Elegante Weskus Strand Trou Inspirasie Fotosessie

Met opgewondenheid deel ons hierdie elegante Weskus strand trou inspirasie fotosessie met Mooi Troues se lesers.  Langebaan in die Weskus is ʼn populêre trou bestemming vir paartjies.   Met die pragtige natuurskoon van die ligging sal jy gewaarborg wees om ʼn prentjie mooi troudag te hê.

Wanneer julle ʼn strand troue beplan, dink uit die boks uit soos met die gestileerde fotosessie.  Jy hoef nie noodwendig ʼn strand tema te hê vir jul trou dekor as julle langs die see trou nie.  Mens kan ook die heel teenoorgestelde doen om daardie kontras te skep wat altyd ʼn wen kombinasie is.

Die pragtige fotosessie was deur die talentvolle troufotograaf Nicolene Meyer Photography afgeneem.  Mooi Troues se lesers kan rustig afrol elke foto hieronder bewonder.

Die gestileerde fotosessie se wit en swart tema is so mooi en tydloos.  Die kleurskema sal altyd in die mode sal wees.  Wit tafeldoeke met swart borde en ander swart elemente soos die klein potjies en mooi kers staanders en dun swart kerse.  Groenigheid kan ook gesien word tussen dit spierwit blom ontwerpe.  Die goue eetgerei bring weer die elegante en stylvolle voorkoms tot die tafel dekor. Elke element wat deel gevorm het van die trou inspirasie fotosessie se voorkoms is so mooi deurgedink.  Die troukoek is net so besonders mooi gewees en perfek by die res van die tema gepas.

Alles is moontlik as jy ʼn span fantastiese trou diensverskaffers het.  Mooi Troues se Trougids het professionele diensverskaffers vir jul troudag waarvan julle kan kies.

Dié gestileerde trou inspirasie is af geëindig met die mooiste strand fotosessie en die mooiste sagte sonsak lig by ʼn baie populêre strand ligging in Langebaan.  Rol af om meer te sien en lees oor die elegante Weskus strand trou inspirasie fotosessie.

Wie het die fotosessie gereël?


Cathlin Basson van Boesmanland Plaaskombuis en John-Beattie van Everyday Events, hulle het ook hierdie vraelys voltooi.

Inspirasie agter die fotosessie:


Paartjies is geneig om in dieselfde rigting te dink wat troudekor en -kleurskemas aanbetref as dit by strand troues kom.  Pastelkleure, ʼn boho-tema, of ʼn nautiese wit-en blou-tema, wat natuurlik alles baie gepas is, is baie gewild.  Ons wou graag iets skep wat vars, elegant en modern is by die see; iets wat so bietjie ‘anders’ is vir ʼn Weskus-troue.  Hierdie fotosessie dien as trou inspirasie vir die paartjie wie hou van bietjie drama en kontemporêre elemente, maar tog ʼn elegante, tydlose styl vir hul strand troue wil hê.  Ons het gedink om ʼn bietjie elegante drama na die Weskus toe te bring!

Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?


Boesmanland Plaaskombuis het in 2021 ʼn boho-geïnspireerde sessie gekonsepsualiseer en gereël waartydens baie van dieselfde diensverskaffers betrokke was.  Wanneer daar besluit was om weer in 2022 ʼn fotosessie te beplan, was die keuse van diensverskaffers maklik omdat almal voorheen lekker saamgewerk het.  Daar het ook ʼn paar nuwe diensverskaffers by die span aangesluit wat hierdie rondte hul kreatiewe kragte saamgesnoer het om ʼn pragtige eindproduk te verseker.

Agter die skerms van die fotosessie:


As kreatiewe mense is dit maklik om met idees vorendag te kom, maar dit is belangrik om die omgewing in gedagte te hou wat jy op die einde van die dag wil adverteer met ʼn gestileerde fotosessie.  Die tipiese begrotings van die teikenmark moet ook in gedagte gehou word, sodat ʼn toekomstige paartjie die prentjie wat die span skep, kan naboots.

Maak seker die broek pas!  Ons manlike model was 1,96m lank en dit was effe moeilik om vir hom ʼn broek te kry wat pas.  Hy het nietemin elegant en klassiek gelyk.

Merkwaardigste deel van die fotosessie:


Om op die dag van die fotosessie alles by mekaar te sien.  Hoe die formele dekor inpas by die rustieke karakter van die venue, hoe die ontwerp van die skryfbehoeftes die tafel verder inkleur, hoe die blomme die prentjie voltooi en lewendig maak en hoe ʼn idee, ʼn visie en spanpoging, ʼn realiteit word.  Dit is merkwaardig hoe verskillende verskaffers kan saamwerk aan een prentjie.

Dekor:


Vir hierdie fotosessie het ons besluit op tydlose elemente en monochromatiese kleure om ʼn elegante gevoel skep.

Moderne elemente soos die swart borde, kersstaanders, keramiek potte en ligte is saam met klassieke dekor elemente soos wit materiale, goue eetgerei, groot witklei-potte asook klassieke blomme soos orgideë en ranonkels, gebruik.  Dit het als bymekaar gekom om ʼn elegante, tydlose prentjie te vorm.

Die wit materiale wat om die dryfhout gedraai was en in kreukels gedrapeer was, het ook ritme, kontras en ʼn sagtheid geskep teenoor die swart elemente wat gebruik was op die tafel.

Ons het ook ʼn groot wit pot wat se verf al afdop gebruik, wat weereens inpas by die meer robuuste karakter van die Weskus- omgewing waar ons, ons bevind.  Al die elemente smelt saam om as vars inspirasie vir ʼn strandtroue te dien.

Kleurskema:


Wat is meer elegant en tydloos as ʼn swart en wit kleurskema?  Net soos swart-en-wit foto’s ʼn elegante, kunstige, tydlose gevoel skep, skep ʼn monochromatiese kleurskema ook tydlose elegansie.

Wit – die bekendste kleur vir troues wat geassosieer word met reinheid, skoonheid maar ook eenvoud en minimalisme.  Wit skep spasie en lig in lokale wat redelik donker voorkom.

Swart – ʼn kleur van sofistikasie en styl, met slegs ʼn paar elemente in goud (in hierdie geval die eetgerei) om ʼn luukse gevoel te bewerkstellig.

Ons het besluit op sandkleur servette en skryfbehoeftes om ook natuurlike kleure in te bring wat meer by die venue en die omgewing pas.

Venue en Ligging:


Boesmanland Plaaskombuis doen graag elke jaar ʼn gestileerde fotosessie, en hierdie jaar was geen uitsondering.  Cathlin van Boesmanland Plaaskombuis in samewerking met John-Beattie van Everyday Events, het daarom weer ʼn sessie gekonsepsualiseer en gereël, en dit was net voor die hand liggend dat Boesmanland Plaaskombuis die venue moet wees.

Boesmanland Plaaskombuis verleen homself meer na ʼn organiese, rustieke gevoel, met groot ronde houttafels en dryfhout met sementvloere en ook boomstompe vir stoele.  Daarom wou ons graag die moderne gesofistikeerde elemente meng met hierdie growwe elemente van die venue.

Trourok en troupak:


Ons het trourokke ontvang van Karen Couturier vir ons fotosessie en het besluit dat die keuse duidelik sal wees wanneer ons vroulike model die rok aanpas.  Natuurlik het Liesl verstommend mooi gelyk in meer as een rok, maar een het beslis uitgestaan.  ʼn Wit trourok met kant detail aan die bokant wat afvloei na die middel met ʼn lae neklyn.  Elegant, tydloos en gesofistikeerd.  Dit het ongelooflik mooi ingepas by ons gedekte tafel en die algehele prentjie wat ons wou skep.

Soos voorheen genoem, was ons manlike model se uitrusting meer van ʼn tameletjie as die vroulike model s’n.  Vir Ryno, ʼn volle 1,96m lank, was dit nie so maklik om in enige winkel hierdie tipe broek in die hande te kry nie.  Ryno is ʼn kranige rugby speler, so ʼn kleiner broek wou nie oor sy gespierde kuite nie.  Gelukkig kon ons ʼn broek op die nippertjie kry wat mooi gepas het.  Ons het besluit om die baadjie en formele pak te los, aangesien ons venue van keuse by die strand is.  Net soos die informele en formele elemente wat ons gekies het, het ons gegaan vir swart en wit kleur skakerings wat ʼn meer formele gevoel skep maar dit meer informeel gehou toe dit kom by Ryno se uitrusting deur die das en baadjie weg te laat.

Advies aan toekomstige paartjies wat troue beplan:


Indien julle graag ʼn elegante, klassieke tema vir julle troue wil volg, veral by die strand, hou dit eenvoudig.  Swart en wit maak reeds so ʼn groot standpunt, dat daar nie veel anders nodig is nie.  Indien die tafeldekor neutraal is, is dit gepas vir enige tyd van die jaar.  Dit sal ook verseker dat al die elemente van julle troudag tydloos lyk nes ʼn ou fliek wat jy herhaaldelik wil kyk.  Maar moet ook nie skrikkerig wees om so paar oudhede of organiese elemente met die moderne dekor te meng nie.


    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: