Zander en Dinet se Kunsgalery Verlowing Fotosessie is definitief iets uniek. Dié paartjie het ʼn pret belaaide verlowing fotosessie by Pretoria Kuns Museum in Hatfield gehad. As julle opsoek is na inspirasie vir jul eie verlowing foto’s, dan is dié fotosessie een wat tonne inspirasie sal bied.
Dinet se rokkie is ʼn mini-weergawe van haar Ma se trourok styl, wat só ʼn oulike idee is. Zander het ʼn knopies hemp en donker grys broek aangehad wat ook ʼn semi-formele voorkoms bied. Die paartjie se uitrustings was totaal en al gepas vir hul verlowing fotosessie se ligging.
ʼn Verlowing fotosessie is só belangrik en ons motiveer altyd dat paartjie ʼn verlowing fotosessie laat doen voor hul troudag. Nie net is dit ʼn oulike idee om jul spesiale oomblikke vas te vang in foto’s nie, maar ook ʼn oefenlopie voor jul troue. Vir baie paartjies kan dit ʼn stresvolle ervaring wees voor die kamera. ʼn Verlowing fotosessie met die trou fotograaf gee die paartjie die kans om hul trou fotograaf beter te leer ken, om te verstaan hoe die trou fotograaf werk en wat om te verwag van die fotosessie op die dag van jul troue. Die fotograaf is die een wat die meeste tyd deurbring saam met die paartjie op hul troudag.
Indien julle besig is om julle troue beplan, besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir oulike trou diensverskaffers. Rol af om meer te lees oor Zander en Dinet se Kunsgalery verlowing fotosessie en hul liefdesreis as paartjie.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ek en Zander was saam op skool. Ons was meer kennisse as vriende, maar het so nou en dan vir mekaar geloer. Ses jaar na skool aan die einde van 2021 het ons mekaar in ʼn restaurant raak geloop.
Sy grapperige pick up lines het my hart gesteel. Ek het nooit gedink dit sal gebeur nie, maar ons was onafskeidbaar vanaf daardie aand.
Toe ek my ouers vertel van die nuwe liefde moes ek hoor ons was saam in die kleuterskool gewees. Nie een van ons kan dit werklik so onthou nie.
Die volgende jaar in Februarie 2022 het hy my gevra om sy meisie te wees. Ons het baie gepraat oor trou en hy het menige male van die begin af vir my genoem dat hy van dag een af geweet het ek is sy trou vrou.
In Junie 2023 het hy my gevra om te trou. Dit was ʼn groot verassing vir my.
Die groot vraag:
Ek het fotorame vir ons kamer vir bo die bed gekoop om bietjie die kamer mooi te maak. My niggie, wat ʼn fotograaf is, het vir my gesê ons kan ʼn paartjie fotosessie gaan doen juis om mooi foto’s te hê wat ons in die rame kan sit. So breek die Sondag aan, 4 Junie 2023, en ons is op pad na Rosemary Hill Farm Wedding venue.
Na ʼn uur se foto’s neem en uitrustings verander gaan ons na die doolhof gedeelte vir die laaste paar foto’s voor ons weer moet ry. Kyk, ek is mal oor ʼn wit sambreeltjie, enige wit sambreeltjie.
In die doolhof is daar toe die mooiste piekniek uitgelê onder ʼn wit sambreel. Ek smeek my niggie of ons ten minste net een foto daar kan neem. Sy wou toe hê ek moet op die wit mat by die piekniek staan en ek weier omdat ek nie die mense vir wie die piekniek is se wit mat wou vuilmaak nie. Op ʼn oomblik wat ek toe nou ingee en op die mat staan, draai ek op en hier is Zander op sy een knie met my droom ring in sy hand. “Netta, sal jy met my trou?”
Ek weet nie wie het meer gehuil nie, ek, Zander of my niggie. Dit was die maklikste ja ooit. Hy het elke dag vir ʼn week vir my ʼn brief geskryf wat die dag se gebeure verduidelik en hoekom hy dalk snaaks is met my en hoekom die kluis se kode moes verander.
Ek kon dit alles lees toe ons die sjampanje oopmaak en lekker rustig vingerhappies kon geniet. Die piekniek is vir ons gerëel deur Zander, en hy en my niggie reël blykbaar al die fotosessie vir maande.
Hoekom ons mekaar liefhet:
Zander is die mees hardwerkende man wat ek ken. Sy ambisie is aansteeklik en hy gee nooit op nie. So sterk soos wat hy is, so sag kan sy hart ook wees.
Hy is my beste maatjie saam met wie ek die beste avonture het. Zander is baie spontaan en laat my gereeld uit my gemaksone deur my dinge te laat doen wat my hart bietjie vinniger laat klop, soos van ʼn waterval af spring. Hy is die liefde van my lewe en ek sal hom vir niks verruil nie.
Zander se woorde:
Netta is die beste ding wat met my gebeur het. Haar sprankelende oë het my van dag een af laat besef ek gaan met haar trou. Sy gee baie om en ondersteun my baie. Haar rustigheid maak my rustig en ek wil saam niemand anders die lewe doen nie. Nie net is sy mooi nie, maar slim ook. Ek is só lief vir haar.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons datum is die 14de September 2024, dus is dit 15 maande van verloof wees voor ons gaan trou.
Die verloofring:
Ek het al baie jare ʼn ring op Pinterest gesien waarvan ek baie gehou het. Hy is asimmetries en bitter mooi. Ek het die ring al vir Zander gewys in die verlede en vir hom gesê dit is my droom ring.
Ons het nooit gaan ringe pas regtig nie. Ek kon nooit verstaan hoekom hy nie wou nie, maar nou weet ek dit was omdat hy eintlik al klaar my droom ring laat maak het by Poggenpoel Juweliers.
Toe ek die ring in sy hand sien en besef dit is DIE ring, kon ek my oë nie glo nie. Hoe gelukkig kan een meisie dan nou wees.
Rede vir die verlowing fotosessie:
Die verlowings fotosessie was ingesluit by die fotograaf se pakket wat ons gevat het vir die troue. Ons wou haar ook ontmoet voor die troue en sien hoe sy werk sodat ons op ons groot dag gemaklik kan wees voor die kamera met ʼn bekende gesig.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Mens sien mos maar altyd baie mooi idees op Pinterest. Biblioteek foto’s, hotel huisbak foto’s en museum foto’s. Ons wou dit ook doen.
Die naaste aan museum wat ons kon kry was die Pretoria Kuns Museum in Hatfield. Ons foto’s het presies uitgekom soos ons beplan het, indien nie beter nie.
Die huisbak foto’s was ʼn “skelm” uitstappie by ʼn plek waar mens nie eintlik mag foto’s neem nie. Dit het die adrenalien bietjie vrygestel en ons moes vinnig die paar foto’s neem wat ons wou hê.
Die rokkie het ek laat maak om te lyk soos my ma se trou rok, net ʼn mini-weergawe. My ma het nie meer haar rok nie en ek wou iets spesiaal vir haar ook doen.
Visie vir droomtroue:
Ons droom troue is ʼn vreugdevolle aand met baie vriende en familie. ʼn Groot saal met baie liggies en baie blomme en plante wáár almal lekker kan dans en saam sing op musiek. Daar moet lekker kos wees en die gaste moet net hulself kan wees. Dan is ons gelukkig. Dit kan reën, dit kan baie warm wees. Solank ons almal net saam is dan word ons droom troue waar.
- Fotograaf: Trigger Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: Pretoria Kuns Museum
- Grimering: MDK Artistry| Kontak
- Hare: MDK Artistry| Kontak
- Verloofring: Poggenpoel Juweliers| Kontak