Zahvick & Maralie se Herfs Troue in die Karoo

Zahvick en Maralie se herfs troue in die Karoo dorp, Cradock is die perfekte voorbeeld van ʼn klassieke elegante styl.  Karoo troues is na aan ons harte by Mooi Troues en daar is altyd ietsie spesiaal aan ʼn troue in die Karoo.  Die landskappe, geboue en energie is eenvoudig besonders.

Maralie het ʼn pragtige Lilly reeks trourok aangehad van LOCA Bridal.  Haar trourok was melkwit met ʼn A-lyn styl en ʼn V-vorm nek lyn.  Die trourok het só mooi aan haar gelyk en die vloeiende sagte materiaal het ʼn baie klassieke voorkoms.  Haar voorkoms gekomplimenteer met die mooiste Hellohaai oorbelle.  Haar pragtige kleurvolle handruiker was die perfekte byvoeging tot haar hele voorkoms en het perfek ingepas by die troue se styl.  Zahvick se swart troupak pas in die by die klassieke voorkoms van die paartjie se troue en lyk tog te deftig.

Die paartjie het in die herfs seisoen getrou en wou graag herfskleure deel maak van hulle kleurskema.  Hulle trou lokaal gee ʼn ou wêreldse gevoel en die pragtige blom ontwerpe in skakerings van roes-oranje, sagte pienk, geel en room het perfek ingepas.  Kandelare met verskillende pastel kleurige kerse gee ʼn baie romantiese gevoel aan die onthaal spasie.

Hulle trou foto’s in die strate omring deur die gebou van Cradock se middedorp werklik besonders mooi.   Rol af om meer te lees oor die paartjie se troudag en foto’s geneem deur AVE Weddings & Lifestyle.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het in 2013 begin gesels op BBM; ons het elke dag gesels en vinnig baie goeie vriende geword.  Op hierdie stadium het ons nog nooit in persoon ontmoet nie, aangesien ek in Cradock was en Zahvick in Oos-Londen.  Ons het kort na dit begin om meer te voel vir mekaar en gedroom oor die dag wat ons mekaar uiteindelik sou ontmoet.

In 2014 het ons droom gerealiseer toe ons mekaar vir die eerste keer in Oos-Londen ontmoet het; ons is toe offisieel in ʼn verhouding.  Zahvick is toe in 2015 Kaap toe om te studeer en ek is in 2016 Port Elizabeth toe.  Ons het met elke vakansie soveel tyd saam spandeer as wat ons kon.

Ek het in 2020 begin werk in Cradock en Zahvick was gevestig in Kaapstad.  In 2022 kon Zahvick Cradock toe trek en ons is toe uiteindelik na 8 jaar vir die eerste keer in dieselfde dorp gevestig. Ons het 2 maande na dit verloof geraak toe Zahvick my vir ʼn langnaweek Kasouga toe gevat het.

Trourok:


My rok is ʼn melkwit A-lyn styl met baie lae tule en ʼn V-vorm neklyn.  Die romp het 2 nate ingewerk wat een van my gunsteling details van die rok is.  Ek is ook mal oor die laag fyn blinkers onder die tule wat so subtiel is, maar tog so mooi sprankel in die lig.

Verloof- en Trouringe:


My verloofring is roosgoud met ʼn ovaal hoofsteen en 3 klein steentjies aan elke kant.  Ek wou graag iets hê wat tydloos en klassiek is, so die ontwerp is perfek vir my.  Die troupant is ʼn fyn ring met steentjies in ʼn “v”-vorm wat mooi pas om my verloofring.

Zahvick wou ook graag iets hê wat eenvoudig en tydloos is; hy het besluit op ʼn klassieke 9ct geelgoud ring.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Victoria Manor het beslis uitgestaan.  Hulle het werklik hulle beste gedoen om seker te maak dat alles was soos ons dit graag wou hê vir ons groot dag en dat ons gelukkig was.  Die diens by ons onthaal was uitstekend en ons is dankbaar dat hulle die proses met die regmaak van die onthaal area vir ons so maklik gemaak het.

Ons was ook baie tevrede met Jacques Arendt se dienste as seremoniemeester en platejoggie. Ons sal hom gerus aanbeveel vir enige iemand.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Ons het lieflike weer gehad op ons troudag, maar toe ons na die seremonie by die kerk uitstap het die wolke skielik saamgepak en donderweer het in die verte gedreun.  Ons was optimisties dat ons sou foto’s neem voor dit begin reën.  Terwyl ons gery het tot by die veld waar ons sou foto’s neem en op pad soontoe het dit begin sous.

Ons het omgedraai om terug te gaan dorp toe, maar toe stilgehou langs die pad waar dit opgehou reën het. Ons het so paar foto’s geneem voor dit weer begin reën het.  Een van ons gunsteling herinneringe is die oomblik wat ons vir mekaar gekyk het en begin lag het toe dit skielik reën op ons, ons het gesoen in die veld in die reën en dit is een van ons gunsteling foto’s.

Meer oor Hellohaai:


Hellohaai spesialiseer in hand gemaakte Polymer Clay trou oorbelle, met ander woorde maak Hellohaai jou trou-oorbel-drome waar.  Daar is iets vir elke tipe bruid daar buite, of jy nou ’n moderne – of tydlose dame is, sal jy verseker iets kry wat jou hart maak glimlag.  Indien jy nie seker is oor wat by jou hare of rok gaan pas nie, kontak Hellohaai gerus om bietjie raad te vra, soveel bruide is al deur onsekerheid gehelp om die regte oorbelle te kies.

Meer oor LOCA Bridal:


LOCA Bridal spesialiseer in moderne trourokke vir die stylvolle bruid.  ​Ons liefde vir SA ontwerpers en begeerte om die perfekte droom rok vir ons LOCA bruide te skep, het gelei tot ʼn reeks wat beide grasieus, hewig uniek en werklik pragtig is.

Geleë in die pragtige Port Elizabeth (Gqeberha, Oos-Kaap) is LOCA BRIDAL gebore met die sentimente van alles wat uniek en mooi is in die trou bedryf, en geromantiseer deur die verhale van “Happily Ever After”.

​By LOCA word dinge anders gedoen deur bruide toe te laat om hul gunsteling komponente uit LOCA se ontwerpers reeks te meng en pas om hul eie unieke rok te skep.  LOCA se bruids-inkopie-ervaring is geïnspireerd deur ‘n meer moderne, nie-tradisionele trourok passing.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Ons stel voor dat julle ʼn goeie troubeplanner boek aanskaf voor julle begin beplan aan julle groot dag.  Daar is baie om te doen en dit kan nogal oorweldigend raak as mens nie weet waar om te begin nie.  ʼn Beplanner help mens geweldig baie om op dreef te bly met alles wat gedoen moet word, wat reeds gedoen is, jou begroting, afsprake ens.  Geniet die beplanning!  Dit is só opwindende tyd in mens se lewe wat ongelooflik vinnig verby gaan; moenie jouself oorlaai met stres dat jy vergeet om die proses te geniet nie.

Ons beveel gerus die volgende troubeplanner aan wat aanlyn beskikbaar is by Bespoke.

Trou Venue:


Ons wou graag ʼn troue hê wat klassiek en elegant is.  Ek het nog altyd die Victoria Manor in Cradock in gedagte gehad; die hotel het ʼn pragtige Victoriaanse styl wat perfek was vir die atmosfeer wat ons graag wou hê vir ons spesiale dag.

Trou Dekor en Styl:


Ons het ʼn herfs troue gehad en wou graag herfskleure gebruik vir ons kleurskema; die blomme was ʼn mengsel van roes-oranje, sagte pienk, geel en room.  Ons het minimaal dekor gebruik; buiten die ruikers in die middel van elke tafel, was daar kandelare met verskillende kleur kerse in ons kleurskema.  Om die herfs tema verder te komplimenteer het ons gebruik gemaak van koper bakke as deel van die dekor.

Trou Begroting en Beplanning:


Zahvick en Maralie het 8 maande aan hul troue beplan.  Hulle het 45 gaste onthaal en R100 000 spandeer.   Die koste alles ingesluit was ongeveer R2 200 per kop.

Eerste Dans:


“Until I Found You” deur Stephen Sanchez

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: