Watter inligting moet op ʼn trou uitnodiging wees?

Hierdie is ʼn vraag wat ons redelik baie kry: “Watter inligting moet op ʼn trou uitnodiging wees?” In dié artikel fokus ons op die informasie wat op jul trou uitnodiging moet wees.

Ander advies wat ons kan gee is om ʼn professionele trou skryfbehoefte ontwerper te gebruik vir julle skryfbehoeftes. Daar is ʼn rede daarvoor, trou skryfbehoefte ontwerpers het jare se ondervinding en as julle iets vergeet, sal hulle dit moontlik optel.

Kyk dat al die inligting reg is op jul trou skryfbehoeftes voordat julle dit afteken en stuur om gedruk te word. Neem eerder ʼn uur of twee langer en maak seker alles is reg, datums, tye, plekke, spellings ensovoorts.

Rol af om meer te lees oor watter inligting op ʼn trou uitnodiging moet wees.

Paartjie se Name:


Die paartjie se name met die korrekte spelling. Hierdie kan of die paartjie se volledige name wees of die name wat hulle bekend staan as. Byvoorbeeld: As jou naam Jean-Pierre is en jy staan bekend as JP, kan jy kies of jy eerder jou geboorte naam of jou noem naam wil gebruik. Dit is ʼn persoonlike keuse.

Troudatum:


Baie belangrik.  Maak seker die troudatum is duidelik sigbaar op die uitnodiging.  Dit is ook wys om die datum en die dag te noem.

Tyd:


Hoe laat begin julle troue? Maak seker julle gee die regte tyd.  As julle troue ʼn spesifieke tyd begin is dit goed om dit ʼn half uur vroeër op die uitnodiging te maak.  Byvoorbeeld: 15:30 vir 16:00.  Dit gee julle grasie indien daar iets bietjie laat is.  Maak ook seker dat gaste weet waarna om te gaan, byvoorbeeld na die kerk of na die onthaal lokaal.

Seremonie Besonderhede:


Indien die seremonie by ʼn ander ligging is as julle trou lokaal is dit belangrik om te spesifiseer waar julle seremonie is. Noem die plek se naam en die adres kortliks. Dit is belangrik om die ligging korrek deur te gee, want dit is die eerste ontmoeting plek vir jul trou gaste.

Venue Besonderhede:


Die venue se naam en adres moet duidelik wees. Indien julle by ʼn venue trou waar daar meer as een trou lokaal is, maak seker julle sê watter trou lokaal jul in gaan trou. Dit is ook wys om onder addisionele informasie, soos onder in die artikel bespreek, ʼn kaart te sit van die venue se uitleg en waar daar parkeer kan word ensovoorts.

RSVP besonderhede en sperdatum:


Hierdie is seker die mees belangrikste datum wat moet aangedui word op die trou uitnodiging.  Maak seker dit is duidelik en maklik vir trou gaste om te sien.  Dit is die datum waarteen trou gaste julle moet laat weet of hulle jul troue sal kan bywoon of nie.

Beskryf ook hoe hulle julle moet laat weet. Dit kan per pos, e-pos, WhatsApp ensovoorts wees, solank as wat dit duidelik is op die uitnodiging.  Baie belangrik.  Onthou om boek te hou van wie RSVP het en wie nie.

Kleredrag kode:


Nog ʼn belangrike punt.  Dit is belangrik om vir jul gaste aan te dui watter kleredrag hul moet aanhê vir jul troue. Indien julle nie ʼn spesifieke kleurskema het nie, kan julle ʼn styl ook gee soos semi-formeel of formeel.  Julle kan ook vra dat gaste nie ʼn spesifieke kleur moet aanhê nie as julle wou.

Addisionele Inligting:


Hierdie inligting is oulik om by te sit, maar is nie nodig nie.

  • Aanwysings na die seremonie en trou venue.
  • Verblyf opsies in die gebied naby die trou venue.
  • Aanduiding of kinders toegelaat word of nie.
  • Skakel of QR-kode na julle trou webtuiste.
  • Enige ander inligting wat julle voel belangrik is vir gaste om te weet.

Artikel Krediet: