Met vreeslike opgewondenheid deel ons Henco en Leandra se winter troue in die Koue Bokkeveld met julle. Die paartjie se winter troue is iets besonders en bied soveel inspirasie vir paartjies wat opsoek is na idees vir winter troue. Leandra het so mooi gelyk en ons het sommer onmiddellik haar pragtige oorbelle van Hellohaai raakgesien. Hellohaai maak die mooiste hand gemaakte polimeer-klei oorbelle vir bruide.
Die paartjie het by die pragtige plaas, Kaleo Gasteplaas getrou. Kaleo Gasteplaas bied paartjies nie net ʼn fantastiese trou venue nie, maar ook vriendelike gasvryheid en baie oulike verblyf opsies. Slegs twee ure se ry vanaf Kaapstad en jy is by die mooiste plaas omring deur skilderagtige landskappe.
Leandra en Henco se seremonie was in Kaleo Gasteplaas se pragtige rou klip en steen kapel gewees. Enige paartjie se droom kapel. Hout balke en ʼn sinkplaat dak en in kontras die mooi kandelare wat vanuit die dak hang, gee die perfekte rustieke en moderne balans.
Die paartjie se trou dekor was skakerings van ligte neutrale kleure met tikseltjies terracotta, goud en pienke. Dit is die perfekte kombinasie en pas perfek by Kaleo se trou venue. Fyn blomme rangskikkings kan gesien word op die trou tafels en baie kerse. Die kerse skep ʼn romantiese en gesellige atmosfeer wat dit die snoesige omgewing maak vir ʼn lekker kuier saam met vriende en familie.
Hulle het ook ʼn oulike koffiestasie gehad waar heerlike koffie en warm sjokolade bedien was. Dit is mos nou hoe ʼn winter troue gevier moet word. Rol af om meer te lees oor Henco en Leandra se winter troue in die Koue Bokkeveld en ook hulle reis as paartjie. Kry ook inspirasie vir julle eie winter troue.
Paartjie se Liefdesreis:
Mei 2019, ontmoet Henco en Leandra as kollegas by die nuwe werk waar Leandra in Stellenbosch begin. Vir meer as ʼn jaar en ʼn half is hulle “niks meer as net vriende” maar Henco het nie moed op sy trouvrou verloor.
In September 2020 begin die paartjie vir die eerste keer uitgaan. Desember 2021 was daar nog geen sprake van ring-koop nie (of so het Leandra gedink). Dis begin April 2022, op hulle 1 jaar en 6-maande herdenking wat Henco vir Leandra laat weet dat sy mooi moet aantrek, want hy het iets spesiaal beplan. Henco het ʼn fotosessie vir hulle gereël “want Leandra wou nog altyd een hê”. Dit is toe immers die perfekte geleentheid vir Henco om Leandra te vra om met hom te trou, en natuurlik enige meisie se droom om professionele fotos daarvan te hê.
Die Verlowing Tydperk:
Soos meeste paartjies wou ons ook in die somer trou. Ons het vinnig besef dat 2022/2023 se somer verskaffers reeds baie vol bespreek is en ons moontlik eers laat-somer 2023 die knoop deur sal kan haak. Henco het vasgeskop en gesê hy kan nie só lank wag nie. Hy het gevra: “Hoe vinnig kan jy ʼn troue beplan?” sonder om te blik of bloos grap ek terug en sê, “gee my drie maande”. Henco besluit toe net daar, dat ons oor 3 maande trou.
Ons het aan die idee van ʼn winter troue begin gewoond raak en begin beplan. Die eerste beskikbare datum vir ʼn venue en ons droom fotograaf was toe 30 Julie 2022. Met ʼn oulike ma soos myne, het ek nie ʼn trou beplanner nodig gehad nie. My ma het baie ondervinding in die bedryf en my mooi gelei en gehelp om my eie winter troue te beplan. Ons was in totaal net minder as 4 maande verloof. (4 April 2022 – 30 Julie 2022)
Trou Begroting:
Ons het R120 000 begroot vir 80 mense en het meer as R40 000 oor-spandeer. Ons skryf dit grootliks toe aan onbeplande DIY uitgawes (soos verf- ons het meer as R3,000 aan verf en spraypaint spandeer) en ʼn onrealistiese begroting van die rok, pak en bykomstighede waaraan ons nie gedink het nie.
Die grootste raad t.o.v. koste is dat ʼn begroting ongelooflik belangrik is. Dit help met so baie besluite en is ʼn goeie riglyn van wat nog moet beplan word. Sonder ʼn begroting sou ons beslis baie meer spandeer het.
Die Besluitnemingsproses:
Leandra het meeste van die beplanning gedoen en Henco betrek by die groot besluite. Henco en Leandra was altwee gemaklik met die algemene styl. Leandra het voor gevat om die wiele aan die rol te hou. Die ouerpare het albei ʼn finansiële bydrae gemaak en was gemaklik dat die paartjie hulle dag beplan soos hulle dit insien. Die bruidspaar het beide ouerpare betrek by die spyskaart-keuses en probeer om soveel moontlik van die proses en beplanning te deel.
Ons het die gastelys saam uiteengesit en almal neergeskryf wie hulle daar wou hê (insluitend familie en kollegas). Daarna het hulle vir beide ouerpare die opsie gegee om 10 addisionele persone van hulle keuse te nooi.
Merkwaardigste Oomblikke:
Leandra:
Almal sê dit, maar die dag gaan SO vinnig verby. In ʼn oogwink is jou hare mooigemaak, jou grimering gedoen en die rok aan jou lyf.
Die emosie van die seremonie was baie en die opwinding meer. ʼn Hoogtepunt was beslis om in mekaar se oë te kyk en vir ewig te belowe voor God.
Behalwe al die kosbare oomblikke tussen-in, was een van die lekkerste oomblikke vir my toe ons as man en vrou gaan fotos neem het. Vir die eerste keer het dit gevoel of die dag ʼn bietjie stil staan en dit nét ons twee is. Of die oomblik kon in sink en ons vir amper twee ure net in mekaar se oë kon kyk en fluister hoe lief ons mekaar het. Na dit het dit sommer gevoel of ons REGTIG getroud is.
Henco:
“Die oomblik toe ek my bruid in die paadjie sien aankom”. Henco vertel dat hy nie gedink het hy sou huil nie, maar dat hy nie die trane kon keer toe die kerk se deure oop gaan en hy vir Leandra sien nie.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Ons het regtig ʼn perfekte troudag gehad. Altwee van ons stem dat dit ʼn baie spesiale dag was. Dis ʼn positiewe ingesteldheid en ons het besluit om te fokus op waaroor die dag regtig gaan- om aan mekaar trou te beloof voor familie en vriende en het gekies dat situasies buite ons beheer ons dag gaan bederf nie.
As ek een ding sou anders doen, sou ek graag ʼn lysie met informele fotos van die bruidspaar met sekere vriende en familie wou opstel wat die fotograwe moet afneem voor hulle huis toe gaan. Ons het die familie fotos baie gefokus gehou en slegs een groot familie foto van elke familie geneem na die seremonie. Ek het byvoorbeeld glad nie ʼn alleen foto saam met my niggie van Nieu-Seeland nie.
Paartjie se styl:
Ons het ʼn simplistiese maar elegante styl, met hier-en-daar ietsie uit die boks gehad. Leandra se rok was wel nie die tipiese trou rok wat jy van ʼn winter bruid sou verwag nie, maar simplisties en elegant met die romp wat van tyd tot tyd dramaties gedraai, of gewaai het. Leandra het vir haarself gesê- “Ek kry eerder ʼn paar uur koud, en bewonder vir die res van my lewe ons fotos en my mooi rok. “
Henco is saggeaarde, eenvoudige man van wie jy nie sommer ʼn groen pak sou verwag nie. Maar sy baie kreatiewe verloofde, met die kleurvolle persoonlikheid het dit reggekry om hom te oortuig dat dié kleur sy gelaat baie mooi komplimenteer. Sy het dit selfs reggekry dat hy instem op ʼn blomme-das. Die groen het baie goed gewerk met die aardse winters tema, en lewe en kleur gebring waar die agtergrond by tye bietjie dor was.
Omdat Leandra só ʼn kreatiewe persoonlikheid het, wou sy ʼn eenvoudige, tydlose ring en pant hê waarmee sy nie vinnig verveeld sou raak. Henco het ʼn paar ringe gaan pas, en besluit dat hy van die donkerder kleur hou.
Venue & Dekor:
Leandra kom van die Koue Bokkeveld en ken Kaleo en die personeel goed. Behalwe vir die praktiese kant van ʼn venue wat lekker naby is vir al die ritte (glo my daar is baie) het Kaleo ʼn lekker winters promosie gehad. Ons het daarvan gehou dat Kaleo baie akkommodasie vir ons gaste bied en goed ingerig is vir die ysige Bokveld koue. Die perfekte winter-venue.
Ons wou graag die dekor elegant en simplisties hou. Ons het meeste van die dekor self gemaak en slegs enkele items gehuur. Omdat Kaleo natuurlik ʼn warm en donkerder gevoel het, wou ek baie wit in bring om dit sagter te maak. Ek het begin deur op Pinterest te gaan en ʼn paar style saam te sit waarvan beide van ons hou. Ons het dit as inspirasie gebruik vir ons dekor keuses.
Ons is ʼn kreatiewe familie wat daarvan hou om mooi te maak en te onthaal. My ma het baie funksie-beplanning en dekor agtergrond en my pa is baie skeppend. Ons het self glas bottels gespuit en servette gemaak. My pa het die drie wit arches agter die bruidstafel, asook die kersstaanders self gemaak.
Gunsteling Diensverskaffers:
Sjoe, dis baie moeilik! Lilac Photography was AMAZING!!! Hulle energie, oog vir detail en passie is ongelooflik. Lize en Leo is altwee baie goed om die gaste en situasie te lei. Dit was ʼn ongelooflike koue dag met ʼn maksimum van 7-grade, en hulle het die koue saam met ons aangedurf vir die heel mooiste fotos.
Ons gaste was mal oor Grondpad Koffie se koffiestasie. Hulle kon nie voor bly om die lekkerste koffies en warm sjokolades te maak nie, met die grootste glimlag.
Verder het ek baie komplimente oor my haarkleur gekry (Belle Ame) en met my kort hare het sy wonderwerke verrig.
En dan, my rok! Cindy Bam ken my lyf beter as was ek ooit gedink het ek doen. Sy weet hoe om elke rolletjie te verbloem en het nie ophou veranderinge maak todat sy 100% gelukkig was nie. Ek het soos ʼn prinses gevoel.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Ons het besluit dat ons nie ʼn gevolg gaan hê nie. Ons is baie familie georiënteerd en het besluit om ons kosbare oomblikke met ons gesinne te deel. Dit was een van die beste besluite ooit. Ons ouers was die V.I.P.’s van die dag en deel van elke spesiale oomblik, van regmaak tot sluier opsit voor die instap en aan die hooftafel gesit. Ons het gevoel dat ʼn gevolg partykeer die dag kan oorneem en die ouers slegs in die agtergrond is, terwyl dit vir hulle net so ʼn spesiale dag is.
Ruim voor die tyd, tyd in jou skedule in om asem te haal en die dag in te neem. Moet nie die program só vol prop dat jy nie eers tyd het om te eet nie. Handel die formaliteite só spoedig moontlik af en geniet net die aand! Jy het immers baie hard beplan.
Wittebrood:
Omdat dit winter was, het ons ʼn lekker cosy cabin met kaggel en ʼn borrelbad ingedagte gehad. Ons het by Copia Eco Cabins en Blue Crane bespreek. Ons wil graag oorsee gaan vir ons een-jaar herdenking, waarvoor ons nog spaar.
Vermaak:
Ons het vir Rainbow Sound as platejoggie gehad wat die gehoor goed gelees het en die lekkerste musiek gemaak het. Grondpad Koffie het ook ʼn groot gedeelte van die aand vars koffie en warm sjokolade gemaak, waarvoor die gaste rye gestaan het
Eerste Dans:
Ons altwee hou baie van dans, so lesse was nie nodig nie. Vroeg in ons verhouding het ons ʼn ernstige gesprek gehad oor foute wat ons al in die lewe gemaak het en dinge waaroor ons spyt was. Henco het op sy rustige manier net geantwoord deur te sê, “Alles van my hou van alles van jou.”. ʼn Rukkie later vind ons uit dat daar ʼn liedjie, Heelaand Lank van Kurt Darren, is en in die koor gedeelte-sing hy “… alles van my hou van alles van jou …”, van daar was dit ONS liedjie en het ons keuse op ʼn eerste-dans liedjie maklik gemaak.
- Venue: Kaleo
- Juweliersware: Hellohaai (oorbelle)
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Lilac Photography
- Blomme: Fleur With Grace
- Bruidegom-pak: Eurosuit
- Dekor: Ribbon & Rope Events and Hire
- Grimering: Adri Walters (Vriendin)
- Hare: Belle Ame
- Huurdienste: N Concepts and Designs
- Huweliksbevestiger: Christoff Van der Merwe
- Platejoggie: Rainbow Sound
- Skryfbehoeftes: Delight Digital
- Spyseniering: Oppi Berg Spyseniers
- Trourok: Cindy Bam Couture
- Trouring: Wikus Viljoen + Famke Jewellery
- Troukoek: Riana Mouton Cakes
- Vermaak: Grondpad Koffie
- Videograaf: Guava Productions
- Wittebrood plek: Copia Eco Cabins