Ruan & Bianca se Plaastroue in Stellenbosch

Ons deel met julle Ruan en Bianca se plaastroue in Stellenbosch in dié inskrywing op Mooi Troues.  Die paartjie wou ʼn klassieke trou styl en het besluit om ʼn wit en swart tema vir hulle troue.

Bianca en Ruan trou venue waar hulle getrou het, het die mooiste agtergrond geskep vir die paartjie se trou foto’s.  Die versorgde tuine, dam en pragtige berg uitsigte in die agtergrond het gesorg vir mooi foto’s.  Stellenbosch is bekend vir sy pragtige trou venues en verblyf opsies.  Hulle het by die mooiste kerk getrou en die kleurvolle loodkristal ruite in die foto’s is besonders mooi.

Hulle trou dekor het die wit en swart tema mooi deurgetrek.  Swart borde met swart eetgerei wat ʼn tikseltjie brons gehad het is só mooi en staan uit op die donker hout tafels.  Kerse en fyn wit blommetjies het die tafels versier.  Ons hou van die romantiese verwelkomende atmosfeer wat die kerse skep.  Die swart trou skryfbehoeftes het blom illustrasies op gehad wat weer bietjie kleur na die tafel gebring het en ook deel gevorm het van die tafel se dekor elemente.

Ruan en Bianca vertel dat Mooi Troues se webblad hul baie gehelp het met hul trou beplanning proses.  Ons waardeer die vriendelike woorde ❤ As jy opsoek is na trou diensverskaffers vir julle troue, besoek Mooi Troues se Trougids.

Rol af om meer te lees oor Ruan en Bianca se liefdesreis as paartjie en ook oor hulle plaastroue in Stellenbosch.

Het julle enige inspirasie van Mooi Troues gekry?


Mooi Troues het beslis gehelp met die besluitnemingsproses van ons tema en styl. Al die ander paartjies se inspirasie wat gedeel was het ons regtig baie gehelp en baie idees ook gegee van hoe ons dit wil hê en hoe nie. Baie dankie aan Mooi Troues vir die tyd wat julle ook insit om ander paartjies se troues te deel. en ook verskaffers. Dit is regtig ʼn baie behulpsame platform wat verloofdes so so baie help.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons was saam op skool, maar toe het Ruan verhuis Kaapstad toe.  Lewe het aangegaan en in 2019 toe het ons paadjies weer gekruis.  Ek het in 2020 van Johannesburg af getrek Kaap toe vir Ruan.  Letterlik ʼn dag voor ons in grendel tyd gegaan het.  Hy het toe in November 2020 vir my die groot vraag gevra.  Ons het verloof geraak in Struisbaai – Suiderstrand.  Dit was die beste en mooiste oomblik gewees waar ons dit na die tyd saam ons vriende kon vier wat gehelp het met die reëlings.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir amper 2 jaar verloof.  Ons het verloof geraak op die 28ste November 2020 en getrou die 30ste Oktober 2022.  Die rede vir die lang tydperk was maar omdat ons self gespaar het en die besluit geneem het om nie enige skuld te maak vir ons troue nie.  Ons het nie hulp van ouers of familie af gekry nie.

In die begin sou ek en my strooimeisie alles self beplan het.   Ons het meeste van die reëlings self getref maar het toe nader aan die tyd besef dat ons dalk maar moet ʼn trou beplanner kry wat net kan help en koördineer op die dag.  Ons het vir Simone Blake van Dear Grace Events Specialists gekry en sy was net die beste.

Paartjie se styl:


Ons beide se styl is eintlik so verskillend.  Maar ons het toe saam besluit om dit net klassiek te hou.  Ruan het net ʼn mooi plein swart pak met ʼn wit hemp aangehad. My trou rok was vir my perfek , ek wou nie iets te plein gehad het nie, maar ook nie te besig nie.

Ruan het my verloof ring en trou pandjie beide self uitgekies en hy het beslis ʼn goeie keuse gemaak.

Trou Begroting:


Ons begroting was so R180 000 wat ook die wittebrood moes insluit.  My man was die “Minister van Finansies” en hy het seker gemaak dat ons by die begroting bly.  Ons was ook baie gelukkig, want in die begin sou ons amper 90 gaste wees, maar omdat die meeste mense moes gereis het ons toe op die einde net so 60 mense gehad.  So dit het ook natuurlik baie gehelp vir die begroting.

My advies aan ander paartjies is om net te onthou waaroor die dag eintlik gaan en dat dit nie nodig is om duisende rande te wil spandeer aan luukshede net omdat jy die gaste wil beïndruk nie.  En dat mens maar ook altyd ʼn ekstra geldjie moet wegsit vir al die klein dingetjies wat dalk mag opkom of wat jy van vergeet het.

Merkwaardigste Oomblikke:


Toe ons mekaar vir die eerste keer sien in die kerk.  Dit was ʼn bittersoet oomblik vir ons albei.  En ook die tyd saam ons mense.  Ons wou net ʼn lekker partytjie hê saam ons hartsmense en dit is presies wat ons gehad het.

Die Besluitnemingsproses:


Ruan het lekker gespot en gesê dat hy is maar net die metgesel na ons troue toe, omdat ek maar meeste van die besluite geneem het.  Ons as ʼn paartjie het daaroor gepraat en saam besluit of ons ʼn ding so of so wou doen.  Ons vriende en familie was nie regtig deel van die besluitnemingsproses nie.  Dit was maar meestal net ek en Ruan.  Te veel vingers in ʼn pastei kan ook net drama veroorsaak.

Gunsteling Diensverskaffers:


Sjoe, dit is eintlik so moeilik om te sê.  Al ons diensverskaffers was regtig uitstekend!  Almal het ʼn ongelooflike goeie diens gelewer.  Maar ek dink ek sal sê dat ons fotograwe was die gunsteling – net omdat hulle ons sprokie mooi dag kon vasvang en dit weer met ons deel in die vorm van foto’s.  Nie net is hulle foto’s flippen mooi nie, maar hulle is beide sulke opregte vriendelike mense wat jou só gemaklik laat voel.

Vermaak:


Ons het terwyl ons foto’s geneem het, kon die gaste hulself help met ciders, bier, koeldrank en water.  Ek en Ruan het ook by All Things Wedding twee stelle Giant Jenga gehuur sodat die gaste hulle self kon besig hou terwyl hulle vir ons moes wag.

Ons platejoggie was Calla Henn wat vir ons gesing het en lekker musiek gemaak het. Natuurlik het van die gaste ook sommer ʼn bietjie gesing.

Ons het ook ʼn fotohokkie gehuur by Retro Photo Booth. Dit was omtrent ʼn wenner!  Almal het dit vreeslik baie geniet.  Ons het nie dankie sê geskenkies gehad nie omdat ons voel dat mense dit nie altyd gebruik nie, waar met die fotohokkie sal mense die foto’s kan huis toe neem en op die yskas plak en hulle sal dan altyd ons dag so kan onthou.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Advies aan bruide:

Geniet elke oomblik van jou spesiale dag.  Neem ook elke oomblik in, want dit gaan regtig so gou verby soos wat mense sê.  Ek het aanvanklik gedink mense sê dit maar net, maar dit is regtig so.  Maak ook seker jy kry genoeg slaap in die vorige aand, want die trou dag is ʼn lang dag vol dinge wat mens kan uitput.

Advies aan bruidegomme:

Met die “Ramme Partytjie” – geniet elke oomblik van dit.  Omhels dit.  Die manne gaan beslis ʼn bespotting van jou probeer maak, maar dit is gelukkig net een keer wat dit gaan gebeur.

En op die trou dag:

Wees net gerus dat die dag sal verloop soos dit moet.

Venue & Dekor:


Die venue behoort aan Ruan se werkgewer. En ons het saam besluit dat Bontevlei is regtig ʼn mooi venue en dat ons graag ons spesiale dag daar sal wil vier.  Ons wou ʼn tipe van ʼn eenvoudige, maar mooi styl van dekor hê.  Daarom het ons besluit op ons klassieke wit en swart troue en dan net ʼn bietjie groenigheid by te sit.  Dit is eenvoudig maar stylvol.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Vir ons beide was die dag perfek.  Die oggend van die troue het ek vir myself gesê dat maak nie saak wat gebeur nie, ek gaan net die dag geniet.  As iets verkeerd loop, wie gaan in elk geval weet?  Maar ja, daar was regtig niks wat verkeerd geloop het nie.  Of ook niks wat ons sou wou verander nie.  Ons wens net die dag het nie so gou verby gegaan nie.  Dit het letterlik gevoel asof ons, ons oë geknip het en toe is alles verby, maar dit was nogsteeds baie lekker.

Spesiale Tradisies:


Nee ons het maar net die gewone eerste dans as man en vrou gedoen.  Kousband gegooi, ruiker gegooi en die koek gesny.

Eerste Dans:


Ons het ja, maar ons eerste dans was ook net ʼn dans. Ons het nie vir enige klasse of so ietsie gegaan nie. Gelukkig kan ons lekker saam dans. Die liedjie keuse was nogal moeilik in die begin, want ons wou nie ʼn liedjie hê wat te stadig is nie, maar ook natuurlik nou nie te vinnig nie.  Toe kies ons Joe Foster se Vir jou Gemaak, want dit is ʼn liedjie wat vir ons spesiale woorde het.

Wittebrood:


Ons wittebrood bestemming was Thailand en dit was werklik iets besonders!  Ons het beide besluit op Thailand omdat die pakket wat ons gekry het in ons begroting was en omdat baie mense gesê het dat dit is ʼn lekker plek.  Eers sou ons net ʼn Tuin Roete tipe wittebrood hou, maar toe besluit ons dat dit ons sekerlik dieselfde gaan kos om in Suid-Afrika te wittebrood as oorsee.  En nie een van ons was al oorsee nie.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: