Coenie & Juliaan se Vrolike Troue in Mpumalanga

Ons is sommer baie opgewonde om Coenie en Juliaan se vrolike troue in Mpumalanga met Mooi Troues se lesers te deel.  Hulle het by die pragtige trouvenue, Mount High Country Estate in Lydenburg getrou, omring met van die mooiste uitsigte wat jy sal kan kry in die gebied.  Dit is enige paartjie se droom trou bestemming, veral wanneer paartjies daardie uitsigte in persoon ervaar.  Die perfekte agtergrond vir enige troue.

Hulle buitelug seremonie is besonders mooi en gaste kon nie net die paartjie se spesiale seremonie geniet nie, maar ook die pragtige uitsigte en mooie natuurskoon wat hul omring.   Die ligging maak dit maklik vir trou fotograwe om pragtige agtergronde te hê vir paartjies se trou foto’s.

Mount High Country Estate se trou onthaal lokaal is perfek vir hierdie paartjie se troue.  Die wit tafeldoeke en die skakerings van koraal en perske kleure skep so ʼn mooi kontras met die rou baksteen mure.  Die trou venue se dubbel volume dak wat wit is met die donker balke en die kandelare wat van hoog uit die dak hang is só mooi. Blom ontwerpe kan reg deur die onthaal lokaal gesien word en ook ook vanuit die dak.

Rol af om meer te lees oor Coenie en Juliaan se liefdesreis en troubeplanning, as ook hulle vrolike troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons ken mekaar van skool af, maar het mekaar eers op universiteit gevind waar ons saam studeer het.

Ons het een aand by ʼn vriend se huis gebraai.  Ek onthou nog soos gister; ons het op ʼn bank gesit en gesels en ek het heeltyd gedink die man het die mooiste blou oë in die hele wêreld.  Hy het daardie aand vir my gesê hy gaan eendag met my trou.

En hier is ons vandag …

Verlowing:

Ek het in Nelspruit gewerk en Coenie het sy biokinetika internskap in Hartenbos gedoen.  Hy het ʼn naweek weg gereël met my en sy gesinnetjies en my kom verras.  Ons was Dullstroom toe vir die naweek.

Die Vrydag middag in Dullstroom wou ons ʼn sjampanje by die waterval gaan drink (my pa het die Vrydag verjaar so dit was nie vir my vreemd nie).  By die waterval kom Coenie agter ʼn bos uit gestap.😂  Hy moes vir omtrent ʼn uur agter daardie bossie weg gekruip het.  Hy vra my toe daar om te trou.  Dit was só ʼn spesiale oomblik – ek is só bly dat ons dit met ons naaste mensies kon deel, dit was vir my baie belangrik dat hulle daar sou wees as hy eendag die groot vraag vra.  Dit was die mees perfekte oomblik.

Die Verlowing Tydperk:


Coenie het my 19 November 2021 (op my pa se verjaarsdag) gevra om te trou en ons het toe presies een jaar daarna, 19 November 2022, getrou.

Trou Begroting:


Ek dink die finale getal draai hier by die R300 000.

Dit was seker die een aspek wat die padjie na ons troudag baie keer onnodig moeilik gemaak het – hoeveel dit alles gaan kos.  As dit kom by ʼn troue voel dit of alles soveel duurder is as normaalweg.

Maar ek is nie vir een oomblik spyt nie – dit was ʼn dag wat ek vir niks in die wêreld sal verruil nie.  Elke oomblik was perfek.  Ons is baie bevoorreg en ook baie dankbaar vir ons ouers wat ons gehelp het.

Ons moes ons gastelys van 140, na 80 gaste sny.  En eks só bly ons het.  Die dag was intiem en spesiaal omdat net ons hartsmense daar was om die dag met ons te deel.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek kan letterlik nie aan een oomblik dink nie.  Ek sal niks van die dag wil verander nie.

Dit het so uur voor die seremonie begin reën.  Siende dat dit ʼn buitelug seremonie was, was ek so klein bietjie paniekerig.  Maar ek het geweet dat die moontlikheid vir reën daar was en het vooraf besluit dat ons dag só spesiaal gaan wees en dat alles gaan gebeur soos dit moet.  Ek wou regtig net elke oomblik inneem en teenwoordig wees en nie onnodig stres oor klein goedjies nie …

So vyf minute voor die gaste begin arriveer het, het dit begin ooptrek en die sonnetjie het agter die wolke uit geloer en oor die Lydenburg berge geskyn.  Dit was pragtig!!!  En so so spesiaal!  Almal sê dit spreek baie seëninge oor ons huwelik.

