Inus & Stephanie se Moderne Plaastroue in Swellendam

Inus en Stephanie se moderne plaastroue in Swellendam is een van daardie inskrywings wat jy nie moet mis nie.  Mooi Troues se lesers is totaal en al gek oor plaas troues.  Veral as dit nóg só mooi ook is, soos dié paartjie se troue.  Die paartjie se troue het ʼn tydlose swart en wit tema gehad wat só mooi deur die hele troue getrek het.

Stephanie het beeldskoon gelyk op haar troudag en so ook haar bruidegom, Inus, dapper in sy swart troupak.  Haar mooi fyn trouring was ontwerp deur die talentvolle Viljoen Juweliers, wat kenners is in die veld van juweliersware.  Mooi Troues se bruide ondersteun gereeld vir Viljoen Juweliers wat gebaseer is in Worcester, maar vir paartjies reg oor Suid Afrika pragtige juweliersware insluitende verloofringe, trouringe en meer ontwerp.

Die paartjie se buitelug seremonie was net so mooi.  Hulle het die pragtige landskappe van die plaas waar hul getrou het goed benut in hul fotosessie.  Nie net die pragtige groenigheid en grondpad nie, maar ook die berge en sagte sonlig in die agtergrond het gemaak vir die mooiste paartjie foto’s.

Hulle trou dekor is modern, met minimalistiese dekor elemente.  Dit het ook mooi ingepas by die wit en swart tema van hul troue.  Blomme was in klein potjies gesit op die tafels met die spierwit dun kerse wat bo dit uitstaan en ʼn baie romantiese atmosfeer aan die onthaal lokaal gee.  Dit was omtrent ʼn lekker bruilofsfees wat hulle trou gaste definitief nie sal vergeet nie.

Rol af om meer te lees oor Inus en Stephanie se moderne plaastroue in Swellendam en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het aan einde van ons Gr11 jaar op 17 by die ATKV jeugleier simposium ontmoet.  Hy was hoofseun by sy hoërskool en ek hoofdogter by myne.  Ons het dadelik gekliek en vinnig vriende geraak.  Ons het dieselfde sin vir humor gehad, albei op Struisbaai vakansie gehou het, en eintlik nogal baie vriende in gemeen gehad het.

Daardie Desember vakansie het ons saam gekuier en in ons matriekjaar (as vriende) saam Valentynsbal toe gegaan. Ons het deur ons matriekjaar kontak verloor tot hy saam met een van my vriendinne Matriekafskeid toe gegaan het.  Daar het ons weer dadelik gekliek het en net so lekker saam gelag soos met ons eerste ontmoeting … En soos hulle sê the rest is history.

Al was ons so jonk het ons altwee eintlik van die begin af al geweet dat ons in mekaar se lewens wil wees vir die langtermyn.  Hy het my vyf jaar later gevra om te trou met my droom verloofring.  Hy het die ding laat ontwerp na my smaak met ʼn erfstuk diamant van sy ouma.   Dié erfstuk diamant het vir ons en ons familie baie sentimentele waarde.  Na die verlowing het ons ʼn lekker informele braai gehou saam met ons naaste familie en vriende en dit was regtig net die perfekte dag.

Die Verlowing Tydperk:


Ons het in Desember 2021 verloof geraak na ons vyf jaar saam was.  Aangesien ons ʼn langafstand verhouding gehad het vir vier van die vyf jaar terwyl ek in Potch studeer het, het ons altyd geweet ons wil nie lank verloof wees nie. Ons wou mekaar elke dag kon sien en hê ons lewe saam as man en vrou moet so gou as moontlik begin.  Ons wou net so lank verloof wees soos dit sou vat om ʼn troue te beplan, nie ʼn dag langer nie!  Die trou datum was 1 Oktober 2022 en was ons minder as tien maande verloof.  Ons het nie ʼn trou koördineerder gehad nie en het alles self beplan.  Alhoewel ons verskriklik baie hulp en ondersteuning van ons familie, vriende en diensverskaffers gehad het.

Trou Begroting:


Ons het voor ons verlowing al besluit ons gaan eerder goedkoper trou en ons geldjies spaar om lekker lank te gaan wittebrood hou.  Dit was sonder twyfel die regte besluit vir ons as paartjie.  Ons het net oor 100 gaste gehad met ʼn begroting was ongeveer R110 000.  Dit was by tye moeilik, en ons moes sekere goed afskaal en sny.  Maar ons het binne ons begroting gebly met die oog op eerder ons geldjies spaar vir ons droom wittebrood.

Besluit vooraf hoeveel julle wil en kan spandeer aan elke aspek van julle troue.  Daar is geen reg, verkeerd, te veel of te min nie … Dis julle dag en op die ou einde hang dit van julle as paartjie af. Prioritiseer eerste die goed wat vir julle twee die belangrikste is, en maak ʼn bedrag vas wat julle daarvoor begroot.

Begin dan by die groot goed en sorteer dit eerste uit voor julle na die kleiner dinge beweeg.  Dit maak dit makliker om by jou besluite te hou as mens besef dat enige geldjies wat jy oor ou begrote hoeveelheid spandeer dan iewers anders afgeknyp gaan moet word.  Goed waarop ons egter nie sou afknyp nie is die fotograaf.  Die dag gaan só vinnig verby en op die ou einde is die fotos werklik al wat mens oor het.

Merkwaardigste Oomblikke:


Stephanie:

Om in die paadjie af te stap en hom daar onder te sien staan en wag vir my.  Al die stres en emosies wat met die hele beplanning proses gepaard gaan.  Al die blydskap, liefde, dankbaarheid, vreugde tref mens dan gelyk.

Die seremonie self en die Dominee se preek was vir my baie spesiaal omdat my beste vriendin se pa ons getrou het en omdat die preek spesiaal met ons 2 en ons liefdes storie gepraat het.  En dan natuurlik toe ons ons geloftes vir mekaar gelees het.  Dit is eintlik só ʼn spesiale kans wat mens kry om die goedjies wat mense elke dag voel, maar nie noodwendig altyd sê nie, aan jou spesiale persoon oor te dra.  Dit was ook vir ons vriende en familie baie spesiaal om dit met ons te kon deel en daar was knoppe in almal se kele en klomp tissues tussen die kerk bankies.

Inus:

Toe Stephanie by die paadjie afstap is beslis een van my hoogtepunte.  Die afwagting van maande se troue beplan.  Die opgewondenheid om haar in haar trourok as ʼn bruid te sien was baie spesiaal.  Dan ook ons eerste dans as Meneer en Mevrou.

Die Besluitnemingsproses:


Ek en Inus is beide mense wat hou van ander se insette, so ons het beslis advies gevra oor van ons keuses en baie op ons vriende, familie en diensverskaffers se knoppies gedruk.  Maar ons het ook vinnig agtergekom dat te veel opinies mens net nog meer deurmekaar kan maak.  So ons twee alleenlik het op die ou einde van die dag saam besluit oor die groot goed soos spyskaart, tafel plasings, musiek ens.

Inus het verder oor meeste van sy eie klere en sy strooijonkers se reëlings besluit.  Ek het meer besluite geneem oor die dekor en ander klein details waaraan die manne hulle nie altyd soveel steur nie.

Paartjie se styl:


Ons albei is baie simplistiese mense en hou van eenvoudige stylvol, tydloos en elegante elemente sonder te veel fieterjasies.  Ons minimalisties en swart en wit troue het ons styl baie goed vasgevang.  Dit is tydloos en elegant en spreek van eenvoud sonder pretensie.

Ons is redelik plat-op-die-aarde mense, en wou hê dat ons liefde vir mekaar en ons familie en vriende op die dag die show moes steel.  Alles anders was net plat-op-die-aarde, ʼn Afrikaanse troue en ʼn lekker kuier.

My trourok was ʼn baie eenvoudige silhoeëtte tog was die kralewerk daarop iets baie spesiaal en uniek.  Ek het gesoek na ʼn rok wat prakties lekker sou kon beweeg en dans en iets wat oor 50 jaar steeds elegant en stylvol sou wees. Inus se pak was ook net ʼn eenvoudige swart pak met ʼn wit hemp en dit pas vir my so perfek by hom.  Sterk, statig, selfversekerd en sonder pretensies.

Ons trouringe spreek ook van daai minimalistiese styl, met ʼn erfstuk diamant vir my verloofring met net ʼn eenvoudige goue pandjie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Inus:

Laat jou bruid die finale sê hê oor meerderheid van die goed wat nie vir jou so belangrik is nie.  Sy waardeer die klein detail meer as wat jy gaan.  By gesê het sy natuurlik ook meer stres as jy, vra waar jy kan help, wat jy by haar kan oorneem en ondersteun waar sy dit nodig het.

Stephanie:

Daar gaan vandat julle verloof raak, tot die dag wat jy trou soveel mense kommentaar lewer oor hoe, waar, wanneer en wat jy moet, of nie moet doen nie … As jy na almal luister en almal probeer gelukkig hou, gaan trou beplanning nie ʼn baie lekker ervaring vir jou wees nie.  Op die ou einde van die dag is al jou gaste daar om julle twee se liefde te vier.  So beplan die troue soos wat julle dit wil hê en soos dit julle as paartjie gelukkig maak, die res in plek val.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Daar was heelwat van hulle, maar gelukkig niks waarvoor ons nie ʼn plan kon maak nie.  Die Vrydag aand het die generator by die venue probleme begin gee a.g.v. die beurtkrag … Gelukkig kon die venue dit uitklaar voor die troue Saterdag middag.

Toe ek my rok moes aantrek het ons perongeluk die zippie in die lining van my rok vas gezip, toe sit hy halfpad op gezip vas.  Ons het seker 20 minute gesukkel om dit los te kry … Ek het al begin dink ons gaan die rok aan my moet vas steek met haakspelde.  Gelukkig is my ma altyd voorbereid vir die ergste en het sy ʼn naaldwerk stelletjie in die kar gehad.  Met haar en my twee sussies se hulp kon ons darem die zippie loskry.  Maar as ek eerlik moet wees was die bruidjie half paniekerig vir ʼn oomblik.

Toe ek in die paadjie af stap het my sluier aan een van die bankies in die bos kerkie gehak en uit my hare uit getrek.  Weereens het my ma vinnig gespring om dit vir my reg te maak.  Dit het eintlik ʼn comic relief oomblik geskep van lekker lag wat die ergste senuwees en trane gekeer het.

Spesiale Tradisies:


My pa wat my in die paadjie af stap was vir my ʼn baie spesiale tradisie en groot voorreg.  Ons het ook die tradisionele Pa-en-Dogter en Ma-en-Seun danse gedoen.  Ons het die ruiker en kousband later die aand gegooi.  My sussie het die ruiker gevang en haar kêrel die kousband!  So, ons sien uit na die volgende familie troue!

Venue & Dekor:


Die venue is lekker sentraal tussen Swellendam en Robertson (ons onderskeie tuisdorpe).  Ons wou graag iets hê wat naby genoeg is dat meeste van ons familie, vriende en gaste nie ver hoef te ry nie.  Die venue het ook ʼn lieflike kampplek langs die rivier en akkommodasie huisies vir van die gaste wat verder moes reis om in te oornag.

Die saal en bos-kerkie is langs die rivier geleë tussen die Langeberge die natuurskoon was regtig een van die groot redes agter ons keuse.  Dit was ʼn vanselfsprekende opsie en die perfekte blank canvas vir die plat-op-die-aarde troue wat ons ingedagte gehad het, waar mens nie baie hoef te doen om die venue mooi te maak nie, en ons gaste gemaklik, en lekker saam met ons kon kuier vir die hele naweek.

Ons het vir minimalistiese swart en wit dekor gegaan op die hout tafels met vars blomme, kerse en glas houers om alles lig en skoon te hou.

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad wat vir ons musiek gemaak het die hele aand.  Hy het regtig die gaste se smaak so goed gelees en presies geweet wanneer om watter tipe liedjies te speel. Hy het die dansbaan heel aand vol gehou.  Dit was ʼn lekker jol!

Dan het ons ook ʼn paar grasperk speletjies soos Giant Jenga gehuur vir ons gaste om te speel tydens die harvest table en pre-drinks en terwyl ons fotos geneem het.

Gunsteling Diensverskaffers:


Definitief Karen Smit wat ons harvest table, hoofgereg en koek gedoen het.  Ek werk in die voedselindustrie en kos was vir my baie belangrik.  Karen het al ons wildste verwagtinge oortref en ons kry nogsteeds maande later komplimente oor die kos.

Die ander persoon wat ons sonder twyfel moet uitlig is Ananda Claassen ons fotograaf.  Sy het uit haar pad uit gegaan op elke liewe vlak en baie meer gedoen vir ons as wat ʼn fotograaf se gewone pligte en kontrak behels.  Selfs na ons troue reeds verby was, het sy regtig “above & beyond” gegaan om ons fotos by ons uit te kry.  Net oor die algemeen seker gemaak ons is gelukkig en tevrede.

Die laaste persoon wie ek moet uitlig is Christi Conradie by La Flor.  Ek kon van die begin af my semi-deurmekaar planne en idees met hom deel en hy het presies geweet hoe om dit ʼn realiteit te maak.  Selfs beter as wat ek dit visualiseer het.  Die blomme en dekor is regtig een ding wat ek eenkeer oor besluit het en nooit weer aan hoef te gedink het nie, bloot omdat hy só ongelooflik bekwaam is.  Enige bruid se droom!

Eerste Dans:


Ek en Inus was nog altyd baie lief vir dans.  Ons het sommer net eie aan onsself, sonder enige oefening of beplanning weg geval en die dansbaan geopen.  Die liedjie was She’s Mine van Kip Moore omdat ons albei mal is oor sy musiek.  Ons het gevoel het dis ʼn lekker prettige manier om die meer informele sosiale gedeelte van die aand af te skop.

Wittebrood:


Ons was vandat ons verloof geraak het amper net só opgewonde oor die wittebrood, soos oor ons troue.  Ek wou nog altyd Bali toe gegaan het, maar was bekommerd dat die Covid regulasies dit nie sou toelaat nie.

Omtrent halfpad deur ons trou beplanning het Bali sy grense weer oopgemaak vir internasionale besoekers en ons was deur die wolke en het dadelik begin beplan.  Ons was vir elf dae in Bali en het onsself ten volle in die pragtige land en unieke kultuur ingeleef.

Met ʼn propvol skedule van tempel en rys terras besoeke tot Indonesiese kookklasse en snorkel was dit sonder twyfel een van ons hoogtepunt en ʼn welverdiende breek na die jaar se werk en troue beplan.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: