Peet & Annamart se Feestelike Troue

Peet en Annamart se feestelike troue in die Overberg bied tonne inspirasie vir die paartjies opsoek na ʼn lekker gesellige plaastroue. Die paartjie het by die pragtige Murasie Wedding Venue tussen Baardskeerdersbos en Gansbaai getrou.

Murasie Wedding Venue is elke paartjie se droom trou bestemming.  Hulle glaskas trou venue en rou steen mure van die interieur skep die perfekte kontras.  Die paartjie se trou dekor het soos ʼn handskoen gepas by die onthaal lokaal. Feetjie liggies skep ʼn interessante en romantiese gevoel aan die onthaal lokaal.  Hout tafels met moderne deurskynende stoele bring ook daardie balans tussen rustiek en modern, wat fantasties werk. Die tafels is bedek met neutrale pastel kleurige blom ontwerpe met tikseltjies helder kleure. Sagte pienk materiaal wat ook die illusie gee van ʼn tafel loper bring alles só mooi bymekaar. Rottang plekmatjies met wit materiaal servette eindig die tafel se voorkoms mooi af.

Lara Films het die paartjie se troudag so mooi vasgevang in ʼn emosie gevulde trou film.  ʼn Trou film is só ʼn belangrike deel van ʼn paartjie se troue en bring altyd goeie herinneringe terug as mens na die tyd daarna kyk.

Ons is totaal en al versot op Annamart se trourok en veral die fyn kralewerk om die arms en die lae rug.  Peet het self baie deftig gelyk in sy donker pak. Hierdie paartjie het in die Lente seisoen getrou en die bruid se voorkoms het perfek by die seisoen gepas.

Murasie Wedding Venue se landskappe was die perfekte agtergrond vir die paartjie se prentjie mooi trou foto’s.

Rol af om meer te lees oor Peet en Annamart se feestelike troue in die Overberg en geniet hul mooiste troufoto’s geneem deur Kirsten Jonker.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar in ons eerstejaar op universiteit ontmoet in Stellenbosch, maar het wel eers in die begin van ons tweede jaar begin uitgaan nadat ons eers ʼn hele klompie kilometers saam gedraf het as “net goeie vriende”. Peet het my op Coetzenburg berg uitgevra tydens ʼn draf sessie. Vyf jaar later het hy die berg vir die rotse by die see verruil en op sy knie gesak langs die see in Cape St Francis.  Net daar het die 22ste April 2023 vir altyd ʼn datum in ons kalender geword.

Trourok:


Anders as ʼn ring, het ek geen idee gehad oor hoe ek wil hê my rok moet lyk nie en het al die foto’s wat ek in die verlede op Pinterest gestoor het, glad nie meer na my smaak gelyk nie. Ek het ongeveer vier maande gehad tot ons troudatum, so dit was nie genoeg tyd om ʼn rok te laat maak nie. Ek het op sosiale media rond gekyk na bruidswinkels en het gaan rokke aanpas by drie plekke. My ma en twee van my strooimeisies het saam met my gegaan. Ek het verskillende tipes rokke aangepas en ek het net besef dat daar werklik ʼn rok vir elke liewe smaak is – die keuses is nimmereindigend! Ek het weereens, soos met my ring, iets tydloos en elegant gesoek waarin ek gemaklik voel.

Op die ou einde het ek ʼn trourok aangepas by Blanco Bridal Couture. Die oomblik toe ek uit die aantrekhokkie kom, was my ma en vriendinne tjoepstil. Dis hoe ek geweet het, hierdié is my rok.

Ek het paar veranderinge aan die rok gebring en kan nie meer tevrede wees met Blanco se diens nie. Niks was vir hulle onmoontlik nie! Eerstens is die rug laer gemaak, tweedens is die onderkant meer losser en vloeiend gemaak en derdens, die bandjies was eers net eenvoudig wit soos die materiaal van die trourok, maar toe verander ons dit na fyn kralewerk.

Ek is absoluut verlief op my rok en is veral mal oor die voue op voorkant en die krale bandjies. Blanco het die proses so gerieflik, maklik en stresvry vir my gemaak. Ek kies my rok EN Blanco Bridal oor en oor!

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Ons het 3 spesifieke herinneringe wat vir ons uitstaan en wat ons nooit sal vergeet nie:

  1. Toe ek in die kerk ingeloop het.
  2. Toe meer as 180 mense “O Heer My God” kliphard in die kerk gesing het.
  3. Om al ons hartsmense saam onder een dak te gehad het.

Dit was uit en uit die beste en mees spesiale dag van ons lewens!

Verloof- en Trouringe:


Peet het my eenkeer gevra hoe ek wil hê my ring “eendag” moet lyk. Ek het ʼn paar Pinterest foto’s gewys van ovaal-vorm diamant ringe in witgoud. Peet het deur ʼn verwysing vir Johan Louw gekontak by Uwe Koetter in Kaapstad. Ons het my ring grootte gaan pas en Johan het toe die mooiste ring en pand ontwerp. Ek het nie geweet hoe die eindproduk gaan lyk nie. Die ring is absoluut perfek en presies soos ek altyd gedink het dit moet lyk: fyn, eenvoudig en tydloos.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Dit is vir ons verskriklik moeilik om uit te sonder. Ons sal werklik elke liewe een van hulle wéér kies en vir almal aanbeveel. Elkeen het ons taak soveel ligter gemaak en ek het net geweet ons is in die beste hande. Elkeen het hulself oortref!

Meer oor Lara Films:


Lara Films is jou alledaagse Afrikaanse meisie wat haar hele lewe lank in die Noordelike Voorstede gewoon het, maar ’n paar jaar gelede besluit het om Kaapstad toe te trek om die verborge skatte te ervaar wat die stadslewe bied. Dit het haar geïnspireer om die pragtige en tere wese van liefde te kon vasvang. En natuurlik is die beste manier deur ʼn lens.

Na 4 jaar se studie het sy met ʼn BA-graad in Film & Kinematografie gegradueer, waar toe die kuns van film haar passie vir visuele storie vertelling aangevuur het.

Lara is versot daarop om liefdesverhale deur middel van film te vertel. Sy neem jou graag deur die reis van jou troudag deur gedetailleerde, artistieke nabyskote gekombineer met vaag, uit-fokus skote, sowel as gestruktureerde wye skote, te verfilm. Elkeen van haar trou films dra ʼn wonderlike vertelling oor wat werklik die intimiteit van julle as ʼn paartjie vasvang en die hele dag in een pragtige knoop bind. Haar doel is om emosie in jou te skep terwyl jy na jou trou film kyk – jy sal lag, jy sal huil en jy sal van voor af verlief raak op jou maat!

Klik hier om na Peet en Annamart se trou film te kyk.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


  1. Geniet elke oomblik en maak seker julle maak tyd vir mekaar ook tussendeur al die troubeplanning. Mens raak so maklik vasgevang met al die reëlings, dat mens bietjie verby mekaar kan leef. Ons het ʼn punt daarvan gemaak om gereeld in te loer by mekaar en om dan eintlik oor enige iets, behalwe oor die troue, te gesels.
  2. Moenie oor die klein goed sweet nie. Op die ou end gaan net julle weet as daar iets is wat nié is soos julle gedink het dit gaan wees nie.

Meer oor Murasie Wedding Venue:


Murasie Wedding Venue is ʼn pragtige trou venue in die Overberg distrik is geleë op ʼn melkplaas, genaamd Korsika, naby aan Baardskeerdersbos.  Die prag plaas omring deur groen lande en die mooiste uitsig oor die groot dam.  Dit is die perfekte trou bestemming vir paartjies wat sommer ʼn lekker gesellige naweek wil maak van hul troue.

Murasie Wedding Venue het die mooiste seremonie area onder ʼn ou Eikeboom by Murasie.  Die amfiteater styl seremonie sal jou trou gaste die mooi natuurskoon wat hul omring bewonder.  Dit is die perfekte plek om trou aan mekaar te belowe.

Die trou venue is ʼn moderne gebou met meestal glas aan die een kant van die onthaal-lokaal.  As jy instap by die onthaal lokaal sal jy sommer onmiddellik tuis voel.  Die rou steen mure gee daardie warm gevoel, waar die glas in kontras weer die moderne elemente in bring.  Met die dubbel volume dak en die klomp glas deur is paartjies en hul trou gaste verseker dat hulle pragtige uitsigte sal hê en ook die sonsak vanuit die trou venue kan aanskou.

Trou Venue:


So ʼn paar jaar terug het een van my beste vriendinne se suster by Murasie getrou. Ek het altyd geweet eendag gaan ek eerste na hierdie venue kyk. Vinnig vorentoe, ʼn paar jaar later en het ek en Peet nie eers gekyk na ander venues nie! Ons wou van die begin af net by Murasie trou “en klaar”.

Ek en Peet het albei groot geword op ʼn plaas en het gehou van die rustieke en plaas, tog baie elegante styl wat Murasie bied. Geen ander plek se pakket het naby Murasie sin vir ons gekom nie en die mense wat daar werk is net iets besonders. Die feit dat daar verblyf is op die venue is vir 39 gaste in huisies, ʼn Bruid-suite, 25 twee-man tente wat hulle vir gaste opslaan, gewone kampplekke en ʼn braai-lapa waar ons gebraai het die Vrydagaand, het alles net nog meer aanloklik en gerieflik gemaak.

Hulle het nie meer baie datums oorgehad vir 2023 en was ons toe baie dankbaar dat die 28ste Oktober 2023 nog beskikbaar was. Net om kort daarna te besef dis ook die einste datum wat die Wêreldbeker eindstryd sou plaasvind, geen wonder die datum was nog beskikbaar nie! As ʼn bruid en bruidegom en ongeveer 180 trougaste wat GROOT rugby-ondersteuners is, het ons toe besluit om nie die kans te vat om twee baie belangrike gebeurtenisse te kombineer op een dag nie. Op daardie stadium was die Bokke se squad nog nie eers gekies vir die Wêreldbeker nie, maar het ons, ons troue rondom ʼn eindstryd beplan. Ook maar BAIE goed ons het!

Op die ou end het ons toe die 9de September 2023 vasgemaak. Ons nuwe “vir altyd” datum.

Trou Dekor en Styl:


Ons hele uitgangspunt vir die troue was “minder-is-meer”. Albei van ons is mense met min “fieterjasies” en hou van aardse kleure. Dit het beslis die kleurskema-keuse baie makliker gemaak. Ons wou ook so ver as moontlik alles eenvoudig, stylvol en tydloos hou. Op die ou end het die hele prentjie mooier gelyk as wat ons ooit van kon droom!  My Ouma het ons troue die beste opgesom: “Niks was té nie. Daar was nét mooi genoeg van alles.”

Eerste Dans:


By Jou – Theuns Jordaan

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het in totaal 183 gaste gehad met ‘n totale begroting van R 1,366 per persoon.  Hulle het in totaal 4 maande self hul troue beplan.


    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: