Dirk & Desiré se Stylvolle Troue in Bloemfontein

Met opgewondenheid deel ons graag Dirk en Desiré se stylvolle troue in Bloemfontein met Mooi Troues se lesers.  Dié paartjie se troue is een wat jy nie moet mis nie.

Desiré en Dirk se trou dekor is besonders mooi.  Dit is nie net modern nie, maar ook stylvol en klassiek.  Die spierwit stoele en die twee kleurige trou tafels skep ʼn moderne en baie stylvolle gevoel.  Swart kerse op die tafels pas ook baie mooi in by die moderner voorkoms, maar gee ook ʼn romantiese gevoel.  ʼn Aardse kleurskema vloei reg deur die onthaal lokaal en bring nie net warmte tot die onthaal lokaal nie, maar gee ook ʼn verwelkomende gevoel. Ons hou van die meer minimalistiese voorkoms van die gaste tafels.   Die paartjie se tafel het die mooiste blom ontwerpe op, ʼn kombinasie van vars rose en katoen bloeisels, asook ʼn tikseltjie groenigheid en aardse kleure.

Desiré se trourok is noupassend en besonders mooi met al die fyn blinkertjie detail.  Haar hand ruiker se wit blomme en sagte katoen bloeisels is só mooi en pas perfek die aardse trou dekor.

Ons kan sien dat die paartjie se troue sommer ʼn lekker jolige kuier was saam met familie en vriende.  Die Vrystaat is so ʼn mooi provinsie en bied baie versteekte skatte, veral as dit kom by trou bestemmings.  Alles is moontlik met ʼn fantastiese groep trou diensverskaffers.  Besoek Mooi Troues se Trougids vir professionele diensverskaffers vir julle troue.

Rol af om meer te lees oor Dirk en Desiré se stylvolle troue in Bloemfontein en ook hulle liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons was eers vriende op sosiale media gewees.  Einde 2015 tydens die Desember vakansie het ons begin gesels en toe in begin 2016 gereël vir ons eerste ontmoeting.  Dirk het vir die jaar in Amerika gewerk en ek was in matriek.  Dit was eers in 2017 wat ons twee se pad weer gekruis het en van daar af was ons onskeibaar.

Die verlowing was ʼn regte sprokiesverhaal.  Dit was ʼn week vol afwagting, want die datums het net nie opgelyn vir die groot vraag nie. Ek was toe ʼn laaste jaar student en het voltyds skool gegee, so elke keer het iets voorgeval, van vergaderings tot eksamen.

Die verlowing

Valentynsdag was die oorspronklike plan, maar dit het toe eers die Saterdag gerealiseer.  Ek was vir ʼn haar afspraak in Bloemfontein die oggend en dis toe dat Dirk en ons twee ma’s inspring en ʼn plekkie by die gronddam voor ons huis mooi maak met die kleure van liefde.  Ek het heeltyd gekaring dat ons piekniek moet hou by die gronddam vir Valentynsdag.  Dirk het eenvoudig net geweier, min het ek geweet wat hy beplan.

Nadat ek by die huis gekom het, het Dirk my laat weet om hom by die gronddam te kry want Daisy, my donkie, het ontsnap uit die erf en ons moet haar gaan soek.  Dis toe dat ek vir Daisy onder ʼn boom kry met ʼn groot rooi stuk om haar nek, by ons piekniek plekkie.  Ek het begin lag, want Valentynsdag was al verby waarvan hy so gerieflik “vergeet” het.  Ek het gedink dis om op te maak, dis eers toe ek lees wat op die tafel staan en omdraai met Dirk op sy knie wat ek besef wat aangaan.  Dit was só spesiaal en hy het aan alles moontlik gedink.

Dit was ekstra spesiaal omdat beide ons ma’s betrokke was en die groot oomblik kon beleef.  Ons het na die spesiale middag een groot braai gehad saam ons vriende en familie wat reeds gereël was sonder my wete.

Trourok:


Ek wou van die begin af ʼn tydlose, maar stylvolle en elegante trourok gehad het.  Ek is baie lief vir bietjie blinkers en wou dit graag implementeer.  Die rok wat ek toe gekies het, is ʼn noupassende rok, maar tog so gemaklik om in te beweeg.  Dit het dun bandjies gehad wat my skouers mooi gewys het met ʼn oop rug vir die elegante komponent.  Die hele rok was bedek met klein fyn blinkertjies wat die mooiste effek geskep het as die lig op dit geval het.  Dit was ook ʼn two tone rok wat deel gevorm het van ons kleurskema vir ons troue.  Die rok is afgerond met fyn kant detail wat dit soveel meer stylvol en tydloos gemaak het.  Ek het ʼn lang sleep gehad vir ʼn meer dramatiese look. Dit was vir my die perfekte rok, ek wou dit glad nie uit trek nie.

Verloof- en Trouringe:


Dirk het ʼn swart tungsten ring met ʼn baie dun lyn van hout gemaak.  Dirk is ʼn boer in murg-en-been en wil so graag die natuur ingebring het by ons spesiale dag.  Hy het baie van die effe hout effek gehou en ook omdat dit uniek is.

My verloofring is presies soos wat ek dit wou gehad het.  Baie fyn en minimalisties.  Dis een groot diamant in die middel met ʼn halo van klein fyn diamantjies rondom die groot diamant.  Vir my simboliseer die halo eenheid en beskerming.  My troupant is bitterlik fyn en baie plein.  Dis ʼn dun pant met klomp klein diamante wat die diamante in die halo komplimenteer.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Vir ons was dit om mekaar die eerste keer te sien.  Om mekaar se emosies te sien en te weet dat vir al tyd op daardie oomblik vir ons begin.

Dit was ook vir ons spesiaal om die aand saam ons familie en vriende te kon kuier, die atmosfeer was so gesellig en almal het dit vreeslik baie geniet.  Ons groot dag het twee families saam gebring en dit was ʼn hoogtepunt in ons en baie van ons gaste se lewens in daardie oomblik.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Sonder ons diensverskaffers wat as een span saam gewerk het, sou ons dag nie so perfek uitgedraai het nie.

Magda van Deco Table was ʼn ster, sy het presies geweet wat ons wou hê en het seker gemaak ons kry dit.

Jeanne-Marie van Monte Bello was vir ons ʼn lewensredder, sy het aan alles gedink en seker gemaak kommunikasie met Deco Table was van hoë gehalte.

Margaret wat ons musiek verskaf het was uitstekend, sy lees ʼn gehoor en atmosfeer perfek en weet presies wat dit is wat die gehoor wil hoor.

Ons fotograaf en videograaf was ook van die belangrikste verskaffers, hulle het ons beide kalm gehou en seker gemaak die dag se verrigtinge verloop mooi glad.  Hulle is ongelooflik professioneel en saam ons ander verskaffers in wen span!

Trou Venue:


Ons het ʼn lys mekaar van venues waarin ons belangstel.  Ons het ʼn dag gekies om na al die venues te gaan om te gaan kyk of dit deel van ons prentjie vorm.

Monte Bello het dadelik ons harte gewen van die oomblik wat ons daar aangekom het.  Dit was presies wat ons na gesoek het.  Die venue het ons styl gepas en met ons harte gepraat.  Dit is baie tydloos, modern en klassiek.  Dit was die perfekte plek om ons dag mooi saam te bring.

Trou Dekor en Styl:


Ons het van die begin af besluit op ʼn aardse styl en kleurskema.  Ons is van die platteland en wou baie graag wie en wat ons is, in bring met ons groot dag.  Ek wou ook baie graag iets “anders” doen as die normale, en het daarom besluit op die katoen as ons troublomme en die “feature” van ons dekor.  Dis simbolies vir die sagtheid van die katoen – die vrou van die huwelik en die gehardheid van die omstandighede waarin dit groei, die man van die huwelik.

Dit was belangrik dat ons dekor tydloos is en iets sal wees wat altyd in die mode sal bly.  Ons het met baie aardse kleure gewerk, beige, wit, hout en groen.  Die kerse op die tafels en die lampe bo die tafels het gesorg vir ʼn romantiese effek.  Die drapering in die dak het die saal ʼn sagte en skoon effek gegee.  Ons tafels het die minimum op gehad, maar genoeg om dit treffend te maak.  Die swart kerse het die stingels van die katoen uitgebring en alles mooi saam gevat. Ons het deur middel van groenigheid en bietjie blomme kleur op ons tafels in gebring sodat dit nie eentonig is nie. Die hooftafel het groen potjies gehad om dit te laat uitstaan van die res van ons tafels.

Die dansvloer is afgerond met glas kandelare om dit ʼn fokuspunt te maak wanneer jy in die saal instap.  Alles het só mooi bymekaar gepas en niks het uit plek gelyk nie.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Kommunikeer met jou lewensmaat, dit is immers altwee van julle se spesiale dag en dis belangrik dat altwee se persoonlikhede vasgevang word en dat dit vir beide spesiaal is.  Maak seker van jou verskaffers, hulle moet na jou en jou idees luister en dit ʼn realiteit maak en nie hulle idees op jou afdwing nie.  Maak ook seker dat jou verskaffers soos een span saam werk en goed kommunikeer met mekaar sodat julle drome waar word.

Onthou, dit is julle troue en niemand anders sin nie.  Elke keuse is julle eie en niemand kan dit verander of teen dit staan nie.  Doen dit wat julle gelukkig maak en nie die res nie.  Die dag gaan oor julle liefde vir mekaar en nie ander mense se opinies nie.  En laaste, geniet elke liewe oomblik van die reis, dis só spesiaal en gaan só vinnig verby.

Eerste Dans:


Starship – Nothing’s Gonna Stop Us Now

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het 73 trou gaste by hul troue gehad en het ʼn begroting van so om en by R 2,700 per persoon gehad.  Hulle troue was binne 13 maande beplan met behulp van ʼn trou koördineerder.

Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: