Hoe weet mens nou eintlik of ʼn trou diensverskaffer vir julle bedoel is of nie? Hierdie is ʼn vraag wat baie paartjies vir hulself vra: “Wanneer is ʼn trou diensverskaffer nie reg vir ons troue nie?” In dié artikel gee ons ʼn paar punte waaraan jul moet aandag gee wat jul dalk ʼn indikasie kan gee of ʼn trou diensverskaffer reg is vir julle of nie.
Almal het ander ervarings en nie net een persoon se ervaring is die regte een nie. Doen julle huiswerk en lees deur die punte hieronder vir ʼn paar stukkies advies.
As julle opsoek is na professionele trou diensverskaffers wat julle kan vertrou, besoek Mooi Troues se Trougids. Mooi Troues se Trougids lys professionele trou diensverskaffers in al nege provinsies regoor Suid-Afrika.
Rol af om meer te lees wanneer is ʼn trou diensverskaffer nie reg vir jul troue nie.
Kom nie terug na jou navraag nie:
Oh aarde! Hierdie is een van daardie heel eerste dinge waarna julle moet uitkyk. Hierdie is ʼn rooi vlag indien die diensverskaffer nie terugkom op jul oorspronklike navraag nie.
Indien die persoon nie terugkom binne 48 uur nie, volg op met ʼn e-pos of telefonies. Die eerste kommunikasie aan die trou diensverskaffer is die belangrikste. Hierdie is die héél eerste indruk wat mens sal kry vanaf die diensverskaffer, so mens verwag dat die persoon vinnig sal wees op navrae.
As julle nie binne ʼn week of twee vanaf die diensverskaffer gehoor het nie, is dit ʼn definitiewe rooi vlag en kan dit beteken dat die diensverskaffer nie omgee nie of ongeorganiseerd is.
Slegte resensies:
Doen julle navorsing behoorlik. Soek die persoon se besigheid naam en die persoon wat julle help se name aanlyn. Lees resensies. Kyk waarvan die diensverskaffer se vorige kliënte gehou en nie gehou het nie. Gebaseer op die resensies kan mens ook ʼn min of meer idee kry van die kliënte diens vlak. Dit is ook nie te sê as die persoon goeie resensies het hul wel die beste is nie.
Stadig op e-posse:
Ons verstaan party trou diensverskaffers is besig en meeste van die kere slegs die een persoon wat alles behartig. Dit beteken nogsteeds nie julle hoef weke te wag vir e-pos terugvoering nie. Indien die diensverskaffer só besig is, kan die persoon ten minste net julle e-pos erkenning gee en sê hul sal later terugvoering op die e-pos gee.
Geen antwoord op ʼn e-pos nie is die eerste rooi vlag, veral as julle al opgevolg het ook.
Oor besig met werk:
Hierdie is een wat mens gereeld van hoor. Die diensverskaffer is té besig om die diens of produk verkoop te behartig. As die diensverskaffer die heeltyd terug kom na julle en sê hulle is besig, dan mag dit ʼn probleem later veroorsaak. Om besig te wees is nie ʼn verskoning nie. Indien die diensverskaffer té besig is om met julle te gesels oor hul produk of diens, dan kan dit moontlik frustrasies veroorsaak.
Die diensverskaffer het ʼn houding:
Oh gats! Niemand hou daarvan om met iemand te werk met ʼn onbeskofte houding nie. As die diensverskaffer ʼn houding het en julle minder belangrik laat voel, stap net weg. Niemand verdien dit om met ʼn diensverskaffer te sit wat ʼn houding het nie.
Bygesê, as julle onnodig onbeskof is met die diensverskaffer, moet nie verwag dat die persoon die vriendelikste terug gaan wees nie.
Belowe te veel om waar te wees:
Almal weet teen die tyd as iemand te veel belowe, dan is dit heel moontlik nie altyd die beste keuse nie.
Trou diensverskaffers wat professioneel is en vertroue in hul produk of diens het sal nie te veel belowe nie. Julle sal betaal vir daardie persoon se produk of diens sonder om toegegooi te word met onrealistiese beloftes en verwagtinge.
Indien ʼn trou diensverskaffer te veel belowe vir die prys op die kwotasie dan is dit ʼn rooi vlag.
Die diensverskaffer is deurmekaar:
As julle met ʼn deurmekaar trou diensverskaffer te doen het, maak vinnig seker julle neem beheer. ʼn Diensverskaffer wat nie dinge onder beheer het nie plaas gewoonlik onnodige stres op die paartjie. Julle maak gebruik van ʼn spesifieke diensverskaffer sodat julle troue se beplanning proses so stresvry moontlik is. Een deurmekaar diensverskaffer sal alles deurmekaar laat voel.
Hulle styl werk net nie met julle trou idee nie:
Hierdie is ʼn baie belangrike punt. Almal het hulle unieke styl en idee van hul perfekte troue. As julle nie hou van ʼn diensverskaffer se styl van werk nie, is dit altyd beter om iemand te gebruik wat julle visie kan demonstreer in hul portefeulje.
Hul het nie ʼn kontrak nie of die kontrak is deurmekaar:
Nog ʼn rooi vlag. Indien die trou diensverskaffer sê hulle het nie ʼn kontrak nie of bepalings en voorwaardes nie. Hoekom nie?
Al is dit net in die vorm van ʼn besprekings bevestiging met bepalings en voorwaardes daarby. Julle moet iets hê om na te verwys indien dinge nie gaan soos dit moet nie. Wat as julle vir ʼn sekere aantal blom ontwerpe betaal het en net die helfte gekry het?
ʼn Kontrak is ʼn baie belangrike aspek van enige troue en verskillende trou diensverskaffers het verskillende tipe kontrakte.
Die kompleksiteit van die kontrak sal afhang van die diensverskaffer en die tipe diens of produk wat die persoon by jul trou bied.
Julle kom net nie oor die weg nie:
Dit klink dalk nou snaaks, maar dit is ʼn realiteit. Nie almal kom met almal oor die weg nie. Indien julle nie oor die weg kom met iemand nie, is dit dalk ʼn teken om nie gebruik te maak van die persoon nie. Dalk pas julle persoonlikhede net nie bymekaar nie. Persone waarmee julle veral oor die weg moet kom sluit in jul trou koördineerder, fotograaf, videograaf, grimering en haarstilis en ook die platejoggie. Hierdie is die trou diensverskaffers wat meeste van die keer in julle spasie sal wees regdeur die troudag. As julle nie mekaar kan verdra nie, help dit nie julle probeer saam te werk nie. Dit is julle troudag en julle moet op jul gemak en ontspanne voel.
Artikel Krediet:
- Geskryf deur: Mooi Troues