Jaco & Lienke se Formele Karoo Troue

Jaco en Lienke se Formele Karoo troue sal jou na jou asem laat snak, dis só ongelooflik mooi. ‘n Troue in die Karoo het altyd daardie gesellige hartswarmte. Daardie Karoo-gasvryheid kan regdeur die pragtige foto’s van hul troue by die prentjie mooi Sweetfontein Boutique Farm Lodge gevoel word. ‘n Perfekte huweliksviering in Britstown in die Noord-Kaap.

Die egpaar se troue is vasgevang in die mooiste foto’s en troufilm van André Verhoef Photography. André Verhoef en trouvideograaf, Shaun Grobler, het elke spesiale oomblik van die paartjie se spesiale dag vasgevang. Elke lieflike foto en videogreep vertel ‘n sekonde van die egpaar se troudag gevul met emosies en soveel mooi herinneringe.

Sweetfontein Boutique Farm Lodge is enige paartjie se droom troubestemming en die artikel weerspieël presies hoekom. Hul onthaal lokaal was bedek met gedroogde blom ontwerpe wat van die onthaal lokaal se dak gehang het. Twee lang tafels wat met ‘n tafeldoek bedek is, skep daardie elegante dromerige voorkoms na die onthaalarea. Oral is liggies, van feetjieliggies, kerse tot die mooiste kandelare wat bo die lang tafels hang. Dit skep nie net ‘n romantiese atmosfeer nie, maar ook ‘n baie knus voorkoms.

Die swart troukoek in die middel van die dansvloer is ’n fokuspunt wat gaste aan die gons sal kry. Op die tafels was daar ook swart kerse wat tussen die gestileerde wit blom ontwerpe amper ‘n tipe tafelloper in die middel van die tafels maak.

Sweetfontein is ‘n eenstop-troubestemming. Hier word paartjies bederf met topgehalte diens, lip-lekker heerlike kos, pragtige dekor stilering, blom ontwerpe en vele meer. Rol af om die pragtige foto’s te sien en lees meer oor Jaco en Lienke se Formele Karoo troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons ouers was al vriende van vóór ons geboorte af. Ons het ʼn foto waar ons mekaar “soen” op die ouderdom van 1 jaar in 1998. Deur die jare het ons kontak verloor, omdat my ouers na ʼn ander dorp toe verhuis het.

Op 18 Maart 2021 maak Jaco met my kontak deur Facebook en van daar af het ons begin gesels. Die verhouding het vinnig vlam gevat en ons raak verloof op 18 Desember 2021 by die venue waar ons getrou het. Hy het dit as ʼn verrassing gereël met die eienaar van die venue/plaas. Ons was op ʼn wildsrit op die plaas, kompleet met sjampanje en ʼn fotograaf. Ons het bo-op ʼn koppie gestop om kamstig die skemerkelkie te drink en toe ek my weer kan kry, staan Jaco op een knieg en wag vir my antwoord op die groot vraag. Alles het ʼn groot verrassing vir my gebly tot ek hom op sy knieë sien staan het.

Trourok:


My rok is handgemaak deur ʼn vriendin van my Ma. Ek het self die materiaal gaan uitkies saam met die tannie en het idees op Pinterest gekry en verskillende detail van verskillende rokke in een rok laat sit. Die materiaal was vir my spesiaal, want die kant waaruit my moue en lyfdeel gemaak is, is dieselfde kant waaruit my Ma se uitrusting gemaak is – haar kant was net swart. Die rok was vir my spesiaal omdat dit handgemaak is, spesiaal vir my en presies wat ek wou hê. Mens gaan nêrens in ʼn winkel weer só rok kry nie. Ek wou hê dit moes uniek wees. Die styl van die rok beskryf ek as romanties en vol detail. Die moue was my gunsteling deel van die rok, ek wou nog altyd vloeiende moue hê vir my trourok.

Verloof- en Trouringe:


Ons het albei ons ringe by HDL in Bloemfontein gekoop. Ek het sentimentele waarde aan dié winkel, want my Ma se trouring is ook van HDL af. Ek wou aanvanklik gaan vir roosgoud, maar het op witgoud besluit toe ek die kleur teen my vel sien – dit het mooier uitgestaan. My steen is ʼn ovaalvormige een karaat “Moissanite” met kleiner steentjies om en ʼn skoon bandjie. Die troupand het klein steentjies bo-op. Ek het dit spesifiek gekies omdat ek mal is oor hoe die tipe steen blink onder die regte lig en ook omdat dit meer bekostigbaar vir ons was. Daar was vir ons belangriker dinge om geld op te spandeer as net die ring.

Jaco se ring is ʼn swart tungsten ring. Die swart pas mooi by sy vel en is ook ʼn moderne kleur, wat hy verkies bo goud of witgoud.

Meer oor André Verhoef Photography


Sedert 2013 is ek toegewyd daaraan om herinneringe deur my lens in tydlose beelde te omskep. Met ‘n goed gevestigde portefeulje wat ‘n uiteenlopende reeks werk ten toon stel, lê my belangstelling by portret fotos, hoë-mode fotografie en troufotografie. Ek het ‘n veelsydige en kreatiewe benadering tot elke projek wat ek aanpak.

Portretfotografie is waar persoonlike verhale lewe kry. Of dit nou ‘n solo-portret of gesinsessie is, ek fokus daarop om die unieke persoonlikheid en emosie in elke fotosessie na vore te bring. Vir troues is my doel om jou groot dag vas te vang op ‘n manier wat jou toelaat om elke spesiale oomblik te herleef.

Wat my werk uitsonder, is my toewyding aan storie vertelling. Elke foto wat ek neem is gemaak om die emosies en herinneringe van jou ervarings te bewaar, wat jou ‘n visuele nalatenskap bied wat jy vir jare kan koester.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Daar is baie herinneringe wat uitstaan van die dag, insluitend die tyd wat ons alleen in die saal kon spandeer om die dekor te waardeer voordat almal die saal betree het. Dit het gehelp om alles net in te neem en stil te raak en te waardeer wat ons voor ons oë sien.

Nóg ʼn baie spesiale gebeurtenis op die dag, was my broer wat my in die “kerk” ingebring het, omdat my pa oorlede is 8 jaar gelede. Ek sal dit nooit vergeet nie. Die intimiteit van die troue was ook vir ons spesiaal, want ons kon dit deel met ons gunsteling mense.

Wat my ook altyd sal bybly, is Jaco se toespraak waarmee hy my so verbaas het. Die woorde wat daardie dag oor ons gespreek is deur die toesprake, was mooi en opreg en sal ʼn kosbare herinnering bly.

Meer oor Sweetfontein Boutique Farm Lodge:


Sweetfontein Boutique Farm Lodge is ʼn trou venue in die boonste Karoo-streek langs die N10, 15 km van Britstown en 35 km van De Aar geleë.

Op ʼn stoep waar die krommes van rotse en berge die geskiedenis van die ou tyd kan neerskryf, daar kan jy wees, daar kan jy stil word en die ritme van die Sweetfontein Boutique Farm Lodge omhels … Hierdie rustige, plaas lodge is ʼn tydlose skoonheid, aangeraak met ʼn genadige en mistieke sjarme, ʼn gees wat harte roep om te droom. Elke kamer en leefruimte spreek van die beste interieur kuns en dekor. Die soet en verkwikkende ervarings wat wag, praat met die hart van elke natuurkundige, kenner, reisiger, vakansieganger en natuurliefhebber.

Vir diegene wat stilte en betowering soek, is die huis toegerus met ʼn gesellige kaggel in die leefarea. Daar is gerieflik braai geriewe buite beskikbaar, en daar is geen beter plek om ʼn sonsondergang te geniet as op die stoep wat teen sononder uitkyk nie.

Dit is ʼn tuiste weg van die huis. Ons vriendelike personeel sal sorgvuldig sorg vir u behoeftes en verseker u ʼn gemaklike verblyf. Daar is 18 luukse suites, almal met hul eie badkamers. Die kamers is almal toegerus met ʼn platskerm-TV en DSTV, lugversorging, tee- en koffie maak geriewe en badkamer geriewe. Ons gaste geniet ook gratis WiFi. Sweetfontein Boutique Farm Lodge is trots op die bediening van outentieke Karoo-geregte, en ons plek kan tot 250 mense huisves, met genoeg ruimte vir ʼn dansvloer.

Sweetfontein Boutique Farm Lodge sal jou emosies versterk, hier sal jy net herinneringe maak; hier sal u slegs voetspore agterlaat.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


  1. Moenie té opgewerk raak deur al die klein dramatjies wat saam troubeplanning kom nie – jou dag SAL mooi uitwerk soos jy dit wil hê. As daar enigsins iets is wat nog nie in plek is nie, vat dit soos dit kom en werk om dit. Op daardie dag loop die emosies hoog – jy gaan jou nie eers steur aan die klein, onnodige dingetjies nie.
  2. Vat alleen tyd saam met jou man/vrou, bv. loop eers alleen deur julle saal, bewonder die dekor en neem dit eers alles in voordat die gaste die saal betree.
  3. Onthou om te eet!
  4. Moenie probeer om almal om jou gelukkig te hou nie, jy kan ook net soveel doen en bymekaar hou. Dit is JULLE dag.
  5. Gebruik jou ure wys en dans tot op die laaste nippertjie.

Trou Venue:


Ons woon in De Aar in die Noord-Kaap en die venue (Sweetfontein Boutique Farm Lodge) is 30km van waar ons bly. Vir ons is dit eerlikwaar die mooiste, mees unieke en spesiale venue wat ons nog ooit gesien het. Dit is naby aan die huis, die styl is soos niks wat mens nog ooit gesien het nie, dit skep ʼn warm en gesellige atmosfeer en is in die hartjie van die Karoo, waarvoor ons so lief is. Ons is bekend met die eienaars en het dadelik tuis gevoel. Hoekom sou ons verder soek as daardie asemrowende plek so reg onder ons neuse lê? Mense kom dan van heinde en verre om ʼn smakie van Sweetfontein te kry en ons is só gelukkig om dit sommer net hier in ons midde te kan hê.

Trou Dekor en Styl:


Ons wou dit modern, maar warm en gesellig hê met ʼn swart en wit kleurskema. Klassiek, elegant en tydloos. Jan Sauer, die meesterbrein agter alles wat mooi is by Sweetfontein en ook die eienaar, het dadelik ons idees gevat en dit in ʼn sprokie omskep. Ons het ons idees en kleurskema deurgegee en verder het hy en sy span alles self gedoen en beplan. Dit was vir ons ʼn verrassing om ons dekor te sien op die troudag en dit het ons wildste dekor drome oortref.

Die tema van die dag was formeel. Al ons gaste het formele swart uitrusting gedra om eenvormigheid te skep op foto’s en in die saal. Die agtergrond musiek was saksofoon musiek, wat bygedra het tot die formele gevoel. Die kos was deur kelners bedien – beesstert en ander warm disse. Spookasem in die vorm van rose is uitgedeel tussen die gaste. Die troukoek was selfs swart! Ons het ook ʼn sjampanje toring gehad wat bygedra het by die klassieke, elegante styl van die dag.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Die enigste diensverskaffer waarvan ons werklik gebruik gemaak het, was Sweetfontein Lodge en sy personeel. Eintlik alles anders was deur hulle hanteer- die kos, dekor, musiek, verblyf, ruikers ens. Die beplanning het glad verloop en hulle het die las baie ligter gemaak vir ons omdat hulle alles puik hanteer en gereël het.

Eerste Dans:


Til the Neon’s Gone – Josh Mirenda

Trou Begroting en Beplanning:


Jaco en Lienke het met behulp van ‘n trou koördineerder 17 maande aan hul troue beplan. Hulle het 84 gaste onthaal en die koste van die troue was ongeveer R1 900 per persoon.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: