Gerrit & Stinneke se troue in Citrusdal

Ons is opgewonde om Gerrit en Stinneke se troue in Citrusdal met julle te deel op Mooi Troues.  Die paartjie se troue het ʼn klassieke gevoel tot dit.

Die paartjie het ʼn lieflike buite seremonie gehad onder die bome, omring deur die mooie natuurskoon.  ʼn Buite seremonie is altyd so mooi, veral as die weer perfek is.  Vir Stinneke en Gerrit se fotosessie het hulle prentjie mooi landskappe as agtergrond gehad,  van berge tot groen landerye en rotse.  Daar is niks mooier as foto’s in die natuurskoon nie.  Jy kan sien die paartjie het hulself baie geniet!

Hulle trou dekor was baie eenvoudig, maar tog baie stylvol gedoen.  Ons hou van die kombinasie van Oranje, Wit en tikseltjies Brons op die tafels.  Die lang maer kerse skep ook ʼn baie romantiese en moderne atmosfeer aan die tafel dekor.  Wit stoele was gebruik saam met die rou hout tafels en skep die perfekte kontras.  Alles is moontlik met ʼn span professionele diensverskaffers.  Besoek Mooi Troues se Trougids vir al jou trou diensverskaffers.

Stinneke se trourok is besonders mooi met die detail op die bo kant van haar trourok.  Haar strooimeisies se sagte olyfgroen rokkies het so mooi ingepas by die hele trou tema.  Gerrit het net so dapper gelyk in sy deftigste donker troupak.  Sy strooijonkers het almal Groen broeke aangehad, wit hemde, strikdasse en hoedjies.

Rol af om meer te lees oor Gerrit en Stinneke se troue in Citrusdal en hul liefdesreis as paartjie.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar deur ons werke ontmoet.  Een in die toerismebedryf en een in die ‘craft’ bier bedryf.  Ons het in verskillende provinsies gebly en was dus in ʼn langafstand verhouding van die begin af.

Ons het mekaar Maart 2019 ontmoet en is in Junie 2021 verloof.  Na byna 3 jaar van op en af vlieg om mekaar te kan sien het Gerrit my by die Kaapstad Internasionale lughawe gevra om te trou.  Dit was baie spesiaal, en hy het gesê “Ons is nou eers klaar met lughawens, jy trek Kaap toe!”

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir 11 maande verloof.  Ons het alles van die troue self beplan, met die hulp van familie en vriende.  Ek het tydens die beplanning steeds in Noordwes gebly en die troue was in die Kaap, wat dit met tye uitdagend gemaak het.

Trou Begroting:


Ons was baie streng met ʼn trou begroting gewees.  Ons het probeer om so ver moontlik daarby te hou.  Daar kom tog onverwagste uitgawes by, maar ons het steeds daarby gehou.

Ons begroting vir die troue was R90 000.  Ons het 85 gaste by die troue gehad.

Die enigste raad wat ons aan ander paartjies kan gee is, moet nie op onnodige dinge baie geld spandeer nie.  Spandeer geld op dit wat die belangrikste is vir julle.  Spandeer eerste geld op dit waarsonder jy nie kan wees op jou troudag, bv. kos en fotograaf.  Daarna begin jy kyk na die kleiner en onnodige goed.

Daar is geen reëls wat se presies wat moet alles op jou troudag wees nie, jy doen wat julle wil hê en verkies.  As jy jou troue met ander gaan vergelyk en wat ander mense gedoen het, gee jy geld op onnodige goed uit net omdat jy dink dit is ʼn moet.

Vermaak:


Ons het net ʼn platejoggie gehad wat vir ons alle klank hanteer het.  DJ Hermie, hy het alles gedoen net soos ons daarvan hou en gevra het.

Die Besluitnemingsproses:


Ons was albei baie betrokke met die besluite en trou reëlings.  Ek het meeste van die fyner details en beplanning gedoen en Gerrit het meer die logistieke en uitvoerings details gedoen.

Ons albei se families was ook betrokke by die beplanning van die troue.  Albei se families bly baie ver, so dit het dit ook moeiliker gemaak vir hulle om met alles aktief betrokke te wees.  Ons het probeer om hulle so ver moontlik met meeste goed te betrek.

Merkwaardigste Oomblikke:


Stinneke:

Daardie gevoel net voordat jy by die paadjie afstap en weet jy gaan binne die volgende paar minute trou met jou beste vriend.  Dit voel onwerklik om daar te staan en te besef, jy trou vandag!

Gerrit:

Die oomblik toe Stinneke by die padjie afgestap kom en ek haar vir die eerste keer sien.  Die gevoel was onbeskryflik.

‘Nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek dink die grootste ding wat verkeerd geloop het, was toe ek die aand voor die troue my rok oopmaak en besef die boutique het nooit my sluier ingesit nie.  Ons kon wel baie gelukkig die volgende oggend ʼn plan maak om ʼn ander een in die hande te kry.

Om eerlik te wees was die dag verder perfek, daar het geen groot goed verkeerd geloop nie.  Daar gebeur maar altyd een of twee klein dingetjies agter die skerms, maar niks wat enige iemand kon agterkom of gepla het nie.  Ons albei is baie perfeksionisties en het seker 100 keer seker gemaak alles is reg.

Paartjie se styl:


Ons hou van dinge stylvol en elegant.  Dit is ook die gevoel waarmee ek gegaan het toe ek ʼn rok gesoek het.  Dieslefde vir die bruidegom se pak, dit moes stylvol gelyk het sonder om ‘over the top’ te gaan.  Ons trouringe is spesiaal ontwerp volgens ons spesifikasies, dit moes tydloos maar steeds uniek wees.

Gunsteling Diensverskaffers:


Definitief die venue – Marcuskraal.  Die eienaars en bestuurders was ongelooflik om ons droom dag ʼn werklikheid te maak.  Hulle het ook self die kos voorsien, wat ongelooflik was.  Ons gaste praat steeds oor hoe lekker hulle geëet het daardie dag.

Ons fotograaf, Anna Photography, was ook ongelooflik, nie een van ons hou regtig van fotos neem nie en sy het ons so op ons gemak laat voel en die mooiste oomblikke vasgevang op die dag.

Eerste Dans:


Ons het ons eerste dans gedoen soos ons ingeloop gekom het in die saal na ons fotosessie.  Ons het dadelik gedans en toe eers gaan sit by die bruidstafel.  Die liedjie waarop ons gedans het was Juan Boucher se Ons Word Een.  Dit was vir ons ʼn mooi liedjie en het maklik gedans. Ons het nie vir enige danslesse gegaan nie.

Venue & Dekor:


Ons het ʼn trou venue gesoek wat ook akkommodasie kon bied.  Omrede ons oorspronklik van twee verskillende provinsies af is, moes die venue maklik toeganklik vir beide families en vriende gewees het.  Ons het ook ʼn venue gesoek wat self die kos vir die troue voorsien sodat ons nie ʼn buite spysenier nodig gehad het nie.  Die venue was nie ver van waar Gerrit gebly het nie, so dit het dit maklik gemaak elke keer om vinnig daarheen te ry as iets beplan om bespreek moes word.

Ons het die trou dekor gekies om by ons begroting te pas maar steeds mooi en stylvol te wees.  Ek is mal oor aardse kleure en omdat dit amper herfs was, het ons dit goed gedink om dit die kleur skema van die troue te maak.  Ons het ook die dekor beplan rondom wat tot ons beskikking was in terme van blomme.  Ons het al die blomme van ons troue self op die plaas waar ons bly gepluk.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Advies wat ons vir ander paartjies kan gee wat besig is met trou beplanning is om nie teveel te stres oor die klein dingetjies nie.  Die meerderheid van jou gaste gaan bv. nie eers agterkom as die blom potjie op die verkeerde plek staan nie.  Geniet die beplanning en doen wat julle wil!  Moet nie dat enige iemand jou dwing om iets te doen wat jy nie wil nie. Dit is julle dag en julle moet dit beplan soos wat julle dit wil hê.

As jy in pienk wil trou, dan trou jy in pienk.  Vir die bruide, maak seker jy eet iets voor die troue, enige iets ligs en klein.  Die dag raak baie lank en die opwinding is groot, jy wil nie êrens deur die aand sleg voel omdat jy nie geëet het nie.  Maak ook seker jy het ʼn vriendin of een van jou bruidsmeisies naby wat deur die loop van die aand jou kan help om jou grimering en hare op te kikker.

Het julle enige diensverskaffers of inspirasie van Mooi Troues gekry?


Ons het baie inspirasie vir dekor gekry op Mooi Troues, asook moontlikhede vir verskaffers.

Wittebrood:


Gerrit het ons wittebrood self beplan, ek het van niks geweet of waarheen ons gaan nie.  Dit was meer van ʼn ‘roadtrip’ deur die Wes-Kaap se kus.  Ons het begin by Jacobsbaai, daarvandaan na Botrivier en Arniston en toe na Knysna, ons het ons Wittebrood afgesluit by Citrusdal.  Ons is lief daarvoor om nuwe plekke te verken en is nie bang vir ver ry nie.  Ook wou ons nie net op een plek bly vir die hele wittebrood nie en het daarom besluit om eerder ʼn paar plekke te besoek.  Ons het by elke nuwe bestemming die omgewing rondom verken.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: