyskaart uitwerk, troue beplan en om ons vir altyd huis op te sit.

Visie vir droomtroue:


Dit was die heel laaste venue wat ons besoek het, die beste vir laaste. Ons trou by Gamtoos Ferry Hotel. Dis só mooi asemrowende venue. Ons troue moet ons liefde vir mekaar en die natuur weerspieël. Ons gaan ʼn klein troue hou met die hulp van die venue koördineerder asook ons mede mense. Die res sal julle moet maar wag vir die foto’s. 😉

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet:

    • Fotograaf: Gerber & Viljoen Wedding Photography & Film | Kontak
    • Fotosessie Ligging: Norm-Hudlin Trials | Kontak
    • Grimering: Caitlin Matthews Makeup Artistry| Kontak
    • Verloofring: Erfdeel Juwele| Kontak