Juanré & Simoné se Intieme Karoo Troue

Met opgewondenheid deel ons Juanré en Simoné se intieme karoo troue met Mooi Troues se lesers.  Vir die paartjie was dit belangrik om hierdie spesiale dag saam met hul hartsmense in ʼn ongelooflike bestemming te spandeer.

Met die goue gras, rooi-grond stofpaaie en die groen bome in die mooie Karoo landskap het hul maklik besluit op ʼn kleurskema vir die troue.

Die buitelug-seremonie in die veld was iets besonders en gedenkwaardig.  Omringende natuur en die wydheid van die veld skep ʼn atmosfeer van vryheid en rustigheid.  Die sagte karoo sonlig maak dit nog meer betowerend.

Simoné het absoluut beeldskoon gelyk in haar pragtige rok.  Die droë blomme kopband, fyn kant stikwerk en vleiende moue komplimenteer mekaar uiters perfek.  Timeless Bridal Couture se onmiskenbare talent kan bewonder word met hierdie besonderse trourok.  Jeanré se deftige unieke strepies pak het net só mooi gelyk!

Studio Odette se uitstekende talent kan waardeer word met Simoné se grimering.  Simoné verkies natuurlike grimering, dus het hul skakerings van brons en goud gekies om haar oë te beklemtoon.  Sagte krulle wat half opgevat is om haar blomkroon te komplimenteer was die span se keuse vir haar hare.  Odette was Simoné se Voorkomskonsultant, so die grimering en hare was sorgvry.

Die blou en pienk kleure van die lug skilder ʼn romantiese agtergrond vir die paartjie fotosessie met die landelike skoonheid wat hulle omring.  Ons is mal oor die sonsondergang fotos, met die lug wat met ʼn goudgeel skynsel die veld en die paar se liefde in ʼn betowerende lig vasvang.

Vir die dekor en blomme wou die paartjie die minimale roete gegaan.  Vir die tafel dekor het hul besluit op kerse, omrede dit ʼn lekker gesellige atmosfeer skep.

Rol af om meer te lees oor die paartjie se intieme karoo troue, asook hul liefdesreis.

Paartjie se Liefdesreis:


Die jaar was 2016 … Ek was ʼn tweede jaar student by Kovsies en Juanré het op Passasiers skepe gewerk.  Tydens een van sy vakansies was hy terug in die land en het by ʼn studente vriend van hom gekuier in Bloemfontein. Heel toevallig het hulle by vriende gaan braai en was ek saam met my vriendinne by dieselfde braai.  Na ʼn aand se saam Kuier, en die volgende oggend vroeg môre voor klas gaan koffie drink het ons paaie weer vir ʼn tyd geskei.  Juanré glo vas my hardkoppigheid was die rede hiervoor.  2019 het ons paaie weer gekruis en van daar af het die liefde begin blom.

Verlowing

2022 was ons oppad na ʼn studente vriendin se troue naby Groblersdal.  Die boerseun en avontuurlustige een wat hy is het hy oppad na ons verblyf my ingelig dat hy graag op ʼn wildsplaas nie ver van ons verblyf ʼn draai wil gaan ry met sy Land Rover Defender en so paar fotos neem (Ek was natuurlik nie baie beïndruk nie aangesien dit al laat middag was, en net wou begin rustig raak na die lang pad wat ons afgelê het).

Toe ons op die plaas aangekom en nie presies geweet waarheen ons oppad was nie (met geen selfoon sein) het ons maar net besluit om die wildernis in te vaar.
Oor klippe en deur gate is ons op teen die berg op.  Teen hierdie tyd het die son baie vinnig begin sak.  Juanré besluit toe ons stop net daar en die drone is opgestuur vir ʼn paar fotos. Natuurlik het die fotos vereis dat ons op die roofrack moes sit en ʼn glasie wyn geniet (Terwyl ek nie in ʼn baie vriendelike bui was nie).

Oomblikke later het Juanré ʼn brief uitgehaal en vir my gegee om te lees, toe ek klaar gelees het sit die man daar met die mooiste ring en vra my om te trou.  Na ek besef wat gebeur en baie emosies ervaar het was daar ʼn piekniek mandjie uitgehaal en het ons tot laat aand in die middel van nêrens onder die sterre piekniek gehou.

Meer oor Studio Odette:


Studio Odette is ʼn Spesialis Bruids-Grimeerkunstenaar en Haarstileerder.  Met byna 10 jaar se ervaring as ʼn internasionaal gekwalifiseerde in die troubedryf, is hul reg om by te staan met baie sorg, vriendelikheid en professionaliteit. Studio Odette is gebaseer in Centurion, Gauteng maar reis regoor die land.

Die span se uitstappie na die trourok verskaffer as Simoné se Voorkomskonsultant & Persoonlike Aankoper om haar rok uit te kies en by te staan, was vir hul só opwindend!  Hul wens is vir elke vrou (ongeag van ouderdom), om op haar héél beste te voel, en haar selfvertroue ʼn hupstoot te gee.  Die fokus is om jou mooiste bates te beklemtoon, en ʼn volle pakket aan te bied wat pasgemaak is – net vir jou!

Die span  spesialiseer in sagte glans grimering, maar is ook aanpasbaar vir elke bruid se grimeer behoefte.

ʼn Getuigskrif: “Liefste Odette, en span. Jho, ek kan nie eers begin dankie sê vir gister nie. Die vroeë oggend, die rustigheid, moeite, attention to detail. Almal het PRAGTIG gelyk, en ek wil vir julle BAIE dankie sê.” – Tarien, 1 Oktober.

Kontak Studio Odette vir al jou Grimering, Hare, Voorkomskonsultasie en Persoonlike Koper benodighede.

Verloof- en Trouringe:


Ons het besluit om ons ringe te laat maak.

Vir my ring moes ek drie ontwerpe vir Juanré gee waaruit hy toe die finale ontwerp gekies het.  Ek is mal oor my ring en dit het soveel sentiment vir my.  Die goud en diamante van ons albei se ma’s se ringe is saamgesmelt en gebruik om my trouring te maak.  Die simboliek hiervan: ʼn samevoeging is van albei se families en dan ook die begin van ons eie familie saam.

Juanré wou graag iets eenvoudig en uniek hê vir sy trouring.  Sy ring is ʼn stainless steel ring met ʼn hammered finish wat ʼn fyn lyn geel-goud bevat wat in die stainless steel in gelê is.  Die goud is ook afkomstig van Juanré se oorlede ma se trouring.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


As ek ons fotograwe vir almal kon aanbeveel sou ek. Sally en Cam van That Other Couple Photo and Film is FANTASIES.  Hulle is wonderlike mense en hulle werk is top klas gehalte.  Hulle het elke oomblik (groot en klein) só mooi vasgevang – selfs ons honde-kinders is deel van die mooi herinneringe.  As julle opsoek is na ʼn span om julle groot dag vas te vang is hulle beslis die mense.  Wat hulle doen is nie net hulle werk nie, maar hulle passie.

Meer oor Timeless Bridal Couture:


Timeless Bridal Couture geleë in Pretoria, word beskou as een van Gauteng se gesogte trourok ateljees.  Hulle streef daarna om aan hul kliënte ʼn omvattende reeks ontwerpers trourokke en ʼn onvergeetlike ervaring te bied.  Elke bruid is uniek, en hulle is trots daarop om ʼn pasgemaakte ervaring te skep waar jou persoonlike styl kan ontvou in ʼn unieke voorkoms wat al jou verwagtinge oortref.  Met meer as 100 trourokke om van te kies, kan jy seker wees dat hulle net die beste internasionale trourok tendense geselekteer het om van te kies.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Bruid:

Mens wag so lank vir hierdie dag en die emosies is oorweldigend.  My gunsteling herinnering van ons dag is die oomblik toe ons in die middel van ʼn veld kon staan, na die hele seremonie, en vir mekaar ons geloftes lees in die rustigheid en teenwoordigheid van ons Hemelse Vader.  Dit was ʼn oomblik wat ek altyd sal koester.

Bruidegom:

Dit is só ʼn oorweldigende gevoel. Jy gaan nie by almal uitkom en met hulle kan kuier nie.  Jy is gelukkig as jy gaan onthou waaroor die preek gegaan het.  Maar my heel gunsteling herinnering is toe ons weg glip om fotos te gaan neem en mens net op mekaar kon fokus en net alles in-neem.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


  1. Dit is 100% moontlik om ʼn droomtroue te hê wat binne jou begroting pas.  Dink slim en besluit vooraf saam op 3 goed wat vir julle ʼn prioriteit is waarop julle graag sal wil geld spandeer.  Vir ons was dit ons fotograwe, lekker kos en ons wittebrood.
  2. Dit is julle dag, doen dit soos wat julle wil en nie om ander te beïndruk nie.
  3. Wanneer julle besluit op ʼn fotograaf/videograaf, reël ʼn Skype/Zoom sessie en gesels net met mekaar.  Kyk of julle persoonlikhede goed “click”, dit is jou groot dag en julle gaan klomp emosies ervaar.  Julle fotograwe/videograwe gaan ʼn groot gedeelte van die dag saam julle deurbring.  Julle wil nie op julle groot dag mense om julle hê wat julle ongemaklik laat voel nie.
  4. Geniet hierdie seisoen!  Troue beplan kan baie stresvol wees, maar met tye tree terug en neem net elke oomblik in.

Trourok:


Die rokpas was vir my vreeslik opwindend en ek het presies geweet waarna ek opsoek is (gelukkig ken ek ook my lyf en wat daarby pas), ek het die Pinterest prentjie dan al vir jare.  Na ʼn paar rokke het ek die een gekry – sag, vloeiend en gemaklik.  Al wat gekort het was die moue, dit was my gunsteling deel van die hele rok.  Die dames van Timeless Bridal Couture het vinnig na die agterkamer verdwyn en daar kom sy toe uit met die perfekte stel moue wat ons kon aanlas.  Die rok was toe PERFEK.  Ek dink nie ek het al ooit só mooi gevoel in enige rok nie.

Trou Venue:


Ons het sommer vroeg al tydens ons soektog na ʼn trou venue besef dat ons nie uitgeknip is vir ʼn groot troue met klomp gaste nie.  Vir ons was dit belangrik om hierdie spesiale dag saam ons hartsmense te spandeer.  Dit is toe dat ons besluit het op ʼn klein intieme troue.

Ons wou al menige kere die beeldskone Eco Karoo Lodge gaan besoek het, maar net nooit daarby uitgekom nie.  Dit is toe dat ons besluit om die wonderlike eienaars te kontak en te hoor of hulle ons sal toelaat om hulle pragtige plek te gebruik vir ons spesiale dag.  Nadat hulle baie opgewonde ingestem het, het ons geweet dat ons die mooiste venue het vir ons groot dag.

Trou Dekor en Styl:


Ons is beide lief vir die natuur, asook avonture en ons persoonlike styl is baie neutraal, eenvoudige en so effens boheems.  Natuurlik wou ons hê dat ons troue dit alles moes uitbeeld.

Met ʼn venue soos Eco Karoo Lodge was dit baie maklik aangesien dit reeds SO MOOI is en ʼn mengsel van alles is wat ons wou hê.  Met die goue gras, rooi-grond stofpaaie en die groen bome wat hier en daar kop uitsteek in die mooie Karoo landskap het ons maklik besluit op ʼn kleurskema vir ons troue.  Ons kleur pallet het bestaan uit aardse kleure met terracotta as ons aksent kleur.

Ons venue was alreeds so mooi so vir die dekor het ons die minimale roete gegaan.  Al my troublomme was gedroogte blomme, grasse en sorghum uit my oupa se lande. Vir die tafel dekor het ons besluit op kerse, omrede dit ʼn lekker gesellige atmosfeer skep.  Ons tafeldoeke en lapservette het ek self gemaak.

Eerste Dans:


Taylor Acorn – First Date (blink 182 cover)

Trou Begroting en Beplanning:


Juanré en Simoné het 24 gaste by hul troue gehad, met ʼn koste van ongeveer R1 100 per persoon. Hulle het self vir 6 maande aan die troue beplan.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

      Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

      Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

      Artikel Diensverskaffers: