Zandré & Ané se Troue met ʼn Aardse Styl

In dié inskrywing deel ons Zandré en Ané se troue met ʼn aardse styl met Mooi Troues se lesers.  Sjoe! Die paartjie se troue is een wat jy nie moet miskyk nie.  Hulle hele troue was geïnspireer deur elemente van uit die natuur en kan definitief baie karaktervol.

Ané se groen-blou saffier trouring is iets besonders mooi en so anders as die normale trouringe.  Ons is dol verlief hierop.  Haar trourok was eenvoudig met hier en daar ʼn bietjie detail.  Sy wou graag ʼn vloeiende trourok hê en het definitief die perfekte keuse gemaak.  Zandré het vir ʼn minder formele styl gegaan en ʼn pragtige ligte troupak aangehad met ʼn wit hemp, sonder ʼn das.  Dit is nie altyd nodig om ʼn das by jou troupak te dra nie.

Hulle het ʼn prentjie mooi trou seremonie gehad omring deur die mooiste natuurtonele.  Die hele aardse gevoel kan gesien word, reg deur die paartjie se troue.  Hulle onthaal lokaal se dekor elemente was só mooi.  Ons is totaal en al verlief op die ligte kleure met tikseltjies donker kleure tussen in.

Die ligte hout tafels en die wit elemente daarop soos die klein potjies waar die blomme in is en ook die ligte servette staan so mooi uit.  Tikseltjies swart soos die borde en kerse asook die donkerder glase op die tafels bring weer die moderne gevoel in.  Gedroogte plaaslike grasse en plante is gebruik as blom ontwerpe op die tafels en dit pas perfek in by die hele aardse tema.

Mooi Troues se Trougids bied paartjies nie net oulike trou diensverskaffers nie, maar ook professionele en betroubare diensverskaffers wat jou droom troue ʼn realiteit kan maak.  Rol af om meer te lees oor Zandré en Ané se troue en ook hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het ontmoet op ʼn staptoer, op Towerkop.  Dit was die Desember vakansie van ons altwee se eerstejaar.  Na twee weke het ons begin uitgaan, en ons altwee het net gewéét dat ons die res van ons lewens met mekaar wil spandeer.  Ons het 4 jaar uitgegaan.

Die week van ons verlowing, druk die Here John 15:5 op my hart.  Ons worshipteam leier deel die Donderdagaand dieselfde vers.  Sondag, neem Zandré my Freedom Park toe, vra my tussen die combretums wat uitkyk oor die stad se horison of ek sy vroutjie sal wees.  Hy moet drie keer die vraag vra voor ek besef ek moet seker ‘ja’ sê want die oomblik is net vir my te groot.

Daarna ry ons in by my kommune, en voor my staan al ons vriende en my gesin.  Ek kon toe die trane nie meer keer nie, want die Here het vir my ʼn beste maatjie gegee wat my hart só goed verstaan.  ʼn Man wat my behoeftes op die hart dra.  My Pappa sê ʼn paar woorde en deel met ons, wraggies, John 15:5, op die 15de van die 5de maand.  Jesus is in elke detail.  John 15:5 is en sal altyd vir ons die mooiste belofte wees.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 4/5 maande verloof, Zandré het my in Mei gevra en ons is 9 Oktober 2022 getroud.  Dit het verby gevlieg omdat ek voltyds werk in Johannesburg (ons bly in Pretoria) en Zandré was 5de jaar medies.

Ons wou baie “personal touches” by ons troue hê en baie self doen om dit spesiaal en uniek aan ons te hou, en definitief om geld te spaar.  Ek het self albei my trourokke gemaak, die strooimeisie rokke, ons nagklere wat ons gedra het om in reg te maak, ek het die trou uitnodigings geverf.

Die trou dekor het ons meeste self gedoen, Zandré asook ons familie en vriende het baie daarmee gehelp.  Dit was harde werk, maar dit was ʼn geseënde tyd en as ons oor sou moes kies, sou ons dit weer so wou hê.  As ons terug kyk is ons so dankbaar vir die Here se tydsberekening, ons is só bly ons trou nie eers in Maart 2024 nie!

Trou Begroting:


Ons was so geseënd om altesaam R100,000 gehad het om mee te werk.  Ons en ons ouers het bygedra. Daar was 89 gaste genooi en amper almal het opgedaag!

My vriendin het vir my raad gegee wat ek ook vir enige verloofde paartjie sou sê: besluit op ʼn paar dinge wat vir julle die belangrikste is, skryf dit neer en neem dit in ag wanneer julle alle besluite neem.

Byvoorbeeld, wat vir ons baie belangrik was:
  1. Jesus
  2. Ons mense
  3. Die dekor (ek is ʼn landskapsargitek en estetika en kreatiwiteit is vir my baie belangrik)
  4. Goeie fotograaf
  5. Die uniekheid van die troue

Dit het ons baie gehelp om nie geld te spandeer op dinge wat nie vir ons so belangrik was nie.  Ons het 75% spandeer op die venue (dit het kos, platejoggie en standaard dekor ingesluit) 5% dekor, 10 % fotograaf, en 10% op die res. ’n Mens moet besluit wat die belangrikste is en op die res probeer spaar.  Inteendeel, hoe meer jy self doen en hoe meer jou vriende en familie deel is en bydra, hoe meer spesiaal is dit!  Ek belowe!  Dit maak dit net soveel meer uniek en eie aan julle.

Merkwaardigste Oomblikke:


Zandré:

Na die seremonie, toe hulle konfetti gooi en ons afstap as man en vrou.  En die kuier, speletjies en dans saam met al ons geliefdes.

Ané:

Die oomblik toe ek Zandré sien, ek het skoon my pa getrek om by hom uit te kom!  Mens kan in die fotos effens sien hoe ek my pa sleep kansel toe!

Ek, my sussie en boetie het “Love Remains” deur Collin Raye aan al die vader en moeder figure in my en Zandré se lewe gesing, dit was omtrent ʼn tranedal, maar só bitterlik spesiaal om so te kon dankie sê vir al hulle onvoorwaardelike liefde.

Die kuier en speletjies saam met ons geliefdes was ook ʼn hoogtepunt.

Spesiale Tradisies:


Ons wou nie jou gewone preek by ons troue hê nie, en het ons pastor gevra om Christelike tradisies wat in die Bybelse tyd baie gebruik is, in te bring.  Hy het ramshoring geblaas, ons toegegooi met ʼn tallit terwyl ons gaste gebid het vir ons en ons huwelik.  Ons het wyn gedrink en daarna die koppie gebreek onder ons voete, dit simboliseer die verbond van ons huwelik, dis net ons en die Here, niemand anders kan weer uit daardie koppie drink nie.

Paartjie se styl:


Ons styl is aards, geïnspireer deur elemente uit die natuur, karaktervol, simplisties en tydloos.  Ons hou van uniekheid en andersheid.

My ring is ʼn groen-blou saffier, ek wou nie ʼn diamant gehad het nie.  Die saffier is verskillende skakerings van groen in verskillende lig en ook wat ek aan het die dag.  Dis geset in ʼn bezel setting, wat volgens my baie tydloos is.

My trourok wou ek sag en vloeiend, eenvoudig maar met ʼn tikkie detail hê.  Die moue was modern en die res van die rok meer klassiek.  My tweede rok was ʼn kort rokkie.  Ek wou iets uniek en ‘funky’ doen so het op die interessante ontwerp besluit.

Die Besluitnemingsproses:


Ons vriende en familie was nie veel betrokke by besluit neem nie behalwe as ons hulle raad gevra het.  Die strooimeisie rokke het ek ontwerp op grond van wat my strooimeisies wou gehad het en weer sou dra.  Ek wou nie spesiaal vir elkeen ʼn rok maak en dan hang dit net in hulle kaste nie.

Zandré wou ek ook baie deel maak van die besluitnemingsproses. Ek het eenkeer gehoor dat mens mans nie moet oorweldig met te veel opsies nie.  Dus het ek vir hom my gunsteling 5 Pinterest dekor prentjies gewys en hy moes sy twee gunstelinge kies, daarna het ons saam die finale keuse gemaak.  Ek het hierdie metode gebruik met alle besluite waar hy betrokke was 🙂

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Hier en daar ietsie kleins, maar niks noemenswaardig nie.  Dalk was dit net omdat ons onsself voorberei het dat daar wel dinge gaan fout gaan en mens moet net die beste daarvan maak en nie dat dit jou onder kry nie.  Ons sou dalk meer tyd alleen wou hê, boek maar daai 15 minute uit vir net julle twee.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

Doen net wat eie aan julle is, moet jouself nie steur aan enige tradisies of verwagtings van die wêreld om ʼn tipiese troue te hê nie.  Werk al daai spesiale oomblikke en personal touches in. Customize so veel as wat jy kan.

Bruidegom:

Neem saam met jou verloofde deel aan elke aspek van die proses, maak seker dat sy weet dat jy regtig belangstel.  Dit is julle altwee se troue, en sy wil heel waarskynlik hê dat jy ook jou opinie lewer.

Vermaak:


Vir musiek het ek en Zandré playlists gemaak van al ons gunsteling liedjies, veral liedjies wat ons geluister het deur die 4 jaar van uitgaan. Venue Nouveau se platejoggie het die verskillende playlists deur die verloop van die aand gespeel en ook sy eie diskresie gebruik om vir ons ʼn lekker dans partytjie aan die gang te hou, niemand wou hê die aand moes eindig nie!

Ons speletjies was ʼn absolute hoogtepunt!  Ons het ʼn speletjie gespeel met die mans en die dames, almal het so lekker gelag en dit het die onthaal net soveel lekkerder gemaak. Die fotos van die mans met papier sake oor hulle koppe wys bietjie meer hiervan 😉

Venue & Dekor:


Toe ek en my man na venue pakette gekyk het, was Venue Nouveau een van die venues wat die meeste ingesluit het vir die beste prys, jy kry regtig alles in een.  Ons gaan kyk toe na Venue Nouveau, en was onmiddelik verlief!  Ons was veral mal oor die karaktervolle tafels en stoele, anders as wat ons by al die ander venues gesien het.  Die eienaars is die dierbaarste mense, hulle het regtig harte van goud. Mens kon werklik sien hoe hulle hart en siel in hulle venue is.  Dina, die eienaarres, doen die dekor, Lily Grace Flowers, en sy het soveel moeite gedoen al het ons begroting nie toegelaat vir vars blomme behalwe in die ruikers nie.

Omdat ek en Zandré so lief is vir stap, het ons oor naweke grasse gaan oes en gedroog.  Ek het ook potjies by tweedehandse winkels uitgesnuffel en geverf om op die tafels te gebruik.  Ons wou dit uniek en aards hê, sonder om ons begroting te breek.  En die feit dat meeste van die grasse wat ons gebruik het inheems was (NIE PAMPASS NIE) is ʼn bonus, ek is baie lief vir plante!

Gunsteling Diensverskaffers:


Ek kan nie kies tussen ons fotograaf en ons venue nie.

Moments by Carlia (Carlia Swart: Fotograaf) het vir ons soveel meer gegee as wat ons verwag het, sy het regtig al ons verwagtings oortref.  Sy het ons só gemaklik laat voel en elke spesiale oomblik perfek vasgevang.  Haar fotos is soos kuns, dit vertel stories van diep emosies.  Ek beveel haar aan enige paartjie aan!

Venue Nouveau het soveel meer gedoen as wat ons verwag het, en almal kon nie ophou praat oor hoe lekker die kos was en hoe mooi die venue was nie.  Dit was net ʼn plesier om met hulle te werk.

Wittebrood:


Ons was by Katrinasrust, en ons wil net terug gaan.  Ons het in die coolste dome cabin gebly wat die eienaars letterlik alles self gebou het.  Dit was die perfekte wittebrood bestemming, daar is baie dinge om te doen en sien op die plaas.  Dit is net 2,5 ure van Pretoria af maar dit voel omtrent asof jy in ʼn ander wêreld intree.

Eerste Dans:


Ons wou iets anders as die normale doen en het besluit om net ʼn vinnige opgewekte dansie te doen en sonbrille te dra op ʼn liedjie uit Shrek, “I’m a believer”.  Ons vriende het ons gehelp om die dans roetine uit te werk.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: