André & Tashley se Intieme Troue in Potchefstroom

André en Tashley se intieme troue in Potchefstroom is ʼn perfekte voorbeeld van ʼn stylvolle en klassieke troudag met klein rustieke elemente. Hierdie paartjie se troudag het ʼn gesellige en intieme gevoel.

Hulle het die mooiste buitelug seremonie onder die geritsel van die hoë bome gehad, omring deur die pragtige landskappe van die plaas waar die egpaar getrou het. ’n Buitelug seremonie is altyd mooi en spesiaal.

Tashley en André woon in Dubai, so sy het haar trourok in Dubai laat maak. Ons is heeltemal mal oor die elemente van die trourok en veral die skouer gedeelte en hoe mooi die trourok vloei. André het ’n sagte sand kleurige pak gedra wat perfek by die ligging en die troue se kleurskema pas. Om Tashley se voorkoms te komplimenteer, het sy die mooiste sagte pienk roos handruiker gehad.

Hulle ontvangs was ʼn lekker intieme en gesellige samekoms met familie en vriende. ʼn Lang hout tafel met ʼn lang loper daarop het die ontvangs area versier. Die rou klipmure van die troulokaal binne het só mooi by die aardse kleurskema van Tashley en André se trou dekor gepas. Gebrande oranje servette, aardse kleur palet kerse en groengrys blompotte met gedroogde grasse en pampasgras het die tafel hier en daar met stukkies vars blomme versier. Deurskynende Tiffany-styl stoele bring ʼn moderne kontras met die dekor elemente wat so mooi is.

Alles is moontlik met ʼn span professionele trou diensverskaffers. As jy verloof is en op soek is na goeie diensverskaffers vir jou troue, besoek asseblief ons aanlyn trougids.

Rol af om meer te lees oor die paartjie se liefdesreis en pragtige sonsondergang foto’s met die pragtige plaas landskappe as agtergrond.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het saam op skool ʼn pad gestap. In graad 9, terug in 2015, het André skaam gevra of ek saam met hom na die skooldans wou gaan. Ongelukkig het ons nie regtig ʼn vonk gehad nie, en eerlik gesê, het ons geen woorde uitgeruil sedert daardie dag nie. Drie jaar later sit ons langs mekaar in ons Engelse klas. Dit was toe ek die eerste “move” gemaak het deur “Tashley Taljaard” op sy liniaal te skryf (wat hy vreeslik gehaat het).

Op 5 Junie 2018 het André my gevra om sy meisie te wees.

Snel vorentoe na 9 November 2023 (André se verjaardag), toe ek dit die minste verwag het. Kry ek dieselfde liniaal, maar hierdie keer met ʼn vraag aan die agterkant: “Sal jy met my trou?” Hierdie oomblik was werklik besonders, en dit het die pragtige pad wat ons saam gestap het, beklemtoon.

Trourok:


Ek is ʼn inwoner van Dubai, en dit is waarom my pragtige rok hier gemaak is. Alhoewel dit ʼn bietjie duurder was om die rok hier te bekom, was dit meer prakties vir my om my afsprake rondom my besige rooster te beplan. Die ontwerp is die handewerk van ʼn bekwame Russiese ontwerper en die trotse eienaar van Mila’Si Couture. Hierdie rok het vir my ʼn spesiale betekenis, omdat dit die eerste een was wat ek ooit aangepas het, en ek was dadelik verlief daarop.

Die rok is ʼn elegante meesterstuk met ʼn off-the-shoulder silhoeët en ʼn sweetheart halslyn. Oorspronklik het dit nie ʼn slit gehad nie, maar ons het besluit om ʼn subtiele slit by te voeg. Hierdie detail het my die vryheid gegee om die rok te dra met ʼn petty coat vir die seremonie, wat ʼn ekstra laag van pragtigheid toegevoeg het aan my spesiale dag.

Verloof- en Trouringe:


Die keuse van ons ringe was die minste stresvolle deel van die hele troubeplanning. Ons het eenvoudig gekies waarvan ons hou. My verlowingsring is ʼn 1.5-karaat ovaal diamant met ʼn pragtige geelgoud-afwerking, terwyl my trouring ook van geelgoud is en versier is met klein ronde en ovaal diamante wat mooi reg rondom loop. André se trouring is 18-karaat geelgoud, met die inskripsie van die bekende vers, Matteus 19:6, sorgvuldig gegraveer aan die binnekant, wat die diepte van ons verbintenis verteenwoordig.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Ons troudag het oorvloei van onvergeetlike en besondere oomblikke, so dit is moeilik om een enkele gunsteling te kies. Maar ons eerste soen is sonder twyfel een van daardie oomblikke wat ons vir ewig in ons harte sal dra.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Om ʼn troue beplanner te kry, is ʼn uitstekende manier om die stres van troue beplanning te verminder. Hulle neem die las van die logistieke kant, sodat jy jou kan fokus op die mooi aspekte van die dag. Dit laat jou toe om die proses te geniet sonder om oorweldig te raak.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Die sukses van die dag kan aan baie mense toegeskryf word, maar die fotograwe het ʼn besondere rol gespeel wat ons nie kan ignoreer nie. Hulle het ons van die begin af gemaklik laat voel en dit was ʼn absolute plesier om al die fotos te neem.

Trou Venue:


Ons het verskeie plekke gaan besoek en dit was ʼn uitdaging om ʼn plek te vind wat nie te groot lyk vir ons intieme gaste-lys nie. SeMoer Destination het die perfekte onthaal gehad, maar dit was die buite kansel wat ons harte gewen het.

Trou Dekor en Styl:


André en ek deel ʼn liefde vir die natuur se groenigheid. Ons het ʼn palet van verbrande oranje en groen skakerings gekies- kleure wat vir ons gemaklik en bekend voel. Die dekor en blomme was ʼn viering van die natuur se weelde, wat ʼn warm atmosfeer geskep het. Alles, van die blomme tot die tafel kaartjies, was deurdrenk met liefde en betekenis.

Eerste Dans:


Time after time – Cyndi Lauper

Trou Begroting en Beplanning:


André en Tashley se intieme troue was in slegs 30 dae beplan met behulp van ʼn troubeplanner. Hulle het 30 gaste genooi en die koste het ongeveer R5 000 per kop uit gewerk.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: