Gustav & Cianté se Moderne Rustieke Troue in Pretoria

In dié inskrywing deel ons Gustav en Cianté se moderne rustieke troue in Pretoria met Mooi Troues se lesers.  Hierdie paartjie het ʼn pragtige troudag gehad wat jy definitief nie moet mis nie.  Cianté en Gustav het die mooiste trou seremonie in die buitelug gehad, omring deur die pragtige natuurskoon.

ʼn Baie belangrike deel van enige paartjie se trou beplanning proses voor hul troudag is die huweliksvoorwaardekontrak.  Die paartjie het gebruik gemaak van CVH Ingelyf Prokureurs.  ʼn Professionele prokureurs firma wat na die belange van al hul kliënte na kyk.

Stefan Coetzee Photographics, ʼn talentvolle trou fotograaf, het hulle troudag vasgevang in die mooiste foto’s.  Ons kon sien die paartjie was op hulle gemak voor die kamera.  Stefan is gebaseer in Pretoria, maar reis graag landwyd om pragtige troues af te neem.  As jy sulke pragtige foto’s wil hê soos die paartjie, kontak gerus die fotograaf.

Ons is totaal en al verlief op die paartjie se trou dekor.  Hulle het gegaan vir meer neutrale kleure vir die trou dekor met tikseltjies groenigheid tussen in.  Dit het ʼn amper rustieke gevoel tot dit, maar nogsteeds so modern.  Met die ligte hout tafels en hout stoele gekombineer met die klip muur van die kaggel en die dubbel volume hout dak, gee ʼn romantiese kontras.

Die paartjie se tafel was só mooi voor die groot glasruite wat al die kerse en ligte in reflekteer.  Groot blom ontwerpe kan gesien word op die paartjie se tafel en ook wat vanuit die dak hang bo hul tafel. Die onthaal lokaal het ʼn baie romantiese en stylvolle atmosfeer gehad.  Hulle het baie kerse op die tafels gehad wat só mooi gewerk het by die hele gevoel van hulle trou dekor.

Rol af en lees meer oor die paartjie se liefdesreis en hulle moderne rustieke troue in Pretoria.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het ontmoet in 2015.   Albei van ons was eerstejaars studente by die Noord-Wes Universiteit, Potchefstroom.  Ons het eers begin as kennisse wat ʼn groepstaak moes voltooi, fisiologie was die enigste vak wat ons saam gehad het as Apteker en Dieetkunde studente.

In die begin van 2016 het Gustav besluit dat hy my gaan vra om koffie te gaan drink.  Ons klasmaats is toevallig goeie vriende en het so bietjie gehelp om vir Gustav moed te gee om my nommer te vra.  Nietemin het ons geweet dat na daardie koffie afspraak sou ons onskeibaar wees.

Gustav het my gevra om te trou op 28 September 2021. Ons was op ʼn vakansie in die Kaap gewees en het by vriende gaan kuier in Stellenbosch die dag.  Tydens sonsondergang op Longridge Wine Estate, het Gustav by die restaurant se balkon my verras met sjampanje, aarbeie en southappies, wat uitkyk oor die mooiste wingerde.  Met hulp van ons vriende wat gehelp het met die beplanning en die ring vooraf haal optel het by Cape Diamonds, was hierdie oomblik baie onverwags en romanties gewees.

Trou Begroting:


Ons begroting was ʼn BAIE flexible R100 000, omdat ons self die wittebrood ook in berekening moes bring.  Ons het omtrent 70 gaste onthaal.  Met die begroting het ons probeer om daarby te bly, maar tog is daar altyd onvoorsiene uitgawes wat sal by kom.

Advies:

Julle moet ingedagte hou wat julle graag op die troue wil hê en dit prioritiseer.  Daarna die kleiner goedjies los vir laaste wat nie so belangrik is nie, indien jy dit moet uitsny as jy oor die begroting gaan.  Nooi net mense waarmee jy te doen gehad het in die laaste 6 maande en beperk die ”plus-one” vir mense wat getroud is, verloof is, in ʼn ernstige verhouding is of as jy die metgesel persoonlik ken.  Moet nie op enige ekstras geld spandeer wat die gaste in elk geval nie gaan oplet voor of onthou nie.  Doen dit wat julle as bruidspaar saam gaan herinner oor die dag en die oomblikke meer merkwaardig gaan maak.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was verloof vir 11 maande.  Ons het die troue semi-self beplan, met die hulp van Venue Nouveau se ”all-inclusive wedding package”.  Hulle het dit vir ons ontsettend maklik gemaak en die trou koördineerder het seker gemaak dat die dag glad verloop sonder enige probleme.  Cianté het van die begin af geweet wat die tema en kleurskema gaan wees wat die res baie maklik gemaak het.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Niks het eintlik verkeerd geloop nie.  Ons het net van klein details vergeet, soos byvoorbeeld die troukar.  Die bruidegom en al sy strooijonkers het al by die kansel gestaan, toe een van die strooijonkers vra “Hoe gaan die girls hier kom?”.  Een van die strooijonkers het toe afgehol om my (Gustav) se kar te gaan haal om Her Royal Highness en die bruidsmeisies te vervoer.

Merkwaardigste Oomblikke:


Voorbereiding vir die groot dag was beslis ʼn merkwaardige oomblik gewees vir ons altwee.  Die opgewondenheid, saam met die vonkelwyn het die emosies laat borrel.  Afwagting was het definitief knieë lam gevoel gegee vir Gustav voordat ek verskyn het.  Sy knieë het letterlik lam geword toe die bruidsmeisies begin afstap.  Hulle moes ʼn oomblik die musiek stop sodat Gustav weer regop kon staan.

Die buite-seremonie was asemrowend en het ʼn hemelryke gevoel gegee met die son se strale wat oor die berg loer, die natuurlike uitsig was die perfekte opset vir ʼn pragtige en romantiese troue. Die onthaal was ʼn mengsel van natuur, roes en simplisiteit, met kleurskemas wat noukeurig uitgekies was.

Spesiale Tradisies:


Tydens die seremonie het ons kerse aangesteek, wat simboliseer dat ons as twee individue verenig word met ʼn onskeibare vlam, wat ons blywende toewyding aan mekaar beloof.

Vermaak:


Die platejoggie was voorsien deur die venue en ons het vooraf besluit op Franse musiek vir wanneer die canape’s bedien word en meer tradisionele musiek wat gebruik gaan word vir die onthaal.

Paartjie se styl:


Timeless, antique, detail … hierdie woorde beskryf die styl waarna ons gestreef het met ons uitrustings. Die kleure was onvoorspelbaar en ongewoon vir lente, maar het by ons altwee se gelaatskleure en styl gepas.

Cianté trou rok was noukeurig beplan om tydloos, tradisioneel maar ook dinamies te wees.  Die rok het drie gedaante verwisselings ondergaan met elke stadium van die troue.  Tydens die seremonie was die rok gekomplimenteer met ʼn lang dramatiese sleep, romp en lang ragfyn kant moue, wat ʼn tradisionele voorkoms uitgebeeld het.  Tydens die fotosessie het die sleep en romp afgekom, hierdie het die gevoel gegee van ʼn tydlose styl.  Vir die onthaal het die rok ʼn vars voorkoms gegee nadat die lang ragfyn kant moue kon afhaal, en slegs kapmoutjies oorlaat.  Vir die eerste dans kon die bruid bietjie meer gemaklik raak en die kap moutjies vas klip en die rok verander in ʼn verleidelike skouerlose korsette styl rok.

Gustav het baie aantreklik gelyk in sy grys dubbelbors snyerspak, wat ʼn aristokratiese voorkoms uitgebeeld het. Die bruidegom se das en sak vierkant het die warm kleure en natuurlike roes gevoel uitgebeeld van die troue.

Gustav het die bruid se verloofring laat maak deur Cape Diamonds.  Dit is ʼn platinum met die voorkoms van ʼn fynbos blom wat die diamante (1×1.0ct round brilliant-cut en 2×0.2ct pear-cut) saggies in plek hou. Die Blushing Bride ring van hul Fynbos reeks herinner ons aan die tyd toe ons moes ”long-distance” as gevolg van werksomstandighede. (Gustav het in die Kaap gewerk en Cianté was in Potchefstroom).

Cianté se trouring was ontwerp en vervaardig deur HDL Jewellers in Bloemfontein, wat definitief die bruid se natuurlike voorkoms van die verloofring ʼn antieke voorkoms gee.  Gustav dra ʼn polished tungsten ring wat simplisiteit teenwoordig.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Bruidegom:
  1. Moenie te veel stres oor die bruidegom toespraak nie.  Jou strooijonkers gaan jou met water spuit en jou baie in die rede val.  So niemand gaan agterkom as jy bietjie hakkel of ʼn paar woorde vergeet nie. Memoriseer die belangrike mense vir wie jy moet bedank en maak dit op soos jy gaan. Na die bedankings, en wanneer die strooijonkers se watergewere leeg is, kan jy by die ”diep” deel kom waar jy vir jou nuwe vrou iets mooi sê.  Sodoende sal jy die ligte goed afhandel in die begin van die toespraak, en teen die tyd wat jy klaar gepraat het oor jou vrou, sal almal tjank.
  2. Moenie te veel alkohol drink op jou troue nie.  Jy wil dit eintlik onthou.  Daar gaan definitief mense wees wat wil ”shots” koop, en dan kan jy dit saam met hulle geniet, maar drink die res van die tyd water.  As jy met ʼn besope lyf later daai aand saam met jou vrou in die bed moet klim gaan die beste aand van jou lewe versuur wees.
  3. Dis JOU troue, JY het betaal!  Vanaand skep jy voor almal kos!
Bruid:
  1. Voorkom onnodige en duur papier en drukwerk, gaan elektronies met die “save the date” en trou uitnodigings.
  2. Moet nie onnodig geld spandeer aan geskenkies en allerhande fieterjasies op die tafels nie.  Die gaste sien dit soms nie eers raak nie. Gebruik die venue se dekor, al is dit nie presies is wat jy sou wou hê nie.
  3. Moet nie te lank voor die tyd op ʼn pakket besluit met ʼn sekere hoeveelheid gaste nie.  Die lewe is onvoorspelbaar en nie al die gaste daag op nie.  Beding ʼn reëling met die venue dat jy op die nippertjie jou getalle kan vasmaak.

Venue & Dekor:


Cianté het van Venue Nouvea gesien by die bruidskou in Pretoria.  Hierdie trou venue se atmosfeer en all inclusive pakkette was perfek gewees vir ons wat baie lang ure werk en nie tyd het om alles self te kon beplan nie.

Bergbelofte is waar die seremonie gehou was.  Hierdie intieme atmosfeer met ʼn aardse gevoel, het definitief by ons visie ingepas waarvoor ons gegaan het.  Ons wou graag streef na ʼn venue waar die natuur deel is van die trou dekor.  Die venue gee ʼn rustieke gevoel, met die gebou styl wat ons herinner aan die Franse platteland.

Besluitnemingsproses:


Die bruid het meer finale besluite gemaak want sy het definitiewe idees gehad.  Dit was in baie opsigte ʼn groot verrassing vir al die naaste familie en vriende.  Die rolspelers by die venue het die keuses baie vergemaklik in die sin dat hulle die bruid se visie dadelik gesnap het en tot op die kleinste detail uitgevoer het.

Gunsteling Diensverskaffers:


Die fotograaf het ʼn fyn aanvoeling gehad vir ons styl en die ruimte waarin ons gewerk het.  Hy beskik oor die beste vaardighede om ons mooiste en mees emosionele oomblikke te verewig op film.

Die spyskaart het in elke persoon se smaak geval met verskeie opsies om van te kies.  Al ons gaste was baie beïndruk met die kos.

Die venue het absoluut uit hul pad uit gegaan om die dag perfek te maak.  Dekor, blomme en die atmosfeer was perfek gewees.

Die troukoek was definitief ʼn groot verrassing gewees.  Ons het net geweet dat dit ʼn naked cake gaan wees wat versier gaan wees met blomme en ons kleurskema van die troue.  Dit was die mooiste en smaaklikste koek gewees wat ons en die gaste geniet het.

Eerste Dans:


Ons het vir maande lank elke aand vir mekaar gesê ”Ons moet ons dans oefen!”  Maar elke keer was ons regtig te uitgeput na baie lang skofte in die apteek en hospitaal.  Ons het die aand van ons troue vir die eerste keer in MAANDE gedans.  So ons het die hele dans maar opgemaak soos wat ons gegaan het.  Ons het besluit op Stephen Sanchez – Until I found you.

Wittebrood:


Onthou na die troue is mens baie moeg, beplan ʼn wittebrood waar jy regtig kan rus en nie teveel opwinding en aktiwiteite insluit nie.  Dit moet eerder intiem wees en min reistyd in beslag neem, veral as verlofdae beperk is.

Ons het besluit om ʼn deel van Suid-Afrika wat ons albei nog nooit tevore besoek het nie saam te verken.  Ons was by verskeie plekke onder andere Wilderness, Tsitsikamma en Knysna.  Die bestemmings was afgesonder met natuur skoonheid wat jou omring.  Dit het die wittebrood baie intiem gemaak.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: