Stéfan & Gizelle se Paartjie Fotosessie in Gordonsbaai

ʼn Paartjie fotosessie kan soveel pret wees en dit is die perfekte tyd om spesiale herinneringe vas te vang. Stéfan en Gizelle se paartjie fotosessie in Gordonsbaai bied vir paartjies tonne inspirasie vir jul eie fotosessie.

Gizelle en Stéfan het vanaf Pretoria na die Kaap gereis om ʼn troue by te woon.  Hulle is albei mal oor die strand en het gedink Gordonsbaai is die perfekte plek vir ʼn romantiese fotosessie.

Die paartjie het só mooi gelyk in hulle neutrale kleurskema uitrustings.  Dit pas perfek by die algehele gevoel van die paartjie se fotosessie.  Een van die beste advies wat ons aan paartjies kan gee is om meer neutrale kleure sonder enige geskrewe op aan te trek vir hul fotosessies.  Die paartjie se foto’s is die perfekte voorbeeld van hoe mooi dit lyk.

Jul fotosessie se ligging is die ander belangrike punt.  Die berg en see uitsigte van die paartjie se fotosessie is besonders mooi.  Hulle fotosessie was op die hawe se muur in Gordonsbaai wat die mooiste uitsigte en perfekte agtergrond bied.  Die bootjies in die hawe is só mooi en skep ʼn perfekte strand voorkoms.  Elke element van die paartjie se fotosessie is perfek en die sagte sonsak lig skep ʼn romantiese warm voorkoms aan die foto’s.

Waarvoor wag julle?  Bespreek nou vir julle ʼn fotograaf en begin beplan aan julle eie fotosessie.  Rol af om meer te lees oor Stéfan en Gizelle se paartjie fotosessie in Gordonsbaai en vir tonne inspirasie.

Die eerste ontmoeting:


Ons paadjie loop effens anders, maar getuig van Sy goedheid en guns. Ons het mekaar op universiteit ontmoet deur ʼn gemeenskaplike vriend.  Na die eerste ontmoeting het Stef vir sy vriend gesê, “Hierdie is die tipe vrou wat ek sal trou”. Na 5 maande se vriendskap, het Stef vir my gevra om offisieel sy meisie te wees.

Ons was vir twee jaar in ʼn verhouding, waarna ons paaie op ʼn mooi manier geskei het en ons albei ons eie pad gestap het.  Twee jaar later het ons paaie spontaan weer gekruis deur gemeenskaplike vriende en ons kon dit nie ontken dat ons liefde steeds baie diep vir mekaar is en dat die tyd reg is nie. Sedertdien het ons die beste twee jaar saam geniet tot en met nou.

Gunsteling eienskappe van mekaar:


Gizelle:

Ek kyk op na die leier wat Stef is. Hy is nederig, wys en eerbaar. Terselfdertyd neem hy nie die lewe te ernstig op nie en benut elke oomblik wat die lewe hom bied, ten volle.

Stef:

Ek hou van die feit dat Gizelle ʼn individu as mens is, met haar eie passies, drome en manier van dinge doen. Die manier hoe sy oor dinge dink is verfrissend.

Drome as paartjie:


Ons droom om ʼn verhouding/huwelik te hê waar ons liefde vir mekaar ander mense kan inspireer. Om die gebroke prentjie wat die wêreld bied, te verander.  Ons wil individueel ons eie plek in die samelewing volstaan sodat ons saam as ʼn paartjie nóg ʼn beter span maak.

Dinge wat die paartjie hou van om saam te doen:


Ons gunsteling tyd is eenvoudig om popcorn te eet, Coke Zero te drink en ʼn fliek te kyk op ʼn Sondag aand.  Ons speel ook graag saam golf, paddel en draf (as ek Stef goed genoeg kan oorreed). Verder reël ons gereeld ʼn braai met ons hartsmense en geniet die samesyn.

Rede vir die fotosessie:


Ek net nog nooit fotos van ons op sosiale media gedeel die afgelope 6 jaar nie. Stef het nie regtig sosiale media gehad nie en ek het besluit om dit te spaar tot ek weet ek het my lewensmaat ontmoet en dit ʼn deel van my lewe is wat ek met almal wil deel. Ek wou graag ʼn fotosessie doen om spesiale fotos van ons as ʼn paartjie te hê wat ons liefde vir mekaar vasvang. Boonop het ek gedink dit is iets lekker wat ons saam sal geniet. (Stef het dit op die ou einde die meeste geniet)

Inspirasie agter die fotosessie:


Ons is van Pretoria en het Kaap toe gereis vir ʼn troue.

Aangesien ons albei mal is oor die strand, was Gordonsbaai die perfekte plek om ʼn romantiese atmosfeer te skep met die wit sand, see en sonsondergang.

Ons wou graag die tyd benut deur verskillende tipe foto’s te hê, daarom het ons besluit om twee verskillende uitrustings aan te trek en eers op die oop strand te neem en daarna by die rotse en die hawe.

Visie vir ʼn romantiese afspraak:


ʼn Romantiese afspraak is kwaliteit tyd, ʼn lekker bottel wyn en smaaklike kos.  Ons albei hou van ʼn plek met ʼn “atmosfeer”. As ons nie by ʼn spesifieke plek gaan eet vir ʼn “date night” nie, sal ons vir mekaar kos maak, tafel dek, kerse aansteek en ons gunsteling musiek in die agtergrond speel. Ons sal vir ure gesels oor dieper dinge en ook net lekker lag.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet:

    • Fotograaf: CVP Photography