Paartjie se styl:


Vrolik, lig en intiem.

Eks mal oor simplisty.  Ek wou ʼn baie eenvoudige rok dra met ʼn oop rug. Die rug was vir my die sellingpoint.

Ek en Coenie het besluit dat mens net eenkeer trou en daarom moet dit in ʼn wit rok en swart pak wees.  Ek kon nie wag om hom in ʼn swart pak te sien nie. 😍

Merkwaardigste Oomblikke:


ALLES!!!!

  • Die seremonie – Ek was mal oor die feit dat ons na ons gaste gekyk het.  Dit was glad nie beplan nie.
  • Ons geloftes – Dit was een van die spesiaalste oomblik en ons sal vir altyd die beloftes wat ons vir mekaar gemaak het by ons dra.
  • Ring draers – Ons hondjies het ons ringetjies in gebring.  Benji (Chihuahua) is my hondjie en het Coenie se ringetjie gedra en Max (Border Collie) is Coenie se hondjie en het my ringetjies gedra.
  • My oorbelle – Trougeskenk van my ouers af met diamantjies wat in my Ouma se trouring was.
  • Spyseniering – Burgers en chips, nagereg was roomys cones en ons het vir midnight snacks pizzas gehad.  Almal het dit baie geniet.
  • Platejoggie – Ons DJ was ongelooflik en die dansvloer was die hele aand vol gewees.

Die Besluitnemingsproses:


Ek het definitief die meeste van die besluite geneem.  Maar Coenie wou altyd deel wees en wou graag sien wat my idees was.  Hy het die hele proses baie maklik gemaak.  Coenie moes die platejoggie reël en het ʼn baie goeie werk gedoen, DJ Jaden was amazing.😂

My vriendinne was ongelooflik en het my só baie gehelp met trou skryfbehoeftes en dekor wat hulle laat maak het.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruid:

No worries. Be gracious with yourself (and soon to be hubby).  Ek weet dit is makliker gesê as gedaan, maar dit was vir my bitter belangrik en ek moes dit só baie vir myself sê.  Ek wou alles geniet en teenwoordig wees selfs met die klein dingetjies in die op loop na ons troudag.

Bruidegom:

Wees baie teenwoordig in die beplanning en opbou na die troudag toe. Net soos die troue gaan die hele verlowing tydperk in ʼn oogwink verby.  Dit was regtig nog die mees spesiale tydperk in my lewe.  Ek kan nie wag vir die toekoms saam met my vrou nie.

Venue & Dekor:


Mount High Luxury Country Estate (Lydenburg)

My mamma het die venue gevind en ons het dit gekies sonder om dit een keer in lewende lywe te sien.  Ons ouers het ons slegs videocall toe hulle na die venue gaan kyk het en ons was mal daaroor van die begin af.  Ons het afgetrek Hartenbos toe einde 2021 en kon daarom nie gaan kyk nie.  Coenie het die venue op ons trou naweek vir die eerste keer gesien. Dit was my tweede keer daar.

Ek was van die begin af so gemaklik met Santie en Tippie (koördineerder en sjef) – en dit was vir my baie belangrik.

Ek het besluit op die ligte peach kleur blomme, omdat dit my ouers se trou kleure was.  Verder wou ek net iets vrolik hê.

Gunsteling Diensverskaffers:


Wittebrood:


Ons was Drakensberge toe (Cathedral Peak Hotel). Nie een van ons was al daar gewees nie, so dit was die perfekte opsie.  My man kan nie stil sit nie, ons moet altyd iets doen.  So ons het die buitelug aktiwiteite baie geniet. EN dit is sooo romanties.  Dit het gevoel of ons in ʼn ander land is.

Eerste Dans:


WOW!  Dit het gevoel soos uit ʼn sprokiesverhaal.  Ons het Heaven van Calum Scott gekies.  Want, wel, ons liefde is regtig soos hemel op aarde!!!

Ons het so paar aande die banke voor die TV weg geskuif en sommer op YouTube danse gesoek en dit geoefen.  Maar ons het egter nader aan die tyd besluit dat die oomblik spontaan moet wees.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: