In dié inskrywing deel ons Corné en Lélani se Weskus strand troue met Mooi Troues se lesers. Hierdie paartjie se troue was ʼn lekker gesellige plat-op-die-aarde strand troue in Lambertsbaai in die Weskus. Vir die paartjies wat opsoek is na inspirasie vir ʼn strand troue in die Weskus, moet nie hierdie paartjie se troue mis nie.
Lélani het pragtig gelyk in haar trourok. Die details op haar trourok is só mooi en die oop skouers en rug is perfek vir ʼn sonnige strand troue. Haar strooimeisies het sagte blou rokkies aangehad en almal het Protea blomme gehad as handruikers. Corné het ʼn neutrale aardse kleur uitrusting aangehad, wat ʼn meer informele gevoel gegee het, perfek vir ʼn strand troue.
Hulle trou seremonie was reg op die strand met die golwe wat in die agtergrond breek, terwyl gaste sommer met hul voete in die sand kan sit. Die paartjie se troue het ʼn lekker informele gevoel wat so perfek pas by ʼn strand troue.
Hulle trou venue was reg op die strand gewees met ʼn regte Weskus atmosfeer. Vure wat brand en vriendelike gasvryheid en gaste wat die aand in lag, is presies hoe mens hierdie paartjie se onthaal kan indink.
Die onthaal het ʼn opelug gevoel en ʼn lekker informele Weskus gevoel. Hulle trou dekor was skakerings van stowwerige blou en see groenigheid tussen in. Die kos wat voorberei word op die oop vuur by die trou venue skep ʼn baie gesellige en warm atmosfeer. Dit was ʼn aand van lekker gesels, dans en feesviering.
Alles is moontlik as julle fantastiese trou diensverskaffers het. Besoek Mooi Troues se Trougids vir al jou trou diensverskaffers.
Rol af om meer te lees oor Corné en Lélani se strand troue en hul liefdesreis.
Paartjie se Liefdesreis:
Ek was in die Kaap vir werk en sou die 23ste Desember 2015 geland het om die feestyd by my ouers deur te bring. Skaars was ek by die huis toe my ouers se bure se baas daar opdaag. Hy wou my ouers te groet en hulle dogter te ontmoet waarvan hy nog net gehoor het. Dié ou was natuurlik Corné. Ek was in die swembad toe hy daar aankom en ek het hom gegroet met ʼn baie apatiese, nie belangstellende ‘haai’. Soos hulle sê: The rest is history, maar ek het hom laat hard werk vir my hart.
Desember 2018 is ons saam my ouers Mauritius toe vir die feestyd. Ek en Corné het ʼn baie oulike wittebrood paartjie van Hartswater in die Noord-Wes ontmoet. Ons het saam hulle by die strand kroeg gekuier terwyl my ouers aandete in die eetsaal genuttig het. Lekker in my bikini en sharong sonder grimering met ʼn skemerkelkie in die hand het die kelner vir my uit die bloute ʼn pienk spyskaart gebring, dit was vreemd het ek gedink en begin lees.
Op die spyskaart was ʼn pragtige gedig gedruk en op die ou einde die woorde ‘Sal jy met my trou?’. Corné het self die gedig geskryf! Ek het in trane uitgebars en toe ek langs my kyk toe sien ek Corné in die sand gekniel met ʼn pragtige ring. Ek het ja gegil dink ek, want ek het snot en trane gehuil ook. 😂 Ek was ongelooflik oorweldig en het eetsaal toe gehardloop dat die stof staan om my ouers die nuus te gaan vertel. My stem was in hoë oktawe en die hele oord in Mauritius het daai aand geweet dié meisie in die bikini is uiteindelik verloof.
Die Verlowing Tydperk:
Ons was nege maande verloof gewees en ek en my ma het self die troue beplan en gereël.
Diensverskaffers en inspirasie van Mooi Troues gekry:
Balls for Africa – Ek het die strandbal konfetti en kleure van my troue gesien by ʼn bruid wat Mooi Troues gepubliseer het. In algeheel was ek baie op julle webwerf. Alhoewel ek nie al die idees gebruik het nie het ek baie inspirasie geput uit die strand troues hofie en ek het ook my fotograaf se foto’s op julle webwerf gesien so baie dankie, julle het my waarlik geïnspireer.🙏🏼
Trou Begroting:
Ons het besluit op R100 000, maar daar was baie onvoorsiene onkostes waarvoor ons nie begroot het nie. Oor ons ʼn bestemming troue gehad het 1 600km van waar ons woon, moes ons die reiskoste ook in ag neem. Ons het baie bespaar oor my pa meeste van my trou dekor self gemaak het en ek dit geverf het.
Ons het 92 gaste op ons troue gehad.
My advies aan ander paartjies is om ekstra te begroot vir daardie onvoorsiene onkostes. Probeer sover moontlik jou eie dekor maak en soek vir die beste pryse van jou verskaffers. Kry ʼn klomp kwotasies en besluit op een wat jou sal die beste pas. Probeer spaar op oordadige blomme – less is more.
Die Besluitnemingsproses:
Corné is ʼn baie ‘hands on’ man so hy was baie betrokke by die besluite van ons troue. Ek hét hom in ag geneem in baie besluite ook alhoewel ons net so baie gestry het wanneer ons visies verskil het. Met sommige goed het hy my maar gelos, want hy het geweet ek gaan nie ingee nie. Ek het presies geweet wat ek soek, want ek het dit in my gedagtes gesien.
My ouers was ook betrokke met idees en voorstelle. My pa het baie van die dekor gemaak so hy wou ook sy sê sê.
Gunsteling Diensverskaffers:
Dis ʼn moeilike vraag, want ek het besondere diensverskaffers gehad wat baie stres van my afgeneem het en werklik my verbaas het met die eindproduk en my visie verstaan het. Maar as ek een moet uitsonder moet dit Coba Uys wees, my fotograaf. Soos ek al genoem het was ek in ʼn woestyntyd in my trou tyd wat ʼn baie moeilike tyd was in my lewe en Coba het my hande help ophou waneer ek moeg geraak het. Sy was geduldig, vriendelik, sag, verstaanbaar en kalm en alhoewel sy my nie geken het nie het sy my gedra deur ʼn baie moeilike tyd. Ek het die grootste agting vir haar menswees en beveel haar gereeld aan. Ek sal haar altyd gebruik vir spesiale foto’s en natuurlike is sy uiters professioneel en het my dag perfek vasgevang.
Paartjie se styl:
Ons is albei gemaklike mense, so ons wou ʼn baie gemaklike, lekker kuier troue gehad het. Minder fênch en meer pret. Ons albei hou ook baie van mooi aantrek en Corné wou net gehad het my rok se rug moes laag wees. E k wou nog altyd ʼn nousluitende rok met ʼn bietjie bling gehad het en Gerrit van Clarise in Hatfield het my matriekafskeid rok jare tevore gemaak en ek het hom daai tyd toe al gesê die dag wat ek trou maak jy my trourok en hy het.😁 Hy het my droomrok gehad en my visie perfek vasgevang waaroor ek so lank gedroom het.
Corné wou graag ʼn baadjie dra en ons het besluit op ʼn ligte broek en ʼn wit hemp. Hy wou niks weet van ʼn netjiese kortbroek nie😂 Elegant tog gemaklik en dit was presies hoe ons gelyk het.
Ek is gaande oor roosgoud so my trouring en pant is roosgoud met ʼn pienk Morganiet steen. Corné wou ʼn plein trouring gehad het so syne is net goud met die woorde HGL 3:4 binne gegraveer – die teksvers was die tema van ons troue.
Spesiale Tradisies:
Daar was ʼn paar.
My nooiensvan is Laing en Corné se van is Botha, so ek het Laing Witwyn van Anthonji Rupert se wynplaas gebruik as die witwyn op die troue en Botha kelder se Botha rooiwyn en vonkelwyn gebruik.
Ek wou graag hê ek en Corné moes nagmaal hou so ons het roosterkoek – eie aan die Weskus gebreek as die brood en ek het die Laing wyn en Corné het die Botha wyn in ʼn kelkie gegooi en die wyn saam gedrink as simbool van ons een word. Dit was ʼn heilige oomblik toe ons die wyn meng en saam uit een glas daarvan drink.
My boetie het my gebring tot by my pa wat my oorgegee het aan Corné, waar ons gestap het tot voor my ma wat ons getrou het. Ons het wel ʼn plaaslike Pastoor van Lambertsbaai gebruik om die wettige gedeelte vir ons te doen.
Ek het ook my drie strooimeisies se dogtertjies gebruik as my blommemeisies.
Wat ook baie spesiaal was vir my en iets wat ek nog nooit op ʼn troue gesien het nie. Toe Corné die bedankings gedoen het, het al my beste vriendinne by my aan die bruidstafel kom sit. Dit was só kosbaar vir my gewees om daardie liefde van hulle in aksie te kon sien want niemand het geweet waardeur ek emosioneel gaan nie, maar hulle sterkte en liefde het my staande gehou.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Kyk, vir jare het ek al gebid oor my troudag en dat dit warm moet wees, want dis maar ʼn uitdaging om by die Weskus te trou met sy onvoorspelbare weer, maar in my wildste drome sou ek nooit kon dink dit sou só bloedig warm sou wees soos die 27ste September in die Weskus nie. Al die mans se bleskoppe het rooi gebrand en die gaste het elke koelte plekkie wat daar was gaan opsoek. Almal was papnat gesweet en grimering het afgeloop van almal se gesigte. Dit was windstil, so daar het nie eers ʼn briesie gewaai nie. Ek sou sambrele vir die gaste gekoop het as ek geweet het dit sou so warm wees, maar daar was darem bottels koue water.
Die branders was ook so hard dat niemand my ma se preek gehoor het nie, so ek is spyt sy het nie ʼn mikrofoon gehad nie, ons moes vir haar een gegee het.
Op die oggend van ons troue toe ek my rok uit sy sak uithaal toe sit daar ʼn massiewe koffie kol presies waar my privaat is.🤣 Hoe die kol daar gekom het sal ek nooit weet nie. maar nietemin bel ek toe my ontwerper 5:30 am die oggend in ʼn toestand om by hom te hoor hoe ek die rok kan skoonkry en hy sê toe “Woollite en Ariel”. Vryf dit aan en laat dit soak in die bad vir ʼn ruk. Wel net om te sê Lambertsbaai hou nie Woollite aan nie so Ariel waspoeier moes maar werk. My ma en haar vriendin het gesoak en gevryf en gesoak. Ek het op die ou einde met ʼn klam rok gaan foto’s neem 😂
Venue & Dekor:
My droom vir jare tevore was nog altyd om by die Weskus te trou. Corné en ek wou iets anders gehad het as troues waarop ons al was. Ons het probeer om regtig buite die boks te dink. Ons het Sunset Sweatshop se Coming Along gekies as ons tema liedjie en daarom is daar besluit op drie venues wat die Weskus in sy volle glorie uitbeeld.
Grootvlei Gasteplaas se Oppiduin venue is gebruik as ons strand seremonie. Malkoppan plaas vir drankies en vermaak na die troue en Muisbosskerm as ons onthaal.
Waneer Coming along gespeel het moes die gaste ons volg na die volgende venue.
My inspirasie was pure Weskus – rou, eerlik, opreg, sonder pretensie. Ek wou ʼn regte Weskus gevoel troue gehad het met ʼn tikkie glam so my inspirasie was die kleure; dustyblue en seafoam groen vir die branders en room vir die seesand. Ek is geïnspireer deur dryfhout, skulpe, sand, rou hout en enemal wat ek inkorporeer het in my troue.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Dames:
Dis ʼn baie oorweldigende tyd in ʼn mens se lewe wat baie vinnig verbygaan so geniet elke oomblik en neem alles in. Moet nie dat die stres van die troue (of persoonlik dinge) jou dag kelder nie. Ek is spyt oor my stres … ek moes net bly vertrou het, want ek sal nooit weer daardie tyd terugkry nie. Kuier saam jou gaste, hulle reis ver, betaal duur en doen moeite om die dag saam met jou te spandeer en onthou die troudag is lekker maar die huwelik soms vol uitdagings so as jy ooit wil uitklim of die huwelik moeilik raak … onthou jou troudag en hoe jy gevoel het, hou vas aan daardie liefde en daardie gevoel.
Mans:
Geniet jou troudag, dis julle albei se spesiale dag. Spandeer tyd met jou gaste, drink maar ʼn brandewyn vir daardie senuwees en dans saam almal. O ja, bly ook tot almal weg is.
Merkwaardigste Oomblikke:
In die tyd van my en Corné se verlowingstyd het ons deur ʼn woestyntyd in ons lewe gegaan. Deur omstandighede buite ons beheer wat die wind uit ons seile uitgeneem het en ons laat spartel het vir asem (dis ʼn getuienis op sy eie). Die oomblik van ons troue wat my solank as ek leef sal bybly was die oomblik toe ek en Corné mekaar die eerste keer sien … Ons het besluit om voor die troue foto’s te neem en Coba, ons fotograaf het dit die ‘first look’ geneem. Ek het na Corné toe aangestap waar hy met sy rug na my toe gestaan het en vir die see gekyk het. Ek het stil nader gestap en gesê: “Hallo Liefie.” Corné het omgedraai en daar het trane uit sy oë gerol en oor sy wange.
Daar was ons twee, ons het ʼn oomblik net vir mekaar gekyk. Ons wapenrusting was vol gate, ons was in die droogste woestyntyd van ons hele lewe. Ons was emosioneel verpletter, moeg, gestres, omgeslaan deur die branders van die lewe maar ons staan nog deur Sy genade. Daardie oomblik toe ons vir mekaar kyk het ons albei geweet … Alles gaan okay wees. Dit was ʼn heilige oomblik tussen my en hom.
Vermaak:
Ons het ons goeie vriend, die sanger Pieter Smith bespreek om die gaste te vermaak en hy het absoluut die mense laat dans.
My beste vriendin en hoof strooimeisie, die sangeres Elizma Theron het ʼn bekende liedjie van haar gesing toe sy en die strooi en blommeisies in die paadjie afgestap het.
Ek het vir my boetie, ʼn welbekende danser, Wiaan Laing gevra om ʼn flashmob te doen en hy en drie ander dansers het die gaste verras deur uit die bloute uit te begin dans by Muisbosskerm waarna ek en Corné ook al dansende ingestap het. Dit was ʼn baie groot verassing want niemand het dit verwag nie.
Ek wou plaaslike diensverskaffers ook gebruik so ek het Go West DJ’s van Lambertsbaai omgewing gebruik as die platejoggies en hulle het ons tot in die vroeë oggend ure laat sokkie.😁
Wittebrood:
As gevolg van ons woestyntyd daardie tyd kon ons nie op wittebrood gegaan het nie, maar my boetie se verloofde het ons bederf met ʼn paar dae in Krystal Beach Hotel in Gordonsbaai wat hemels was na al die stres.
Dit was ons storie, dit was nie ʼn maklike tyd in ons lewe, maar elke storie is uniek. My getuienis wat met ons gebeur het tydens daardie tyd het my lewe vir die beste verander. Ons is wel besig om ons wittebrood te beplan vir einde van die jaar. Dit waarvoor mens lank wag is ALTYD die moeite werd.
Eerste Dans:
Ons het een aand by die huis gesit en gewonder en gedink oor ons eerste dans liedjie. So paar dae daarna het Corné vir my ʼn liedjie gespeel wat hom diep geraak het en dit was Your Man van Josh Turner en daarop het ons die dansbaan geopen.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf + Videograaf: Coba Photography
- Onthaal Venue: Muisbosskerm
- Seremonie Venue: Grootvlei Gasteplaas se Oppiduin venue
- Blomme + Huurdienste: Tsekama Wedding venue
- Dekor: Bruid en bruid se ma
- Gaste Geskenke vir dames: Houtrame – Libella Wooden decks
- Gaste Geskenke vir mans: Messe lasercut – Lizl Turvey
- Grimering + Hare: Anel de Weerdt
- Musiek: NVR Management
- Platejoggie: Go Wst DJ’s Lambertsbaai
- Strandbal Konfetti: Balls for Africa
- Trourok: Clarise by Gerrit Pienaar
- Trouring: André Rheeder
- Troukoek: Pieter van Citrusdal
- Vermaak: Flashmob – dans en choreografering – Wiaan Laing