Christo & Drey-Andra se Troue in Namibië

Ons deel met julle Christo en Drey-Andra se troue in Namibië in die inskrywing op Mooi Troues.  Julle mag dalk die paartjie onthou van hulle baie oulike verrassing verlowing fotosessie wat ons op Mooi Troues gedeel het.  Die paartjie het ʼn gesellige plaastroue gehad op hul eie plaas in Namibië.  Drey-Andra en Christo se selfdoen troue is een wat jy nie moet mis nie.

Ons hou van die ou wêreldse rustieke atmosfeer van hul troue gekombineer met moderne elemente.  Drey-Andra het ʼn interessante prentjie mooi trourok aangehad met ʼn Boheemse gevoel.  Christo het ʼn bruin pak aangehad wat amper ʼn tipe van ʼn vintage gevoel het.  Saam was die paartjie se uitrustings ʼn wen kombinasie.  Al die strooimeisies het ook ligte oranje rokke aangehad met ʼn strooihoed.

Drey-Andra se handruiker was gemaak van uitgedroogde blomme wat perfek by hulle hele troue se atmosfeer gepas het.  Hul seremonie was onder ʼn Maroelaboom op hul plaas wat koelte verskaf het aan hul trou gaste.   Omring deur die mooi landskappe van die plaas.

Die paartjie se trou dekor was simplisties en stylvol gedoen.  Die wit dekor elemente, kerse en glas kershouers staan uit op die rou hout tafels.  Kerse en sagte ligte het die onthaal area opgehelder.  Alles is moontlik met fantastiese diensverskaffers, gebruik Mooi Troues se Trougids om jou diensverskaffers te vind.

Rol af om meer te lees oor Christo en Drey-Andra se Troue in Namibië en hul liefdesreis as paartjie.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was van 17 September 2021 verloof en het 10 Desember 2022 getrou.  Geen troue beplanner gehad nie, alles absoluut self gereël.

Trou Begroting:


Ons het so tussen deur by ander paartjies gehoor wat hulle omtrent spandeer het.  Die som van tussen N$150 000 en maksimum N$ 180 000 gehad.  Op die ou end was dit net +- N$160 000 gewees.

Ons het 200 gaste gehad wat bevestig het hulle kom, insluitende kinders, maar met Kovid was die finale getal 188 gewees.

Raad aan ander paartjies – ‘shop’ rond, kry meer as een kwotasie, vra vir afslag.  Wees oop kop om aan te pas as jou ideale idee te duur is.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die seremonie onder die Maroela boom, waar ons ook verloof geraak het.

Ons onthaal, dit was ongelooflik lekker, gemaklik en nie teveel toesprake en verrigtinge nie, net ʼn lekker samesyn!

Die feit dat my pa al my tafels self gemaak het en die kroeg self gebou het ens.   En my ma letterlik al my dekor self gemaak het, my trou rok en my bruidsmeisies se rokke ook, dit maak alles net soveel meer spesiaal!

Paartjie se styl:


Strooijonkers en -meisies, asook Christo se kleure was geïnspireer deur een van Christo se gunsteling sepies (Peaky Blinders), die res van die troue (dekor ens) was bohomies.  Ek wou geen vars blomme hê nie, ek voel dit is een aand en dan gaan dit tot mors!

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek lag nou nog as ek daaraan dink, op die oomblik was dit glad nie snaaks nie, maar as ek na die foto kyk lag ek lekker!

My pa het my met ʼn perde kar kom haal om kansel toe te vat, ek was skaars op die perde kar, nog besig om my sit te kry, die sluier te reg te kry en my ryker neer te sit, toe die perd skrik en weg spring, genade alleen weet hoe ek dit reg gekry het om nie agter oor te val nie, maar in die proses om te rek en gryp na iets het my rok se band gebreek!  My pa het net daar af gespring en gehardloop vir ʼn speld of iets terwyl ek myself dood bewe en probeer ʼn knoop maak.  Ek was só in skok dat ek nie nie eers ʼn traan gepik het toe ek by die trougang afloop nie.  Vandag lag ons daaroor.

Die rok het weer gebreek in ons eerste dans, maar ek het dit darem weg gesteek deur met my hand vas te druk.  Daarna het ek my tweede rok gaan aantrek.

Die Besluitnemingsproses:


Ons bruidspaar het meeste met die hulp van my ouers, op wie se plaas dit was.  Ek het ook meerderheid reëlings self getref, en het voor gevat daar, omdat ek daardie tyd ook by ʼn bemarking- en gebeure-agentskap gewerk het, het ek meeste verskaffers persoonlik geken.

Vermaak:


Grappie – die sanger, het by die canape’s gesing en aan die begin van die aand, hy het die partytjie lekker aan die gang gekry!

Ons het by die canape’s ʼn paar speletjies, soos hammer slagen, kettie teiken skiet, golf balle en stokke ens. gehad vir die mense om hulle self besig te hou terwyl ons foto’s neem!

Die platejoggie het oor gevat na Grappie gesing het tot so 9 uur half 10 se kant.

Ons het op ʼn Vrydag getrou en die Saterdag na die troue het ons en 147 van die gaste verder by my oom se lodge gekuier, pot gemaak, geswem en nog gedans!  Ons het besluit om niks die aand voor die troue (Donderdag aand) te doen nie, maar eerder die dag na die troue sodat dit ʼn naweek troue is.  Die Vrydag wat ons getrou het(1o Desember) is ʼn vakansie dag in Namibië, en ook my verjaarsdag!  So dit was ekstra spesiaal!

Gunsteling Diensverskaffers:


  • Defnitief heel eerste ons fotograaf (Ida Irvine en haar man Duncan van Naro wat die video’s gedoen het).
  • Roberto’s pizzas wat ons heerlike hoofgereg – pizzas gemaak het!
  • Roy’s Rest Camp (my oom hulle se lodge 20km van ons af) het die canape’s gemaak, die gaste het ook almal op die lodge gekamp en die dag na die troue – die Saterdag saam gekuier en pot gemaak op hulle lodge.
  • Nellie – van Make up & Shine – sy is letterlik die beste in wat sy doen!

Venue & Dekor:


Van begin af geweet dat behalwe ʼn mooi troue, soek ons ʼn lekker troue!  Ons het geweet my ouers se plaas is die beste opsie, nie net omdat ons daar ook verloof geword het nie, maar ook omdat dit soveel sentiment het, en bo alles geen venue reëls of koste nie.

Dekor, ek het geweet van dag een af ek soek iets uniek, tydloos maar ook nie duur nie.  Blomme (vars) was heel uit vir my, dit voel te tipies, daarom het ek en my ma toe self papier rose gedraai en dit geverf.

My ouma het al die lappies gehekel wat om die glas botteltjies op die tafels was.  My ma het die res van die dekor soos die spieëls, gordyne en kansel/boom se dekor gedoen.  Sy het ook my ryker en die blomme meisies sin.

My pa het die al die lere wat bo die tafels vas gemaak was, die tafels, kroeg en die canapé tafels ens. gemaak.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Christo se raad:

Die dag bly maar belangriker vir die bruid as die bruidegom so gin haar, haar sprokie, maar help haar ook onthou om dit te geniet.

Drey-Andra raad:

Dit is net een aand, ek is so dankbaar ‘I didn’t sweat the small stuff’.  Wees oop kop, moet nie jou in stel op net en ding nie, verwag dat iets gaan skeefloop, en eien dit.

Eerste Dans:


Ons eerste dans was redelik uniek – ons wou nie die tipiese tango doen nie, so ons het op Ronan Keating begin en rustig gedans vir so 35 sekondes, waarna die musiek toe oorgeslaan het na Tutti Frutti van Little Richard en Cotton Eye Joe van Rednex, waarop ons so 15/20 sekondes op elk ‘jive‘ het met ʼn lekker paar passies en toe af geëindig met ʼn sokkie op Boerenooi, waar ons strooijonkers en -meisies by ons aangesluit het!

Wittebrood:


Ons wittebrood was baie lekker, omdat ons in Kovid tyd getrou het was ons huiwerig vir ʼn oorsee wegbreek en het dus toe ons eie mooi land getoer.

Ons het vir ʼn week gegaan en van ons plaas af Etosha panne toe gery sowat 240km en het daar vir 2 nagte by Onguma The Ford gebly, waar ons op private safari ritte met piekniek gegaan het, spa behandeling ontvang  en net lekker ontspan het.

Van daar af was ons Damaraland toe waar ons in ons eie Villa gebly het by Mowani.  Dit was pragtig om tussen die Damaraland klip rotse te bly met ons eie swembad en elke aand die mooiste sonsak.  Ons was by Movani ook vir 2 nagte.

Van Damaraland af het ons Swakopmund toe gery en vir nog twee nagte alleen by die kus ons tyd spandeer.

Na die twee dae alleen by die see, het ons familie by ons aangesluit en ons die res van die vakansie saam daar spandeer.

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: