Christiaan & Minette se Dromerige Strand Troue

Ons is só opgewonde om Christiaan en Minette se dromerige strand troue met Mooi Troues se lesers te deel. Van ʼn idilliese strand seremonie tot pragtige dekor en elegante protea blomme, ontvou hierdie artikel die intieme oomblikke en unieke elemente wat hul troudag ʼn onvergeetlike gebeurtenis gemaak het.

Ons is gek oor Minette se trourok!  Met die kant stikwerk, in gewerkte kraletjies en die pragtige moue kon sy nie meer beeldskoon lyk nie.  Dit het haar só perfek gekomplimenteer en laat uitstaan.  Christiaan het net so uitgevat gelyk in sy grys troupak.  Sy strikdas het te oulik gelyk!  Die harmonie tussen die bruid en bruidegom se kleredrag het ʼn elegante en stylvolle uitstraling geskep, wat die spesiale dag op ʼn besondere wyse verfraai het.

Christiaan en Minette se trou seremonie op die strand was so oulik, gevul met romantiese oomblikke terwyl die klank van die branders as ʼn idilliese agtergrond dien.  Dit het die betekenisvolle oomblikke van die geloftes nóg meer aangrypend gemaak.

Tydens die paartjie fotosessie op die strand het Christiaan en Minette se liefde letterlik afgeskyn.  Hul fotograaf het in elke oomblik die tydlose skoonheid van hul troufees vasgevang.  Die fotosessie was ʼn ware refleksie van die pragtige harmonie tussen die paartjie en die see, en elke beeld het ʼn verhaal van liefde vertel.

Die onthaal dekor, ryklik versier met elegante protea blomme, het ʼn betowerende atmosfeer van Suid-Afrikaanse skoonheid geskep.  Subtiele, aardse kleure van die protea het ʼn rustige en tog stylvolle agtergrond gevorm, wat perfek saamgestem het met die viering van Christiaan en Minette se liefde.  Elk detail van die dekor het die karakter van hierdie unieke blom weerspieël en ʼn onvergeetlike visuele skouspel geskep.

Rol af om meer te lees oor Christiaan en Minette se dromerige strand troue en oor die paartjie se liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons albei was Eerstejaar Ingenieurstudente van NWU Pukke.  Christiaan het my gesien in ʼn Wiskunde klas in die eerste maand en gehoor dat ek na ʼn Eerstejaar Ontmoeting toe gaan.  Hy het daar opgedaag, die mense aan tafel voor my weggeskuif, sy hand uitgesteek en gese: “Hello my naam is Christiaan, wat is jou naam?”.  Ons het daardie aand die plek toegemaak (Mystic Boer Potchefstroom).  Ek het nie geglo dat hy ingenieurswese swot nie en was baie geskok om hom die volgende dag in klas raak te loop.

So het ons saam begin swot by my ouma se huis (Ek het daar gebly vir my eerste jaar van studies) en toe ek weer sien toe is hy my beste vriend en my gunsteling persoon.

Ons is smoorverlief en onafskeidbaar van 2015 af.  Hy het my gevra om te trou in 2021 met ʼn piekniek op die strand by Stilbaai.  Dit was een asemrowende dag!

Trourok:


Ek het my trourok gekoop by Blanco Bridal Couture.  Ek het vir my pofmoue laat maak wat daarby pas en wat kan los kom van die rok.  Dink magies, sprokies, boho, asemrowend!  Dit is ʼn A-Lyn rok sonder skouers, met toutjies aan die binnekant wat ek later in die aand kon vasmaak vir die dans.  Dit was baie handig en my “look” kon verander deur die aand.  Ek is nogsteeds verlief op my trourok.

Ek moes my trourok laat klaarmaak voordat ons Nederland toe getrek het einde Julie.  En toe hoop ek maar dit pas teen Oktober toe ek dit gaan haal het by Blanco Bridal Couture.

Verloof- en Trouringe:


Christiaan se ma het sy ouma se ring vir hom gegee, hy het dit gebruik om ʼn nuwe ring vir my te laat maak.  My ring is in die vorm van ʼn protea.  Dit simboliseer vir ons Suid-Afrika, en ons mooiste laaste 3 jare in die Wes-Kaap.  Dit was die eerste keer wat ons altwee gewerk en saam gebly het, regtig ʼn besonderse tydperk van baie vakansies en wynproe. 🙂

Christiaan se ring het ons uitgekies in Nederland.  Hy wou iets gehad het wat silwer en baie eenvoudig was.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Die fotosessie van ons op die strand en tussen die sandduine was baie kosbaar vir ons, want dit was die enigste tyd wat ons net kon stil raak, mekaar se hande vashou en die oomblik kon inneem.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


  • Maggie Photography wat ons oomblikke só mooi vasgevang het en ons so gemaklik laat voel het voor haar!  Dit was werklik ʼn fees om saam met haar en haar dogter te werk.
  • Strandkombuis vir die algehele venue, dekor en ete.  Betti van Strandkombuis is so dinamies en sy laat enige droom waar word.
  • My Green love Affair vir die asemrowende blomme.  Ons kry nou nog kommentaar van gaste dat dit die mooiste blomme was wat hulle al in hulle lewe gesien het.
  • Mooi Grimering vir die pragtige grimering en hare en geselsies voor die troue.
  • Spoon Bakery vir die lekkerste mooiste koek en cupcakes!
  • Ons het ook ons geliefde band Akimbo gehad wat die mooiste regstreekse musiek gemaak het en die perfekte atmosfeer geskep het.
  • Blanco Bridal Couture het my droom trourok laat waar word en hulle diens is puik!

Elke liewe een van hierdie verskaffers was regtig ongelooflik, nie net met hulle dienste nie, maar ook om die hele ondervinding van voor tot na die troue amazing te maak.  Ek dink dit is baie belangrik om dit uit te wys, want as jy jou verskaffers vertrou en lekker saam met hulle werk dan neem dit baie stres voor die troue weg.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Moenie stres op die troudag nie, alles gaan regtig perfek uitdraai.  Beplan ʼn oomblik gedurende die troue waar jy en jou man net kan stil sit en alles inneem vir ʼn minuut of so.  Geniet elke oomblik, dit is julle dag, niemand anders sin nie.

Trou Venue:


Dit was vir ons moeilik om te kies tussen ʼn wynplaas troue en ʼn strand troue.  Maar toe ons die eerste keer by Strandkombuis in Yzerfontein staan onder die “arch” op die strand toe spoel daar net soveel rustigheid oor ons.  Mens kan nie anders as om te ontspan as jy die golwe in die agtergrond hoor breek nie.  En dit is presies wat ons wou hê.  Dat ons gaste ʼn wonderlike wegbreek het om saam met ons ons liefde te vier.

Trou Dekor en Styl:


Omdat ons Nederland toe getrek het 3 maande voor die troue, was dit vir ons baie belangrik om ʼn gerieflike troue te hê met min reëlings en DIY.  Want ons kon niks maak en saamvat nie!  Ons het baie staat gemaak op Strandkombuis se dienste en dit was só lekker om saam met hulle te werk en te beplan aan die troue.

Ons blomme van My Green Love Affair was die fokus van die troue – ons het Koningsproteas gehad en dit was die mooiste blomme wat ons al in ons lewens gesien het.  Ek wou graag sagte en ligte kleure gehad het by die troue, so wit en sagte pienk was ons hoof kleure.

Eerste Dans:


Geen Eerste dans :).  Ons het net saam met ons gaste die dansvloer geniet.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het 6 maande aan hul troue beplan.  Hul troue was intiem met 50 gaste en ‘n koste van R4,400 per persoon.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: