Tylo & Sonica se Kleurvolle Winters Troue

Tylo en Sonica se kleurvolle winters troue in Somerset-Wes was ʼn gesellige feesviering saam met familie en vriende. Die paartjie het getrou by die prentjiemooi Highberry net buitekant Stellenbosch omring deur die pragtige natuurskoon en rustigheid van die trou venue se ligging.

Sonica het beeldskoon gelyk in haar trourok en ons is totaal en al verlief op die detail van haar trourok.  Die fyn detail met die groot moue is besonders mooi en pas ook perfek by die hele gevoel van hul troue.  Tylo het ʼn donker groen baadjie aangehad met ʼn strikdas en sand kleurige broek. Dit het beide ʼn ontspanne en formele voorkoms gehad.

Highberry is ʼn droom trou bestemming.  Met soveel om te bied en die mooiste uitsigte sal dit enige paartjie se droomtroue ʼn realiteit maak. Hulle onthaal lokaal is ʼn stylvolle dubbel volume spasie met ʼn spitsdak en eenvoudige afwerkings wat dit perfek maak vir paartjies om hul stempel op te sit.

Vir die trou dekor het hul kleurvolle elemente van donkerder, maar helder blomme gebruik.  Die donker maar helder kleure kan ook gesien word in die tafellopers wat die perfekte kontras skep teen die hout tafels. Deurskynende stoele is gebruik wat wegbreek van die helder kleurskema en alles net só mooi bymekaar bring.

Ons is mal oor hulle troukoek wat Ella’s Cakes and Sugar Art gebak het, simplisties en bedek met die fraaiste blomme vir daardie tikseltjie kleur.

Sonica en Tylo se troudag het ʼn baie gesellige en lekker gemaklike gevoel gehad. Dit was ʼn dag van feesviering saam met familie en vriende. Met ʼn kaggel vuurtjie van die die trou venue wat die Winters dag omskep het in ʼn romantiese en snoesige kuier ruimte.

Rol af om meer te lees.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek het vir “Tyler” in 2017 ontmoet en eers ná vier maande se nou-en-dan klas toe gaan, besef dat dié se naam eintlik rym met Milo. Hy was die pliggie in die Afrikaanse tutors se goeie boekies, en ek, die een wat eerder sou koffie drink as klas toe gaan.

In 2018 het ons in dieselfde kringe begin beweeg. Hy het sy Sonop pak vir ʼn T-hemp verruil, en soos ek oor die koor gevoel het, het hy gevoel oor die koshuis.

Met die koms van 2019, het ek byna daagliks by my pêl gaan kuier en, tussen al die diep geselsies en kitskoffie deur, het ek my hart verloor. Na sewe maande in die vriend-sone, het my vriend uiteindelik my kêrel geword!

2020 het Pretoria vir die Kaap verruil en my geleer dat gehoorsaamheid soms seer is. Ons het die verhouding en al ons drome saam neergelê, omdat ons elkeen ʼn diep oortuiging gedra het dat God individueel aan ons wou skaaf. Die jaar na die opbreek het ons egter in dieselfde dorp, op die dieselfde perseel, in dieselfde Bybel skool beland! Keer op keer op keer moes ons neerlê en ons oë weer op Jesus rig.

Uiteindelik, na jare se groei en baie trane, het ons in Maart 2022 besef dat ons steeds daarvan droom om saam oud te word.

Die verlowing:

In Desember, het Tylo, sonder my wete, ouers gaan vra en begin beplan aan ons verlowing. Ons gunsteling wyn was nog altyd ʼn Kleine Zalze Sauvignon Blanc, dus het die plaas in Stellenbosch as die ideale ligging gedien vir die groot vraag.

Tylo het ʼn boekrak vir my rooi geverf, omdat ek gaande is oor kleur en boeke. Die rak het hy in Klein Zalze se tuine laat staan, versier met ons foto’s oor die jare, ʼn bos sonneblomme en ʼn bottel vonkelwyn.

Op die 25ste Maart 2023, het hy my vas oortuig dat ons sou wynproe saam Quintin, sy pêl (en toe later ons hoof strooijonker) op Klein Zalze. Natuurlik, het ou Quintin nooit sy verskyning gemaak nie. “Kom ons neem ʼn foto in die tuin,” het Tylo voorgestel. Die motreëntjie sou hom glad nie keer nie.

Die groot vraag:

Sambreel-in-hand het ons die pragtige tuin ingevaar en, om die eerste draai, byna my beste vriendin omgestamp waar sy gebuk met ʼn kamera te vinde was. Sy het geskrik en woordeloos agter die bossies verdwyn. Sonder om te blik of te bloos, het Tylo my voortgelei na die plek waar hy die boekrak geplaas het. Hy het my vertel van boekrakke en die stories wat hul bewaar, van al ons stories saam en hoe hy nog soveel stories saam met my wil skryf. Dis toe dat hy op sy knie neersak en my vra om te trou.

Ek het geskree van geluk, op en af gespring en beslis gehuil. Na ʼn groot druk (ons het nie gesoen voor die Groot Dag nie), het hy na die bossies beduie. Daar, met ʼn pruik op haar kop, het my kleinsus my ingewag. In my haas om haar te omhels, het ek in die modder neergeslat, huilend, laggend, en alles tussen-in.

Dit was die beste dag– vir my, nie vir my jeans nie! Die ring, ʼn granaatsteen omring met goud, was presies soos die een op my Pinterest bord. Hy het goed gekies. Nee, ék het goed gekies!

Trourok:


My droom was nog altyd om ʼn langmourok te dra op my winters troue.

Ek het Fynbos Bridal saam met my twee huismaats besoek en ses rokke aangepas. Rok nommer twee het eers my hart gewen– ʼn dramatiese rok sonder moue. Net voor ons wou gaan, het Charmain van Fynbos my gekeer. “Harriet”, ʼn rok in my nommer op die rak, het haar aandag getrek. Aanvanklik het dit vir my gelyk nes ʼn doily en was ek skrikkerig. Charmain het my egter aangemoedig om dit te probeer.

Die rok het nes ʼn handskoen gepas! Die lang, kant moue het my hart gesteel en ek kan nou nie dink dat ek ʼn ander rok moes gedra het nie. Dit was perfek.

Verloof- en Trouringe:


Tylo se ring is titanium en, aan die binnekant, is “First Love” gegraveer. Meeste mense sou dink dat ek sy eerste liefde is, maar dit het ʼn ander betekenis. Ek wou hom herinner dat Jesus Christus altyd sy eerste liefde sal bly, aangesien Hy die een is wat vir Tylo gered en verlos het. Ek is sy pasmaat, sy vriendin, sy helper, maar Christus bly sy Heer.

Op my Pinterest bord het ek ʼn ring gestoor en slegs vir my kleinsus daarvan vertel. Dat Tylo nou vir my presies so ʼn ring laat maak het, is werklik merkwaardig. Dit is presies wat ek wou gehad het!

My Ma was destyds ʼn geoloog en het ʼn ou professor ingespan om die perfekte granaatsteen vir my te kies. So tussen my ma en sussie, het Tylo dit reggekry om my droom ring te laat maak. Boonop het my ouma haar trouring aangebied en is dié gesmelt om my droom te laat verwesenlik. Dit is dus ʼn baie kosbare besitting.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


  • Tylo se opregte trane toe hy my vir die eerste keer gewaar.
  • Ons het saam nagmaal gehou na afloop van die seremonie en dit was besonders.
  • Die reënboog in die lug het ons breed laat glimlag!
  • ʼn Spontane ekspressiewe dans saam met my hoof strooimeisie op die maat van “My Heart Will Go On” was beslis onvergeetlik.
  • Daar was genoeg tyd om met elke gas te gesels en lekker te kuier, wat vir ons twee ekstroverte ongelooflik kosbaar was.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Sophie Jean Make Up:  Jane is saggeaard en geduldig. Ek was so beïndruk met haar diens en met my grimering.

Flower The Way deur Gila Hattingh: Gila is ʼn vriendin van ons en ook ʼn bloemis. Sy het my asem weggeslaan met haar asemrowende rangskikkings!

Boland Spitbraai: Die diens en gehalte van die kos was waarlik uit die boonste rakke. Ek droom nou nog oor die heerlike pampoen tert.

Highberry: Tim is uiters professioneel en tegemoetkomend. Dit was ʼn droom om met hom te kommunikeer en reëlings te tref.

All Things Weddings: Die dekor items was pragtig en die diens, puik!

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Gee julself genoeg tyd.

Onthou dat dit julle Groot Dag is en nie jul ouers of vriende se troudag nie.

Op die ou einde gaan jou gaste van die dekor en fênsie vingerhappies vergeet. Dis die hoofgereg en algehele atmosfeer wat ʼn blywende indruk maak.

Onthou om die beplanning te geniet en mekaar te betrek. Tafelplasings is nie die konflik werd nie.

Trou Venue:


Ek het Highberry opgespoor aanlyn en onmiddellik ʼn epos gestuur aan Tim, die bestuurder. Dit was nie ʼn halfuur nie, toe epos hy terug. Die volgende oggend het ons Somerset-Wes toe gery om te gaan kyk en die dag daarna is die deposito betaal. Dit het alles so vinnig in plek geval, weens Tim se uitstekende diens en die skoonheid van die venue. Ons het oombliklik geweet dat dit die ideale plek was vir ons troue.

Trou Dekor en Styl:


Wat dekor betref, is dit belangrik om te noem dat ek só lief is vir kleur soos ʼn verkleurmannetjie op ʼn Smartieboks.  Ek kan nie op slegs een gunsteling besluit nie. Die kleurskema vir ons winters troue was dus ʼn reeks diep juweel kleure, van pers tot teel-groen en alles tussen-in.

My liefste strooimeisies het elk hul eie rokke, in hul eie kleur, gedra. Ons het kleurvolle papier lanterns in die kapel opgehang. Die glasware se kleure het die reënboog laat skaam kry, maar tog nie sy koms gekeer nie – ja, daar was sowaar op ons troudag ʼn reënboog in die lug! Tylo se strooijonkers het elk ʼn ander kleur strikdas gedra en die blomme het gewissel van rose tot sonneblomme. Die kaggel het gesorg vir warmte, maar die kleurvolle dekor het werklik ʼn warm atmosfeer geskep.

Meer oor Ella’s Cakes and Sugar Art:


Ella’s Cakes and Sugar Art streef daarna om jou droom troukoek ʼn werklikheid te maak. Geen droom is te groot of te klein nie. Gebaseer in die Paarl in die hartjie van die Wynland, naby aan die mooiste trou bestemmings. ʼn Troukoek moet indrukwekkend wees, sowel as heerlik, dus is ʼn belangrike deel van die beplanning om die paartjie virtueel of in persoon te ontmoet. Spesifieke behoeftes vir ontwerp en smaak word bepaal om die perfekte koek te skep. Die koek is immers ʼn dekor element wat moet inpas by die res van die onthaal en dit moet ook die spyskaart aanvul.

Paartjies se troukoek word afgelewer en opgestel by die onthaalsaal om te verseker dat alles perfek is vir jou troudag. Die tydlose tradisie van die sny van die troukoek is die eerste aksie van die getroude paartjie, en deur mekaar te voer, simboliseer dit dat hulle vir mekaar sal sorg. Dit is net die begin van ʼn lang verhouding tussen die paartjie, waar koeke deel vorm van familie feesvieringe vir nog baie jare. Kontak Ella’s Cakes and Sugar Art.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het hul troue self beplan oor ʼn drie maande periode.  Hulle het in totaal 98 trou gaste onthaal teen ʼn begroting van ongeveer R 2,040 per persoon.

Eerste Dans:


Somebody Like You van Keith Urban


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: