Werner & Veronique se Kleurvolle Troue in Rawsonville

Met baie opgewondenheid deel ons Werner en Veronique se kleurvolle troue in Rawsonville met Mooi Troues se lesers.  Hierdie paartjie se moderne en kleurvolle troue met sy plattelandse glans, is een wat jy nie moet mis nie.

Veronique het beeldskoon gelyk op haar troudag.  Ons is totaal en al verlief op die hoed wat sy laat maak het by een van Suid Afrika se mees bekendste hoed makers. Haar trourok is eenvoudig en klassiek met die mooiste pêrel en kristal details, veral op die skouers.

Viljoen Juweliers, ʼn bekende naam in die juweliers bedryf het Veronique se pragtige klassieke ovaal steen verloofring met diamantjies in ʼn geelgoud pant, met haar eenvoudige geelgoud troupant gemaak.

Ons is gaande oor die paartjie se helder kleurige dekor styl.  Dit gee amper ʼn tipe van ʼn retro gevoel, maar met ʼn romantiese kinkel.  Kleurvolle blomme op ʼn meer eenvoudige en neutrale agtergrond is altyd ʼn wenner.  As jy kleur reg gebruik by ʼn troue, dan sal dit so mooi lyk soos Werner en Veronique se trou lokaal.

Die tafels was eenvoudig gehou met die mooiste blom ontwerpe strategies geplaas in die trou venue asook vanuit die dak bo die tafels.  Op die gaste tafels was daar mooi simplistiese kleurvolle tafelnommer en klomp kerse in die selfde kleurskema as die blomme.  Dit trek die tema deur die hele onthaal en die kerse gee ʼn romantiese gevoel.

DJ Wico ʼn bekende naam onder Mooi Troues se lesers, het seker gemaak dat Werner en Veronique se trou gaste geniet die aand met fantastiese musiek en goeie gehalte klank.

Rol af om inspirasie te kry vir jul eie troudag en om meer te lees oor Werner & Veronique se Kleurvolle Troue in Rawsonville en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Werner het mekaar in Januarie 2019 op ʼn ontmoetings toepassing ontmoet en na twee weke van gesels op WhatsApp, besluit om mekaar te ontmoet by ʼn plaaslike wynplaas vir koffie.  Koffie het toe later omgeskakel in wyn en pizza, en het vir ure gesit en lag tot die kelner vir ons kom sê dat hulle binnekort gaan toe maak.

Dit was die lekkerste ontmoeting.  Alles was moeiteloos en ons kon 100% ons self wees.  Dit het regtig gevoel of ons mekaar al jare ken.  Soos Werner se boodskap gelui het, “Dit was die beste eerste afspraak ooit” en dit was!   Soos hulle sê, die res was geskiedenis.  Ons was so nege maande ʼn paartjie toe ons hoor Werner moet Amerika toe gaan vir werk, en ons het nie geweet vir hoe lank nie.  Dit sou minimum ʼn jaar wees.

Ons het toe ʼn langafstand verhouding gehad en na baie video oproepe en verlange het hy na tien maande huis toe gekeer en daardie Desember het ons verloof geraak.  Dit was een van die beste oomblikke vir ons, want ons het geweet die een wil nie sonder die ander een die lewe aan pak nie.  Die verlowing was nie die maklikste vir Werner nie, omdat ek dit byna onmoontlik gemaak het vir hom om my te vra sonder dat ek iets vermoed.  Hy het net tien dae gehad om dit te beplan.  Werner het my toe op Oukersaand gevra om te trou.  Dit was ekstra spesiaal omdat al my geliefdes daar was, alles was perfek.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het in Desember 2020 verloof geraak en was vir ʼn jaar en ʼn half verloof.  Werner het net terug gekom van Amerika af en ons wou eers wag dat Covid bietjie bedaar.  Ek is self in die trou industrie, so ek moes eers my troues afhandel voor ons ʼn datum kon vas maak vir ons trou dag.  In Junie 2021 het ons al ons trou diensverskaffers vas gemaak en is in Junie 2022 getroud.  Ons het nie ʼn trou beplanner gehad nie.  Ek en Werner het ʼn wonderlike ondersteunings netwerk gehad wat ons met elke stap gehelp het.

Trou Begroting:


Ons het ʼn idee gehad van hoe ons begroting lyk vir die troue, en het besluit waarop is ons bereid om ʼn ekstra geldjie te spandeer en waar nie.  Byvoorbeeld, ons het nie vir Werner ʼn pak gekoop nie, maar wel gehuur.  Ons het ook baie van die vullers vir die blomme self gepluk.  Ek en ʼn vriendin het die trou skryfbehoeftes self ontwerp en plaaslik laat druk.  Ons het ook met ons spyseniering besluit dat ons nie teveel kos wil mors nie en alles was soos “straatkos”.  Elkeen het sy porsie gekry.  Met nagereg het ons net ons troukoek gehad en dit was opgeëet!  Ons het om-en- by 56 gaste gehad, ʼn kontant kroeg met en gin sonder ʼn limiet, asook die wyn was ʼn wenner.

Baie van die ekstra goedjies is “oulik om te hê”.  Dit hang alles van jou af of jy daardie geld wil/kan spandeer op dit.  Jy moet maar gereeld vir jou self afvra,  Is dit nodig?  Gaan dit ʼn verskil maak? Pas dit in ons begroting?  Anders as jy jou weer kom kry het jy geld spandeer wat onnodig is.  Dit hang af van paartjie tot paartjie en wat julle behoeftes is.  Ek en Werner het mooi by ons begroting gehou, maar het wel ʼn paar onverwagse uitgawes gehad die week van die troue.  Ons sou sê elke paartjie moet voorsorg tref vir dit.  Byvoorbeeld, ons moes ʼn tent huur die week van ons troue vir ons verwelkoming, omdat dit katte en honde gereën het na ons seremonie.  Sorg dat daar altyd ʼn alternatief is vir enige iets.

Merkwaardigste Oomblikke:


Veronique:

Ek kan eerlik nie ʼn deel van die dag kies wat vir my uitstaan nie, want alles was só lekker en merkwaardig.  Van die oggend wat ons op gestaan het en dadelik begin dans het op musiek tot die aand wat ons gaan slaap het was ongelooflik.

As ek twee moet kies, sal dit wees toe my Ma se beste vriendin vir my die mooiste stel oorbelle as geskenk gegee het, en ʼn gehekelde strikkie uit orige wol wat ons vir haar gegee het toe my Ma oorlede is.  Ek het dit aan die binnekant van my rok vas gemaak op die dag.  Die trane het omtrent geloop in daardie spesiale oomblik.

Die ander deel is toe ek in die kerk instap saam met my Pa en ek die man van my drome sien.  Ons was albei baie emosioneel en ek sal nóóit daardie oomblik vergeet nie.

Werner:

Vir my was die merkwaardigste deel toe Veronique by die kerk in stap.  Ek het net op haar gefokus, en niks anders het vir my saak gemaak in daardie oomblik nie, behalwe sy.  Sy het ongelooflik mooi gelyk, ek was skoon in trane.  Dít was definitief dié beste dag van my lewe.

Paartjie se styl:


My en Werner se styl verskil baie, waar hy baie plein en maklik is, hou ek van stylvol en bietjie glans – iets wat ʼn indruk gaan maak.  Ons het mekaar mooi halfpad ontmoet sou ek sê.  Vir Werner se pak het ons op ʼn swart pak besluit, met ʼn swart das, asook vir die strooijonkers.  Vir die strooimeisies het ek ook besluit op ʼn swart rok wat almal gemaklik gaan in voel.  Ons het hulle rokkies by MORE Bespoke laat maak.

Vir my trourok, het ek ʼn idee gehad van wat ek wil hê, maar ek het nie ʼn idee gehad waar om te begin soek nie.  ʼn Kennis het my verwys na Cindy Bam en ek was so bly ek het haar gekry.  Sy is ongelooflik goed.   Cindy ken ʼn vrou se lyf, weet wat gaan goed lyk by jou en haar kennis is “buiten die wêreld”.  Sy het vir my die mooiste trourok ontwerp met pêrel en kristal detail op my skouers, melkwit bruid satyn en knopies van bo tot onder by die sleë van die trourok.  Dit is afgerond met knopies by die moue en skouer kussings, wat perfek gepas het saam my handgemaakte hoed van Crystal Birch.

My verloofring is deur Viljoen Juweliers gemaak, klassieke ovaal steen met diamantjies in ʼn geelgoud pant, en my plein geelgoud troupant en Werner se silwer mat trouring is deur Famke Jewellery gemaak.

Die Besluitnemingsproses:


Werner en ek het baie van die beplanning saam gedoen, maar ons elkeen het ʼn rol gehad in die besluitnemingsproses.  Ek werk in die trou industrie, so ek het bietjie meer van ʼn agtergrond en kennis gehad van wat en wie ons boksies gaan tik.  So, ek het met al die besluite met ʼn paar opsies na Werner gegaan en hom gevra wat hy dink.

Hy het ook met ʼn paar van sy eie idees vorendag gekom. Ek het byvoorbeeld op die blomme en dekor besluit, en hy het besluit dat hy in die Kerk wil trou en so het ons deur elke aspek van die troue gegaan om ʼn finale besluit te maak.

As ek 100% eerlik is, moet ek bieg dat ek meerderheid van die finale besluite geneem het, maar dis uit en uit omdat Werner dit met sommige goed so verkies het, maar ek het hom altyd eers geraadpleeg.  Werner was ʼn baie rustige bruidegom rondom die beplanning en het my met baie van die besluite vertrou, omdat ek ook geweet het waarvan hy sal hou en waarvan nie.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons kan regtig nie die een  trou diensverskaffer bo die ander kies, of ʼn gunsteling kies nie.  Ek het presies geweet van watter diensverskaffers ons wil van gebruik maak en toe ons ʼn datum het, het ek hulle almal dadelik gekontak. Dankie tog almal was beskikbaar. Elkeen se bydrae het ons dag super spesiaal gemaak en ek kan nie ons troue sonder hulle indink nie. Van my rok, grimering, venue, fotograaf, videograaf, platejoggie en spyseniering was almal tops! As ek weer moet kies, sal ek hulle almal weer kontak.

Vermaak:


Ons het die alombekende platejoggie, DJ Wico by ons troue gehad, en al was ons net 56 mense by die troue het hy die lekkerste musiek gespeel dat dit gelyk het asof daar 100 mense was.

Venue & Dekor:


Tydens die trou beplanning het ons vinnig besef dat ons nie ʼn groot troue wil hê nie. Daar was natuurlik venues waarop ons versot was, maar toe ons besluit ons wil ʼn kleiner troue hê, sou die ander trou venues ver te groot wees.  Ek en Wener het ook geweet ons wil in Rawsonville trou, dit is my tuisdorp en vir logistieke redes was dit ook die beste besluit.  Ons het ook natuurlik die trou venues met mekaar vergelyk en gekyk watter venue pas ons sak die beste en waar gaan ons tuis voel.

Toe is die besluit maklik, ons trou by Kirabo Venue met die wonderlikste span.  Tannie Karen (die eienaar), het uit haar pad gegaan om dit die beste ervaring te maak vir ons.  Haar kos was vir die boeke en hulle onthaal lokaal koördineerder, Miandra se hande het vir niks verkeerd gestaan nie.  Sy het aan goed gedink, waarvan ek sou vergeet het.  Hulle albei was ongelooflik in hulle werk.

Meer oor die Trou Venue en Dekor Besluite.

Ons trou venue was die perfekte grote vir wat ons ingedagte gehad het.  Wou graag ʼn intieme ervaring gee vir ons gaste en het tafels en informele sitplek area gekies.  Ek en Werner het ons eie bank gehad met die mooiste agtergrond.  Ek het met Megan van The Installation Artist ontmoet, en ek het vir haar twee idee borde gewys.  Die een was skoon, wit, gedroogde blomme en die ander een was PIENK en baie sterk.

Tydens die konsultasie het ons vinnig agtergekom dat ek eintlik die sterk tipe is en dat ek dit net wou veilig speel met die skoon voorkoms.  Met die oploop na die troue het ek honderde krismisrose gepluk, self gedroog en met sproeiverf gespuit, hasies stertjies gekleur en baie bougainvillea bymekaar gemaak.  Megan van The Installation Artist was ongelooflik, sy het my só goed opgesom en ek het haar ten volle vertrou.

Die week van die troue het een van my beste vriendinne, Anja van Salvador Dahlia ook kom help.  Ons het die mooiste hang installasies uit skakerings van pienk blomme met disko balle, ruikers, tafel ruikers en agtergrond gehad.  Ons was verstom en so gelukkig.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ja, natuurlik is daar altyd ietsie wat fout gaan.  Die vraag is, gaan iemand weet?   Dit het baie gereën, ons tent het amper weg gewaai en ek was laat vir die seremonie.  Maar, daar is niks wat ons sou wou verander nie.  Die nie-so-perfek oomblikke is tog op die ou einde perfek, en buite jou beheer.  Mens moet net lag en jou dag verder geniet, want die belangrikste is dat julle met mekaar trou!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


As ons dit in ʼn neutedop kan opsom, geniet dit net.  Moet nie probeer om alles perfek te kry nie, soms gebeur goed buite jou beheer.  Wees daar vir mekaar en ondersteun mekaar.  Om ʼn troue te beplan is ʼn goeie voorbeeld van hoe ʼn huwelik kan wees, daar is op en af tye, daar is tye wat jy lag en tye wat jy wil huil, jy raak frustreer, jy raak opgewonde, maar julle is ʼn span.  Weet wat is die end doel en dit is om met mekaar te trou.  Maak nie saak of jy ʼn R1,000 het en of jy R20,000 om ʼn troue te beplan nie, maak dit vir julle spesiaal.

Wittebrood:


Ons was vir sewe dae by Le Canonnier Beachcomber Resort in Mauritius en dit was ongelooflik lekker.   Vir die wittebrood het ons die alles insluitende pakket gehad, en ʼn seefront kamer.  Dit is een van die lekkerste bestemmings vir ʼn wittebrood.  Ek en Werner het op Mauritius besluit.   Dit is bekostigbaar en omdat ons weet ons sal nie sommer weer ʼn eiland vakansie kies in die toekoms nie.

Ons albei hou van besienswaardighede en plekke met geskiedenis.  Mauritius was op daardie tydstip in ons begroting en wat is dan nou lekkerder na al die maande van troue beplan om met ʼn skemerkelkie in die hand te sit en vir ʼn oomblik van die wêreld te vergeet met jou man!  ʼn Bonus was dat ons in die koeler maande gegaan het, so dit was vir ons albei ʼn wenner!

Eerste Dans:


Ons eerste dans was baie spesiaal.  Ek het maande voor die troue vir Werner gevra hy moet my help om aan ʼn liedjie te dink vir die instap by die onthaal en dan ons eerste dans en ons het geen idee gehad nie.

Eendag toe is ons rustig by die huis en uit die bloute sê hy vir my, hy het dit!  Eers was ek baie skepties, omdat my en Werner se musiek smaak baie verskil, het ek nie geweet wat om te verwag nie.

Heeltyd in my agterkop het ek gehoop dit is ʼn liedjie met lekker ritme, dat hy ten minste op dit kan dans – hy het twee linker voete as dit by dans kom.  Hy het die liedjies vir my gespeel en ek was verkoop.

Ons instap liedjie was “Come and get your love” van Redbone en eerste dans liedjie was “Dreams” van Cranberries.

Die oploop na die troue het ons nie regtig tyd gehad om te oefen nie, so ons het sommer die Vrydag voor die troue by die onthaal saal ʼn paar draaie geoefen.  Met ons eerste dans het ons vir die strooimeisies “confetti ploffers” gegee, en dit is geskiet op die einde van ons dans.


    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: