Dwayne & Rozell se Moderne Boheemse Styl Troue

Met opgewondenheid deel ons Dwayne en Rozell se moderne boheemse styl troue met Mooi Troues se lesers.  Hierdie pragtige paartjie het ʼn troue propvol inspirasie vir toekomstige paartjies wat besig is om hul troue te beplan.  Hulle wou graag ʼn boheemse styl troue hê, maar nogsteeds modern.  Dit het perfek uitgewerk en die twee style is so mooi gekombineer.

Vir hul uitrustings het hulle gegaan met ʼn baie neutrale kleurpalet.  Rozell se trourok is besonders mooi en definitief ʼn baie moderne styl.  Die tosseltjies aan die onderkant van haar trourok pas weer perfek in by die Boheemse gevoel.  Dwayne het ʼn ligte troupak aangehad, met ʼn wit hemp, sonder ʼn das.  Dit gee onmiddellik ʼn meer plat-op-die-aarde voorkoms sonder die das.

Die bruide se handruiker is werklik besonders.  Die gedroogte pampas met die spierwit rose is die perfekte kombinasie en het só mooi ingesmelt met hulle trou dekor elemente.  Vir hulle trou dekor het hulle die styl baie modern gehou en vir ʼn meer minimalistiese voorkoms gegaan, waaroor ons totaal en al dol oor is.

Gebrande oranje kleure kan gesien word op die ivoor kleurige tafeldoeke en brons eetgerei.  Blomme was minimaal gehou op die tafels en eerder klein potjies met enkele blomme kan gesien word op die tafels.  Lang maer kerse skep ʼn romantiese gevoel aan die trou tafel dekor.  Dit is definitief ʼn pragtige kombinasie van dekor elemente.

Rozell vertel dat sy baie inspirasie en trou diensverskaffers gevind het vanaf troues wat voorheen op Mooi Troues gepubliseer was.  Dit maak ons harte sommer baie bly.

Alles is moontlik met professionele trou diensverskaffers.  Besoek gerus Mooi Troues se Trougids vir oulike trou diensverskaffers. Rol af om meer te lees oor Dwayne en Rozell se moderne boheemse styl troue en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het by Dwayne se werk ontmoet.  Hy werk saam met my ma.  Ons het saamgewerk en na jaar of so begin kuier.  Ons is baie dieselfde so ons het sommer dadelik gekliek.

Op ons 2 jaar herdenking saam het hy my gevra om te trou in ʼn boomhuis die 17de September 2021.  Dit was by Pezulu tree house lodge.  Ons elkeen het ʼn geskenkie vir mekaar vir ons herdenking en ek wou heelpad dat hy syne oop maak. Hy het toe gesê okei en syne oop gemaak en toe wou ek ook myne oop maak. Hy het gesê nee ek moet wag tot ons daar is.

Toe ons uiteindelik daar aan kom toe gee hy vir my ʼn boksie (lyk soos ʼn trouring) toe ek dit oopmaak toe is dit ʼn hangertjie.  Ek was bietjie teleurgesteld en sê toe net dankie.  Toe sê hy ek moet ʼn boks oop maak, dit was Krispy Crème Doughnuts waarop daar “Trou met my” staan.  Toe ek na hom kyk toe is hy op sy knieg en vra my om te trou!

Die Verlowing Tydperk:


Ons was die 17de September 2021 verloof en het 6 Mei 2022 getrou. So ons was 8 maande verloof toe trou ons.  Alles het ek beplan en baie deur Mooi Troues gegaan om te kyk na verskaffers en ander paartjies se troues.  Ek het Pinterest ook gebruik en so begin Facebook en Instagram om almal te kontak en kwotasies te kry.  Ek het die fotos gekry en my man gewys waarvan ek hou en hy het dan gesê ja/nee. Hy was eintlik gelukkig met enige iets solank ek gelukkig is.  Hy het gesê al dra ek ʼn swartsak is hy gelukkig solank hy net met my kan trou,  So hy was nie gepla oor wat ek kies nie.

Inspirasie van Mooi Troues gekry:


Ek het Mooi Troues gebruik vir inspirasie en idees vir hoe ons troue moet lyk, asook mense se begrotings en fotograwe.  Ek het deur baie paartjies sin gegaan en gaan kyk na die venues en al die tipe verskaffers, daar was baie gewees.

Trou Begroting:


Ons wou nie meer as R150 000 spandeer nie.  Ons het bietjie oor ons begroting gegaan, maar net met ʼn paar duisend. Daar was 58 gaste onthaal en in terme van kostes sal ons vir ander paartjies advies wil gee om maar eerder bietjie duurder te spandeer aan dit wat julle graag as prioriteit beskou, soos blomme en dekor.

Die verskaffer wat ons gebruik het vir ons dekor en blomme was so R5,000 goedkoper as iemand anders wat baie meer ervaring het en al lank in die industrie is.  Ons is BAIE spyt ons het nie maar bietjie duurder betaal om iemand te kry wat weet wat hulle doen nie.  So moet nie bang wees om direk vir mense te sê wat jou verwagtinge is nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Rozell:

Toe ons by die kansel staan en ons geloftes aan mekaar lees.  Ek was so op my senuwees ek kan skaars als onthou by die kapel.  Ek het selfs baie vinnig geloop saam my pa by die gang af tot by die kapel.  Dit was seker 5 sekondes toe is ek voor.

Dwayne:

Toe ek (Rozell) by die kerk instap.

Vermaak:


Ons het ʼn photobooth gehad waar mense snaakse fotos kon neem, dit was by die platejoggie se prys ingesluit.

Paartjie se styl:


Ons het gehou van die “boho” tema, maar modern.

Die bruidsrok wou ek iets anders gehad het as al die ander bruide wat mense sien met die “lace”.  Ek het toe ʼn foto gesien van een van die fotograwe wat ek op Instagram volg wat ʼn “styled shoot” gehad het en toe ek die rok sien toe weet ek.  Ek het hom aangepas en hy het baie mooi gesit.  Die bruidegom se pak het ons by Oriental Plaza in Johannesburg gekoop.

My man wou nie ʼn duur ring gehad het nie, so ons het iets net gekoop vir die fotos by American Swiss, omdat hy hom net vir die troue gaan dra want hy hou van ʼn silikon ring.  My verlowingsring het my man gekoop by Ralph Jacobs Jewellery , en my trouring by Manser.  Ek het nog altyd ʼn foto gehad van ʼn ring en dit vir hom gewys en dis wat hy vir my gekoop het.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

Doen baie navorsing, moenie vir die goedkoopste gaan nie.  Die stelling van “goedkoop koop is duur koop” bly tog so waar.  Spandeer meeste van die geld op die dekor en blomme, die fotograaf en jou rok.  Ek voel dis die belangrikste en dis wat altyd uitstaan op ʼn troue.  Moenie gedruk voel en voel jy moet iemand kies omdat jy uit tyd uithardloop of so nie, maak seker dat jy gelukkig is veral by die mock setup.

Bruidegom:

Die dag is vir die bruidspaar om te geniet, saam met hulle geliefdes.  Als gaan nie noodwendig 100% korrek wees nie, maar dis wat jy daarvan maak.

Die Besluitnemingsproses:


Ek (die bruid) het die bruidegom gevra oor als en hy het dit net goedgekeur.  Geen familie of vriende was betrokke by die besluitnemingsproses nie, dis ons troue gewees so niemand anders het ʼn sê gehad nie.

Venue & Dekor:


Die venue was pragtig, dis presies ons styl en was baie modern en dis presies wat ons wou gehad het.  De Harte is ook bekostigbaar en in ons begroting, so toe ons gaan kyk het na die venue het ons dadelik geweet.  Ons het net na 1 venue gaan kyk en geweet.

Vir die dekor het ek Pinterest gebruik om idees te kry, asook Mooi troues om ander bruidspare se troue dekor te sien, en ook fotograwe se Instagram.

‘Nie-so-perfek’ oomblikke:


Die dekor en blomme was glad nie wat ons wou gehad het nie!  Die diensverskaffer het glad nie gedoen wat ons wou gehad het nie, ek het selfs fake blomme in my ruiker gehad. Niks het soos die prentjies gelyk nie.  Dit was glad nie eers so by ons mock setup nie.  Ek moes op die ou einde die venue se blomme dekor in die honeymoon suite gebruik het as my ruiker omdat myne fake blomme ingehad het en baie klein was.

My ma en die koördineerder by De Harte moes ook die arch gaan verander het en probeer maak soos die foto, dieselfde met my welkom bord se blomme. Die kerse was baie duur en dit het gelyk soos China Mall kerse.  Ek wens ons het eerder duurder betaal (net ʼn paar duisend ekstra) en iemand gekry met meer ervaring en baie meer fotos van wat hulle al gedoen het voorheen.  Ek sal ongelukkig haar vir niemand voorstel nie.

Eerste Dans:


Ja ons het, die liedjies was van Matthew Mole – The Wedding Song.  Die liedjie se woorde is baie na aan my hart.  Ons het nie gegaan vir danslesse nie ons het net mekaar vasgehou en gedans.  Ons het net so 1 of 2 keer voor die troue weer gedans.

Wittebrood:


Ons wou nog altyd Maldives toe gegaan het.  Ons het ʼn BAIE goeie Black Friday Special gekry by Priority Escapes en dit was die beste bestemming!  Die water is só blou soos al die fotos wat mense sien, daar is só baie vis-lewe.  Die wind waai vreeslik daar, maar dit was nogsteeds lekker.  Dit was vreeslik mooi daar gewees en sal enige tyd terug gaan.

Ons het ʼn paar Suid-Afrikaners ook daar ontmoet, een van die paartjies van SA het daar getrou.  Alles was net prentjie mooi.  Die goedkoopste tyd was lyk my Mei gewees om te gaan, dis soos hulle winter (dit reën by sommige eilande).

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: