Charl & Chrizaan se Skitterende Glas Tent Troue

As jy hou van alles elegant en blink dan is Charl en Chrizaan se skitterende glas tent troue in De Doorns perfek vir jou.   Die paartjie het in ʼn moderne glaskas tent getrou op Charl se familie plaas met ʼn pragtige uitsig oor De Doorns, wingerde en berge.

Ons is totaal en al verlief op die paartjie se deftige troudekor.  Dit is totaal en al in kontras teenoor die werkende plaas landskappe, maar werk perfek in die ligging.  ʼn Pragtige groot glaskas markiestent wat ʼn deursigtige dak het waar jy die sterre kan aanskou terwyl die 40 skitterende kandelare weerkaats vanuit die dak teen die glasdak en tafels.  Die swart en wit tema van hulle trou dekor is so mooi en gee ʼn elegante voorkoms vir hul trou onthaal.  Wit rose en tikseltjies goue en sagte pienk kleure skep daardie interessante kontras teenoor die deftige swart tafels.  Die lang swart tafels en stoele met die spierwit blomme en lang maer swart kerse op die tafels is besonders mooi en werk perfek saam.

Tot hulle troukoek was lae swart koek met verskillende teksture en van die lae het wit blomme met ligte ingehad, definitief iets buiten die gewone.

Chrizaan se trourok sal jou laat smag na asem.  Ontwerp deur een van Suid Afrika se top trourok ontwerpers met ʼn visie vir ʼn skitterblink balrok met baie blink detail en vere.  Die orgidee en Chrizaan se wit handruiker het net daardie ekstra tikseltjie elegansie bygevoeg en alles mooi afgerond.

DJ Wico, ʼn populêre keuse vir ʼn platejoggie onder Mooi Troues se bruide het seker gemaak dat gaste ʼn prettige tyd het op die dansvloer.

Rol af om meer te lees oor die paartjie se skitterende troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons ken mekaar al ons hele lewe lank maar was net vriende wat soms op naweke wanneer ek De Doorns toe gekom het van Universiteit af saam gekuier het.  Soos die lewe sy draaie loop het ek in Somerset-Wes gaan woon en het ons nie kontak met mekaar gehad nie.  Na ʼn paar draaie in ons lewens en die dood van my pa het ek terug getrek De Doorns toe, maar steeds het ons nie iets met mekaar te doen gehad nie.

Na ʼn redelike tydjie terug in die Hex Rivier vallei het ons paaie weer gekruis en het ons weer bande opgetel en stil-stil verlief geraak.  Dit was so opwindende tyd in ons lewens.  Na ons bymekaar gekom het het ons na ʼn jaar verloof geraak.  Ons verlowing was ongelooflik spesiaal en alles waarvan ek kon droom.

Hy het my verras met ʼn verlowing op ʼn baie spesiale plekkie in ons tuin sodat ons altyd as ons in die tuin is daardie oomblik en dag kan onthou, asook waar ons belofte en toewyding aan mekaar begin het.  Daarna het ons gery na my ma se huis waar ons vriende en familie vir ons gewag het en ons verlowing feestelik gevier is.

Trourok:


My trourok was verseker ʼn droom ondervinding, proses en die mooiste sprokies prinses trourok waarvan enige dogtertjie, meisie of vrou kan droom.  Ek het nie gaan trourokke aanpas nie en het besluit ek en my ma moet vir Stephen van Eden gaan sien want as daar een mens is wat my prentjie sal kan verstaan en ʼn realiteit maak was dit nou hy.  Ons het ons eerste afspraak gehad en onmiddelik net gekliek van daar af aan het die pret begin.  Die stunning ontwerp van my trourok, die materiaal gaan koop, elke passing, als was só spesiaal en het Stephen vir my soos ʼn prinses laat voel.

Ek het gedroom van ʼn skitterblink ballgown met vere en baie bling.  Dit beeld my persoonlikheid en sprokiestroue droom uit.  My hele rok het geskitter, daar was duisende kraletjies en pêrels op die rok hand geborduur, asook enkel veertjies aan die bokant vasgewerk.  Ek het heel aand soos ek beweeg geskitter en soos ʼn prinses gevoel.

Verloof- en Trouringe:


Ons ring keuse was eintlik baie maklik.  Ons het begin gesels oor verloof raak en ʼn toekoms saam en natuurlik soos enige meisie het ek begin Pinterest en prentjies van ringe begin aanstuur, maar daar was hierdie een ring wat ek net nie uit my gedagtes kon kry nie.

Soos die ring geen einde simboliseer was hierdie ring net ongelooflik uniek.  Ovaal diamant in die middel met ʼn dubbel halo om in 9ct goud geset was my droom.  My man het elke aspek van hierdie droom ʼn realiteit gemaak en saam met Viljoen Juweliers Worcester my droom ring ontwerp en laat maak.  My troupant is ook spesifiek ontwerp om my ring te komplimenteer.

Nader aan die troue het ons natuurlik gaan ringe kyk vir hom en verskeie ringe aangepas en toe besluit op ʼn goue troupant want perfek by sy velkleur asook my ring pas.  My vingerafdruk is ook in sy ring gegraveer met ons trou datum om dit ekstra spesiaal te maak.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Die oomblik toe ons alleen in die saal gaan staan en alles net inneem.  In daardie oomblik net weer besef nóú is ons getroud en hierdie is óns troue.   Asook die aand toe ons wegry van die troue af en ons gaan stop en staan toe in die wingerd en kyk terug na die glas tent met die liggies en chandeliers en besef net weer dit was óns troue en ons lewe saam begin amptelik hier. Dit was magical.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Ons kan werklik nie diensverskaffers uitsonder nie aangesien almal werklik ongelooflik was.  Hulle was ʼn dream team gewees.

Trou Venue:


Aangesien beide van ons van De Doorns af kom wou ons graag hier trou, maar ek het nog altyd ʼn droom gehad van ʼn glas tent met baie chandeliers en fairylights wat soos nog ekstra sterre lyk bo en behalwe die sterre wat jy deur die glas dak kon sien.

Ons het gesels oor waar in De Doorns ʼn geskikte plek sou wees om dit te hou en die tent op te slaan en Charl sê toe een middag vir my hy wil net vir my gaan wys bo by hul familie plaas is daar ʼn oop stuk grond voor die pakstoor wat oor die hele die De Doorns uitkyk met die wingerde en berge.

Ons het daar bo aangekom en ons kon net sien hoe ons daar trou en die tent opslaan.  Dit is baie spesiaal vir ons aangesien dit nie ʼn trou venue is nie en verewig vir ons ʼn spesiale plekkie sal wees.

Trou Dekor en Styl:


Ek is iemand wat mal is oor helder kleure, maar ook hou van minimalisties skoon lyne swart en wit.  Ek en Charl het baie geworstel met die besluit hoe om dit alles te inkorporeer en dit die droom te maak.  Daar is toe besluit om ons pre-drinks kleurvol te maak met kleurvolle helder lounge pockets, kleurvolle helder blomme en alles net bright en kleurvol te maak en dan as jy vanaf die pre-drinks in die glas tent instap is alles swart, wit en kristal.

Ons het lang swart tafels met swart stoele en wit blompotte met wit O’hare rose, orgidee en krismisrose ingehad op die tafels.  Langs die kant was daar swart plinths met goue ysbakke vol vonkelwyn op wat bedien word deur die kelners.  As jy opkyk was daar duisende fairylights en oor die 40 chandeliers wat alles net afgerond het. Al ons gaste moes ook swart formele pakke en rokke aantrek wat alles net só mooi gekomplimenteer het.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


KRY ʼn WEDDING PLANNER!!!!!  Dit haal sóveel druk en spanning van almal af.  Hulle dink aan alles en maak dat die dag so glad verloop.  Neem ook elke oomblik in.  Moenie baklei en stres oor klein goedjies nie.  Dit gaan baie vinnig verby.  Geniet elke oomblik van die trou reëlings en proses en op die dag gaan staan stil en neem alles in.  Dit gebeur net eenkeer in jou lewe.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het saam ʼn troubeplanner 5 en half maande aan hul troue beplan.  Hulle het ʼn totaal van R400 000 aan hul troue spandeer, 136 gaste was op die dag onthaal.

Eerste Dans:


I Get To Love You – Ruelle

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: