Juan & Monique se Unieke Plaas Verlowing

Ons is kinderlik opgewonde om Juan en Monique se unieke plaas verlowing met Mooi Troues se lesers te deel.  Hierdie is nie jou gewone plaas verlowing fotosessie nie, maar iets heeltemal anders.   Monique wou graag hê Juan moet gemaklik voel vir die fotosessie en so het sy sommer sy werkswinkel deel gemaak van die fotosessie.  Jy kan sien Monique en Juan het die fotosessie baie geniet as jy kyk na hulle aansteeklike glimlagte.  Dit is baie belangrik om pret te hê tydens enige fotosessie.  Hierdie fotosessie is gehou in die paartjie se gemak sone wat perfek is.

Paartjies doen ʼn verlowing fotosessie vir verskillende redes.  Party paartjies wil meer gemaklik word om te poseer voor die kamera.  Ander wil meer gemaklik word met hulle trou fotograaf.  Ons dink ook dit is lekker vir ʼn trou fotograaf om ʼn paartjie af te neem voor hul troue.  So is die fotograaf meer gemaklik met die paartjie en sodoende die paartjie met hul trou fotograaf.

Juan en Monique het van hul verlowing foto’s laat druk en opgehang in hulle huis.  Dit is een van die baie redes hoekom ʼn verlowing fotosessie so spesiaal is.  Daardie herinneringe sal mens altyd by bly.

Rol af om meer te sien van Juan en Monique se unieke plaas verlowing fotosessie en ook hul verlowing storie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ek het vir Juan op my 18de verjaarsdag ontmoet.  Ek en ʼn paar vriende het die aand gaan vier by een van Lambertsbaai se plaaslike kuierplekke toe ʼn vriendinnetjie van my vir Juan raakloop en ons voorstel. “As ek dit reg onthou is jy voorgestel aan my as die ou met die kuite”.  Hy was baie skaam!  Ons het ʼn paar weke later op Facebook begin gesels.

Ons is op ons eerste afspraak plaas toe en ek het geweet ek het my trouman ontmoet!  Cheesy ek weet

Ons was baie jonk toe ons begin uitgaan het, so ons was nie haastig om verloof te raak nie.  Ons was 7 jaar saam toe Juan die groot vraag vra.

Die groot vraag:


Ek moet bieg ek het geweet van die ring, maar die verlowing was totaal ʼn verassing.  Na ek eendag op die ring afgekom het, het ek gedink elke naweek wat volg die naweek sou wees, maar Juan het my op my tone gehou.  Elke keer as hy wou iewers heen gaan” was ek reg haha.  ʼn Maand later het ek begin vergeet van die ring.

Ons is die naweek Nieuwoudtville toe om Juan se vriend se verjaarsdag te vier.  Die Sondag toe ons regmaak om huiswaarts te keer maak Juan die voorstel dat ons die waterval besoek wat net loop as die dorp verskriklik baie reën ontvang het in ʼn kort tydjie.  Min lus en klaar gemaklik in my T-hemp en plakkies vir die rit huis toe vertrek ons toe na die watervalle. “Liefie jy het heelpad nie ʼn woord gepraat nie haha.”  Die senuwees het definitief ingeskop vir Juan.  By die valle druk Juan toe op vir ʼn foto waarvan ek niks wou weet in my T-hemp en plakkies nie.

Juan is baie oortuigend en ek het ingegee.  Ons het amper so te sê onder die waterval gaan staan.  Dit was glibberig om daar uit te kom, maar ons het.  Ek het gedraai en reg gestaan vir die foto toe Juan agter my sak. “Ek het gedink jy het geval liefie.”

Hy was op sy knie met ʼn wit ringboksie met die mooiste ring. “Moet asseblief nie die ring laat val in die water nie, ons gaan verewig soek!” was Juan se woorde haha, gevolg deur die mooiste toespraak.  My antwoord was natuurlik ja!  Ek is baie bevoorreg dat hy my gekies het om die res van sy lewe te spandeer.

Hoekom ons mekaar liefhet:


“Ek dink my gunsteling eienskap van jou bokkie is jou lojaliteit.”  Juan sal jou nooit in die steek laat nie, maak nie saak wat nie.  Juan plaas altyd almal anders eerste in sy lewe.  Hy is hardwerkend, eerlik en spontaan. “Daar is so baie eienskappe van Juan wat ek só lief is voor.”

Monique se Vasberadenheid. “My blom , ek weet jy sal altyd ding laat gebeur, jy wag vir niemand en niks nie en is so selfstandig en ek is so trots om jou myne te noem.  Jy is ʼn regte ou vuurwerk en jou planne raak nooit op nie!”

Die verloofring:


Ons saam na baie ringe gekyk en ek het vir Juan gewys waarvan ek hou, maar hy het self besluit op die ring en my verras met sy opsie.  Dit is ʼn 1.5k ronde peach morganite steen omring met klein diamantjies in roosgoud ingelê.  Ek is mal daaroor!

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ek dink dit was vir ons belangrik om die oomblik in ons lewe vas te vang en om dit vir ewig te kan koester.  Ons het al die foto’s ge druk en in ons huis gehang.  Om verloof te wees is só spesiale tyd en ons het elke oomblik geniet.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Juan is ʼn werktuigkundige en ek wou ʼn omgewing vir hom skep waar hy gemaklik sou wees om foto’s te neem aangesien hy nie baie lief is om op foto’s te wees nie.  Dit is só groot deel van sy lewe en nou my lewe en ek wou dit inbring in die foto’s.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: