Met opgewondenheid deel ons Jan Willem en Lindie se Troue in Robertson met Mooi Troues se lesers. Waar begin mens met só ʼn mooi troue?
Hulle het by die pragtige DuVon Wine & Wedding Estate in die prentjie mooi Robertson Vallei getrou. Robertson is ʼn populêre trou bestemming vir paartjies opsoek na ʼn meer plattelandse troue. DuVon Wine & Wedding Estate is die ideale trou venue vir paartjies, nie net vir die skoonheid van die plaas nie, maar ook die fantastiese diens en ʼn moderne trou venue op ʼn werkende vrugte- en wynplaas.
Jan Willem en Lindie se trou dekor het hulle so simplisties moontlik gehou, wat so mooi inpas by die hele gevoel van die troudag. Wit, sagte aardse kleure en tikseltjies pienk is gebruik vir die trou dekor. Die rottang plekmatjies pas weer in by die kleurskema van die gedroogde blom ontwerpe.
Helene Viljoen, die paartjie se trou fotograaf, het ʼn fantastiese werk gedoen met hul trou foto’s. Ons het ons self so in die foto’s ingeleef. Elke spesiale oomblik is vasgevang in die mooiste natuurlike foto’s. Skerp, natuurlik en helder is hoe ons Helene Viljoen se trou fotografie styl sal beskryf.
Ons is verstom geslaan oor hoe mooi Lindie se trourok is. Dit is ʼn moderne, elegante trourok wat vir altyd mooi sal wees. Haar wit handruiker met orgidee pas soos ʼn handskoen by haar trourok. Jan Willem se troupak is anders as die normale bruidegom pak en ons is gaande daaroor. Die terracotta en aardse kleurskema trek so mooi deur by die paartjie se gevolg.
Lindie se trouring is vanaf Viljoen Juweliers. Die mooiste fyn trouring wat besonders mooi is.
Rol af om meer te lees oor die paartjie se troue in Robertson en hul liefdesreis tot dusver.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons ken mekaar al van Hoërskool af, maar was baie skaam vir mekaar. In Matriek 2015 begin ons toe kliek en Jan Willem vra toe vir my om sy meisie te wees. Ek gaan studeer Onderwys in Wellington en Jan Willem het gaan studeer in Durbanville. So het ons die meeste gemaak van naweke om bymekaar uit te kom.
In 2020 begin ek skool gee in Villiersdorp en Jan Willem werk in Robertson, 23 Oktober 2020 breek aan en skool vakansie begin. Die plan was dat ons see toe gaan met my kar en ek moet Jan Willem optel by sy huis. Toe ek daar kom, staan en wag hy my in met die borde wat sê “Trou met my?”
Die Verlowing Tydperk:
Ons was verloof van 23 Oktober 2020 tot 1 Oktober 2022. Gedurende die tydperk het ons geld gespaar sodat ons gemaklik die troue kon bekostig. Ons het geen troubeplanner gehad nie en het alles self gedoen volgens ons behoeftes.
Trou Begroting:
Toe ons begin het met reëlings het ons nie rerig geweet wat ʼn troue sal kos nie, so daar was geen spesifieke begroting in ons koppe nie. Ons het die situasie eerder benader om by verskillende verskaffers inligting te kry om te kan vasstel waar ons kan geld spaar deur goed self te doen of net ʼn gedeelte van die verskaffer te gebruik. Baie van die dekor en blomme het ons self gedoen en ons voel ander paartjies kan daarby baat vind, juis omdat dit vir ons soveel geld gespaar het. Ons was altesaam 90 gaste by die troue.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:
Ons kan met 100% eerlikheid se daar het absoluut niks verkeerd geloop nie. Die bruid was ʼn halfuur vroeg gewees en so moes die trou motor 3 keer om die venue ry om vir die gaste genoeg tyd te gee om hul sitplekke in te neem. 😊
Paartjie se styl:
Ons het baie gehou van die moderne Boheemse styl. Albei van ons was baie lief vir aardse kleure met hier en daar ʼn tikkie pienk en terracotta kleure. Die fokus was droë blomme en blare wat ons sommer langs die paaie of in die velde kon pluk met ʼn paar mooi blomme. Ons albei hou daarvan om uniek en anders te wees.
Toe die trourok op Vagabond se Instagram profiel gesien het, het ek geweet dit was my trourok. Dit is modern en iets anders as die gewone trourok. Ek en Jan Willem het ʼn soortgelyke baadjie op Pinterest gesien en dit was vir ons stylvol en het goed ingepas by ons troue se tema.
Merkwaardigste Oomblikke:
Jan Willem:
Alles het so onwerklik gevoel van die oggend wat ek wakker geword het en is in ʼn oogwink verby. Maar my oomblik van die dag was toe Dominee sê “Gee nou mekaar julle regterhande en kyk mekaar in die oë.” kon ek sien hoe mooi my vrou lyk en besef toe dis die liefde van my lewe wat hier staan.
Lindi:
Die hele dag was eintlik vir my merkwaardig. Hoe alles net mooi en glad verloop het en om ons huwelik te kon vier saam met ons vriende en familie. Een oomblik wat ek altyd sal koester is om saam met Jan Willem te kon sit by die bruidstafel en te kon kyk hoe ons gaste hulself geniet het.
Die Besluitnemingsproses:
As dit gekom het by die finale besluite was dit ʼn gesamentlike besluit oor wat die beste gaan werk in die groot prentjie. Almal het hul insigte gegee (waarvoor ons baie dankbaar is), maar die finale besluite het ons saam geneem.
Vermaak:
Ons het ʼn platejoggie (DJ Ruan) gehad wat die lekkerste musiek gespeel het en almal vir ure lank op die dansvloer gehou het. Hy het ook die atmosfeer geskep voor die seremonie en tydens die verwelkomingsdrankies.
Venue & Dekor:
Ons het gesoek na ʼn venue wat nie net stylvol is nie, maar wat ook ons dekor mooi kon beklemtoon. DuVon het elke aspek van ons lysie getik. Ons wou grotendeels ʼn venue hê wat ʼn mooi “leë doek” is. Toe ons gaan kyk het na DuVon het ons dadelik geweet dis dié een. Dit het ʼn beeldskone tuin met ʼn asemrowende uitsig oor die berge en wingerde en die onthaal area is ruim en stylvol.
Die inspirasie vir die dekor was dat dit modern en aards moet wees. Baie wit, roomkleur en aardse kleure, met tikkies terracotta en pienk. Baie droë blomme en blare met tikkies mooi vars fokus blomme.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Bruide:
Neem alles in, van die beplanning tot die laaste dans, die tyd vlieg en dan is alles verby.
Bruidegomme:
Moet nie teveel stres nie, dit laat jou sweet, alles sal verloop soos julle beplan het. Geniet dit net.
Gunsteling Diensverskaffers:
Dit is bietjie onmoontlik vir ons om ʼn gunsteling of beste te kies juis omdat elkeen sy deel so perfek gedoen het. Alles was só mooi in plek en op tyd en as gevolg van dit kan ons met eerlikheid sê dat niks verkeerd geloop het nie. Ons sal al die verskaffers wat ons gebruik het vir enige iemand aanbeveel.
Wittebrood:
Wittebrood het ons saam beplan. Ons wou nog altyd in een van die Eco-pods gebly het. Wou ook nie te vêr gaan nie, want daar was besluit dat ons 2 katte saam moes Wittebrood hou, dink hulle het dit dalk bietjie teveel geniet. Ons het in die Riverstone Couples Pod, op ʼn bloubessie plaas gebly so 10km buite Wolseley.
Eerste Dans:
Ons het ʼn eerste dans gehad ja, dit het plaasgevind direk na die hoofgereg. Lindie, die bruid, het wel voor die eerste dans ʼn ander rok gaan aantrek waarin sy die res van die aand gekuier het. Die liedjie keuse was “Missing Piece” van Vance Joy.
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Helene Viljoen Photography
- Venue: DuVon Wine & Wedding Estate
- Trouring: Viljoen Juweliers Worcester
- Videograaf: Boland Weddings
- Blomme: Roodehoogte Kwekery
- Bruidegom-pak: The Tux Tailor
- Dekor + Huurdienste: Flamboijant + Konfetti + Tentmen
- Grimering + Hare: Elizabeth Rae
- Platejoggie: DJ Ruan
- Paartjie se verblyf: CellarRobertson
- Spyseniering: Jamup Cater
- Trourok: Vagabond Bridal
- Troukoek: Ietsi-Sweet
- Wittebrood plek: Riverstone Couples Pod