Zack & Ilze se Romantiese Troue in Mooinooi

Zack en Ilze se romantiese troue in Mooinooi in die Noordwes provinsie was ʼn gesellige troudag. Vir die van julle wat gereeld Mooi Troues lees, sal die paartjie herken van hul verlowings fotosessie wat ons voorheen gepubliseer het.

Hulle het die mooiste gesellige troue gehad, gevul met gelukkige emosies en onvergeetlike spesiale oomblikke. Die kapel by die trou venue is ʼn besliste fokuspunt en iets buitengewoon. Hulle podium was versier met pragtige groenigheid en fyn wit blomme wat uit die groen gestaan ​​het.

Die trou venue is ʼn romantiese paradys met die neutrale warm kleure en ligte wat van die hoë plafon af hang. Ligte houttafels met ʼn loper van groen en wit fyn blomme het van die tafels tot die grond gehang. Die kontras tussen die betonvloer met die sagte matte werk perfek in die ruimte.

Hulle tafeldekor elemente was baie stylvol en modern met skakerings van wit en hier-en-daar klein stukkies swart soos die kershouers. Die olyfgroen tema het ook mooi deurgekom soos in die servette op die tafels. Apart was die pragtige bruidstafel met groot Konings Proteas en twee gemaklike rottangstoele.

Ons is mal oor hul troukoek idee. Dit is ʼn meer tradisionele troukoek bo-op die staander, maar daaronder kleiner oliebolle wat met ʼn wit versiering bedek is. Wie kan nee sê vir ʼn lekker oliebolletjie?

Sjoe! Ilze en Zack se fotosessie as paartjie is prentjie mooi. Die sagte lig en pragtige landskappe skep ʼn romantiese gevoel aan die foto’s wat spookagtig mooi is. Sitruslande in die agtergrond maak ook die mooiste foto’s en bring daardie natuur element perfek by die foto’s in.

Rol af om meer te lees oor die egpaar se troue en hul liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons eerste ontmoeting was nie juis iets wat ons presies kan onthou nie. Ons het ontmoet in die Graad R Dolfyntie klas. Vanaf daardie dag was daar nie ʼn tyd in ons lewe wat ons mekaar nie geken het nie. Ons het saam tennis gespeel, redenaars gepraat en was saam hoofleiers in die Laerskool, en het selfs ʼn klein verhouding aangeknoop in ons Graad 7 jaar. In die Hoërskool was ons deel van dieselfde vriendekring en het elke pouse saam mekaar in die groep spandeer. Min het ons geweet wat die toekoms vir ons inhou. Eerstejaar van Universiteit het ons paadjies geskei, maar tydens die Covid-19 pandemie, het ons, ons vriendskap weer hervat. Kort daarna het die liefde begin blom…

Die verlowing

Ons was vir 1 jaar en 7 maande in ʼn verhouding voordat Zack die “groot vraag” gevra het. Na twee maande se fyn beplanning en baie geheime hou, het Zack op 24 Februarie 2023 tydens ʼn pragtige sonsondergang in ons tuiste dorp, Rustenburg, die groot vraag gevra. Zack het my niggie, Wilmi Jordaan, van Ruth Photography gekontak met die idee van ʼn sonsondergang fotosessie waar hy my sou vra om te trou. Woensdag die 22ste Februarie 2023 het Wilmi vir my ʼn boodskap gestuur om te vra of ek en Zack bereid sal wees om die Vrydag model te speel om haar te help haar kamera instel vir ʼn groot fotosessie wat sy die Saterdag sou gaan afneem.

In my kop het ek dit net gesien as nog ʼn geleentheid om mooi aan te trek en lekker saam te lag, min het ek geweet wat daardie middag vir my inhou. Terwyl ons na die sonsondergang gestaar het vir ʼn foto het Wilmi se man die ringboksie vir Zack aangegee sonder dat ek gesien het. Daarna het ons weggedraai van mekaar af vir nog ʼn “foto” en dit het vir Zack die geleentheid gegee om op sy regterknieg te gaan. Wilmi het toe gesê om terug namekaar te draai waar ek vir Zack gesien het met ʼn ringboksie in sy hand en trane in sy oë.

Trourok:


Ek was nog altyd ʼn “plain jane” en ek wou graag ʼn rok gehad het wat by my styl en persoonlikheid pas. Ek het van die begin af geweet ek wil graag ʼn nou-passende rok hê, omdat ek kort is en ek gevoel het die meermin vorm rok sal help om my ʼn bietjie langer voorkoms te gee. Dit was ook vir my belangrik om ʼn rok te hê wat tydloos en elegant is en wat ook gemaklik is aangesien mens die rok die hele dag dra.

My rok het ʼn “square” neklyn en rug wat die rok ʼn moderne voorkoms gee en is ʼn ivoor kleur. Ek wou graag knopies op die rug hê om die rok net effens meer formeel en sag te laat voel. Ek het ook baie van die idee gehou om twee verskillende rokke te hê vir die kerk en vir die onthaal maar dit is nie finansieel moontlik gewees nie. Daarom het ek ʼn sagte overskirt laat maak wat ek vir die seremonie gedra het en uitgetrek het vir die onthaal. Die overskirt het gehelp om twee verskillende uitrustings te skep sonder om dubbel die geld te spandeer.

My rok, overskirt en veil was deur Wilna Young van Wilna Young fashion design gemaak. Sy het my verwagtinge oortref en my droomrok ʼn realiteit gemaak. Ek sal haar vir enige bruid voorstel wat liewer ʼn rok wil maak as om een te koop in ʼn bruidswinkel.

Verloof- en Trouringe:


My styl was nog altyd minimalisties en elegant en daarom is my verloofring ʼn klassieke styl ring met ʼn eenvoudige pant en ʼn enkele steen. Om my ring wel effens uniek te maak is die steen in die “cushion cut” vorm en die pant is van roosgoud gemaak. My troupant is ook net ʼn roosgoud pant wat effens breër is as my verloofring.

Zack het lank gedink en navorsing gedoen oor die ring wat hy graag sou wil dra as ʼn getroude man. Hy het besluit dat die Tungsten materiaal die beste sou wees vir sy lewensstyl, waar hy nie bekommerd hoef te wees dat die ring beskadig sal word deur alledaagse aktiwiteite nie. Sy ring het ʼn “brushed metal” afwerking in donker gruis kleur.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Ons fotograwe het vir ons 10 minute alleen gegee om net alles in te neem en net bietjie in ons eie “bubble” te wees. Terwyl ons sit en gesels onder die skaduwee van hierdie boom, het dit liggies op ons begin reën. Die interessante ding was dit het net op ons begin reën en nêrens anders rondom ons nie. Altwee van ons en die fotograwe het met ons monde oop gekyk na hoe die fyn druppeltjies op ons val. Hierdie oomblik het regtig vir ons net gevoel Die Here het ons kom seën op ons spesiale dag en vir ons kom bevestig dat ons vir mekaar bedoel is en dat hierdie liefde wat ons vir mekaar het baie groter is as wat ons ooit sal kan verstaan.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Ons fotograaf en videograaf, Sally en Cam van That Other Couple Photography het ʼn uitstekende werk gedoen om die emosie en geluk van ons spesiale dag perfek vas te vang.

Trou Venue:


Ons was opsoek na ʼn venue wat naby geleë was aan ons tuiste dorp, sodat familie en vriende gemaklik na die troue toe kon reis. Ons wou ook seker maak dat daar genoeg verblyf naby die venue vir almal sou wees. Op ons soektog na ʼn venue het ons op Stoorhuijs afgekom en dit het al ons verwagtinge oortref.

Stoorhuijs se pragtige oop stoep tussen die bos skep ʼn gesellige atmosfeer waar ons gaste lekker saam kon kuier. Die Wildevy-Kapel, soos dit genoem word, was nog ʼn rede wat die venue só aantreklik vir ons gemaak het. Die kapel is omring met pragtige plantegroei wat jou laat voel of jy in ʼn woud is. Een van die hoof redes hoekom ons besluit het op Stoorhuijs, is omdat die venue reeds so mooi was. Dit was nie nodig vir baie ekstra dekor en blomme nie.

Ek glo geen bruidspaar wens vir reën op hulle troudag nie, maar ongelukkig moet mens voorsiening daarvoor maak. Dit is presies wat Stoorhuijs bied, waar al hulle fasiliteite onderdak is met genoeg spasie vir al die gaste. Dit was nie nodig vir ons troudag nie, maar dit was gerusstellend om te weet dat indien die weer nie sou saamwerk nie, ons spesiale dag steeds sou kon voortgaan soos beplan.

Trou Dekor en Styl:


Ons wou graag ons dekor baie natuurlik en eenvoudig hou. My visie was dat dit soos ʼn veld troue moet voel, al is mens binne in die saal. Die hoof kleurskema vir die troue was olyfgroen. Ons blomme was hoofsaaklik eintlik net groen blare, maar om die blare te versag daar was hier-en-daar ʼn wax blommetjie tussen die blare weggesteek. Om die bruidstafel uniek te maak was daar vier wit koningsproteas op die tafel met bietjie ekstra wax blommetjies tussen die blare. Elke tafel het ook kerse opgehad wat bygedra het tot die warm en gesellige atmosfeer.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Dis JULLE troue, en niemand anders sin nie! Daar gaan baie opinies en kommentaar van almal af kom maar doen wat julle van hou en hoe julle dit wil doen. Anvaar die klein goedjies wat miskien kan skeefloop, ons BELOWE julle gaan dit nie eers onthou nie.

Geniet elke liewe minuut van die dag. Mens trou net eenkeer in jou lewe en moet nie mekaar se sy los vir een oomblik vandat julle voor in die kerk staan nie.

Eerste Dans:


Hozier – Like real people do

Trou Begroting en Beplanning:


Zack en Ilze het self hul troue beplan binne 7 maande. Hulle het 100 onthaal en die kostes het ongeveer R1 600 per kop beloop.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: