Zack & Ilze se Verrassing Verlowing

Zack en Ilze se verrassing verlowing op ʼn berg in die paartjie se tuisdorp, Rustenburg is te oulik vir woorde. Beide Ilze en Zack is natuurliefhebbers en sonsondergang is hulle gunsteling tyd van die dag. Só die sonsondergang verrassing verlowing was perfek vir die paartjie. Ons dink die sagte sonsak lig is altyd perfek vir romantiese foto’s.  Wat net ʼn “oefen lopie” vir die fotograaf moes wees was eintlik die paartjie se verrassing verlowing.

Die foto’s waar Zack op sy knieg gaan en vir Ilze die groot vraag vra is só emosie belaai en baie spesiaal.  Ons sal altyd aanraai dat julle ʼn fotograaf huur om sulke oomblikke vas te vang.  Hierdie herinneringe is uiters spesiaal en wil mens graag hê om terug na te kyk in die toekoms.

Ilze se aardse kleur rokkie en Zack se ligte blou knopies hemp en ligte broek komplimenteer mekaar. Die kleurskema is neutraal en gee ook ʼn amper safari voorkoms, wat perfek by die natuurskoon om hul gepas het.

As julle nounet verloof geraak het en wil weet wat die volgende stappe is, lees gerus gratis trou advies artikels op Mooi Troues. Ons is ʼn bron van trou inspirasie en advies aan duisende bruide wêreldwyd. Mooi Troues se Trougids is ook vol oulike trou diensverskaffers.

ʼn Verlowing fotosessie is ook die perfekte tyd om meer gemaklik te raak voor die kamera en om jul trou fotograaf beter te leer ken.  Rol af om meer te lees oor Zack en Ilze se verrassing verlowing en hul liefdesreis as paartjie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Die heel eerste ontmoeting was nie juis iets wat ons presies kan onthou nie. Ons het ontmoet in die Graad R Dolfyntjie klas. Vanaf daardie dag was daar nie ʼn tyd in ons lewe wat ons mekaar nie geken het nie.

Ons het saam tennis gespeel, redenaars gepraat en was saam hoofleiers in die Laerskool, en het selfs ʼn klein verhouding aangeknoop in ons Graad 7 jaar. In die Hoërskool was ons deel van dieselfde vriendekring en het elke pouse saam mekaar in die groep spandeer. Min het ons geweet wat die toekoms vir ons inhou.

Eerstejaar van Universiteit het ons paadjies geskei.  Tydens die Covid-19 pandemie het ons, ons vriendskap weer hervat. Kort daarna het die liefde begin blom. Ons was vir 1 jaar en 7 maande in ʼn verhouding voordat Zack die “groot vraag” gevra het.

Die groot vraag:


Na twee maande se fyn beplanning en baie geheime hou, het Zack op 24 Februarie 2023 tydens ʼn pragtige sonsondergang op ʼn berg in ons tuiste dorp, Rustenburg, die groot vraag gevra.

Zack het my niggie, Wilmi Jordaan, van Ruth Photography gekontak met die idee van ʼn sonsondergang fotosessie waar hy my sou vra om te trou.

Oor ʼn koppie koffie het hierdie twee aan ʼn plan begin dink wat my heeltemal onkant gevang het. Woensdag, 22 Februarie 2023 het Wilmi vir my ʼn boodskap gestuur om te vra of ek en Zack bereid sal wees om die Vrydag model te speel, om haar te help om haar kamera in te stel vir ʼn groot fotosessie wat sy die Saterdag sou gaan afneem.

In my kop het ek dit net gesien as nog ʼn geleentheid om mooi aan te trek en lekker saam te lag.  Min het ek geweet wat daardie middag vir my inhou.

Om die fotosessie geloofwaardig te maak het Wilmi eers ʼn paar foto’s voor die groot oomblik geneem en gemaak asof sy haar kamera instel om aan te pas met die lig in die agtergrond.

Terwyl ons na die sonsondergang gestaar het vir ʼn foto het Wilmi se man die ringboksie vir Zack aangegee sonder dat ek gesien het. Daarna het ons weggedraai van mekaar af vir nog ʼn “foto” en dit het vir Zack die geleentheid gegee om op sy regter knieg te gaan. Wilmi het toe gesê om terug namekaar te draai. Dit is toe waar ek vir Zack gesien het met ʼn ringboksie in sy hand en trane in sy oë.

Hoekom ons mekaar liefhet:


ʼn Paar van my gunsteling eienskappe van Zack is sy eerlikheid en hoe geduldig hy met my is. Hy laat my waardig en geliefd voel en aanvaar my met al my foute en swakhede. Zack bring my mooiste eienskappe na voor en laat my soos die mooiste vroutjie in die wêreld voel.

Die paar eienskappe van Ilze wat my gunsteling is.  Dat sy elke klein ding wat ek vir haar doen of gee so baie waardeer. Ek is lief daarvoor om te sien hoe sy kinderlik gelukkig in die natuur en rondom haar familie kan wees. Sy is iemand wat uit haar pad sal gaan om vir my of iemand anders ʼn spesiale geleentheid te beplan en net nóg meer spesiaal maak. Sy het ʼn aansteeklike lag en het altyd die vermoë om my uit my maag te laat lag.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het al voor die verlowing reeds met mekaar gedeel dat ons nie graag lank verloof wil wees nie. Daarom het ons 7 maande later op 16 September 2023 by Stoorhuijs Wedding Venue in Mooinooi getrou.

Die verloofring:


Ons het indirek saam die ring gekies. Zack het gereeld Pinterest foto’s van die spesifieke ring gekry wat ek ingedagte gehad het. Daarom het hy my styl goed geken. Hy het ʼn goeie kennis in Knysna, wat ʼn juwelier is gekontak om hom te help om my droom ring ʼn realiteit te maak.

My styl was nog altyd minimalisties en elegant. Daarom wou ek ʼn klassieke styl ring gehad het met ʼn eenvoudige band en ʼn enkel steen. Om my ring wel effens uniek te maak wou ek graag gehad het dat die steen in die kussing snit vorm moet wees en die band van roosgoud gemaak word.

Dit was een ding om na klomp foto’s van die ring op Pinterest te kyk, maar my asem was weggeslaan toe ek die ring die eerste keer op my vinger sien.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ek het eenkeer ʼn verrassings verlowings fotosessie op Instagram gesien.  Dit was vir my só mooi om te sien hoe die fotograaf elke emosie van die groot oomblik vasgevang het. Om verloof te raak is een van die mees spesiale oomblikke in ʼn mens se lewe. Om foto’s te hê waarna mens kan terug kyk jare later, maak dit net nóg meer spesiaal.

Toe Zack my begin vra het oor hoe my droom verlowing sal lyk, het ek hom vertel van die fotosessie wat ek op Instagram gesien het. Dat dit nog altyd ʼn droom van my is om daardie spesiale oomblik op kamera vas te vang. Ons het al vele kere na ons verlowing na ons foto’s gekyk en elke keer wat ons daarna kyk voel dit of ons terug gevat word na daardie groot oomblik.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek en Zack is albei groot natuurliefhebbers en sonsondergang is ons gunsteling tyd van die dag, daarom was die laatmiddag fotosessie op die berg die perfekte plek vir ons verlowing.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons het nie regtig spesifieke verwagtinge en vrese nie. Ek dink die belangrikste is om nader aan God en mekaar te groei en om elke oomblik van die verlowing tydperk te geniet. Mens is net eenkeer in jou lewe ʼn bruid en bruidegom en die tyd vlieg só vinnig verby.

Visie vir droomtroue:


Ons perfekte troudag sal wees waar al ons naaste vriende en familie saam ons liefde vir mekaar kan vier. Ons wil ʼn troue hê waar almal gesellig saam kan kuier, smaaklike kos kan eet en dans tot hulle wil omval.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: