In dié artikel bespreek ons hoe julle die regte reis agent vir julle wittebrood kan kies. Daar is baie reis agente daar buite, veral in Suid Afrika en om die regte een te kies kan nogal ʼn taak wees. Die reis agentskap bedryf, net soos enige bedryf, het baie goed waarna mens op die uitkyk moet wees sodat jy nie onnodig geld verloor nie.
Hoekom gebruik paartjies ʼn reis agent? Die antwoord is maklik. Dit maak die wittebrood beplanning stresvry en makliker. Paartjies hoef nie rond te hardloop vir wittebrood reëlings nie. Die professionele reis agent sal seker maak die wittebrood beplanning verloop glad en stresvry vir die paartjie. Julle betaal net, daag eenvoudig op en geniet die wittebrood.
Daar is verskillende reis agente. Party reis agente spesialiseer in korporatiewe reise, ander in vakansies dan ook plaaslik of in die buiteland. Dan is daar ook reis agentskappe en reis agente wat in albei spesialiseer. Dit is baie belangrik om die regte een te kies wat julle droom wittebrood sal bewaarheid.
Die eerste stap is om reis agentskappe aanlyn te soek. Maak ʼn kortlys van die reis agente wat julle in belangstel. Dan kan julle begin met die navorsing oor die reis agente. Gebruik die onderste punte wat ons bespreek om seker te maak julle kies die regte reis agent vir julle. Rol af om meer advies te kry om die regte reis agent vir julle wittebrood te kies op Mooi Troues.
Doen julle navorsing ordentlik:
Ons kan nie genoeg klem lê hierop nie. Doen julle navorsing ordentlik. Moet nie net enige iemand vertrou met julle reisplanne nie. Omdat die persoon eenkeer oorsee was beteken dit nie die persoon kan nou sommer ander mense se reise beplan nie. Daar is baie regulasies en reëls wat van een land tot ʼn ander verskil en ʼn professionele reis agent het jare studeer om die kennis op te bou om julle reis ervaring so stresvry moontlik te maak.
Wanneer ons sê doen navorsing, bedoel ons dit. Vat die reis agentskap se naam en die spesifieke reis agent en soek hulle aanlyn. Lees resensies oor die besigheid op platvorms soos Tripadvisor en ander resensie platvorms. Kyk ook op sosiale media wat mens wat voorheen van die reis agent/agentskap gebruik gemaak het te sê het.
Moet nie net vaskyk in ʼn kwalifikasie en dink die persoon is die beste nie. Doen navorsing aanlyn om seker te maak wat die reis agent of agentskap sê is wel wat dit is.
Vra vriende vir verwysings:
Indien julle vriende gebruik gemaak het van ʼn reis agentskap/agent vir hulle wittebrood en gelukkig was met die diens, vra vir ʼn verwysing. Doen nogsteeds julle navorsing al is die reis agent/agentskap na julle verwys. Mens weet nooit nie en baie kan verander in ʼn jaar. Wees eerder versigtig as wat jy onnodige stres het.
Vir wie werk die Reis Agent?
Indien jy ʼn spesifieke reis agent wil gebruik, maak seker jy kyk vir die wie die reis agent voor werk. Werk die persoon vir ʼn groter reis agentskap, of is die persoon ʼn vryskut reis agent wat alleen werk. Ons sê nie die groter reis agentskappe is beter nie. Daar is fantastiese reis agente wat heeltemal alleen werk. Hulle lewer die mees fantastiese diens en maak die paartjie se hele wittebrood beplanning proses stresvry.
Die rede hoekom jy moet weet vir wie die reis agent werk is indien die reis agent nie meer vir die maatskappy werk nie, wie jy kan kontak. Veral as dit ʼn groot reis agentskap is.
Akkreditasie en Sertifisering:
Hierdie is seker dié mees belangrikste ding om na te kyk. Maak seker die reis agent of -agentskap is ge-akkrediteer deur ʼn groot toerisme vereniging en organisasies. Daar is baie verskillende toerisme verenigings waaraan reis agente van regoor die wêreld kan behoort.
Van die verenigings in Suid Afrika sluit die volgende in:
- Tourism Business Council of South Africa.
- Association of Southern African Travel Agents (ASATA)
- Southern Africa Tourism Services Association (SATSA)
- Tourism, Hospitality and Sport Education and Training Authority (THETA)
- Federated Hospitality Association of South Africa (FEDHASA)
Indien jy wil kyk of iemand by ASATA ge-registreer is, klik hier om te soek.
Daar is ook baie ander internasionale verengings vir reis agente wat spesifiek fokus in reise na ʼn seker land soos die volgende:
- World Travel Agents Associations Alliance (WTAAA)
- Global Distribution Systems (GDS)
Vra vir die oorspronklike akkreditasie en gaan soek die persoon op op die organisasie se webtuiste om te verifieer of die reis agent/agentskap wel aan die vereniging behoort.
Ervaring van die Reis Agent:
Oh aarde, hierdie is ʼn baie belangrike punt! Maak seker die reis agent/agentskap het ondervinding in wat hulle doen. Die reis agent/agentskap moet of gekwalifiseer wees in die veld of hulle moet jare se ervaring hê met reis beplanning.
Om ʼn vinnige wegbreek plaaslik te reël is nie te moeilik nie, maar wanneer daar ʼn reis oorsee beplan word is dit ʼn hele ander storie. Die reis agent moet genoeg ervaring hê om die fyner detail van die spesifieke reis bestemming te verstaan. Jy wil nie stres hê op julle wittebrood nie, so maak seker die persoon het ervaring in wittebrood beplanning veral.
Kyk na die persoon se ervaring deur verwysings te vra, te gaan kyk op sosiale media ensovoorts. ʼn Reis agent is daar om julle reis ervaring so stresvry moontlik te maak en om die hele reis ervaring gemaklik te maak. Dit is die rede hoekom julle wittebrood self beplan nie en gebruik maak van ʼn reis agent.
Kommunikasie:
Hierdie is iets wat baie belangrik is. As die reis agent meer as 24 tot 48 uur vat om terug te kom na julle wanneer jy die persoon vir die eerste keer kontak, hardloop vir die berge. Dit is klaar stresvol om te reis, veral na die buiteland en om nog te stres oor die reis agent wat nie terugkom in tyd nie, gaan julle net onnodige stres gee.
Geen mens kan te besig wees om net ʼn vinnige e-pos te stuur en sê hul is besig nie en het wel julle e-pos versoek gekry en sal later daaraan aandag gee. Wanneer dit kom by reis planne moet dinge gebeur en kommunikasie skerp en vinnig wees van die begin af.
Kommunikasie sluit ook in dat die reis agent verstaan wat julle ingedagte het vir julle wittebrood. Maak seker julle is op die selfde blad en dat die persoon heeltemal verstaan wat julle begroting en verwagtinge is. As die reis agent heeltyd vir julle goed gee wat julle nie kan bekostig nie of nie van hou nie, beweeg aan na iemand wat julle kan verstaan.
Is die regte reis agent vir julle wittebrood?
Net soos enige iets anders, maak seker die reis agent is reg vir julle. Almal het verskillende behoeftes, idees en gedagtes van hulle wittebrood en die bestemming waarna hulle wil reis.
Maak seker julle kom goed oor die weg met die reis agent van jul keuse en dat die persoon julle behoeftes verstaan. Indien die persoon al die boksies soos in die artikel getik het is julle klaar driekwart op die regte pad.
Nou moet julle net seker maak jul vind ʼn reis agent wat julle visie vir julle wittebrood ʼn realiteit kan maak en ʼn stresvrye ervaring kan bied.
Party paartjies soek meer persoonlike diens waar ander net reg sal wees met enige reis agent van ʼn reis agentskap wat hulle help, solank as wat hulle ʼn goeie prys kry en gehelp word.
Dit verskil van elke paartjie. Party paartjies as ook weer daardie persoonlike aandag en slegs een spesifieke reis agent om hulle deur die hele wittebrood beplanning te help.
Wat is ingesluit in die diens:
Julle sal ʼn kwotasie kry met wat die wittebrood pakket behels, maar maak seker julle verstaan wat is ingesluit in die dienste van die reis agent/agentskap. Gaan hulle julle net die wittebrood pakket verkoop en wegstap, of is daar nog hulp en dienste daaraan gekoppel soos die volgende:
- Gee die agent vir julle meer inligting oor die VISA aansoek proses.
- Vertel die agent vir julle oor die seisoene van die reis bestemming en meer informasie oor die bestemming.
- Help met besprekings van etes, aktiwiteite ensovoorts.
- ʼn Program uitwerk vir die paartjie wat hulle min of meer ʼn idee gee wat gebeur waar en hoe laat hulle waar moet wees.
- Help die reis agent julle met enige probleme wat daar mag kom gedurende die reis proses soos vlug kansellasies, hotel kansellasies ensovoorts.
Artikel Krediet:
- Geskrewe: Mooi Troues
- Foto’s: Pexels, Adobe